Ek cope nie meer nie: Ek dink ek maak dit nie, maar hoe weet ek regtig? – Jan van der Watt

“Ek cope nie,” is sommer’n hele mond vol

Wanneer jy sê dat jy nie cope nie, kan jy van ’n hele klomp din­ge tegelyk praat. Om nie te cope nie beteken jy voel dat jy nie meer beheer oor jou lewe het nie. Dinge glip uit jou hand uit en dit begin jou bangmaak. Dit voel of ’n donker hand jou begin vasdruk. Jy probeer, maar dit is of dinge nie wil beter gaan nie. Daar is ’n ongemaklike gevoel wat jou nie wil los nie en jy begin stres. Jy raak al meer gespanne en voel ook depressief. Later begin jou bors toetrek, jy kry hartkloppings en slaan in koue  sweet uit. Jy begin ’n angsaanval kry wat jou nog meer laat voel asof jy beheer verloor.

Voor ek verder gaan, moet hier net ’n belangrike onderskeid gemaak word. Daar is ’n verskil tussen die vrees, stres of angs dat jy nie meer so goed cope nie en ’n angsversteuring. Met angsversteuring word verwys na ’n siektetoestand. In angsversteurings is die angs en vrees buite beheer, baie intens en duur vir lang tydperke. Angsversteurings beïnvloed die betrokke persone se lewe baie nadelig. Daar is verskillende vorms van angsversteurings wat in hoofstuk 6 bespreek word. Dit sluit toestande in soos paniekversteurings, algemene angs­versteurings, sosiale fobie, gewone fobie, obsessief-kom­pul­sie­we versteurings en post-traumaties stres-versteurings.  Hier­die verskillende toestande het almal spesiale eienskappe en moet deur ’n geneesheer hanteer word. Gelukkig is daar goeie behandeling vir hierdie toestande en is die geneesheer in staat om hierdie mense effektief te help.

Om te sê jy cope nie, beteken dus om van ’n klomp dinge te praat wat oorvleuel, soos stres en angs, depressie en ver­slawing en so aan. Dit beïnvloed jou in jou totaliteit.

Depressie

Kom ons kyk na depressie. Seker 50% mense wat voel dat hulle dit nie maak nie en dus nie cope nie, ontwikkel  (reak­tiewe) depressie. Dit mag selfs wees dat die depressie maak dat hulle nie cope nie. Dié bose spiraal kan ’n mens insluk. Mense met depressie voel leeg en sonder hoop. Hulle is neer­slagtig en niks is meer regtig vir hulle lekker nie. Die lewe is sonder plesier. Hulle voel hulle is ’n mislukking en hulle dink selfs aan selfmoord.

Veral godsdiens maak dit dikwels vir hierdie mense swaar. Hulle besef hulle het ’n probleem. Hulle voel neerslagtig en tree ook so op. Hulle is kortaf en nors omdat hulle nie goed voel nie. Boonop voel hulle die Here is nie daarmee tevrede nie. Hulle maak beloftes aan Hom om beter te probeer leef, maar die depressie wil net nie weggaan nie. Môre moet hulle maar weer op hulle knieë gaan, want daar is net te veel dinge waaroor hulle voel hulle God om genade moet smeek. So bou allerhande skuldgevoelens op. Om alles te kroon begin hulle fisiek ook probleme optel. Hulle slaap nie meer so lekker nie. As hulle wakker is, lê hulle en rondrol met ’n neerdrukkende gevoel en baie negatiewe gedagtes en hulle kan dan nie weer aan die slaap raak nie. Net voor opstaantyd raak hulle tog aan die slaap, en is dan doodmoeg as hulle moet opstaan. Met ’n groot gesukkel kom hulle dan orent, maar het geen energie oor nie. By die ontbyttafel is hulle nie honger nie, want dikwels verdwyn hulle eetlus. Omdat hulle moeg is en nie so lekker voel nie, konsentreer hulle ook nie so goed nie. Daarom sukkel hulle om te onthou en besluite te neem. Dikwels is dit vir hulle nog moeiliker om die besluite uit te voer. Hulle kan heeldag besig bly, maar aan die einde van die dag voel of hulle net mooi niks gedoen het nie.

Die verband tussen depressie en die gevoel dat die lewe vir jou te veel raak en jy nie meer cope nie, is meer as duidelik. Dit is soos karperde. Geen wonder dat sulke persone mis­moedig en bang raak vir die lewe nie.

Gelukkig is daar vandag medikasie wat help vir de­­pressie en die vrees dat jy nie cope nie (oftewel angs), sodat beide toestande deur een soort medikasie behandel kan word. Die trisikliese anti­­­depressante soos amitriptileen (Tryptanol) kal­meer die ge­moed, terwyl dit ook die depressie verlig. Net so help sekere van die selektiewe serotonien-heropname-inhi­bit­ore soos paro­xetine (Aropax) beide vir angstigheid en depressie.

Stres

Stres is nie noodwendig altyd sleg vir ons nie. Stres is die aktivering van ons primitiewe veg- of vlugreaksie. In primitiewe diere speel hierdie reaksie ’n baie belangrike rol, want die reaksie help die diere om te oorleef. Sou gevaar dreig, word hier­die reaksie geaktiveer en adrenalien vrygestel. Dit sorg dat hulle vinniger kan reageer: hulle oë is skerper, reaksies sker­­per en spiere soos vere. Hulle kan dus vinniger beweeg, vinniger reageer en hulleself beter verdedig of vinniger vlug. Die­selfde geld die mens. Daardie hol kol op die maag voor­dat ons rugby speel of eksamen skryf, help ons om beter te pres­teer. Dit hou ons op ons tone en help ons om ons doel te be­­reik. In hierdie gevalle is stres dus tot ons voordeel.

Maar as die situasie van veg of vlug te lank aanhou, ontwikkel jy probleme en jou liggaam en gees word negatief aangetas. Dit gebeur veral as dinge nie loop soos jy wou hê dit moet nie. Jy voldoen nie aan jou eie eise en reëls nie en dit maak jou gespanne. Jy begin tam voel, jou spiere begin pyn en jou kop word seer. Jy begin humeurig word en jou konsentrasie gaan agteruit. Jy begin voel jy verloor beheer en cope nie meer nie. Jou gedrag ly ook daaronder, want jy raak kortaf, vergeet dinge, en kry nie gedoen wat jy moet nie. Jy raak bang en onseker. Jy weet jy moet cope, maar jy kry dit nie so goed reg nie. As die stres buite beheer raak of onrealisties lank duur, kan jy van angs (vrees) praat. Jy voel magteloos en maar net ’n toeskouer van jou lot. Juis dit laat jou nog meer bang en on­­seker voel.

Alkohol en dwelms

Mense wat voel hulle verloor beheer oor die lewe neig nogal daarna om geluk in die bottel te gaan soek. Die alkohol mag aanvanklik help om hulle ’n bietjie te kalmeer en beter te laat voel, maar dit het op die lang termyn net katastrofiese gevolge. Dit hoef ons nie hier te bespreek nie. Dit is genoeg om te sê dat ’n oormaat alkohol ’n mens se lewe vernietig en jou verslae en alleen laat, om nie eers te praat van cope nie. Dit raak feitlik onmoontlik.

Soms vlug jongmense tussen twaalf en sewentien ook na dwelm­middels om hulle te help om te cope, veral as hulle dinge soos aanvaarding en liefde by die skool of huis mis. Eers moet dit hulle net help om die dag deur te sien, maar later raak hulle afhanklik daarvan. Dit vererger en kompliseer natuurlik alles. Daar is sekere veranderinge in kinders se gedrag wat as verklikkers kan dien dat hulle moontlik betrokke is by dwelmmisbruik, byvoorbeeld skielike slordigheid, of gebrek aan belangstelling in dinge wat hy vroeër lief voor was. Hierdie kinders kan ook neig om hulle te onttrek aan gesins­aktiwiteite. Hulle wissel vinnig van vriende en raak alleen­lopers. Hulle skoolprestasie wissel en soms is daar sterk wis­seling in hulle gemoedstoestand. Dit maak dit natuurlik nog moei­liker vir hulle om te cope. Boonop plaas dit ook dikwels buiten­gewone druk op die gesin.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Wat ek met die lewe doen – Jan van der Watt

Ek maak my eise te hoog

Elkeen van ons het ’n stel waardes in ons kop, oftewel, ons het ’n lewens- en wêreldbeskouing. Dit is dinge wat vir ons belangrik is. As ons iets moet doen, wend ons ons intuïtief na daardie waardes in ons kop en vind uit wat dit sê. Daarvolgens reageer ons dan.

Die interessante is dat hierdie “stel waardes” ons éie is. Jy het dit gemaak – al was dit miskien onder die druk van jou ouers of onderwysers – en jy kan dit verander. Dit is wat jy vir jouself wysmaak wat jy wil hê en hoe jy wil leef. Dit is die eise wat jy aan jouself stel.

Nou kan dit gebeur dat jy die eise aan jouself te hoog stel. Jy wil te veel hê, te goed presteer, te veel doen. Neem jou ge­sin: jy wil die ideale gesin hê, in alle geval soos jy dit sien. Daar­om moet jou man in die tuin werk én alles kan regmaak wat breek of net nie reg lyk nie. Intussen het jou man tien dui­me. Hy kan bitter min regmaak en wat hy probeer regmaak, kan daarna maar weggegooi word. Hoe meer hy probeer, hoe meer kritiseer jy. Jy het jou eise gestel en hy moet daaraan voldoen, buig of bars. Die arme man probeer ook nie eers met die vrou argumenteer nie, want as hy dalk wen, is hy regtig in die moeilikheid. Hy luister maar en probeer maar weer, want hy weet dat geen vrou nog haar man geskiet het terwyl hy skottelgoed was nie.

Haar kinders moet ook die beste wees. Alles wat sy nie op skool kon regkry nie, moet hulle nou doen. As hulle dit nie regkry nie, is daar groot ongelukkigheid. Die eise wat gestel is, is nie nagekom nie. Spanning begin soos spinnerakke in elke hoek van die huis vassit  … En hoekom? Die vrou het on­­­-rea­­listiese eise en reëls gestel. As sy haar eise meer realisties gemaak het, sou die prentjie heeltemal anders gelyk het. Dan sou haar man en kinders miskien makliker aan haar verwagtings kon voldoen. Dan sou daar minder stres gewees het en sou almal makliker gecope het.

Ons dra dus dikwels self skuld vir die feit dat ons so swaar cope. Ons stel onrealistiese eise aan onsself. Ons koop ’n huis of kar wat net te duur is. Ons is net te hardkoppig om toe te gee dat ons dinge van ons man of vrou of kinders verwag wat nie haalbaar is nie.

Om so agter drome aan te hardloop is mos nou om moei­likheid te soek. Jy maak dit net swaar vir jouself, want dit is jy wat gaan sukkel om te cope. Die ironie van die saak is dat daardie klein bietjies waardeur ons die eise te hoog stel en wat ons uiteindelik breek, gewoonlik so min is dat mense dit nie eers sal agterkom nie. Wie gaan die verskil agter­kom as jy ’n huis met twee badkamers en ’n gastetoilet het (wat net te duur was) in plaas van ’n huis sonder daardie ekstra toilet? Gaan mense regtig dink jy is soveel beter as jy ’n klas hoër Mercedes ry of die Corolla koop met die outomatiese ruite? Wie gaan vreeslik omgee dat jou kind met groot stres en moeite 68% in plaas van 64% gekry het, behalwe jy en hy? Dis julle wat die spit moet afbyt en ’n mens kan tereg vra: “Waarvoor?”

Met hierdie voorbeelde wil ek slegs ïllustreer dat daardie ekstra eise wat ons aan onsself stel en wat uiteindelik ons rug breek, dikwels onbelangrik en eintlik irrelevant is. Dit bou net stres op en maak dit vir ons al hoe moeiliker om te cope. Ons moet dit net besef. Ons moet ons waardes, daardie dinge wat vir ons belangrik is en vir ons sin maak, mooi opweeg en net dit oorhou wat regtig die moeite werd is.

Ek praat myself in ’n gat in

Iets wat ’n mens nie altyd besef nie, is dat jy gedurig besig is om met jouself in jou kop te praat, al is dit net in kort sinne of uitroepe soos “ag nee”, “sjoe” of so iets. As iets met jou gebeur, “vertel” jy jouself wat jy daarvan dink en wat gebeur het. Ons noem dit selfgesprek. In ’n sekere sin werk dit soos brein­spoeling. Of wat jy dink nou reg of verkeerd is, jy glo jouself en jy reageer op grond van dit wat jy glo. Nou hang alles af van hoe jy met jouself praat. Jy kan die goeie of die slegte uit ’n saak haal en jouself dan daarvan oortuig. Neem die volgende voorbeeld: Die ou oom lê op sterwe. Hy roep sy vrou nader. Met sy mond teen haar oor fluister hy met sy laaste bietjie asem: “Sarie, jy was by my deur die groot depressie, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Sarie, jy was saam met my deur die vreeslike droogte op die plaas, nè?”

 “Ja, ou man,” sê sy.

“Sarie, en nou is jy hier by my doodsbed ook, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Maar dan lyk dit mos vir my of jý die een is wat al die ongeluk vir my bring,” sê hy.

Nou ja, dis hoe die oom dit sien. ’n Mens sou beslis ander afleidings ook kon maak, afhangende van hoe jy oor die saak dink.

Ongelukkig is dit so dat die meeste van ons eerder geneig is om negatief te dink as positief. Negatiewe denke en nega­tiewe selfgesprek lei natuurlik tot sterk emosies. As ek dink dinge loop verkeerd, begin my hart klaar klop en voel ek klaar angstig en bang, want ek glo en vertrou myself mos. Party mense bekommer hulle ook oor alles. Hulle geliefde woorde is: “Sê nou net … ?” of “Wat as … ?” Vir party mense is die lewe te swaar; die pad te lank en die opdraandes te steil.

Hierdie soort selfgesprek kan natuurlik vernietigend wees. Jy kan jouself die hele tyd wysmaak dat jy nie cope nie en dit dan nog glo ook. Die werklikheid mag heeltemal anders wees, maar jy wil dit nie glo nie. Al een wat te blameer is vir hierdie gat waarin jy jouself praat en die moeite wat jy het om kop bo water te hou, is jyself. Dit is eintlik jou eie skuld as jy voel jy cope nie. Meer daaroor in ’n latere hoofstuk.

Ek verloor belang in die lewe

Waar kom die skilpad sonder bene? Nêrens nie. En hoe tref ’n mens die kol as jy nie ’n kol het nie? ’n Mens kan gou belangstelling in die lewe verloor as jy nie ’n doel het nie. Dan is jy regtig soos ’n skilpad sonder bene. Jou doel hoef nie te wees om die president van Suid-Afrika te word nie. ’n Doel is nie net ’n doel omdat dit ’n gróót doel is nie. ’n Mens kan ook vir jouself eenvoudige mikpunte stel. Dit is net so goed en belangrik.

Daar is die verhaal van die mense wat in ’n nuwe omgewing ingetrek het. Op ’n dag klop ’n arm man aan die deur. Hy ver­koop groente. Die mense wou hom so gou moontlik weg hê en koop toe maar sommer ’n bossie wortels. Die volgende week is die man weer daar. So met verloop van tyd het die mense aan die arm ou man gewoond begin raak. Hulle sien toe die toestand van sy skoene en besluit om vir hom sommer twee goeie pare te gee wat net onder in die kas lê. Sonder om te weet wat in die plastieksak is, is die ou man die volgende keer daar weg.

Tot hulle verbasing kom die ou man toe weer die volgende week met sy ou skoene daar aan. Nuuskierig begin hulle hom oor die skoene uitvra. Hy vertel toe: “Baie dankie vir die skoene. Ek kon dit goed gebruik. Ek het dit vir mense gegee wat dit nodiger as ek gehad het.”

Die mense kon hulle ore nie glo nie, ook nie oor wat hulle daarna gehoor het nie. Die ou man vertel hulle toe dat hy groente verkoop om arm mense (of laat ek sê, nóg armer mense as hy) in sy omgewing aan die lewe te hou. Juis dit het hom ook aan die lewe gehou. Dit het hom iets gegee om voor op te staan in die oggend. Neem dit nou van hom weg en jy het iemand wat in sy eie armoede sal vergaan.

Dikwels gebeur dit dat mense stadig in hulleself doodgaan sonder dat hulle dit besef. Die huisvrou sit by die huis en het eintlik alles wat sy wil hê. As sy in die oggend opstaan, is al wat sy het om na uit te sien die paar opdragte wat sy vir haar huishulp moet gee. Om te koop en in die tuin te sit en koffie drink is ook nie meer lekker nie. Hierdie rigtingloosheid laat ’n gevoel van sinloosheid oor so ’n persoon toesak. Depressie klop aan die deur en emosies raak so sensitief soos oop senuwees. Die geringste ding wat verkeerd loop, lyk soos ’n berg, want watter ander opwinding is daar in die dag?

Doelloosheid sorg vir ongelukkige en onvergenoegde mense wat voel die lewe gaan by hulle verby. Eintlik is dit hulle wat soos die skilpad die lewe by hulle laat verby­gaan. 

Om saam te vat

Die gevoel dat jy nie kan cope nie en dat jy onseker en bang  voel, kom veral uit drie hoofstrome en kan so voorgestel word:

Wie ek is

(oorerwing en persoonlikheid)

Wat ek geword het

(opvoeding en kinderdae)    

Wat ek nou met my lewe maak

(my eise, keuses en selfgesprek)

Dié faktore werk saam en by verskillende mense het verskil-lende faktore ’n verskillende invloed. Dit gaan dus om ’n kom­bi­nasie van faktore wat eintlik by elke mens uniek is. Maar uiteindelik is dit hierdie dinge wat jou laat cope of nie.

Ek wil nie cope nie: onderhouding van angs

Dit is tog eienaardig hoe mense die oorsake van hulle probleme kan ken, maar niks daaraan doen of wil doen nie. Dit is ook ’n kenmerk van iemand wat nie cope nie. Hoe meer hy sukkel, hoe banger word hy en hoe banger hy word, hoe meer sukkel hy. Dit is ’n bose kringloop. Hulle het amper die houding van die dronkie wat vir die ander een sê: “Sjoe, die bier is darem sleg.”

“Ja,” kom die antwoord, “ek kan amper nie wag om genoeg te hê nie.”

Soms weet mense wat die probleem is, maar hulle wil niks daaraan doen nie. Hulle gaan maar op die ou paaie aan. Daardie mense het net hulleself te blameer. Hulle onderhou hulle eie vrese en angs. As argitek van hulle eie lewe “beplan” hulle hulle eie vrese en sorg vir die gevoel dat hulle nie cope nie. Dit hoef nie so te wees nie. Hulle kan ’n verskil aan hulle lewe maak as hulle maar net wil.

In hierdie hoofstuk het ons dus gesien wat alles veroorsaak dat ’n mens die gevoel kan kry dat jy nie cope nie en dalk regtig nie cope nie. Daar is heelwat redes wat saam die monster vorm wat jou lewe vir jou moeilik wil maak en wil sorg dat jy die lewe nie moet geniet nie. As jy jou vyand ken, kan jy vir hom ore aansit. In ’n latere hoofstuk gaan ons sien hoe dit gedoen kan word. Maar eers moet ons kyk wat angs en die gevoel dat ons nie cope nie fisiek aan ons doen.

 

1. Skrifaanhalings uit Die Boodskap (met Psalms en Spreuke) tweede uitgawe, eerste druk, 1999, tensy anders vermeld.

2.  Die vorm hy/sy, hom/haar word nie afwisselend gebruik nie. Ter wille van goeie styl word voorkeur gegee aan hy/hom/sy as generiese term met ’n neutrale betekenis.




Ek cope nie meer nie: Hoe ek opgevoed is – Jan van der Watt

My persoonlike opvoeding en lewenstyl

Om te sê dat persoonlikhede verskil, is goed en wel, maar ons kan ook sekere maniere van optrede aanleer. Ons moet nie maak soos die man wat dokter toe is nie. Hy vra die dokter wat makeer en die dokter sê: “Alkohol is jou probleem.”

“Dankie tog,” sê die man. “My vrou sê die hele tyd ék is die probleem.”

Jy moet nou nie te gou sê nie: “Dankie tog, dis die chemiese wanbalans in my brein of oorerwing of my persoonlikheid.” Dan is ons soos die seuntjie wat sy ma antwoord wat sê: “Hou op om die kat se stert te trek” met die woorde: “Ek trek nie. Ek hou net; dit is die kat wat trek.”

Ons ontken dat ’n groot deel van die probleem eintlik by onsself lê, wat eintlik al by ons kinderdae en opvoeding begin.

Party mense het nie gelukkige kinderdae gehad nie en dit laat gewoonlik permanente letsels op daardie persoon se lewe. As jy hom vra of hy ooit die dag van sy geboorte sal vergeet, sal hy sê: “Natuurlik nie, ek het soos ’n baba gehuil,” en die trane vir sulke ongelukkige kinders sal vir lank nog aanhou.

’n Kind is weerloos en daarom baie afhanklik van sekuriteit. Hy moet veilig voel. Die onbekende of vreemde hou ’n groot bedreiging in. Daarom klou kinders gewoonlik aan hulle ma se rokspante vas as ’n vreemde oom aankom of huil as hulle skool toe moet gaan. Dink maar aan die hartverskeurende gehuil in ’n winkel as ’n klein dogtertjie dink haar ma is weg. Om daardie sekuriteit van ’n kind weg te neem is so goed as om die fondamente onder ’n huis uit te grawe. Daardie huis gaan val, tensy daar allerhande stutpale bykom om die mure regop te probeer hou. So ontwikkel ’n kind ook “stutpale” of meganismes om hom met die situasie van onsekerheid en bedreigdheid te laat cope. Dit is die manier waarop die kind leer om aan die gang te bly. Net soos “stutpale” onnatuurlik in ’n huis is wat eintlik op fondamente moes staan, so is die meganismes wat die kind ontwikkel gewoonlik ook nie normaal nie, en neig om negatief te wees.

Kom ons kyk na ’n voorbeeld om te illustreer wat ons bedoel:

Iemand laai sy kind by ’n vreemde dagmoeder af sonder om hom mooi voor te berei sodat hy daar veilig voel. Die arme kind voel alleen en die dagmoeder het ook nie die geduld om die kind wat so skreeu heeltyd te pamperlang nie. Dan begin die kind ander afknou. Die dagmoeder praat mooi én raas, maar dit help min. Om ’n lang storie kort te maak, hierdie kind leer om te cope deur sy aggressie. Hy voel bang en onseker. Op een of ander manier moet hy op hierdie snaakse, slegte gevoel binne-in hom reageer. Gou kom hy agter dat om ander af te knou die nodige reaksie by die dagmoeder uitlok. Sy skreeu en raas, maar die negatiewe aandag is beter as die gevoel van onsekerheid en alleenheid. Hy kry ten minste aandag. Volgens hom werk die resep baie goed. Hy kry wat hy wil hê.

So word ’n negatiewe lewenspatroon gevestig: voel ek alleen of bedreig, reageer ek aggressief. Die negatiewe reaksie en aandag van ander op my aggressie oordonder my gevoel van onsekerheid so ’n bietjie. Die patroon dra ek dan met my saam. In my huwelik word ek die geitjie as die gevoel dat ek nie cope nie by my begin opbou. Ek wil my man of kinders nie regtig kwaad maak nie, maar ek kan nie help nie. Dit is byna of dit al manier is waarop ek ontslae kan raak van die slegte, bang gevoel dat ek nie cope nie. Wat ek nie altyd besef nie, is dat die negatiewe, bakleierige gedrag van my juis soos ’n sirkel werk. Ek voel ’n klein rukkie beter, maar die skade wat ek met my baklei en stry aangerig het, veroorsaak uitein­delik dat die stres meer word. My gesin is nie meer so gelukkig nie en dit gee my verder die gevoel van hopeloosheid en angs. Wat ’n bose kringloop! Die ergste is dat ek nie eers weet dat hierdie negatiewe patroon soos ’n rekenaarprogram in my ingeprent is nie. Al wat gaan help, is dat ek dit besef en daarvan ontslae moet raak. Ek moet die negatiewe program uitvee en ’n nuwe program skryf.

Laat ons ’n ander reaksie op bogenoemde voorbeeld neem:

My ma wil my by vreemde mense los, maar ek wil niks weet nie. Om my te uitoorlê bied die mense vir my ’n lekker of heerlike poeding aan. As ek my oë uitvee, is my ma weg. Ek kom agter dat mense nie is wat hulle sê hulle is nie … nie eers my ma nie. Hulle laat ’n mens maklik in die steek. Nou ontwikkel ek ’n meganisme om my te beskerm teen die seer-maak. Ek vertrou mense net nie meer so maklik nie en dit word my lewenshouding. Voor ek hulle nog ’n kans gegee het, wantrou ek hulle al en begin ek my bekommer oor wat ek gaan doen as dinge skeef loop. Ek kry daardie tipiese “bobbejaan agter die berg”-houding. Dit laat my eenvoudig moeiliker cope, want ek moet gedurig met daardie bobbejane agter die berg stoei, terwyl dit die meeste van die tyd nie regtig nodig is nie.

’n Laaste voorbeeld is die pa wat vir sy kinders sê hy is sesuur by die huis. Van halfses af sit hulle skoon gewas regop op die muurtjie vir hom en wag. Vir hulle voel dit soos ’n ewigheid voor sesuur uiteindelik slaan … en dan word dit vyf oor ses  … kwart oor ses … halfsewe … Paniek pak gewoonlik daardie kinders beet. Hulle sien hulle pa dood lê langs ’n opgefrommelde motor … of aan die verkeerde kant van skakers se rewolwer. ’n Mens dink mos altyd die slegste. Hoe later dit word, hoe banger word hulle. Sewe-uur kom die pa niks­ver-moedend daar aan. Hy besef nie altyd wat gebeur het nie. ’n Rukkie later gebeur dit weer en die arme kinders loop weer dieselfde pad van paniek. Om te cope probeer hulle hulleself beskerm deur allerlei meganismes. Dit kan wees dat hulle afstomp in hulle verhoudings of heeltemal terugtrek omdat hulle nie hulle paniek wil erken nie, maar eerder dood wil ignoreer. Dan word hulle groot en hierdie negatiewe gedrag is al manier waarop hulle in moeilike situasies kan cope. Die gevolge is swak verhoudings of stil huwelike waar die partye vir lang tye terugtrek en nie met mekaar praat nie. So probeer hulle met die situasie cope op die manier waarop hulle van kleins af staatgemaak het. Weer is dit nie regtig cope nie, want sulke negatiewe gedrag veroorsaak meer probleme as wat dit oplos.

Die manier waarop ek my kind hanteer en opvoed, is dus belangriker as wat ’n mens dink. In die opvoedingsproses leer die kind die spel van die lewe speel; leer hy wat reg of verkeerd is. Die ouers leer die kind hoe om na dinge te kyk en daaroor te voel; wat om te glo en wat nie; hoe om te cope of nie.

Die opvoedingsproses is belangrik

Neem bogenoemde voorbeelde. In elke geval het die kind gevoel hy word in die steek gelaat. Dit maak hom onseker en bang, want ten minste tot op die ouderdom van vier jaar is die kind emosioneel uiters afhanklik van sy ouers, juis omdat hy so weerloos voel. Die realiteit van God wat by ons is, kan hier egter ’n groot rol speel. ’n Ateïs het nie ’n onsigbare ondersteuningsisteem nie, maar ’n Christen wel. As die kind van kleins af leer dat Jesus daar is en vir hom lief is, al gebeur wat, kan dit ’n groot verskil maak. Dit kan die kind ook die sekuriteit gee wat hy nodig het as dit nodig raak. Maar dan moet die kind dit ook in die lewe van sy ouers kan sien. Die kind moet leer dat Jesus vertrou kan word. Om aandag aan die godsdienstige ontwikkeling van jou kind te gee is dus nie tydmors of ’n luukse nie. Jy lê patrone vas wat goeie en positiewe gevolge vir die res van sy of haar lewe kan hê.

Ouers moet dus versigtig wees wat hulle hulle kinders leer. Die manier waarop jy jou kind hanteer en voor jou kind optree, kan patrone vestig wat dit later vir die kind moeilik maak om self in die lewe te cope.

Daar word tussen verskeie opvoedingstyle onderskei wat gewoonlik sekere letsels op kinders laat en dit vir hulle in hulle latere lewe moeiliker maak om te cope. Dit is belangrik om daarvan kennis te neem. Enkele van die belangrikste style word kortliks bespreek.

Die dominerende ouer

Daar is die ouers wat dink dit is goeie maniere as ’n kind op die meeste gesien word, maar nie gehoor word nie. As die ma die opinie van haar kind wil hoor, sal sy sommer self die opinie namens haar kind gee. Dit is slegte maniere van die kind om vir homself iets te vra of om nee te sê as hy nie iets wil hê of doen nie. Die ouers mag miskien ’n rukkie trots wees op hulle “stom” kind wat so goed geleer is om te doen wat hulle wil hê. Die ergste is dat die Bybel dikwels gebruik word om die kinders só onder die duim te hou. Hulle beklemtoon dat kinders hulle ouers moet eer en gehoorsaam, asof dit die kinders die slawe van die ouers maak.

Die wonde wat so in die kinders se lewe geslaan word, begin dikwels eers bloei as die kinders groter word. Die kinders is teruggetrokke en bang om hulle sê te sê. Ons dink dan hulle is skaam, maar eintlik is hulle bang. Hulle kry die gevoel dat hulle nie regtig tel of ’n verskil kan maak nie. Dit laai stres op en uiteindelik mond dit op die gevoel uit dat die persoon nie cope soos hy moet nie.

Sulke mense is ook gewoonlik meer afhanklik van ander, want hulle het nie geleer om hulle eie opinie uit te druk of te formuleer nie. Alte gou word so ’n persoon besluiteloos en weet nie hoe verder nie. Ander moet maar besluite namens (en vir) hom neem. Gewoonlik ly dié persone ook aan ’n spraakgebrek: hulle kan nie “nee” sê nie en moet dus dikwels dinge doen wat hulle eintlik nie wil nie. Dit alles bou stres op tot die persoon later nie meer kán nie, en allerhande angs­toe­stande ontwikkel.

Die oorbeskermende ouer

Daar is ook ouers wat hulle kinders op ’n oordrewe manier wil beskerm. Die kinders word teen alles en nog wat gewaar-sku: “Oppas vir dit of dat”; “Moenie aan dit vat nie”; “Wees versigtig vir sus of so”; en so gaan hulle aan. Sulke ouers besef nie dat hulle so vir hulle kinders ’n negatiewe idee van die wêreld oordra nie. Wat die kind deur die oë van sy ouer sien, is ’n buitewêreld wat gevaarlik en onvriendelik is. Dis ’n plek waar ’n mens nie eintlik tuishoort nie, want alles daarin is vyandig en kan jou seermaak. Jy moet die hele tyd oppas en versigtig wees vir goed wat jou kan seermaak, hap of byt, steek of pik en wat nog alles. Die wêreld is nie daar om te geniet en te ontdek nie. So word ’n oorversigtige wêreldbeeld aan die kind oorgedra. Dit inhibeer die kind heeltemal, want hy is ingeprent dat daar net een veilige plek is en dit is aan die ma se rokspant.

En dan word die persoon groter en ma se rokspant is nie meer daar nie. Die mens wat agterbly, is gewoonlik geneig om hom oor alles te bekommer en die slegste in alles te soek. Dis byna soos ’n sielkundige se diagnose: daar’s niks wat jy het wat hy nie tien maal kan vererger nie. Sodra die geringste verkeerd loop, sê hy: “Sien jy hoe gevaarlik … jy moet liewers nie.” Dis ’n mens uit op verdediging; iemand wat teen die lewe stry; iemand wat bang is vir alles. Van onderne­mingsgees en positiewe belewing van die wêreld is daar min sprake. Dit is onnodig om te sê dat dit vir so ’n persoon moeiliker is om te cope as vir ander.

Die oorkritiese ouer

Oorkritiese ouers stel sulke hoë eise aan die kind dat hy voel hy is nie goed genoeg nie, behalwe as hy perfek is. Daar word altyd gekritiseer: “Jy kan beter”, “Dit was goed, máár jy het weer dit of dat verkeerd gedoen”, en so aan. So leer die kind dat die lewe ’n plek is waar hy nooit eintlik goed genoeg kan wees nie. Deur die oë van die ouers lyk die prentjie egter anders: hulle regverdig hulleself deur te sê dat hulle wil hê hulle kind moet sy volle potensiaal ontwikkel, want hulle weet daar steek meer in hom as wat hy wys. Sy 60% op skool moet eintlik 70% wees. Die meneer wat hom in die tweede span sit, trek ’n ander seun voor en sien nie eintlik regtig sy poten­siaal raak nie. Die kind word dan onder druk geplaas om meer en beter te presteer.

Dit is amper soos die hond wat krieket gaan speel het. Hy het een ses na die ander geslaan. Die omstan­ders kon hulle oë nie glo nie: ’n Hond wat so ongelooflik krie­ket kan speel? Hulle het hulle lof vir die eienaar van die hond nie gespaar nie: “Jy is seker baie trots op die hond van jou?”

“Ja,” sê die eienaar. “Maar sy ouers is nie so trots op hom nie. Hulle wou eintlik gehad het hy moet sokker speel.” Ouers kan by die wonderlike talente van hulle kinders verby kyk en op ’n kritiese manier na ander soek. Nooit voel die kind hy is wat die ouers wil hê nie. Dit maak die kind onseker van sy eie aanvaarbaarheid.

Hy wil nie eintlik deelneem aan dinge nie, want hy is bang hy stel sy ouers teleur; hy is bang hy is nie “goed genoeg” nie. Die fokus in die kind se lewe word ’n konstante poging om sy ouers tevrede te stel en hulle aanvaarding te soek. Daarom probeer hy situasies vermy waarin hy voel hy nie gaan wen of “foutloos” lyk nie.

Wat leer daardie kind? Hy moet heeltyd vir aanvaarding veg; hy moet altyd “gaaf wees” en “goed lyk”, want hy is alleen “goed” as hy dit in ander mense se oë en volgens ander mense se maatstawwe is; en dit gewoonlik ten koste van homself. Selfs dan loop hy gevaar om nie die paal te haal nie. Daarom het hy gewoonlik ’n lae selfbeeld. Hy verwag dat almal hom gaan beoordeel en kritiseer en dit maak hom bang vir die vernedering. Daarom soek hy liewer net een “veilige” vriend of vriendin uit. Hy hou nie baie van groepe nie, want daar moet hy “presteer”. Verwerping en kritiek sny by hom baie dieper as by ander. In ’n sekere sin hardloop hy dus ’n bietjie weg vir die lewe. En as hy nie kan weghardloop nie, is hy iemand wat na ander se pype dans.

Die prentjie wat so ontvou, teken iemand vir wie die lewe moeiliker is as vir ander. Die eise om regtig te cope is hoër en die persoon voel makliker dat hy nie slaag nie.

Die liefdelose ouer

’n Mens moet ook versigtig wees om jou kind nie emosioneel te knak deur een of ander vorm van swak behandeling of selfs misbruik nie. Deur onvoorspelbaar op te tree (wat soms met drankmisbruik, te veel pille of emosionele wisselinge saam­hang), deur jou kind die hele tyd sleg te sê of te beskreeu en sy behoeftes te ignoreer, of hom laat voel hy word verwerp (as jy ’n bietjie moeg is en voel of jy die kind nie meer wil sien nie) of erger – en byna ondenkbaar – seksuele teistering wat letsels op jou kind kan laat wat nooit genees nie.

Sulke emosioneel geteisterde kinders probeer ook maar hulleself handhaaf: hulle ontwikkel maniere om te probeer cope. Ongelukkig is die maniere waarop hulle probeer cope nie altyd die regte maniere nie. Soms is hulle geneig om na uiterstes te beweeg. Hulle sal maklik na drank of dwelms draai, of vriende soek waar hulle aanvaar word, al is die prys hoe hoog om deel van daardie groep te wees. Hulle sal deur hulle klere­drag en houding ’n stelling maak wat elke moederhart sal laat ril. Sommige kies ’n ander oordrewe pad, naamlik die godsdienstige pad. Hulle word hipergodsdienstig, ver verby die punt van oordrewenheid. Dit gee vir hulle die gevoel van veiligheid en help hulle om al die seer van die lewe weg te redeneer.

Vir sulke mense is die lewe een groot poging om te cope. Dit kon so anders gewees het as dit nie vir die ouers was nie.

Bogenoemde is slegs ’n poging om enkele maniere waarop ouers hulle kinders grootmaak so ’n bietjie te omskryf en te klassifiseer. Die werklikheid is natuurlik dat die maniere eintlik deurmekaarloop en dat geen ouer sy kind net op die een of die ander manier grootmaak nie. So ’n bietjie van elkeen kom gewoonlik voor, hoewel daar dikwels een dominante wyse is wat die ander oorskadu. Wanneer die dominante wyse oor­dr­e­­we en te erg raak, kom die probleme.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Jy moet sorg dat jy cope – Jan van der Watt

Nie almal reageer dieselfde nie

Die manier waarop jy dinge sien en daarop reageer, bepaal eintlik of jy cope of nie. Nie almal gaan byvoorbeeld sukkel met die verlies van ’n lewensmaat nie. Die persoon wat byvoor­beeld in die aande as dit stil is sy huweliksvideo agteruit speel net om te sien hoe dit lyk om as vry man uit die kerk te kan stap, gaan anders reageer as die persoon wat baie na aan en afhanklik van sy vrou was. Net so hoef die baas van ’n groot fabriek nie noodwendig meer angs en stres te hê as die huisvrou nie. Dit hang af hoe elkeen sy situasie hanteer. Die vrou kan voor die stoof staan en wonder of haar kinders veilig is, of die meneer of juffrou van hulle hou en dan vreeslik aan die bekom-mer gaan, in so mate dat sy angsaanvalle begin kry. Sy voel vasgekluister in die huis voor die stoof; magteloos om haar kinders in die skool te help of haar man by te staan met al sy probleme by die werk. Die magteloosheid laat haar bang voel. Sy begin die gevoel kry dat sy nie in beheer is van haar gesin en lewe nie en dat sy nie meer cope nie. Die eentonige huis-werk help ook nie juis om die situasie te verbeter nie. As die man in die aand by die huis kom, kry hy ’n moeë vrou wat ge­-daan lyk. Hy wonder wat aangaan, want sy sit dan heeldag by die huis. Die baas van ’n fabriek daarenteen kan ’n hele span mense hê wat hom help. Hy kan voel hy het alles onder beheer en daarom tref die stres en angs hom nie eintlik nie. So verskil situasies en die manier waarop mense daardie situasies hanteer.

Kom ons verskuif nou ons aandag na ’n klompie redes waarom mense se reaksies so verskil.

Die manier waarop ons op negatiewe gebeurtenisse en le-wenskrisisse reageer, is baie kompleks en word deur ’n hele paar faktore beïnvloed. Die manier waarop elkeen van ons “aanmekaargesit” is – oorgeërfde eienskappe – het ’n invloed, asook dinge soos persoonlikheid, selfbeeld, opvoeding, denk-wyse of lewenstyl.

Redes wat maak dat ek nie kan cope nie

Ons gaan veral na drie redes kyk waarom mense sukkel om te cope. Die eerste een raak die manier waarop ons “aanmekaar- gesit” is, met ander woorde oorerwing en ons persoonlikheid. Die tweede is wat ons geleer het oor die lewe, met ander woorde ons opvoeding, en die derde is ons lewenstyl.

Waarvan ek gemaak is

Hoe ek aanmekaargesit is

Dit wat jy van jou ouers geërf het, speel ’n rol en as jou pro-bleem daar lê, kan jy relatief min daaraan doen. Jy kan jouself tog nie oormaak nie. Al wat ons miskien kan doen, is om terug te dink of te kyk hoe ons ouers op situasies gereageer het. As my pa of ma gou paniekerig of terneergedruk geword het of gelyk het hy2 nie lekker cope nie, moet ek myself mooi dop­hou vir soortgelyke lewenspatrone. Dit kan in die familie loop. Daar is byvoorbeeld bevind dat identiese twee­linge, al word hulle in verskillende omgewings groot, tog dikwels in soortgelyke situasies met dieselfde mate van onsekerheid en vrees reageer.

Ons biologie verskil ook van mens tot mens. Chemiese stowwe in ons liggaam en ons emosies loop hand aan hand. Versteurings in hierdie chemiese stowwe kan bydra tot die gevoel van angs of dat ek nie cope nie. Mense wat baie angstig is en vinnig paniekerig voel, het verhoogde aktiwiteit van se-kere areas in die brein, byvoorbeeld in die hippokampus of die locus ceruleus. Ander mense het weer ’n abnormaliteit van ’n sekere chemiese stof in hulle brein, naamlik serotonien. Sulke mense is geneig om baie ernstige angsaanvalle (obsessief-kompulsief) te ontwikkel. Indien ’n persoon dus ’n relatiewe tekort aan die natuurlike kalmeerstowwe in sy sisteem het, sal hy baie makliker bang of anstig begin voel.

As ’n mens dit weet, dan weet ’n mens ook dat dit nie ’n skande is om na ’n geneesheer toe te gaan as jy voel jy kan nie meer cope nie. Dit mag wees dat daar ’n chemiese wanbalans in jou brein is wat met medikasie reggestel kan word. Dit is nie te sê dat alle probleme van angs of die gevoel dat jy nie cope nie, toegeskryf kan word aan ’n chemiese wanbalans nie. Daar kan baie ander redes ook wees wat niks met ’n chemiese wanbalans te doen het nie. Moet egter nie dink dat hierdie ge­voel van paniek wat jy kry altyd net ’n sielkundige of geestelike probleem is nie.

My persoonlikheid

Jou persoonlikheid speel ook ’n rol in hoe jy in ’n bepaalde situasie gaan reageer. Daar is verskillende tipes persoonlikhede. ’n Bekende indeling is die tipe A- of tipe B-persoonlikheid. Die tipe A-persoonlikheid is gewoonlik die persoon wat maklik ongeduldig raak. Dit irriteer hom as mense dinge stadig doen. Hy is aggressief, baasspelerig, voel rusteloos en raak gou kwaad. Hy trap maklik op die tone van ander, want hy is gedeter-mineerd om sy doel te bereik. Omdat hy taakgeoriënteerd is, hou hy daarvan om alles self te doen en sukkel om te delegeer. Vir hom is die lewe gewoonlik een frustrasie, want hy voel hy wil altyd in beheer wees. Dit is ook maklik om te sien dat so ’n persoon gouer sal voel dat hy nie cope nie, want dinge loop nie altyd so glad as wat hy dit sou wou hê nie. Sy verhoudings sal ook altyd ’n bietjie meer gespanne wees, wat kan bydra tot die probleem dat die persoon mag voel hy maak dit nie.

Die tipe B-persoonlikheid is anders. Hy laat dinge maar hulle gang gaan. Hy aanvaar homself en hy aanvaar ander; hy vergewe homself en vergewe ander. Hy hou gewoonlik van mense en werk gemaklik saam. Dit lyk of daar nie so baie is wat hom in die lewe bekommer nie. Dit is die tipe persoon wat op die vraag waarom hy en sy vrou baklei, sal antwoord: “Ek weet nie, sy wil nie vir my sê nie.”

Daar is natuurlik ook ander persoonlikheidsindelings. Jy kry byvoorbeeld die kritikus wat met alles fout vind, of die perfeksionis wat altyd meer en beter verwag. Dan is daar die arme sukkelaar wat voel hy doen niks reg nie, en so aan. Dit is maar net om te illustreer dat verskillende mense verskillend op situasies gaan reageer, juis omdat hulle geaard­heid verskil. Dit sou voorwaar eentonig gewees het as almal dieselfde was. Party gaan dus gouer bedreig en bang voel as ander. Die reël geld: ken jouself, dan kan jy jouself beter help.

Skrywer: Prof Jan van der Watt