Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (7) – JP Louw

Was Dawid ook Elganan genoem? (2 Samuel 21:19).

Hier lees ons dat Elganan vir Goliat, die Gattiet, doodgemaak het tydens ‘n geveg teen die Filistyne en dat Goliat se spiessteel so dik soos die dwarsbalk van ‘n weefstoel was. Dieselfde word gesê in 1 Samuel 17:7 van Goliat afkomstig uit Gat wat deur Dawid tydens ‘n geveg met die Filistyne doodgemaak is. Was daar twee Goliats of het Dawid ook die bynaam Elganan gehad? In 2 Samuel 23:24 word een van Dawid se helde Elganan, die seun van Dodo genoem, maar die Elganan van 2 Samuel 21:19 heet die seun van Jaare-Oregim. In 1 Kronieke 20:5 lees ons egter dat Elganan seun van Jail’ vir Lagmi, die broer van Goliat verslaan het en dat die ook so ‘n dik spies gehad het. Die tweede deal van die naam Jaare-Oregim kan ook vertaal word as “die wewer” sodat 2 Samuel 21:19 en 1 Kronieke 20:5 dieselfde vader in gedagte het. Verder staan daar in 2 Samuel 21:19 “Jaare-Oregim van Betlehem”. Sommige skrifverklaarders meen dat die woorde “van Betlehem” ‘n skryffout is en dat dit “Lagmi die broer van” moet lees. Die Hebreeuse teks in 2 Samuel 21:19 lees “bet halagimi”. Ander meen weer dat daar sowel in 2 Samuel 21:19 as in 1 Kronieke 20:5 oorspronklik kon gestaan het “van Betlehem vir Lagmi die broer van” en dat die tout gekom het deur weglating in die oorskryf van die ou manuskripte.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (6) – JP Louw

Die Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk was ‘n baie belangrike instelling wat die regering en samelewing in die tyd van die Nuwe Testament oorheers het. Die geboorte van Jesus word in Lukas 2:1 ingelei met die vermelding dat keiser Augustus ‘n bevel gegee het dat ‘n sensus (of volkstelling) gehou moes word. Rome self het met Augustus ‘n nuwe periode begin. Vir eeue was die Romeinse ryk ‘n republiek wat deur ‘n senaat regeer is-‘n soort parlement dus. Soos die ryk uitgebrei het, veral deur oorlog, het leërowerstes uiteraard baie mag en invloed gekry en eindelik van die magtigste figure in die Romeinse samelewing geword. Kort voor die koms van Jesus het veral drie militêre leiers die Romeinse lewe oorheers: Pompeius (wat verantwoordelik was daarvoor dat die Jode onder Romeinse bewind ingebring is), Crassus en Julius Caesar. Dit was onvermydelik dat dit eindelik tot botsing en stryd sou lei. Julius Caesar het die mededinging gewen en voor sy dood bepaal dat sy neef Octavius hom sou opvolg. Dit het nog ‘n stryd tot gevolg gehad tussen dié wat ‘n republiek en regering deur die senaat voorgestaan het en Julius Caesar se moord bewerk het, en aan die anderkant ondersteuners van ‘n keisergedagte wat Julius Caesar en dus Octavius, ondersteun het. Octavius het eindelik die oorhand gekry en die senaat het in 27 v. C. aan horn die titel Augustus gegee.

Roemeinseryk

Om die. groot Romeinse ryk te regeer is ooreen­gekom dat die keiser, Augustus dus, veral toesig sou hou oor die gebiede waar daar onrus was onder die plaaslike bevolking, of ‘n bedreiging ontwikkel het om Rome of sy areas aan te val. Hierdie plan het horn voorgedoen omdat Octavius die leër beheer het. Die keiser het die leër en landstreke deur middel van goewerneurs regeer. Lukas 2:2 meld Sirenius as goewerneur van Sirië waarvan Palestina die grootste deel uitgemaak het. Die naam Palestina is nie deur die Romeine as sodanig gebruik nie. Die hele gebied vanaf Antiogië in die noorde tot by die Arabiese woestyn suid van die Dooie See was die Romeinse provinsie Sirië. Wanneer kleiner areas betrokke was, het ‘n procurator of stadhouer die goewerneur bygestaan. So was Pontius Pilatus deur keiser Tiberius as stadhouer van die provinsie Judea in ongeveer 26 n. C. aangestel en dus was by in Jerusalem, hoofstad van Judea, die Romeinse bevelvoerder ten tye van Jesus se verhoor. Die hele gebied bekend as Sirië het die stad Sesarea Mari­tima, in die provinsie Samaria aan die Middellandse See, as Romeinse hoofstad gehad. Judea was die provinsie suid van Samaria. Die hele Sirië was direk aan die keiser verantwoordelik omdat dit bekend was as ‘n oproerige gebied en omdat die Partiërs aan die oostelike grense van Romeinse ryk, ver oos van Palestina, (Sirië dus), altyd ‘n probleemarea en bedreiging vir die Romeine was.

Wanneer daar in ‘n Romeinse verowerde gebied ‘n tradisionele koning was, het die Romeine nie so ‘n koning summier afgesit of verban nie, maar ­indien hy natuurlik met die Romeine wou saam­werk en na hulle pype wou dans hom gebruik as ‘n demper en skyn van onafhanklikheid, maar ook as informant en lakei. Herodes die Grote het vanaf 40 v.C. tot 4 v.C., as so ‘n koning regeer. Die hele Palestina was onder sy beheer en hy was die een wat die kindermoord in Betlehem gepleeg het (Matteus 2:16). Kort hierna is hy dood. Sy gebied is toe deur die Romeine onder drie van sy seuns (Antipas, Filippus en Argelaos) verdeel. In die Nuwe Testament lees ons van Antipas wat Johan­nes die Doper onthoof het en wat in Matteus 14:1 en Markus 6:14 Herodes genoem word, maar ons lees ook van Filippus (Lukas 3:1) en van Argelaos (Matteus 2:22). Dit is baie belangrik om daarop te let dat die eerste man van Herodias (Markus 6:17 en Lukas 3:19) ‘n ander broer as die Filippus van Lukas 3:1 was, want hierdie eerste man van Herodias is nooit in die Nuwe Testament en in ander ou bronne “heerser” genoem nie. Daar was dus twee broers met die naam Filippus, seuns van verskil­lende moeders. Argelaos is later deur die Romeine vervang met ‘n reeks stadhouers. Pontius Pilatus was die vyfde stadhouer (26-36 n.C.). Antipas was die Herodes na wie Pilatus vir Jesus gestuur het omdat Antipas oor die provinsie Galilea regeer het (Lukas 23:67). Later het hy in onguns by die Romeine geraak en is hy verban.

In Handelinge 12:1 lees ons van nog ‘n ander Herodes. Sy naam was Agrippa, dikwels genoem Agrippa I of Herodes Agrippa I. Hierdie Herodes het Jakobus gedood en Petrus in die gevangenis gesit om in guns by die Jode te wees (Handelinge 12:1-3). Hy het horn in sy grootdoenerigheid goddelike eer laat welgeval waaroor hy deur ‘n engel van die Here getref is sodat hy deur wurms verteer is en gesterf het (Handelinge 12:21-23).

In Handelinge 25 vind ons weer die naam Agrippa vir die seun van Herodes Agrippa I, ook genoem Herodes Agrippa II. Waar sy vader, wat in groot guns was by die Romeine, die eertydse ryk van Herodes die Grote as’t ware teruggekry het, is sy seun Agrippa II net oor die noordelike deel van Palestina aangestel. Die ander dele het die Romeine weer deur ‘n goewerneur laat regeer, naamlik Fe­liks (Handelinge 24:2, 24-26) wat later deur Festus opgevolg is (Handelinge 24:27). In Handelinge 25:13-26:32 lees ons hoe Herodes Agrippa II en Festus saam Paulus se saak hanteer het wat uitge­loop het op Paulus se uiteindelike verblyf in Rome (Handelinge 28:16-31).

In Filippi, ‘n ander Romeinse provinsie in Mase­donië (Handelinge 16:12) waar dit rustiger gegaan het as in Palestina, het twee prokonsuls as stadsbe­stuurders regeer. Hulle was direk aan die Romeinse senaat verantwoordelik. Daarom het hulle groot geskrik (Handelinge 16:38) toe hulle agterkom dat hulle Paulus en Silas, wat self Romeinse burgerskap besit het, laat slaan en in die tronk gesit het sonder verhoor. Dit gee ons ook ‘n beeld van die benarde posisie van mense wat nie burgerskap gehad het nie.

In Handelinge 19 vind ons Paulus in Efese in n opskudding betrokke wat Demetrius die silwersmid veroorsaak het. Hier lees ons van ‘n stadsklerk wat die skare tot bedaring gebring het (Handelinge 19:35) en die mense aangeraai het om ordelik na die regters te gaan om hulle griewe te besleg. Die regters was waarskynlik die prokonsuls wat oor die provinsie Asië (Handelinge 19:22), waarin Efese n stad was, regeer het.

Stede van groot belang, soos Athene, is deur die Romeine toegelaat om hulleself te regeer solank daar vrede bewaar is. So ‘n stad was meestal ook van belasting vrygestel wat ‘n slim gebruik van die Romeine was om groot sentra se guns te koop. In Athene was daar ‘n Raad wat net soos die Sanhe­drin in Jerusalem sekere magte gehad het. Die Raad was bekend as die Areopagus en voor hulle het Paulus (Handelinge 17:19) sy leer verkondig en verdedig. Die Romeine het hulle nie baie gesteur aan ‘n plaaslike area se sosiale en godsdienstige opvattings en gebruike nie-solank alles net rustig bly. Dit is nie seker waar die Areopagus vergader het nie. Die markplein in die noordweste van Athene was die aangewese plek. Net langs die mark is daar ‘n groot kalksteenrots wat tradisioneel as die vergaderplek van die Areopagus uitgewys word en vandag ‘n groot toeriste-aantreklikheid is. Die rots se naam beteken “heuwel van Ares” en in die ou Griekse periode het die Griekse Raad dikwels op die heuwel vergader en het waarskynlik so sy naam gekry, maar hulle het ook in die markplek verga­der. In die Romeinse tyd het hulle hoofsaaklik morele en godsdienstige kwessies aangehoor, maar hulle het nie gesag gehad om enige straf uit te deel nie. Dit is onmoontlik om te weet of Paulus deur die Areopagus op die kliprots of in die markplek aangehoor is. Handelinge 17:34 toon duidelik dat die woord Areopagus na die Raad verwys. In verse 19 en 22 egter kan dit die rots of die Raad wees. As dit na die Raad verwys kon Paulus se toespraak goed moontlik in die Raad se vergaderplek op die mark plaasgevind het.

Al het die Romeinse oorheersing van so ‘n groot deel van die antieke wêreld vir baie volke ‘n swaar juk opgelê, het dit ook ander voordele gehad. Dit het veral relatiewe vrede gebring sodat kleiner volke mekaar nie aanhoudend beleër het nie. Die Romeinse oorheersing het veral reise makliker ge­maak deur rowery te beheer en beter paaie te voorsien. Dit is egter ook waar dat die Romeine enige teken van verset teen Rome of ‘n godsdiens­tige optog wat vir die Romeine “gevaarlik” vir die rus en vrede gelyk het, wreed onderdruk het. Maar hulle het ook oordaad gestraf. So is Pilatus byvoor­beeld teruggeroep Rome toe nadat by op ‘n gods­dienstige byeenkoms in Samaria toegeslaan het. Pilatus en die Jode het nie goed oor die weg gekom nie. Toe Pilatus ‘n aantal goue skilde in Jerusalem in Herodes se paleis ter ere van die keiser opgerig het, kon die Jode daarin slaag om die keiser te laat beveel om dit na Sesarea te verskuif. Pilatus was dus versigtig om nie te ver teen die Jode te gaan toe hulle hom weer met Jesus se verhoor met die keiser gedreig het nie.

Die Romeinse oorheersing van die antieke wê­reld het ook meegebring dat ‘n groot ryk meer geboue en dienste kon lewer-veral waterwerke. Romeinse burgerskap is aan baie nie-Romeine ver­leen en het die alledaagse lewe vergemaklik al moes baie dit met geld koop wat die Romeine se koffers gevul het (Handelinge 22:27-28).

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (5) – JP Louw

Die regters

In die dae voor die koningskap was elke stamhoof of leier ‘n regter in sy eie reg. So het Josua vir Akan verhoor en veroordeel (Josua 7:19-20). Later was daar profete wat reg gespreek het soos Samuel, wat selfs rondgegaan het en regsake aangehoor het (1 Samuel 7:15-17). Dan was daar ook weer die plaaslike oudstes wat in die poort gesit en regspraak gelewer het (Deuteronomium 21:18-21). Toe die koningskap gekom het, was regspraak een van die funksies van ‘n koning (2 Samuel 12:1-6, 15:2-4, 1 Konings 3:16-18). Moses het reggespreek, maar ook persone aangestel om minder belangrike sake te verhoor (Eksodus 18:25-26). In Deuterono­mium 16:18-20 word verdere voorskrifte gegee oor regters en amptenare wat aangestel moet word om reg te laat geskied. Later het dit meegebring dat regters oral aangestel is, spesifiek vir regspraak, soos koning Josafat gedoen het (2 Kronieke 19:5-7).

In Jerusalem weet ons uit die Nuwe Testament dat daar Joodse howe was wat bestaan het uit priesters, skrifgeleerdes, uit Leviete en uit familie­hoofde (oudstes) wat in die stad regspraak gedoen het oor verskeie sake wat die Joodse gebruike en tradisies geraak het. Die Romeine het dus binne hulle eie oorkoepelende reg ‘n mate van eie reg­spraak oor kleiner sake toegelaat. In Handelinge 4:5-7 word so ‘n raad wat mense verhoor het, beskryf. Hierdie raad was dus in wese die Sanhe­drin waarvan die volle lede uit 71 persone bestaan het, die hoëpriester en sewentig lede uit owerpries­ters, familiehoofde, skrifgeleerdes, ens.

‘n Besondere faset van regspraak was die borslap, of beter borssak, wat die hoëpriester gedra het wanneer by uitspraak gelewer het. Eksodus 28:15-30 beskryf die maak en uitleg van die bors­sak waarin twee voorwerpe geplaas is tydens die uitspraak. Hierdie voorwerpe, genaamd urim en tummim (Eksodus 28:,30), was blykbaar die simbool van God wat as regter spreek deur die hoëpriester. Wat die voorwerpe presies behels het, is onbekend.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (4) – JP Louw

Finansies

Die koning se huishouding het uiteraard baie geld gekos. Uitgawes is destyds anders as in moderne regerings beheer. Die volk moes belasting aan die koning betaal. In Oosterse terme word dit in 2 Kronieke 17:5 geskenke genoem. Die koning se skatkis het weer alles betaal-ook die leër. Die tempel se skatkis was eintlik maar net deel daarvan. Koning Asa het, byvoorbeeld, vir ‘n veldtog al die silwer en goud in die paleis en die tempel geneem vir sy uitgawes (1 Konings 15:18) en so het Joas ook vir die koning van Aram betaal met geld uit sy huis en uit die tempel (2 Konings 12:18).

 

Die regspraak

Uit die destydse Nabye-Ooste waar die Bybelse geskiedenis ook afspeel, is verskeie regskodes be­kend. Sumeriese tablette is opgegrawe waarvan sommige meer as ‘n duisend jaar ouer is as die uittog uit Egipte. ‘n Baie bekende wettekodeks is die van Hammoerabi, ‘n Babiloniese koning, wat omtrent vyf- tot seshonderd jaar voor Israel se uittog uit Egipte dateer. Dit is op klip uitgekap en op die lang regop klipsuil is daar heel bo ‘n uit­beelding van die Babiloniese songod wat die voor­skrifte aan Hammoerabi gee. Die kodes bestaan uit ongeveer 300 voorskrifte en sê uitdruklik dat dit moet dien om te verhoed dat die swakke onderdruk word en die weduwee en wees veronreg word. Dan was daar ook Hetitiese wette wat meer menslik was as die Semitiese wette, waaronder die Assiriese wette baie wreed was. Die Semitiese wette van die Babiloniërs, Sumeriërs, Assiriërs en die Ou Testa­ment was soms baie strenger as die Hetitiese wette en is veral gekenmerk deur vergelding. In Matteus 5:38 verwys Jesus na sodanige wette as Hy sê ` julle het gehoor dat daar gesê is: oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand”. Vergelyk ook Eksodus 21:23-25.

“Die Ou Testamentiese wette waarvan die meeste in Deuteronomium versamel is, en dus herhaal wat in dele van Eksodus, Numeri en Levitikus voorkom, het oor n lang tydperk ontstaan. Sommige kom uit die tyd van Moses, ander is eers tydens die Babiloniese ballingskap op skrif gestel. Veral in die ballingskap was die wetboeke vir die Jode die riglyn om hulle as ‘n eenheid te bewaar en het dit; soos tot op die huidige dag, die sentrale punt van die Joodse godsdiens gevorm.

Die Joodse regstelsel, gebaseer op die Ou Testamentiese wette, was uniek in die opsig dat ook die konings en leiers daaraan onderhewig was. Immers, die koning het nie in Israel wette afgeskaf en ingestel soos hy wou nie. Die wetboek was van die Here en is as onderrig vir die volk gebruik (2 Kronieke17:9, 19:5-7).

Die wette was veral van tweërlei aard. Sommige was oorsaak-gevolg wette, byvoorbeeld, “as iemand sy slaaf of slavin met ‘n stok slaan dat hy of sy onmiddellik doodgaan, moet dit gewreek word” (Eksodus 21:20), m. a. w. as jy dit doen, dan sal/moet”: Hierdie tipe wette vind ons ook by al die ander volke van destyds: Die wette van die Ou Testament was direk van aard: “jy mag nie steel nie, jy mag nie valse getuienis lewer nie, Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou”.

As ons die tien gebooie goed bekyk, is dit opmerklik dat dit eers begin met “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte bevry het (Eksodus 20:2) gevolg deur seëninge en vervloekinge (Eksodus 23:20-33). Die wette van Israel was tegelyk godsdienstig en onderwysend. Dikwels gee dit ook redes vir die bepalings. In Eksodus 23:9 word ‘n bepaling oor vreemdelinge gemotiveer met “want julle was vreemdelinge in Egipte”. Eksodus 20:5 se “jy mag nie ander gode dien nie, want Ek eis onverdeelde trou”.

Dan is daar bepalings met baie harde strawwe-veral as dit gaan oor sake soos afgodediens, laster, ontug ens. wat direkte verhoudings tussen God en mense en tussen mense onderling raak. ‘n Besondere eienskap was die sogenaamde- vrystede, ook genoem asielstede, waarheen iemand kon vlug om vergelding vry te spring en geleentheid te kry om sy saak voor die oudstes te stel sodat ‘n regverdige verhoor kon plaasvind (Numeri 35:9-34, Deuteronomium 4:41-43, 19:1-13).

In die antieke Nabye-Ooste was daar wette vir lone en pryse wat soms in besonderhede sake gereël het. Opvallend was dat vir lenings en skuld reeds toe al rente gevra is. Uit bronne van ander volkere se wette is dit bekend dat rentekoerse dikwels buitensporig was-tot 30%-en dat veral die armes so onderdruk is. In die Ou Testament word woekerwins meermale verbied-so streng dat in Deuteronomium 23:19-20; soos ook op ander plekke, gesê word “,jy mag niks teen rente aan jou volksgenote uitleen nie, net aan ‘n nie-Israeliet mag jy teen rente leen”. Wanneer iemand sy skuld nie kan terugbetaal nie is by gewoonlik as ‘n slaaf verkoop. In Eksodus 21:2, byvoorbeeld, word egter bepaal dat die slawediens nie langer as ses jaar mag duur nie. Om horn weer op die been te help moes daar selfs by vrylating goedere aan so ‘n persoon gegee word our ‘n nuwe begin te kon maak (Deuteronomium 15:14).

Betaal

Koning Jehu van Israel betaal tribuut aan Salmaneser III van Assirie, uitgebeeld op die swart obelisk van Salmaneser.

Hoewel die Ou Testamentiese: wette dikwels ooreenkomste vertoon met wette van ander volkere van destyds, was daar egter ‘n diepgaande verskil vir sover die wet vir die Jode nie net ‘n stel reëls was wat nagekom moes word vir goeie orde soos dit vandag ook in ons tyd die geval is nie. Vir die Jode was die wette veel meer: dit was die Wet-God se wet. Dit was deel van hulle hele lewens- en wêreldbeskouing. Dit was nagekom in gehoorsaamheid aan God meer as maar net gehoorsaamheid ter wille van orde. Om die wet uit te leef was dus nie bloot ‘n saak van dwang ter wille van orde nie, ‘n orde wat jouself dikwels ongelukkig nie pas nie en daarom maar brom-brom nagekom word. Nee, die Wet was teken van opregte lewenswandel voor God. Dit het dus ‘n hoë morele motief gehad en was teken van die persoon wie se lewe reg was. Dit was ‘n saak van eer, eerder as dwang. Hierdie houding is nog verder verfyn deur Christus wat geleer het dat by nie gekom het om die Wet ongeldig te maak nie, maar om volle betekenis daaraan te gee (Matteus 5:17)-‘n betekenis wat in nog ‘n hoër mate bepaal word deur ‘n persoonlike verhouding van ‘n aardse kind tot sy hemelse Vader waarin liefde die grondslag is (Johannes 15:9-12) en deur Paulus verwoord is in Filippense 2:3 as “die een moet die ander hoër ag as homself”.

Skrywer:  JP Louw