Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11) – Jan van der Watt

Mense buite die groep het jou nie veel aangestaan nie

Omdat jou belange so nou verweef is met die groep se belange, het jy mense buite jou groep met wantroue bejeën. Jy was geen verantwoordelikheid of lojaliteit aan hulle verskuldig nie. Die Gallio-episode (Handelinge 18:14-17) illustreer dit mooi: Gallio het die probleme as binne-Joodse gevegte gesien en besluit dit gaan hom as Romeinse heerser nie aan nie. Hy sê dus dat hulle hulle eie probleme moet uitsorteer (sien ook Johannes 18:31; 19:6,12).

Gasvryheid is tog van almal verwag

Gasvryheid was belangrik in die antieke tyd en was nie net vir vriende bedoel nie. Daar was nie hotelle nie en die losieshuise was baie swak. ʼn Mens kon dit ook nie altyd waag om alleen in die veld te slaap nie. Dit was gevaarlik vanweë die wilde diere en selfs rowers. Jy het ook nie altyd kos op so ʼn lang reis gehad nie. In groot stede is sulke mense toegelaat om in die stadspoort te slaap; die poort het ʼn groot saal gehad met deure na buite en na die stad se kant toe. Hier kon die mense veilig slaap, maar hulle kon ook nie die stad binneval nie. Die gasvryheidsvereiste is dus nagekom sonder om die stad in gevaar te stel.

As jy egter by ʼn privaat gesin om gasvryheid gaan aanklop het, kon hulle jou dit gewoonlik nie weier nie. Vir die tyd wat jy by die gesin deurgebring het, was jy as lid van die gesin gesien. Dit was natuurlik gerieflik vir sendelinge wat ver gereis het. Hulle kon maklik by mede-Christene tuisgaan (Handelinge 14:28; 16:15, 40; 17:7).

Net in Lukas 10:34 lees ons van ʼn losieshuis in die Bybel. In Markus 14:14 en Lukas 22:11 verwys die Griekse woorde na kamers.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Sephoris – ’n raaisel

Sephoris – ‘n raaisel – Jan van der Watt

Een van die groot raaisels rondom Jesus en sy familie is dat daar nêrens in die Nuwe Testament na die stad Sephoris verwys word nie.

Sephoris is ‘n groot stad naby aan Nasaret – dit word nou opgegrawe. Dat die stad prominent en ryk in die tyd van Jesus was, is nou meer as seker. Dit was ook waarskynlik die plek in die omgewing van Nasaret waar die meeste bouwerk en geld was. Nou weet ons ook dat Jesus en Josef timmermans (bouers) van beroep was. Nasaret was maar klein (so tussen 1000 en 2000 mense) wat beteken het dat daar nie so baie werk, veral bouwerk, was nie. Nou is die vraag: alle logika dui daarop dat Jesus en sy pa waarskynlik ook in Sephoris sou moes gaan werk… maar ons hoor niks daarvan nie. Daar is nog ‘n groter vraag: Sephoris was op die “voorstoep” van Nasaret. Dit was die grootstad van die omgewing. Ons lees dat Jesus baie rondgegaan het (Kana, Sesarea, Tirus, Sidon, ens), maar ons lees nêrens dat Jesus Sephoris besoek het, oor die mense gepraat het, of oor hulle bekommerd was nie.

‘n Mens wonder waarom?

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Krap jouself met potskerwe

Krap jouself met potskerwe – Jan van der Watt

Ons lees dat Job homself op die ashoop met “potskerwe” krap. Dit was altyd vir my moeilik om te verstaan.

Eers net iets oor potskerwe. Kleipotte en borde, ens. was natuurlik die normale gebruiksartikels. Daar is langs sekere dorpe ashope opgegrawe met hope en hope potskerwe. Wanneer mense skynbaar gevoel het die potte is onrein, of nie meer bruikbaar nie, is dit op ‘n hoop gegooi. Potskerwe was dus volop.

Die gekrappery is iets anders. Mense het normaalweg nie gebad nie, hoewel hulle dit wel gedoen het as daar water was. Rituele baddens was ook bekend. Die manier waarop mense hulle skoongemaak het, is om hulle lywe met byvoorbeeld as te vryf. Op dié manier is van vuilgoed ontslae geraak. As hulle olie (bv. olyfolie) gehad het, het hulle dit met die as gemeng. Dan het hulle ook ‘n soort “messie” gehad wat krom gebuig was. Hierdie messie is dan gebruik om die vuil olie of as af te krap. As jy nie ‘n messie gehad het nie, was ‘n potskerf ook seker goed genoeg. So het Job homself probeer skoon hou.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Nero doen darem iets goeds!

Nero doen darem iets goeds! – Jan van der Watt

Ons ken Nero as die keiser wat Christene kwaai vervolg het. Toe Rome per geleentheid afgebrand het (waarskynlik was hy self verantwoordelik vir die brand) het hy die Christene beskuldig.

Tog het Nero iets gedoen wat baie goed was! Die meeste van ons baat daarby. Hy was natuurlik ‘n kranige digter en het ook graag musiek gemaak en (hopeloos) gesing. Daarvoor moes hy goed kon sien. Nou weet ons almal dat hier teen die laat veertigs baie van ons se oë verswak. Dan kan jy nie meer lekker lees of skryf nie. Dit het Nero ook gepla. Toe hy eendag ‘n Egiptiese glas optel en deur die bodem van die glas kyk, kom hy skielik agter dat hy baie beter deur die glas kon sien as daarsonder!

Die “uitvinding” het die wêreld verander. Dankie Nero, vir brille

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt