Die Openbaring aan Johannes – Jesus kom alles herstel (22:15-21) – Francois Malan

22:15 Die honde (onreines) bly buite. Vyf van die ses kenmerke van die ongelowiges wat in die poel van vuur en swawel gegooi is, is reeds in 21:8 genoem. Die sesde, die honde (NAV dwaalleraars), word in die Bybel gebruik vir verskillende soorte onrein en kwaadwillige mense: Deutr. 23:17-18 vir ‘n manlike prostituut; Mt 15:26 vir heidene; Flp 3:2 vir dwaalleraars. Almal wat valsheid liefhet en doen, word soos hulle leier die Satan, wat die hele wêreld verlei (12:9; 13:13-15). Mense wat nie hulle klere in die bloed van die Lam was nie, bly buite.

22:16 Jesus bevestig die egtheid van sy engel se getuienis oor al hierdie dinge, wat die engel bekendmaak aan ‘julle,’ Johannes en sy broers en susters, die profete (22:9), wat weer God se wil aan die gemeentes bekendmaak. In 1:1 is reeds gesê dat Jesus sy engel gestuur het om dit alles aan Johannes te wys. Telkens het die engel die gesigte vir Johannes verduidelik.

Jesus noem Homself die wortel en nakomeling van Dawid as vervuller van die profesie van Jes 11:1-2,10: ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; iemand uit die geslag van Isai sal ‘n vaandel wees vir die volke – dit word hier gestel as beloftes oor die Messias/Christus/Gesalfde, wat gesalf is met die Gees van die Here (vgl. Rom 1:3; Openb 3:7; 5:5).

Hy is ook die helder Môrester (vgl. Num 24:17), dit is die belofte dat die lang nag van verdrukking besig is om te wyk voor die nuwe dag wat breek, die nuwe bedeling wat aanbreek (vgl. Openb 2:28 se belofte aan die wat oorwin). Die sterrekykers uit die Ooste het sy ster gesien (Mt 2:2). Christus beloof die môrester aan almal wat vashou aan wat hulle het, totdat Hy kom, aan dié wat oorwin oor die verleiding van die dier (Openb 2:28).

22:17 Die noodsaaklkheid om die skepping te herstel is ‘n prominente tema in die epiloog, soos ook gesien in die sewevoudige herhaling van die werkwoord: ‘kom!.

22:7      Kyk, Ek kom gou!

22:12    Kyk, Ek kom gou!

22:17    Die Gees en die bruid sê: Kom!

En laat elkeen wat luister, sê: Kom!

En laat elkeen wat dors het, kom

En laat elkeen wat die water van die lewe begeer, kom, verniet! (vgl. 21:6; Jes 55:1)

22:20    Ja, Ek kom gou!

Amen! Kom, Here Jesus!

Driemaal belowe Christus dat Hy gou kom (22:7,12,20), Die Gees en die bruid en Johannes dra die boodskap oor aan die gemeentes en aan elkeen wat dors na die evangelie. Tot op die laaste bladsy nooi God dié uit wat geestelik dors is om te kom drink van die water wat lewe gee (vgl. Jn 4:13-15; 7:37; 1 Kor 10:4). In Jes 43:3 4, 48:10 is water ‘n metafoor vir die verlossing wat God gee). Die bruid is die kerk wat getrou bly aan Jesus en sy opdrag om mekaar lief te hê soos Hy ons liefgehad het tot aan die kruis (vgl. die gelykenis van die 10 meisies in Mt 25:13).

22:18-19 Jesus waarsku enigeen wat moedswillige aan die woorde van hierdie boek se profesie verander dat hy/sy die ewige lewe kan verloor en die strawwe van die profesie kan ontvang (vgl. Dt 4:2; 12:32; Spr 30:5-6; Gal 1:8-9). Openb 1:2 noem die inhoud van dié boek die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus Christus (Jn 1:1 Jesus is die Woord van God). Daarom is die woorde van hierdie boek so belangrik. Wie dit verwerp of vervals verwerp vir Jesus en vir God) en verloor Jesus en God deur aan die woorde toe te voeg of weg te neem (vgl. Jn 5:23; 15:23; 1 Jn 4:15;2 Jn 9).

22:20 Soos Openbaring 1:1 begin met die openbaring deur Jesus Christus…om aan sy diensknegte te toon wat binnekort (tachu) gaan gebeur, eindig die boek met ‘n bevestiging deur Jesus:

Ja, Ek kom gou (tachu).

 Daarop reageer Johannes wat al die gesigte gesien het, om die verlange van die hele kerk uit te druk met die gebed:

Amen (voorwaar), Kom, Here Jesus!

(dit is dieselfde as die Aramese bede van die ou kerk in 1 Kor 16:22: marana ta ‘Kom, Here!’).

Ons verlossing bly onvolmaak totdat Christus kom. Vir die vervolgde gelowiges van Johannes se tyd en van elke tyd is dit ‘n angstige smeekroep om verlossing uit hulle verdrukking, met die blye uitsig op Jesus se wederkoms om finaal alles reg te stel wat verkeerd is.

22:21 Die boek begin met ‘n seëngroet in 1:3 waarmee God se guns afgesmeek word op die sewe gemeentes (beeld vir die hele kerk) sodat hulle onder sy sorg gelukkig sal lewe: Geseënd is die een wat dit voorlees en ook hulle wat die woorde van die profesie hoor en wat daarin geskryf staan, nakom.

So sluit die boek ook met ‘n seëngroet dat die genade van die Here Jesus sal bly by al die lesers en gemeentes waar dit voorgelees word. Die boek het ook begin met die bede dat die genade en vrede van God en Christus en die Heilige Gees hulle deel sal wees (Openb 1:4). Genade verwys na God se vrye en oorvloedige gawe wat Hy onverdiend uit sy groot liefde gee.

Met die vreugde van ‘n bruid wat wag op haar bruidegom wag elke gelowige op sy/haar Here en Verlosser se koms met die bede:

Amen. Ja kom Here Jesus!

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Jesus kom oordeel (22:12-14) – Francois Malan

22:12-19 is Jesus se slotwoorde. Dit word in sewe uitsprake weergegee.

22:12 Die uitspraak van 22:7 word herhaal: ‘Kyk, Ek kom gou!’ Openb 1:1,7 het begin met ‘wat binnekort (gou) moet gebeur…Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien..’ Die dringendheid van die wederkoms word beklemtoon deur die nabyheid daarvan telkens voorop te plaas, sodat die lesers te alle tye gereed sal wees met blye verwagting op die koms van die bruidegom (Mt 25:1-13).

En die beloning (misthos betaling na verdienste) is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon vir goeie of slegte gedrag, beloon of vergeld:

Openb 3:11 praat van jou oorwinnaarskrans (stefanos) vir die gemeente Filadelfia wat Hom nie verloën het nie; Jesaja 40:10 lui letterlik: sy loon (sakar) is by Hom en sy vergoeding (pe‘ullah) is voor Hom. Dit word gesê aan die ballinge in Babel oor hulle verlossing en terugkeer na Jeruslem. Die loon van 22:12 is vir die volgelinge van Christus om vir ewig volmaak saam met Christus te wees in die nuwe Jerusalem.

In Openb 2:23 sê die Here vir dié in Tiatire wat die vrou Isebel volg: Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade; Ps 24:4 bid om die vergelding van die goddelose mense ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede…laat hulle kry wat hulle verdien. Jer 17:10 Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand. Ek laat die mens kry wat hy verdien, vir wat hom toekom vir wat hy doen.

Met die finale oordeel kom Christus alles in die skeppng op hulle regte plek sit, waar hulle hoort. Vir sy volgelinge wat volhard in geloof en vertroue op Hom, beteken dit die ewige lewe van vreugde in die ewige teenwoordigheid van God (22:4). Vir ongelowiges is dit ‘n verskrikking om vir ewig sonder God te wees, oorgegee aan mekaar se begeertes, verwerplike denkwyses en onbetaamlike optredes (Rom 1:24,28).

22:13 Christus se uitspraak oor Homself as die Alfa en die Omega, soos in 1:17 (vgl. 2:8) word ook deur God van Homself gesê in 1:8 en 21:6. By God het alles begin en by God word alles voleindig. Dit kom reeds van Jes 44:6 af: Ek is die eerste en die laaste, buiten My is daar geen God nie (vgl Jes 41:4; 48:12). As die Woord van God het Christus die eerste woord met die skepping gespreek (Gen 1:2; Jn 1:3,10; Hand 17:28; 1 Kor 8:6; Kol 1:16; Hebr 1:2; Op 3:14), en spreek Hy ook die laaste woord oor die ou skepping en die begin van die nuwe skepping. Hy is anders as al die skepsels, ewig. Alle dinge bestaan deur en tot Hom en die Vader, as die sin van hulle bestaan, vir wie hulle lewe.

Die Vader oordeel niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee (Jn 5:22). Daarom oordeel Hy oor alle dinge, en beloon Hy ook elke mens volgens wat hy/sy gedoen het. God het alles (die ganse skepping) onder sy voete gestel en Hy het Hom as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal (in al sy volgelinge) vervul (Ef 1:22-23) – Hy vervul ons met sy liefde, sy blydskap, sy vrede….(vgl. die 9 aspekte van die vrug van die Gees in Gal 5:22-23).

22:14 Die sewende en laaste seën is ook vir dié persone wat deur hulle lewe besig is om hulle stolas vir die hemel te was – hulle lang togas, wat hulle as volgelinge van Jesus en kinders van God aandui. In 7:14 is gesê dat hulle die vuil van hulle vorige bestaan wit gemaak het (gereinig het) in die bloed van die Lam. Dit dui op ‘n daaglikse reiniging deur ‘Ons Vader’ op die 5e versoek van Lk 11:2 ‘vergeef ons (elke dag) ons sondes…’; Mt 6:12 ‘vergeef ons (daagliks) ons skulde…’, en Joh 13:10 ‘iemand wat gebad is (deur Jesus), het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is.’ Joh 15:3: Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het – deur in Jesus te glo as die Here wat oor jou lewe regeer met sy woord, bewys jou geloof in Hom dat jy deur Hom skoon gewas is aan die kruis (vgl. Openb 3:4,18).

Adam en Eva het in die tuin van Eden gebly waar die boom van die lewe is, maar het nie die reg gehad om daarvan te eet nie. Mense wat deur geloof in Jesus aan Hom verbind is, het die reg/volmag om die nuwe Jerusalem in te gaan en van die boom van die lewe te eet – ‘n simbool dat hulle die ewige lewe het (Jn 3:36), en die reg het om kinders van God te word (Jn 1:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Jesus kom vir seker (22:6-11) – Francois Malan

22:6 Die engel van 21:1 getuig dat die woorde van hierdie boek Openbaring betroubaar en waar is, soos Christus self (1;5; 3:7,14; 19:11), wat die bron van hierdie boek en sy beelde is. In mensetaal beskryf hierdie boek God se doel en plan met hierdie wêreld. Met simbole en beelde uit die Ou Testament skilder die skrywer vir gewone gelowiges wat God se plan vir hulle toekoms is. Soos die profete van ouds kry die skrywer sy boodskap deur die Heilige Gees. Soos ‘n engel vir Johannes die beelde wys en verduidelik, lei die Heilige Gees die gelowige leser om die betekenis van die beelde te begryp.

22:7 ‘Kyk, Ek kom gou!’ Die versekering kom van Jesus self. Dit verwys na sy wederkoms aan die einde van die mensgeskiedenis (3:11) en word herhaal in 22:12,20.

Die woord ‘wederkoms’ kom nie in Openbaring voor nie, maar reeds in Mt 24:3,27,37,39 word verwys na sy skielike en onverwagse koms (die woord wat daarvoor gebruik word, parousia verwys na ‘n koms en persoonlike teenwoordigheid); 2 Ts 2:1, 8: met die koms (parousia) van ons Here Jesus Christus…sal Jesus deur die asem van sy mond die wettelose mens uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy teenwoordigheid (parousia) vernietig; 1 Kor 15:23: wanneer almal in Christus lewend gemaak word; 1 Ts 5:23: dat God ons volledig na liggaam siel en gees vlekkeloos bewaar totdat ons Here Jesus Christus kom; 1Ts 2:19: dan sal die gelowiges vir Paulus tot roem wees; 1 Ts 3:13: sodat julle met die koms van ons Here Jesus…vlekkeloos in heiligheid voor ons God en Vader kan wees; 1 Ts 4:15: lewendes by die koms van die Here sal beslis nie gestorwenes voor wees nie; Jak 5:7: dat ons geduldig sal wees tot by sy koms; 2 Pt 3:4: wat het geword van die belofte van sy koms?; 1 Jn 2:28: bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie met sy koms deur Hom in die skande gestel word nie. Die woord parousia verwys na die koms van Jesus om aktief teenwoordig te wees –hier om te oordeel.

In Mat 24:36 sê Jesus: Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. 2 Petrus 3:8-9 sê: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Op die versekering van Jesus se koms volg die sesde van die sewe seëninge in Openbaring. Soos die vorige vyf veronderstel die seën, vir dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol, geluk en vreugde deur God se genade (1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:7). Dit vra volharding om Jesus te volg onder versoekings en verdrukkings, – die werk van ‘n profeet is om die woord en wil van God aan mense oor te dra.

Die hele boek word omraam met die seën van 1:3 en 22:7 aan hulle wat die woorde van hierdie boek vashou en daarvolgens lewe. Dit gaan oor Jesus se koms na die wêreld, die eindtyd wat naby is. Daarom moet ons God aanbid (22:9) en heilig, dit wil sê dat ons hele lewe aan Hom toegewy word (22:11).

22:8-11 Die engel se laaste woorde.

Hoewel die engel in 19:10 vir Johannes gesê het om hom nie te aanbid nie, is Johannes in vervoering oor al die dinge wat hy gesien en gehoor het, en hy val in aanbidding neer voor die voete van die engel wat hom begelei het. Hy word weer vermaan om nie soos die afgodsdienaars ‘n skepsel van God te aanbid en te vereer nie. ‘Val voor God in aanbidding!’

Daniël het opdrag gekry om die openbarings wat hy ontvang het geheim te hou en om die boek te verseël tot die eindtyd toe (Dan 12:4). Nou het die eindtyd aangebreek en is die opdrag aan Johannes om nie die woorde van die profesie van hierdie boekrol te verseël nie, want die bestemde tyd is naby. Dit moet dien as aanmoediging aan gelowiges om te volhard in geloof in Jesus, en as waarskuwing aan ongelowiges. Dit blyk uit die waarskuwings en opdragte aan die twee groepe:

Soos in Romeine 1:24,26, 28 gee God die mense, wat Hom nie wil aanbid nie, oor aan die begeertes van hulle harte, aan hulle verwerplike denkwyse, aan die lewe wat hulle gekies het. Solank as wat hulle die rug draai op God en sy verlossing in Christus word hulle al harder en al vaster aan hulle verkeerde lewenswyse: wie onreg pleeg, moet nog meer onreg pleeg; wie moreel onrein is, moet nog meer onrein word.

Die wat regverdig is – volgens wat God vereis nl. om deur Christus in die regte verhouding tot God te lewe – moet nog meer regverdig word – moet op dié pad voortgaan. Die Gees is juis besig om hulle al meer te verander om soos Christus te word (vgl. 2 Kor 3:18).

Wié heilig is – aan God toegewy lewe, moet nog meer heilig word – deur al meer te lewe in die liefde van God, deur die Heilige Gees wat met die onselfsugtige liefde van God in ons woon.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – God se troon in die tuin (22:1-5) – Francois Malan

22:1 -2 Die middestad van die Nuwe Jerusalem word beskryf as ‘n tuin, met die troon van God en die Lam in die middel daarvan. Helder skoon water van die lewe stroom uit die troon, as beeld van die politieke, sosiale, ekonomiese en geestelike heerskappy van God en die Lam. Dit is lewegewende water, wat lewe onderhou, en staan teenoor die troon van die dier met sy verdrukking en oorheersing, wat mense sonder die merk van die dier doodmaak en weier dat hulle koop en verkoop as hulle nie sy alleenheerskappy erken nie (13:15-17). Die helder skoon water is simbool van morele en geestelike suiwerheid, van reg en geregtigheid, van liefde en toewyding in die suiwer goue stad met sy goue skoon strate (21:18,21; Openb 2:7).

Die stroom in die hoofstraat voed die boom van die lewe (vgl. Gen 2:9-10 die tuin van Eden se stroom en boom van die lewe) sodat daar geen maand ‘n skaarste aan lewensvoeding is nie (vgl. Eseg 47:7,12 ). God sorg oorvloedig. Waar die gereelde vrugte van die boom simbool is van die gawe van die ewige lewe wat onverpoos voortgaan, is die genesende blare van die boom simbool van fisiese en geestelike gesondheid vir die nasies wat in die Nuwe Jerusalem woon (vgl. Eseg 27:12). In die volmaakte verhouding met God en die Lam is daar nie meer liggaamlike en geestessiektes nie. Die stroom ontsping in die troon van God en die Lam – die bron vir ewige lewe is God se liefdesbesluit om sy Seun vir die wêreld se verlossing te gee en die ewige lewe aan dié wat in Hom glo (Jn 3:16) as die Lam wie se liefdesoffer aan die kruis die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29; vgl Openb 7:14 hulle het hulle klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam; die bloed van die paaslam aan die kosyne wat lewens behou het, is ‘n flou heenwysing na die bloed van Christus as die Lam van God; Eksodus 12:21-23). Openb 21:27 verwys na die boekroel van die lewe van die Lam, want Hy het vir ons die ewige lewe bewerk.

22:3 In die stad is alles wat vervloek is verban (Sag. 14:6-11). Adam en Eva is uit die tuin van Eden verban (Gen 3:13-14). Die vloek is nou opgehef en harmonie is herstel in die nuwe paradys waar die troon van God en die Lam by die mense is, en sy diensknegte Hom dien. Die intieme saamwees met God en die Lam is die wese van die ewige lewe. So word God se doel met die skepping van die mens vervul as ‘Ons verteenwoordiger, na Ons beeld, sodat hy kan heers oor die visse, voëls en diere (Gen 1:26).’

22:4 In die verlede was God se aangesig verberg in rook (15:8; in Eks 33:9-10 in ‘n wolkkolom, Openb 4:3 in ‘n edelgesteente). Vir Moses het die Here gesê geen mens kan My sien en bly lewe nie…niemand mag my gesig sien nie (Eks 33:20-23); Jn 1:18: Niemand het God nog ooit gesien nie…die enigste Seun, self God, het Hom bekendgemaak. Maar Jesus se belofte in Mt 5:8 is: Geseënd is die mense wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien; Hebr 12:14: Streef na vrede met almal en na heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie; 1 Jn 3:2: Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. In die nuwe Jerusalem is alle versperrings en die verbod om Hom te sien, verby. God se onmiddellike teenwoordigheid word ewig geniet, want vir al die inwoners is die Here hulle God wat hulle met hulle hele lewe dien, as verlostes wat gereinig is van hulle sonde en geneigdheid om vir hulleself te lewe (Gen 3:5-6), mens wat deur God nuut geskep is. Dit word gesimboliseer deur sy Naam op hulle voorkoppe – hulle, met hulle denke en wil en gevoel, behoort aan Hom. Hulle is nuut geskape na die beeld van God (Gen 1:27), dié beeld van God wat Jesus vir ons kom wys het deur sy lewe en sterwe en opstanding vir ons. Saam met die Seun van God is ons God se kinders wat deel in die volmaakter heerlikheid van God en die Lam. God se heerlikheid spreek uit die onselfsugtige liefdesoffer van die Lam. God is liefde (1 Jn 4:16). Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Jn 4:19). So is sy Naam op ons voorkoppe geskryf .

22:5 Hier is weer ‘n negatiewe stelling oor wat nie in die nuwe stad is nie: daar is nie meer nag nie. Die afwesigiheid van die son en die maan en nag is reeds in 21:23,25 gestel. Die herhaling daarvan beklemtoon die afwesigheid van ‘n negatiewe kenmerk van die eerste skepping (duisternis, Gen 1:2) om die positiewe kenmerke van die nuwe skepping duideliker uit te wys: ewige goddelike lig waarmee die Here God hulle sal verlig, en dat die inwoners vir ewig as konings regeer (vgl. 3:21 se belofte van sit op die troon saam met die Lam). Deelname aan God en die Lam se heerskappy oor die nuwe skepping is vir dié wat aan God toegewy is ‘n aspek van God se genade aan hulle, wat hulle kan uitvoer met die verligting wat van die Here God kom.

Kyk, Ek kom gou!

Openbaring begin met ‘n stabiele toestand, met die gesig van Jesus wat die sewe sterre in sy hand hou, ‘n beeld van die gemeentes en hulle leiers in die hand van die Seun van die mens (1:12-20). Die onstabiele toestand in die gemeentes en die gemeenskap as geheel begin egter die afwaartse kurwe na rampspoed. ‘n Ingryping van Bo keer die kurwe om, met die herstel van die skepping, wat begin met die kruisdood van Christus. Die kerk word geroep om hulle te bekeer, terug na hulle eerste liefde (2:4-5, 16,22; 3:3.19; 9:20-21), om vas te hou aan Hom (2:25; 3:11), en te daarin te volhard (13:10; 14:12). Die bewoners van die aarde word opgeroep om hulle toewyding aan die afgode prys te gee (9:20). Die afgode word verteenwoordig deur die dier en Babilon (9:20). Die opwaartse kurwe vereis aktiewe weerstand teen die norme, waardes en geloof van Babilon, en vra gewilligheid om die Lam te volg op die nuwe eksodus na die nuwe beloofde land. Die nuwe stabiele toestand met sy vreugde word in die laaste van die sewe seëninge gestel: Geseënd is diegene wat hulle kleed was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan (22:14). Die werkwoord ‘was’ is hier ‘n deelwoord in die teenwoordige tyd – wat aandui dat hulle daarmee besig is en aanhou om dit te doen deur die Lam getrou te volg op pad na die nuwe Jerusalem. Hulle was hulle klere in die bloed van die Lam (7:14) deur hulle verbondenheid aan Hom.

Skrywer: Prof Francois Malan