Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(5) – JP Louw

Skilderye en beeldhouwerk

In die huise van welgestelde Grieke, Romeine en sommige ander volke is dikwels muurskilderye aangebring wat deur kunstenaars geverf is en tonele uit die geskiedenis, godsdiens of teater voorgestel het. Beeldhouwerk was veral gewild. Eksodus 20:4 en Deuteronomium 5:8 verbied enige beeld of gelykenis. In hierdie verband slaan dit op beelde en gelykenisse van gode om te aanbid, maar die strekwydte is van oudsher of tot alle terreine uitgebrei. Tog weet ons van vakmanne met die vaardigheid om mooi versierings by geboue aan te bring (Eksodus 31:2-6). In 1 Konings 7:13-14 vind ons dat Salomo kunstenaars van elders inbring om sy paleis te versier. In die daaropvolgende verse word daar gepraat van blomkelke en granate en bokke met voetstukke en gegote beeste-en panele van leeus, beeste en gerubs (verse 18, 19, 25, 29).

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(4) – JP Louw

Boeke

Boeke was nie in die antieke wêreld so volop soos vandag nie. In Egipte was daar wel ‘n biblioteek en in die tempels is boeke gehou. Laasgenoemde was almal natuurlik godsdienstige boeke. Die Jode van ouds het sovêr bekend net boeke van hierdie tipe gehad. Selfs hulle geskiedkundige boeke waarin die voortyd opgeteken is, was almal ook religieuse boeke. Dink maar aan al die geskiedenisboeke van die Ou Testament. Die boeke wat vandag as die Ou Testament bekend staan, was nie al boeke wat onder die Jode bekend was nie. Hulle was die besondere boeke wat vir die tempeldiens, wetgewing en regspleging gebruik is. In Numeri 21:14 lees ons van die “Boek van die Oorloë van die Here”, en in Josua 10:13 van die “Boek van die Opregte”. Verder word in Josua 18:9 gemeld van ‘n boek waarin die verdeling van die land opgeteken is. In 1 Konings 11:41 word gepraat van die annale van Salomo (sien ook 1 Kronieke 9:1), en dikwels lees ons (soos byvoorbeeld in 2 Kronieke 36:8) dat ‘n koning se geskiedenis opgeteken is in die “Boek van die Konings”. Hierdie verwysings kon aparte boeke wees, maar dit kon ook na ander dele van die Ou Testament verwys het. In 2 Kronieke 9:29 word drie boeke (wat verhale, profesieë en Gesigte of Visioene bevat) genoem wat nie na enige deel van die Ou Testament kan verwys nie. Sien ook 2 Kronieke 12:15, 20:34.

In die ou tyd was ‘n boek baie duur en daar was net enkele eksemplare van elk omdat alles met die hand geskryf is. Van baie was daar moontlik net een kopie. In die sinagoge is van tyd tot tyd lang dele aan die volk voorgelees sodat hulle die wet kon ken. Privaat persone het nie boeke besit nie, behalwe die heel rykstes en dan moet ons ook geensins aan baie boeke dink nie-meestal net ‘n paar.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(3) – JP Louw

Tuine

Tuine was die besondere voorreg van net die heel rykstes. Tog was daar ook enkele openbare tuine waarvan Getsémané ‘n voorbeeld is. Die huise van die heel rykste mense was dikwels rondom ‘n binnehof gebou wat dan as tuin uitgelê is. Ander tuine, soos openbare tuine, is meestal buite die stad gevind en was soms weinig meer as ‘n klein area met borne en struike. Teen die Olyfberg, net buite die stadsmuur van Jerusalem, kon mense ook gaan sit het hoewel dit beswaarlik ‘n tuin genoem sou kon word. Maar as ons dink aan hoe droog en kaal die land van Palestina was (behalwe langs die Jordaanrivier) sou enige plek met bome of struike al byna ‘n tuin kon wees. Die koninklike wonings in baie ander plekke van die antieke wêreld het meestal tuine gehad. In Ester 7:8 lees ons.van die koning van Persië wat in sy tuin gewandel het.

TuinvanGetsemane

Die tuin van Getsemane

Die Romeinse vorste het graag vir hulle tuine aangelê. Van Herodes weet ons dat by by Jerigo vir horn ‘n tuin gebou het. Ons moet egter steeds waak daarteen om te dink dat gewone huise in die Bybelse tye tuine gehad het met blomme en struike om die inwoners te plesier. Hiervoor moet weer die hoofstuk oor woonhuise nagelees word.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(2) – JP Louw

Speletjies

Kinders het meestal in die strate of oop plekke soos die markplein gespeel – selde of ooit in huise omdat die huise klein was en vensters ook klein was sodat daar nie baie lig in die kamer of kamers was nie. Tekeninge of modelle van antieke huise met ‘n groot binnetuin wat soms in boeke gesien kan word, is voorbeelde van die heel rykstes of van die regeerders se paleise en is nie verteenwoordigend van die gewone volk nie.

dobbelsteendan

‘n Dobbelsteen uit Dan in noord Israel

Buite het die kinders verskeie speletjies gehad. In die strate het hulle blokke op die grond getrek waarin hulle op een been gespring het volgens ‘n bepaalde patroon-iets soos die moderne hinkspel (“hop scotch”) of klippieskop. Verder was daar pyl en boog skiet, stoei, hardloop, sing en dans (Matteus 11:16-17). Ook is uit opgrawings bekend dat kinders met albasters gespeel het en met balle. Klein kinders het met kleihouers met klippies in gespeel om lawaai te maak. Van die houers wat opgegrawe is, het gaatjies in gehad om die klank meer hoorbaar te maak. Ander was in die vorm van poppe of voëls gemaak. Van hierdie was egter swaar en daarom meen sommige dat hulle eerder in religieuse feeste deur volwassenes gebruik is om musiek te maak.

Die antieke tyd het verskeie bordspele geken. Een so ‘n bord wat in opgrawings gevind is, het bo en onder drie rye van vier blokkies gehad met in die middel twaalf blokkies wat ongetwyfeld een of ander speletjie behels het. So was daar ook ‘n ander gevind met agt en vyftig gaatjies in die vorm van ‘n moderne viool. Elke vyfde gaatjie het ‘n beslag gehad om te toon dat dit meer besonders as die ander is. Sommige borde wat gevind is, lyk nogal na iets soos ‘n skaakbord. Baie speletjies is ook met ‘n dobbelsteen gespeel – of ‘n steen met net twee kante soos ‘n muntstuk of een met vier kante in die vorm van ‘n piramide. Die seskantige dobbelsteen soos vandag was ook in die antieke tyd bekend en ‘n mooi eksemplaar is in Noord-Palestina gevind waar die stad Dan van ouds was.

Al was die dobbelsteen in Israel bekend, is dit nooit vir dobbel gebruik nie. Die hoëpriester het twee voorwerpe, moontlik skywe, gebruik wat in Eksodus 28:30 die urim en die tummim genoem word, en wat deur sommige as stene met twee kante soos ‘n muntstuk beskou word. Hierdie stene het by in ‘n borssak of aan sy borslap gedra en gebruik om die wil van God mee af te lees. Sommige meen dat die stene wit aan die een kant en swart aan die ander kant was en as die hoëpriester hulle dan uit sy sak laat val, het die kleurkombinasie die beslissing gegee. Ander meen dat die urim en tummim deel van die edelstene op die borslap was en dat die wyse van beslissing net geraai kon word.

Dit is moontlik dat as die urim en tummim skywe was, hulle religieuse funksie die Jode daarvan weerhou het om dobbelstene vir sekulêre sake te gebruik. In Handelinge 1:26 (Ou Afrikaanse Vertaling) lees ons dat die lot gewerp is. Baie mense verstaan dit as die gooi van ‘n dobbelsteen. Letterlik staan daar “die lootjies is gegee”. Waarskynlik was dit stukkies hout van verskillende lengtes wat uit ‘n houer gehaal is en die een aan wie die kortste gegee word, is die wenner. Maar ook hier is die gebruik ernstig en was dit nie ‘n speletjie nie. By die nie-Joodse bevolkings, egter, is graag gedobbel en gespeel. Die Romeinse soldaat het by die kruisiging van Jesus gedobbel om te sien wie sy kleed sou kry (Johannes 19:24)-of hierdie loting met ‘n dobbelsteen of met lootstokkies gedoen is, kan nie bepaal word nie.

In die antieke tyd het dogters ook met poppe gespeel. Die lywe van poppe was meestal van klei gemaak. Sommige poppe is gevind met gaatjies in die arms en bene wat miskien kan aandui dat kinders hulle as marionette gebruik het. Speelgoedmeubels van klei en selfs pophuise is in opgrawings gevind. In Egipte is speelgoed soos waentjies gevind wat kinders moontlik met toutjies getrek of net met die hand gestoot het.