Ek cope nie meer nie: Herken lewenskrisisse – Jan van der Watt

Daar is ook verskeie ander oorsake vir die gevoel dat ’n mens nie cope nie. Bogenoemde twee redes raak almal op ’n algeme-ne manier. Maar daar is ook meer spesifieke redes wat nie noodwendig altyd van almal waar is nie.

Mense reageer nie altyd dieselfde nie

Die gevoel van angs of magteloosheid loop dikwels hand aan hand met dinge wat in jou lewe gebeur; ons kan dit ook lewens­krisisse noem. Elkeen reageer nie dieselfde op wat met hom ge­beur nie. Twee persone skryf byvoorbeeld eksamen. Al­bei kry 60%. Die een is tevrede en die ander een is teleurgesteld en ontevrede. Tog het dieselfde ding met beide van hulle gebeur. Die verskil is hoe hulle die gebeure hanteer en daarop reageer. Of neem die persoon wat die een oggend laat is vir werk. Hy is ongeduldig by elke robot. Die volgende dag is hy betyds en dan pla geen robot hom nie. Die verskil lê nie by die robot nie, maar by hom. Die situasie en hoe jy dit hanteer, is dus belangrik en maak dat verskillende mense ver­skillend reageer. Kom ons kyk hoe lyk die sogenaamde lewens­krisisse. Later sal ons vra hoe en hoekom mense verskillend op lewens­kri­sisse reageer.

Lewenskrisisse duik oral op

Daar is baie verskillende lewenskrisisse wat ’n rol kan speel om angs te veroorsaak. Daar is kleintjies en grotes. T.H. Holmes en R.H. Ruhe het ’n tabel opgestel van tipiese lewenskrisisse en vir hulle punte gegee volgens hulle relatiewe belangrikheid. As jy meer as ’n sekere hoeveelheid punte kry, is jou kanse goed om binne twee jaar die slagoffer van oormatige stres te word en die gevoel te ontwikkel dat jy nie meer cope nie. Jy moet dus die dinge wat met jou gedurende twee jaar gebeur se punte bymekaar tel. Indien jy gedurende twee jaar byvoor-beeld 300 punte sou kry, is daar ’n 80%-kans dat jy wel ’n ernstige stresprobleem kan hê. Tussen 200 en 299 punte gee jou ’n 50%-kans en tussen 150 en 190 punte ’n 30%-kans. Soos wat ’n emmer geleidelik vol drup met water en uiteindelik oorloop, so is die mens ook. Aanvanklik kan lewenskrisisse beter hanteer word, maar indien dit te veel is, raak die emmer vol en het die persoon genoeg gehad. Dan voel hulle nie net meer dat hulle nie kan cope nie, maar kan ook ernstiger simp­tome van stres en angs ontwikkel. Die lewenskrisisse-punte­tabel lyk so:

 

Gebeurtenis                                                                 Punt

Afsterwe van ’n lewensmaat                                 100

Egskeiding                                                                     73

Huweliksverwydering                                               65

Tronkstraf                                                                      63

Afsterwe van ’n familielid                                        63

Persoonlike siekte of besering                              53

Troue                                                                               50

Verloor werk                                                                47

Huweliksprobleme                                                    45

Aftrede                                                                           45

Ernstige siekte van familielid                                  44

Swangerskap                                                                40

Seksuele probleme                                                    39

Geboorte van ’n baba                                               39

Ouer persoon wat in die huis intrek                    39

Bankrotskap                                                                 38

Finansiële probleme                                                  38

Afsterwe van ’n vriend                                             37

Werksverandering                                                     36

Familiestruwelinge                                                    35

Maak skuld vir huis of kar                                        31

Seun of dogter verlaat huis                                     29

Begin by nuwe skool of universiteit                     26

Huweliksmaat begin of hou op werk                   23

Verhuis                                                                           20

Enige kleiner veranderinge (kerk,

sosiaal, slaap, ens.)                                                    0-15

Vakansie                                                                        13

Kersfees                                                                         12

Hierdie is waarskynlik die belangrikste, maar beslis nie al dinge wat jou vermoë om te cope kan toets nie. Dit is insig­ge-wend om te kyk watter tipe probleme Holmes en Ruhe geïden-tifiseer het.

Stabiliteit van die huwelik en gesinsverhoudings

Baie van die dinge draai om die stabiliteit van die huwelik en gesinsverhoudings. Dit gaan om dinge soos egskeiding, familie-struweling of -verwydering, kinders en selfs bejaardes wat kom of gaan in die huis. Die huis behoort vir die gesinslede die gevoel van sekerheid en stabiliteit te gee. Ten minste kan die persoon daar veilig voel en homself wees. As dinge vir hom te veel word, is dit die plek waarheen hy moet kan vlug vir vei­ligheid en sekuriteit. Dit geld almal, maar veral kinders. As hier­die “veilige ruimte” weggeneem word, of dinge word daar onseker, ontstaan probleme. Dink net hoe ’n egskeiding kinders kan ontwortel. Om die huisgesin as plek van sekerheid en vei­ligheid te bedreig is om as ’t ware die tafel vir onsekerheid en stres te dek.

Stabiliteit in verhoudings

Heelwat van die sake gaan om stabiliteit in verhoudings: ’n kind moet na ’n nuwe skool toe gaan, ’n baba word gebore en nou moet daar nuwe rolle in die huisgesin in werking kom, werksom­standighede verander, en so aan. As dit verander, moet daar nuwe reëls gesoek word. Daar moet uitgevind word hoe die kinders in die nuwe skool moet maak; daar moet gereël word wie opstaan as die kind drie-uur die oggend huil, of wie nou die skottelgoed moet was. Dit bring wrywing en stres mee, veral as almal nie tevrede is met hoe dinge verloop nie.

Ernstige verliese

Ernstige verliese soos die dood het ook ’n effek. Om jou werk te verloor kan ook hier bygereken word. In die vroeë negentigerjare het ons feitlik weekliks gelees van mans, veral Afrikaans-sprekendes, wat hulle hele gesin uitmoor. Die meeste van daardie gevalle het saamgehang met mans wat nie meer kon cope nie, veral omdat hulle hulle werk verloor het. Alles het vir hulle uitsigloos geword en die lewe het sy sin verloor. Hulle kon en wou nie meer cope nie. Om iets te verloor wat vir jou belangrik en dierbaar was, is om iets te verloor wat jou lewe sin gegee het. Daardie leemte moet hanteer word, maar dit gebeur baie dat mense dit nie wil doen nie of verkeerde keuses maak om die krisis so te probeer verwerk.

Finansiële sake

Finansiële sake speel ook ’n belangrike rol. Om nie geld te hê om jou verpligtinge na te kom nie, beteken onstabiliteit en ver­­oorsaak ’n gevoel van angs. Daar sal in lewenstandaard geval moet word, die huis of kar sal verkoop moet word, en so aan. Later word die verskillende eise so baie dat mens begin knak onder die druk. Dit is dan dat die angs jou in sy greep kry en jy begin voel “ek kan nie meer nie”.

Ontspanning

Dit is waar dat dinge soos vakansie of Kersfees ook tel onder dinge wat jou spoed kan laat verloor in die lewe. Dit is dan veronderstel om lekker tye te wees. Tog kan dit jou stres. Dink maar aan ’n vakansie. Julle kom daar aan en die man en kinders spat in alle rigtings. Die arme vrou moet alles uitpak en netjies maak. “Ek is ook mos op vakansie,” sê sy vir haarself. “Vanaand kan Piet sorg vir die kos.” Arme Piet weet nie wat hom tref nie, want hy sorg nooit vir die kos nie. Stadigaan begin die vet in die vuur land. By die huis hoef die kinders ook nie bed op te maak nie. As hulle weg skool toe is, kom Gladys dit doen. Nou moet hulle skielik self hulle klere regpak en hulle bed opmaak. “Maar dit is mos nie vakansie nie!” kla hul­le vinnig. Ja-nee, moenie vakansie onderskat nie.

Dink ook aan dinge soos uitgaan na ’n vertoning toe of selfs om te gaan kuier. Eers wil die vrou nie, maar die man wil. Dan wil die man weer nie, maar die vrou wil. Wat ’n deurmekaarspul. Die klein misverstande veroorsaak uiteindelik dat die bak vol loop. Dit raak later te veel om mee te cope.

Een ding is seker, Holmes en Ruhe se lys help ons om die gevare so ’n bietjie makliker in die oë te kyk. Dit gaan veral om veranderings, of dit nou in die gesin, met geld, verhoudings of wat ook al is. Mense voel veilig as hulle bootjie rustig dobber, maar as die storms kom, ontwrig dit maar almal van ons. Die voordeel is egter dat as jy weet waar die probleme lê, kan jy dit makliker hanteer.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie – Die ou lewe is maar onregverdig – Jan van der Watt

’n Tweede rede vir die gevoel dat ’n mens nie cope nie, hang saam met die feit dat ’n mens die lewe verkeerd verstaan. ’n Mens verwag te veel of jy verwag dalk die verkeerde dinge. Ons moet dus vra wat hierdie ou lewe presies is.

Die lewe bring vir jou die goeie en die slegte

Dit gaan met die lewe amper soos met die man wat gesê het dat hy nie kan wens vir ’n beter vrou nie, hoewel hy baie graag sou wou. Ons is met die lewe “getroud”. Ons kan nie van die lewe wegvlug nie en ook nie maak of dit nie daar is nie. Ons kan dit maar net leef en soos ons gesien het, is dit nie altyd so maklik nie. Soms laat die lewe ons bang en bewend staan. Maar dit hoef nie so te wees nie. Daaroor handel hierdie boek; oor ’n boodskap van hoop: die wete dat jy kán cope. Maar om te cope moet ’n mens ook eers weet wat die lewe is en wat om te verwag.

Die grootste fout wat Christene dikwels maak, is om die lewe verkeerd op te som. Hulle dink die Here moet sorg dat niks ooit verkeerd loop nie. Alles moet net altyd goed met die Christen gaan. Alles moet net altyd mooiweer en stormvry wees. As daar iets verkeerd loop, is hulle vinnig om by die Here aan te klop en Hom onder kruisverhoor te neem oor dit wat nou weer verkeerd geloop het. Sy “werk” is mos om te sorg dat dit net altyd goed gaan met hulle, of so dink mense.

Maar dit is nie so nie. Die Bybel is duidelik daaroor dat die Here nie soos ’n straatveër voor jou moet uitloop en sorg dat al die dinge wat jou kan laat struikel uit die pad gevee word nie. ’n Straatveër is Hy nie. Maar wat Hy wel doen, is om vir jou die krag te gee om die dinge wat op jou pad vir jou wag te kan hanteer (vgl. Fil. 4:13, p. 6471). Hy verander nie nood­wendig jou situasie nie, maar Hy verander jou om in enige situasie te kan oorleef. Dit is die wonder van die God wat ons aanbid en dit is ook goed om te weet. Die wete kan vir ons die deurslag gee om te kan cope.

Waarom gaan alles dan nie maar net goed met God se kinders nie? Omdat die lewe nie so is nie. Ons lees in Prediker presies wat die lewe is en wat nie. In hoofstuk 3 lees ons die bekende woorde: daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om ge-bore te word en ’n tyd om te sterf; ’n tyd om te huil en ’n tyd om bly te wees; ’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat … of jy nou die grootste Christen is of die grootste heiden, dit is die lewe: elke ding, die goeie en die slegte, het sy tyd. Dit is soos golwe wat na jou toe aankom, of jy dit nou wil hê of nie. As Christen moet jy dus besef dat die lewe jou soms goed gaan behandel, maar soms ook lelik gaan stamp. Máár, as dit goed gaan, moet jy kan cope en as dit sleg gaan, moet jy ook kan cope. Dis die verskil wat Christenskap onder andere aan jou lewe kan maak. Job het dit geleer. Toe dinge vir hom skeef geloop het, was sy opmerking dat hy met niks in hierdie wêreld ingekom het nie en met niks sal uitgaan nie. Die Here het gegee én geneem. Sy Naam moet geprys word (vgl. Job 1:21, NAV). En dit het vir hom die lewe baie draagliker gemaak.

Die ou lewe is nie altyd regverdig nie

Maar dit is nie al nie. Prediker sê ook dat jy reg sal moet wees vir al die onregverdige dinge wat na jou kant toe kan kom. Soms voel ’n mens soos die vrou wat gesê het dat een ding haar keer om gelukkig getroud te wees, en dit is haar man. Net so voel ’n mens soms dat daar een ding is wat jou keer om lekker te leef, en dit is die lewe. Soms kan die lewe so bit-ter onregverdig wees. Die skrywer van Prediker het dit ook ervaar: … (D)it is nie die vinnigstes wat die resies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie … (Pred. 9:11, NAV). Jy kan hóé goed beplan en dinge uitwerk, maar soms loop dinge net verkeerd. Daarop moet jy ook voorbereid wees. Moenie toelaat dat die onregverdighede van die lewe jou van balans af slaan nie, anders gaan jy sukkel om te cope. Wees liewer voorbereid vir die goeie en slegte wat mag kom.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Hoekom voel ons bang en gestres? – Jan van der Watt

Ons almal sukkel partymaal maar

In die ou lewe kry jy nie altyd wat jy verwag nie. Die lewe bly ’n spel waarin jy nie altyd wen nie. Ons almal land maar partymaal plat op ons rug op die krytvloer en ons almal kry dan die gevoel dat ’n mens nie jou situasie regtig baasraak as jy so op jou rug lê nie. Daardie beklemming dat jy nie cope nie, pak jou dan beet.

Die gevoel van mislukking wat ’n mens soms beetpak, die vrees vir wat gaan gebeur en die onsekerheid oor dinge, is soos kanker wat jou krag stukkie vir stukkie wegvreet. Op ’n punt raak dit te veel en dan is daar moeilikheid. Dan voel dit of alles gelyk op jou afkom. Jy kry die gevoel dat jy nie meer kan nie. Ons almal loop een of ander tyd onder die gevoel deur. Daarom mag ’n mens die gevaar nie onderskat nie.

Dinge is deurmekaar, maar hoekom?

Alles het verander

Die sosioloë sê as 20% van die dinge in ’n samelewing verander, begin daardie samelewing se waardes uitmekaar val. Die onsig­bare bande wat maak dat mense lekker en in vrede in groepe kan saambly, begin verdwyn. Mense raak dan onseker en weet nie meer wat van hulle verwag word nie.

Wat sleg is, is dat daar dan nie meer duidelike, oorkoepe­lende, algemeen aanvaarde waardes is wat mense rigting gee en help om hulle besluite te neem nie. Mense is soos die man wat gevra het dat hy asseblief nie ’n horlosie vir Kersfees moet kry nie, want hy hét een. Met die één is hy ten minste seker hoe laat dit is. Maar as hy nog ’n horlosie gaan kry, gaan hy nooit seker wees nie. Dit gaan hom net deurmekaarkrap. So is ons as mense ook. Ons kan net met sekerheid en oortuiging funk­sioneer as ons seker weet wat van ons verwag word. Ons het reëls en waardes nodig om behoorlik te funksioneer. Neem dié reëls weg of verander hulle te vinnig, dan is daar probleme. Dan begin mense onseker en bang voel: hulle cope natuurlik nie meer so goed nie, want hulle weet nie hoe nie. Die reëls wat vir hulle gesê het hoe, is weg.

Veral in Suid-Afrika het dit die afgelope paar jaar ’n groter­wordende probleem geword. As ’n mens mooi dink, het daar meer as 20% van die dinge in Suid-Afrika verander; dit is nader aan 80%. Dit het ’n geweldige las op ons mense en samelewing geplaas. Ons het gesien hoe vinnig die politiek, ons finansies, ons werksituasie en die geleenthede vir ons kinders verander het. Dinge het inderdaad so vinnig verander dat ons nie mooi kon byhou nie. Dikwels het ons nie genoeg tyd om regtig nuwe waardes in die plek te sit van dit wat weggeval het nie. ’n Mens kry die gevoel die wêreld hardloop onder jou uit. Jy weet nie meer wat om van ander te verwag of wat hulle van jou verwag nie. En dit is ’n ideale teelaarde vir die opbou van die gevoel dat jy nie cope nie. Mense weet nie meer hoe nie, en dan sê hulle net: “Ek gee nie meer om nie. Ek het probeer aanpas, maar elke keer nes ek dink ek het aangepas, is alles al weer anders. Nou is ek klaar probeer; alles en almal kan gaan vlieg.” Dan begin elkeen doen en dink wat hy wil en mense gee nie meer regtig vir mekaar om nie. Byvoorbeeld, in die ou dae was dit belangrik vir ’n firma om trots te wees op hulle naam en werk. Hulle sou jare aan ’n goeie naam werk, want dit was belangrik. Vandag kry ’n mens te dikwels net die teenoorgestelde. As die mense jou geld in hulle sak het, gee hulle nie meer om nie, of hulle nou goed gewerk het of sleg. Daardie ou waardes van werkstrots en integriteit is weg.

Daar is nog ander voorbeelde. Dink maar aan Sondae. In die ou dae het almal geweet wat gebeur op Sondae. Deesdae is niemand meer seker wat is reg of verkeerd nie. Eers is ’n mens uit die kerk geskors omdat jy gedans het; nou kan jy die dansvloer aan die brand skoffel sonder dat die leraar ’n oog knip. In die ou dae het mense gedink dat apartheid Bybels is; deesdae blyk die teenoorgestelde waar te wees. Wat moet ’n mens dan glo? G’n wonder mense begin onseker voel nie.

Ek word stuurman van my eie skip

Al die onsekerhede en veranderings maak jou natuurlik al meer verantwoordelik om self jou eie lewe te “skep”: jy moet leer om self te cope en moet self besluit wat vir jou belangrik is en wat nie. Jy moet nou self sê wat jy glo en wat jy wil doen om so self betekenis aan jou lewe te gee. En as ’n mens jou varkies nie hier bymekaar hou nie, loop dinge verkeerd. So word ’n mens in ’n sekere sin die skepper van jou eie lewe en geluk. Dit gaan nie meer oor wat ander mense wil hê jy moet doen nie, maar om wat jý glo jy moet doen.

Dit is juis hier waar ons vrese en onsekerhede ons kan baasraak. Ons kan angstig raak omdat ons voel ons het nie meer behoorlike beheer oor ons kinders, ons huwelik, ons finansies, ons werk en so aan nie. Die gevoel van konstantheid en stabiliteit is net nie meer daar nie. Die gevolg is dat ons oneffektief en hulpeloos begin voel – nie dat ons dit noodwendig is nie, maar ons begin so voel. Emosies begin in ons lewe oor­loop en ons baklei of huil of voel baie vinniger depressief as vroeër. Dit kan maak dat jy vergeet om regtig met genot te leef omdat die vrese en angs se donker skadu oor jou val en so jou lewe vir jouself donker laat lyk.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie – Jan van der Watt

Ons gaan ‘n hele reeks artikels oor hierdie boek publiseer van Prof Jan.

Hierdie is die Inleiding.

Die een ou het eenmaal vir ’n ander een gevra: “Wat doen jy vir ’n lewe? Jy lewe tog, nie waar nie?”

Voel jy ook partymaal so oor die ou lewe? Jy is nou een-maal hier en om “hier” te wees is nie altyd so maklik nie. Die lewe druk en skaaf en soms voel dit vir jou of jy tussen die meule van die lewe fyngedruk gaan word. Boonop is die lewe nog onregverdig ook. Jy probeer, spook, beplan, werk, maar die dinge wil maar net nie loop soos jy beplan nie. Die lewe voel vir jou soos ’n stort: een verkeerde draai en jy is in die warm water. En dan wonder jy of jy regtig nog kans sien om te lewe, want partymaal voel dit soos een lang oorlewingstryd. Soms gaan dit beter, maar die “beter” duur nie lank genoeg nie. Net as jy dink jy het jou kop mooi opgelig, sloeg jy weer in die stof; jy cope net nie meer so lekker nie.

Maar die lewe is eintlik baie lekker. As jy kan, moet jy dit nie mis nie. Die lewe is amper soos ’n sprokie van die held wat met ’n draak moet veg. Daar kom verskriklike oomblikke wanneer dit lyk of die draak die held gaan opvreet, maar as die held die regte dinge doen, het die draak nie regtig ’n kans nie. Op die ou einde weet ons die held gaan wen. Daardie held in die avontuur van jou lewe is jyself. Jy kan wen en die lewe kan vir jou ’n avontuur wees soos vir die held in die sprokie. Glo dit maar!

Jy moet net een ding onthou: jyself skryf daardie sprokie van jou lewe. Jy is die een wat die besluite neem oor wat in jou lewe gaan gebeur. In dié boek wil ek gesels oor een van die grootste drake wat jy gaan teëkom. Ons almal loop maar in die draak vas en hy kan die lewe vir ons moeilik maak. Maar as ons ons wapens reg kies en nie sit en wag dat die draak ons opvreet terwyl ons onsself sit en jammer kry nie, sal ons wen. Die draak het egter nie net een naam nie, want hy het baie koppe. Met die volgende paar voorbeelde gaan ons probeer beskryf wat die draak aan jou kan doen.

Sarie is ’n goeie ma en die mense by die werk sê sy doen goed. Tog skrik sy in die nag wakker met ’n beklemming om haar hart. Sê nou net iets gebeur met klein Sarie terwyl sy by die werk is? Wat nou as mnr. Potgieter (haar baas) nie hou van wat sy doen nie? Wat as … ? en dan lê sy die hele nag wakker en bekommer haar oor een ding na die ander.

Kobus was nie altyd so nie, maar deesdae is hy sommer befoeterd as mense kom kuier. Eintlik is dit nog erger. As hy by die winkel instap en mense sien wat hy ken, dan loop hy sommer langs die ander gangetjie op. Hy gesels ook nie meer so lekker soos altyd nie. By die werk is sy konsentrasie net so kort soos sy humeur. Dit is of iets hom gedurig jaag. Dit is regtig nie die ou Kobus wat mens ken nie.

Anita is weer ’n regte werkesel, maar dit lyk of sy by die klagtekantoor van die lewe kamp opgeslaan het. As sy uit die menslike ras kon bedank, sou sy dit gedoen het; so klink dit as jy na haar geklaery luister. Sy kla egter dat sy net nie weet waar om die bedanking in te dien nie. Sy kla oor alles en niks is goed nie. Haar arme familie moet bontstaan, want Anita is nie sommer met enigiets tevrede nie.

Arme Piet is weer die teenoorgestelde: hy sê gedurig vir almal dat hy niks regkry nie. Hy het ’n regte “arme-ek-kry-my-jammer”-houding. Die lewe behandel hom stief, sal hy dadelik vir jou vertel. Hy kry niks reg nie en wil nie eers probeer nie. “Ag, dit help nie; ek kan nie,” is sy slagspreuk.

Al die mense veg met dieselfde draak: hulle cope nie regtig nie. Die lewe is vir hulle nie so lekker nie. Hulle voel nie hulle haal uit die lewe uit wat hulle moet nie. En dit laat hulle sleg voel. Om die waarheid te sê, dit maak hulle bang en laat hulle stres. Daarom praat die dokters dikwels van hierdie verskynsel as angs.2 Dit is soos om op ’n donker pad met jou kar te gaan staan en nie te weet wat om te doen nie. Jou broek begin bewe, jou hande begin sweet, jou hart begin vinniger klop. Dit voel vir jou of ’n groot, donker hand jou vasdruk … jy’s bang, vrekbang. En dit gebeur nie net op ’n donker pad met jou nie. Dit gebeur ook met jou in die lewe. Jou huwelik, jou werk, jou vriende, jyself of die lewe in die algemeen kan soos daardie donker hand wees wat jou vasdruk. Jy voel jy is nie meer in beheer nie en dan word jy bang. Dinge is besig om stadig maar seker uit jou hande uit te glip.

Maar daar is maniere om weer ’n greep op die lewe te kry; om weer beheer oor te neem oor jou lewe of dele van jou lewe wat besig is om vir jou weg te hardloop. Hierdie boek wil jou daarmee help met so ’n bietjie advies. Nou is advies nie soos geld nie. Advies deel baie mense vrylik uit, maar min mense vat dit. Ons gaan ook advies vrylik gee, maar tog hoop dat dit vir jou soveel sin sal maak dat jy dit sal vat.

Ons gaan nie vir jou maklike antwoorde of kitsoplossings probeer gee nie. Ons gaan in hierdie boek vir jou vertel wat daar met jou liggaam gebeur as die ou draak jou aanval en hoe jy die draak moet regsien. Ons gaan op ’n sielkundige en gods-dienstige manier vir jou probeer lei in die geveg. Dit help nie om net met een wapen te probeer veg as die Here eintlik vir jou baie wapens gegee het nie. Maar ’n mens moet ook weet hoe jou wapens werk en waarom dit so werk. Daarom gaan ons probeer om vir jou te verduidelik wáárom sekere dinge met jou gebeur, maar ons gaan net so hard probeer om vir jou te verduidelik wáárom die raad wat ons vir jou gaan gee, behoort te werk.

Kom ons gaan soek die draak van stres en die gevoel dat jy nie cope nie, en sien hom reg.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

1 Omdat die Engelse woord “cope” – algemeen in die volksmond vir “ek kan nie meer die mas opkom nie” – nie ’n geskikte Afrikaanse vertaal- ekwivalent het nie, en omdat dit in hierdie manuskrip die kern van die bespreking vorm, word dit sonder aanhalingstekens en niekursief in die teks geïntegreer.

2 As in die eerste 5 hoofstukke van angs gepraat word, verwys ons nie na die mediese verskynsel soos beskryf word in hoofstuk 6 nie, behalwe waar anders aangedui. Angs in hierdie hoofstukke verwys na ‘n intense stres wat vir ‘n mens onhanteerbaar begin word, en jy “toegedruk” voel. Stres verwys na die gewone spanning en druk waaronder ‘n mens leef.