Die Openbaring aan Johannes – Die verkondiging word ook aan die kerk opgedra (11:1-13) – Francois Malan

Die meting van die tempel (11:1-2)

Daar was al verskillende verklarings en toepassings vir die twee verse; daar was ook drie verskillende tempels:

1e gebou deur Salomo 964 v.C. (1 Kon 6), vernietig deur Nebukadnezer 586 v.C. (2 Kon 25:8-10)

2e tempel deur Serubbabel, gebou na die ballingskap, 520-515 v.C. (Esra 3:1-3, 6-8; Sag 4:6-10)

3e tempel – herbouings en aanbouings deur Herodes en sy opvolgers, omgeveer 22v.C. – 24 n.C., verwoes in 70 n.C. deur die Romeinse keiser Tiberius se magte.

Die tempel van Johannes se visioen is egter ‘n geestelike tempel. In die Nuwe Testament is die kerk en die gelowiges God se tempel (gemeente: 1 Kor 3:16; elke lid: 1 Kor 6:19; vgl. 2 Kor 6:16; Hebr 3:6; 1 Petr 2:5,9) omdat Jesus se liggaam, wat gekruisig is en opgewek is, die ou tempel vervang as ons toegang tot God (Joh 2:20-21).

Die meting van die tempel van God en die altaar en die telling van die aanbidders is ‘n simboliese gebaar om die geskikte grense of ruimte vir optrede, soos ‘n landmeter, te bepaal. Die afgemete gebied is die gebied en persone wat deur God beskerm word in die gewyde plek tydens die fisiese vervolging van 11:3-13. Die ongemete gebied met sy mense in die voorhof van die nasies (ta ethnoi heidene ) is die onheilige plek van die ongelowiges wat nie deur God beskerm word nie omdat hulle hulle beskerming by die afgode soek. Die nasies vertrap die buitenste voorhof vir die simbolies tyd van 42 maande – die gelowiges word deur die ongelowiges geteister. In Eseg 40-42 word die tempel ook afgemeet om te bepaal wat aan God behoort en onder sy beskerming is. In Openb 21:15-17 sal ‘n engel die afmetings van die nuwe Jerusalem neem om die grense tussen heilig en onheilig te bepaal – onrein of onheilig buite die stadspoorte en rein of heilig dié wat binne die grense van die volmaakte stad woon (21:27).

Die gelowiges sal in die eindtyd ook ly. Daarom word hulle telkens gerus gestel dat hulle aan God behoort en dat Hy vir hulle omgee, soos aan Filadelfia (3:10); dat Hy hulle sal vashou in ‘n tyd van beproewing (toetsing) wat oor die hele wêreld gaan kom. In 7:3-4 word vertel dat die volle getal gelowiges (144,000) verseël word as teken dat hulle God se eiendom is. Die demonstrasie van die meting in 11:1-2 stem baie ooreen met Eseg. 40:3,5 se visioen oor die afmeting van die tempel in 537 v.C. tydens die ballingskap as simbool dat God die eienaar van sy mense is en sal wees met die terugkeer na Jerusalem (Eseg 43:5-7a). Na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem met sy afgebreekte beskermingsmure word die heilige stad gemeet as simbool van God se beskerming: ‘Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees’ (Sagaria 2:1-5).

Die 42 maande of 3½ jaar, die helfte van die volmaakte getal 7, simboliseer ‘n beperkte tyd van swaarkry en oordeel (vgl. Mt 24:22 dat God die tyd inkort). Volgens Numeri 33:5-49 het Israel in die woestyn by 42 plekke oorgestaan; Die droogte wat Elia aangekondig het, het 3½ jaar geduur, 1 Kon 17-18; volgens Dan 7:25; 9:27; 12:7 sal die tyd van die verdrukking van Israel deur Antiogus deur God beperk word en is bepaal as ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd (3½). God bly ook in die beperkte tyd van verdrukking in beheer, en beskerm die gelowiges veral geestelik, sodat hulle getrou bly onder verdrukking en te midde van swaarkry en lyding, selfs in die dood (Romeine 8:16-17: kinders van God is mede-erfgename met Christus, sodat, as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom verheerlik kan word).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Openbaring aan Johannes – Die eed van die engel – daar is nie meer tyd oor nie (10:5-7) – Francois Malan

Die massiewe engel wat op die see en op die aarde staan, sweer, met sy regterhand na die hemel, by die ewige God, die Skepper van die hele wêreld (hemel, aarde, see) en alles daarin – ook die sataniese sprinkane en die heiliges, die opstandiges en die berouvolles, is deel van God se skepping. Die engel se eed (met God as regter oor sy optrede, Gen 14:22) is: ‘daar is nie meer tyd oor nie. In 6:10 vra die martelare hoe lank nog voordat hulle lyding en sterwe erkenning sal kry. Vir hulle word gesê om nog ‘n kort rukkie te rus tot die martelare voltallig is (6:11). Met die donderslae wat verseël is, is die uitstel egter gekanseleer, hoewel die verhaal van wat gaan gebeur nog eers verder vertel moet word in Openbaring, die boek met sy vinnige ontwikkelings wat tussenin vertragings rapporteer. Die einde is naby, maar word uitgestel totdat God se doeleindes met sy hele skepping bereik is.

Die eed van die engel gaan voort: die misterie van God se doel word ten volle bereik, soos Hy dit as goeie nuus (evangelie) aan sy eie slawe, die profete, aangekondig het (euangelizoo; vgl. Jesus se laaste woord aan die kruis in Jn 19:30: dit is volbring, nl. sy verlossingswerk is die misterie van God se goeie doel met die wêreld). Dit gebeur wanneer die sewende engel op sy trompet blaas. Die einde waarvan Daniël 12:6-10 praat, sal dan aanbreek. Dan sal die huidige koninkryk van die wêreld vervang word met die ewige koninkryk van ons Here en sy Messias/Christus/Gesalfde (11:15). Die goeie nuus word volbring wanneer daar op aarde erken en bely word dat Hy die alleenheerser is (11:14-19; 1 Kor 15:24-28). Die misterie van God se doel word in hoofstuk 11 uitgespel, en hoe God sy doel gaan bereik.

 

Johannes eet die boekrol (10:8-11)

Die stem uit die hemel praat weer met Johannes en beveel hom om die oop boekrol te gaan haal by die engel wat op land en see staan – die staanplek van die engel word vir die derde maal genoem (10:2,5,8) om te beklemtoon dat die boodskap in die boekrol universeel bedoel is, vir die hele bewoonde wêreld. Johannes neem die boekrolletjie uit die hand van die sterk engel, soos die Lam die boekrol uit die hand van God geneem het. Die opdrag dat hy die boek moet eet is simbool vir die inneem van die evangelieboodkap om dit deel van jouself te maak (vgl. Ps 19:10-12; Spr 24:13-14; Jer 15:16). Johannes eet die boekie en profeteer daarna aan/teen baie volke, nasies, tale en konings (vgl. Eseg 3:2-3).

Die opdrag en sy uitwerking word oorkruis gestel X: A-B-B-A

A dit sal jou maag bitter maak, B maar in jou mond sal dit soet soos heuning wees (v9)

B in my mond het dit so soet soos heuning gesmaak, A maar na ek dit geëet het, was dit bitter in my maag (v10)

Verkondigers van die Woord van God beleef die soetheid en bitterheid van hierdie boodskap. Die verkondiging van God se woord van verlossing is ‘n vreugde, maar die vervolging van ‘n vyandige en hardnekkige wêreld bring pyn en lyding. Die profeet ly onder vervolging vir die goeie nuus; en vir die ontvangers is die verlossingsboodskap dikwels ‘n oordeelswoord.

Die Griekse voorsetsel epi in vers 11 kan vertaal word as ‘aan’ of ‘teen’ baie volke, nasies, tale en konings. Die uitdrukking met die vier groepe om die ganse mensdom aan te dui en God se seggenskap oor almal, word sewe maal in Openbaring aangetref, soms vir die vyande van die evangelie (11:9; 13:7; 17:15), soms verwys dit na die verlosdes deur die Lam (5:9 en 7:9). Daarom is die neutrale voorsetsel ‘aan/teen’ gemik op ‘n positiewe en ‘n negatiewe reaksie op die woord (1983-vertaling: ‘aangaande’), en die 2014-vertaling ‘teen’ op die negatiewe reaksie, nl. die bitter wat Johannes sal ervaar. Christus se oorwinning is vir sy voltooiing aangewys op die Christene se ‘eet’ van die boodskap, en om God se woord te ‘eet’ is ‘n soet en bitter ondervinding, ‘n bevryding van sondebande, maar ook ‘n daaglikse stryd teen onsself en die versoekings van ons begeertes en die verleidings in die wêreld.

Dit is veral aan die konings, die heersers in die wêreld, dat die woord van God gebring moet word, maar ook aan al hulle volgelinge, aan die massas mense en groepe wat elkeen hulle eie kultuur het en deur die massa meegesleur word.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die gelowiges as God se getuies in die eindtyd (10:1-11:13) – Francois Malan

Na die oopbreek van die eerste ses seëls met ellende op die aarde in hoofstuk 6, was hoofstuk 7 ‘n verposing met die verseëling van God se gelowiges. Na die eerste ses trompette wat die plae aankondig in hoofstuk 8-9 word eers aandag gegee aan die posisie van die gelowiges in 10:1-11:13, voordat die sewende tormpet geblaas word (11:14-19).

 

Die sterk engel (10:1-2)

Die tweede van drie sterk/magtige engele kom uit die hemel (van God af) – die sterk engele verskyn op kritieke punte in die verhaal (5:2; ‘n sterk engel vra wie waardig is op die boekrol se seëls oop te breek). Hierdie een kondig aan dat daar nie verdere vertragings sal wees nie (10:6). In 18:2 gooi die derde magtige engel ‘n groot meulsteen in die see as simbool van Babilon se ondergang. Johannes kan slegs beelde van lig gebruik om die tweede engel se verblindende glans te beskryf, as weerspieëling van die heerlikheid van God en God se misterie wat geopenbaar word (10:7):

sy gesig is soos die son (soos die van die Seun van die Mens, 1:16);

beklee met ‘n wolk (soos die wolkkolom wat Israel oordek het, Eks 13:21-22), as teken van God se teenwoordigheid;

met ‘n reënboog oor sy kop (soos rondom die troon van God in 4:3) as teken van God se heerlikheid wat in die engel teenwoordig is;

die belangrikste, sy voete/bene soos pilare van vuur (soos die Here snags met ‘n vuurkolom Israel se trek in die nag moontlik gemaak het (Eks 13:21-22). Die engel van die nuwe eksodus lei die nuwe Israel uit die bose Babilon na die nuwe beloofde land, die nuwe Jerusalem (Openb 21-22);

Hy staan met sy een voet op die see en die ander op land, die twee dele van hierdie wêreld waar God se skepsels bly. Die kolosale grootte van die tweede engel word drie maal genoem (10:2,5,8) om die universele betekenis van sy boodskap te onderstreep.

Die sleutel tot sy boodskap is die klein oop boekrolletjie (biblaridion) in sy hand. Die boekrol van hoofstuk vyf was in die hand van God, verseël, en aan die Lam in die hemel gegee om God se plan vir die wêreld uit te voer. Hierdie oop boekrolletjie word vir Johannes gegee om, saam met die kerk, God se plan op die aarde bekend te maak (10:11).

[Die groot eiland Rhodos, suid van Klein-Asië (Turkye), is in 305 v.C. aangeval deur Antiogus se magte, wat verslaan is en hulle toerusting netso gelos het. Van die ysters en brons skilde het die beeldhouer Chares vir 12 jaar lank (292-280 v.C.) ‘n beeld van ‘n man gebou, wat op die strand opgerig is, 30 meter hoog, op ‘n voetstuk 18 meter hoog en 18 meter deursnee, ter ere van Helios, die son, hulle beskermgod. Die ‘Kolossus = standbeeld van Rhodos’ met sonstrale uit sy kop en ‘n fakkel in sy hand, was een van die sewe wonders van die antieke tyd. Na 56 jaar, met die aardbewing van 226 v.C., het die beeld se knieë geknak en op die land geval. Van Johannes se eerste lesers, wat al as toeriste na die gevalle beeld gaan kyk het, kon miskien aan die groot verskil tussen die gevalle beeld en die beskrywing van die geweldige engel gedink het.]

 

Verseëling van die sewe donderslae (10:3- 4)

Die stem van die engel, is so hard soos ‘n leeu wat brul (mukaomia), sodat die hele wêreld dit sal hoor as ‘n gesaghebbende uitspraak van die Here (vgl Hosea 11:10. Toe die engel hard skreeu – krazoo – praat die sewe donderslae met hulle eie dreunings – dit kon ook sewe oordele gewees het soos die 7 seëls en 7 trompette, maar Johannes verduidelik dit nie (vgl. Ps 29 se 7x ‘die stem van die Here’ se seggenskap oor see en land). Wat die donderslae sê moet hy verseël en mag hy ook nie neerskryf nie, sodat niemand sal weet wat hulle gesê het nie – die mense het nie ag geslaan op die oopbreek van die seëls en die trompette se waarskuwings nie, daarom het dit nie sin om dit wat die sewe donderslae laat galm het, uit te spel nie. ‘n Ander strategie moet gevolg word: Johannes se profesie en die getuienis van die getroue kerk moet die res van die mensheid, wat deur die plae van die trompette verhard is (9:20), tot bekering roep (11:13).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die sesde trompet – perderuiters (9:13-21) – Francois Malan

9:13-15 Die altaar voor God het sy eie stem wat vanuit sy vier goue horings praat (vgl. 16:7 het letterlik net: ‘n stem uit die tempel vanaf die altaar). Sy opdrag is dat die vier engele wat vasgebind is by die groot Eufraatrivier, en gereed is vir dié uur, dag, maand, en jaar, word vrygelaat om ‘n derde van die mense dood te maak – God se plan in die boekrol, wat oopgerol word deur die Lam (5:5), is dat oordeel en verlossing saam ontvou, op grond van die offer van die Lam. Al die gebeure is God se voorbereiding vir die finale einde. Na die verseëling van die gelowiges het die tyd nou aangebreek om die magte los te laat, wat die vernietiging van die oordeel uitvoer.   Die vier horings, vier engele en vier tydsaanduidings beklemtoon die wêreldwye effek van die plaag. Soos Openbaring twee stede het wat teenoor mekaar staan – Babilon en die nuwe Jerusalem, so is daar ook twee opponerende riviere, Babilon se groot Eufraat, wat die bedreiging van dood en verwoesting inhou (ook in 16:12 en 12:15-16 uit die draak se mond), teenoor die rivier van Jerusalem wat uit die troon van God en die Lam vloei om lewe te gee aan hulle wat in die ewige stad woon (22:1-2).

9:16-19 Die getal wat Johannes gehoor het (9:16) verklaar wat hy gesien het (9:17-19). Hy hoor die getal van die duiwelse ruitery, wat meer is as die engele om die troon: twee maal tienduisend maal tienduisende (200 miljoen) duiwelse ruiters teenoor tienduisend maal tienduisende en duisend maal duisende (101 miljoen; 5:11) engele om die troon. Die Bose het ‘n geweldige groot reserwemag wat alleen deur ‘n messiaanse Verlosser oowin kan word in ‘n finale geveg met die boosheid (die Eufraat was die grens van die Romeinse Ryk. Anderkant die Eufraat tot aan die Indusrivier het die gevreesde Parte gewoon. Hulle was uitstekende perderuiters, wat die Romeine daarom oorwin het in 53v.C. en 62 n.C., vgl. Hand 2:9 vir die Jode wat tussen die Parte/Perse gewoon het – in die antieke uitbeeldings van die Parte dra hulle ruiters en perde harnasse soos in v17 beskryf ).

Met die loslating van die vier engele by die Eufraat sien Johannes ‘n monsteragtige horde kruisings tussen perde met koppe soos leeus en sterte soos slange met koppe. Hulle krag lê in hulle leeubek voor en slang bekke agter, waarmee hulle die mense wond. Hulle maak ‘n derde van die mensheid dood met die vuur en rook en swawel wat uit hulle bekke borrel. Hulle ruiters se borsharnasse het ook die kleure van vuur, rook en swawel (rooi, blou, geel), wat hulle woeste onstuimige innerlike natuur aandui. Anders as die sprinkane het hulle nie mens-trekke nie, maar lyk soos die Griekse mitologiese Chimera, ‘n vuurspuwende monster met ‘n leeukop, boklyf en draakagterlyf (na aanleiding van die vuurspuwende berg Chimera in Lysië met leeus in die bosse teen die bergtop, bokke wat langs die kante wei en slange in die moerasse aan sy voet). Die plae word erger: waar die vyfde trompet se plaag pynig, maak die sesde trompet s’n dood. Die mense se onbekeerlike harte word net harder, ten spyte van die waarskuwings wat erger word, soos die Farao se hart ten spyte van die plae in Egipte (Eks 9:24). Die oordeelsvoltrekking is die antwoord op die gebede van die gelowiges (5:8; 6:10; 8:3-4).

9:20-21 Die doel met die plae was om die verharde mensheid tot besinning te laat kom oor die vernietiging wat hulle optredes veroorsaak. Maar hulle gaan voort om demone te aanbid en om hulle stomme en blinde en onbeweeglike afgode te dien. Die verleiding van geestelike promiskuïteit is sterker as die bedreiging van die demoniese sprinkane en sataniese monsters. Hulle gaan voort om hulle valse gode te aanbid (teen die 2e gebod, Eks 20:4-5) en weier om hulle te bekeer van hulle moorde (6e gebod), toordery (farmakeia betower mense tot ekstase, soms met dwelms; vgl. goëlaar in Deutr 18:10), onsedelike gedrag (7e gebod) of stelery (8e gebod), die lys van hulle oortredings teen hulle God en hulle medemense. Die ses trompette is ‘n kommentaar op die geestelike aard van die wêreld wat die kerk en sy gelowiges uitlok om by hulle aan te pas. Johannes se nagmerrie-vision is bedoel om die kerk wakker te skud (3:2-3).

SkrywerProf Francois Malan