Die Here se dienaar as lig vir die nasies (49:1-13) – Francois Malan

Hier is die tweede van die vier profesië oor die dienaar van die HERE (die eerste was in Hoofstuk 42). Die Nuwe Testament sien in dié profesieë ‘n heenwysing na Jesus. Wie die dienaar in die tyd van hoofstuk 49 was, is nie duidelik nie. Serubbabel word soms genoem as ‘n moontlike dienaar, maar die dienaar word beskryf as ‘n profeet wat die reg van God moet verkondig. Gewoonlik word Israel beskou as die dienaar van die Here, maar in verse 5-6 het die dienaar ‘n bediening aan Israel. Daarom is dit die beste om te sê dat die HERE ‘n peroon aangewys het vir genesing en bevryding in die wêreld, met spesiale verwysing na Israel.

49:1-2 Die dienaar van die Here is aan die woord om sy mandaat van die Here aan te kondig. Die oproep aan die eilande/kuslande en die veraf volke (soos in 41:1) is waarskynlik ‘n oproep aan alle nasies op die aarde, en spesifiek aan Israel wat deur die twee ballingskappe verspreid bly onder die nasies. Hulle moet luister na die belangrike boodskap van die Here.

Soos Jeremia (1:5) is die dienaar ook deur die Here geroep nog voor sy geboorte, toe hy nog in die moederskoot was (vgl Paulus in Gal 1:15). Toe het die Here hom al op sy naam genoem – dit beteken eintlik dat die Here hom reeds voor sy geboorte persoonlik geken het. Die Here het hom toegerus vir sy taak – sy mond ‘n skerp swaard gemaak om in staat te wees om die wonderlike boodskap van die Here so te gaan verkondig dat dit deurdring tot die bedoelings en gedagtes van die hart (Hebr 4:12), so ook die skerp pyl, die dienaar se peroonlikheid, wat die Here gebruik om mense se harte te tref en te oortuig. Maar hy was in die tyd van sy voorbereiding vir sy taak deur die Here verberg – in die skaduwee van sy hand, soos ‘n pyl in die Here se pylkoker. So was Moses vir 40 jaar lank in Midian voordat die Here hom na die Farao toe gestuur het (Num 12:3; Hand 7:29-30).

49:3 Die dienaar sê dat die Here vir hom gesê het: Jy is my dienaar – deur sy voorbereidingstyd, maar nou dat hy moet begin optree word dit weer duidelik uitgespel dat hy as dienaar van die Here moet optree. Jy is Israel – hy moet ‘n voorbeeld wees van wat Israel as die Here se dienskneg behoort te wees, en hoe hulle die taak as die Here se dienaar moet vervul. Sy taak is dat die Here verheerlik sal word deur sy lewe en werk as instrument van die Here se doeleindes.

49:4 Maar van die begin af gee die dienaar uiting aan sy frustrasie dat sy arbeid vrugteloos lyk. Dit word met drie woorde uitgedruk: tevergeefs, nietig, waardeloos, het ek my krag spandeer  – ‘n kragtige drietal negatiewe om die reaksie van die mense op sy werk te beskryf. Die negatiewe word egter te bowe gekom met die volgende belydenis: Voorwaar my regsaanspraak is by die Here/my opdrag kom van die Here af, die beloning vir my werk is by/kom van my God. Daarom sal hy voortgaan met sy werk ten spyte van sy frustrasies (vgl. Hebr 12:2). Dit geld ook vir almal wat uitsien na die wederkoms van Christus (2 Tim 4:8).

49:5  Nou –verwys na ‘n nuwe situasie, teenoor die oue wat net frustrasie gebring het deur Israel se hardkoppige verwerping van die Here. Die Here, wat aan die dienaar gevorm het vir sy taak van voor sy geboorte af,  moet nou die Here se skape, wat in die Babiloniese ryk verstrooi is, gaan bymekaar maak  en na die Here toe bring. Kores het dit nou moontlik gemaak vir Israel om terug te gaan, en die dienaar van die Here moet nou die verlore skape van Israel, die oorblyfsel, gaan terugbring na die Here toe. Dit behels hulle bekering deur die verkondiging van die boodskappe van oordeel en verlossing wat in Jesaja aangekondig is.

Vir die dienaar beteken hierdie nuwe opdrag ‘n besondere eer wat die Here aan hom bewys. Hy weet nou dat Hy in die oë van die Here geskik is vir die werk, want die Here is sy sterkte en hy hoef nie op sy eie te werk nie. Dit is die Here wat deur hom gaan werk om die oorblyfsel terug te bring na die Here toe.

49:6 Die oproep van die stamme van Israel en die terugbring van ‘die wat bewaar is’ – die oorblyfsel wat die Here deur die hele ballingskapstyd bewaar het – na die Here en na Jerusalem waar hulle Hom in vryheid kan dien, is egter in die oë van die Here ‘n klein opdraggie. Sy opdrag word uitgebrei om ‘n lig te wees vir die ganse mensdom, vir al die nasies, tot aan die einde van die aarde  moet die Here se verlossing verkondig word.

Die eerste groep wat teruggekeer het was onder die leiding van Sesbassar (538 v.C. Esra 1:11; 5:14-15) wat deur Serubbabel opgevolg is en die tempel begin bou het (Esra 2:2; 3:8; Haggai 1:1; Sagaria 4:6). In 458 v.C. neem Esra die tweede groep Jode terug; Nehemia kom in 445 en weer in 430 v.C. na Jersualem. Elkeen van hulle saam met die priester Jesua en ander was dienaars van die Here. Maar die groot vervulling van die profesie kom eers 500 jaar later met Christus se menswording en deur die eeue met die uitbreiding van sy kerk na al die nasies deur die Here wat elke gelowige roep om met sy lewe en woord die lig vir die nasies te wees met die boodskap van die Here se redding.

49:7 Die vers begin en eindig met ‘n beskrywing van die Here as die Heilige van  Israel=toegewy aan Israel, die getroue Verlosser. Hy het Israel as sy dienaar uitgekies: die ‘in die siel (diep) veragde, Israel, verafsku deur die volke, die slaaf van (die heidense) regeerders. Aan die dienaar van die Here belowe die Here sy verhoging wat so heerlik sal wees dat heidense konings en vorste van hulle trone sal opstaan as eerbewys aan hom, en hulle neerbuig in aanbidding voor die Here wat sy verhoging  bewerk het. In dieselfde terme beskryf Paulus Christus se vernedering en verhoging in Filip 2:5-11 as ‘n voorbeeld vir elke gelowige om mekaar in nederigheid hoër te ag as hulleself.

49:8 Met nadruk op wat nou gesê gaan word, word ‘so sê die Here’ herhaal. Op die dag wat die Here sy welgevalle aan sy kneg en aan sy volk betoon, hoor Hy sy dienaar, en op die dag van verlossing help Hy hom. Ek vorm jou (die Griekse vertaling gebruik die woord plasso waar ons woord plastisiteit vandaan kom, Engels: bv. plasticine) en stel jou aan as ‘n verbond van die volk (soos in 42:6)  – met wie die Here sy verbond met sy volk sal bou – om die land op te bou en die verwoeste erfdele toe te ken. Die vervalle land, wat vir 70 jaar braak gelê het in Juda en amper 200 jaar vir die tienstammeryk,  moet weer opgebou word tot ‘n lushof deurdat elkeen weer ‘n eiendom daarin bekom om dit te bewerk en te bou.

49:9-10 Die dienaar ontvang die gesag om aan die ballinge twee opdragte te gee: aan die gevangenes, die ballinge wat slawe geword het, sê die dienaar: kom/gaan uit, soos met die uittog uit Egipte. Aan dié wat in duisternis is en moed opgegee het in die ballingskap, sê die dienaar: wys jouself – dat jy aan die Here behoort en die vryheid wat Hy jou nou gee, om gebruik te maak van Kores se vry om-terug-te-gaan-verklaring. Die werk van die dienaar is om die ballinge met nuwe initiatief en moed op te wek om terug te gaan na hulle land en daar te begin bou.

Soos ‘n trop skape wat rustig huis toe loop en wei, kan hulle rustig terug gaan in die wete dat die Here vir hulle langs die pad sal sorg – selfs op die kaal heuwels sal daar genoeg kos wees. Soos vir Israel se uittog uit Egipte deur die woestyn, sal die Here sorg  vir water en kos en ‘n wolkkolom bedags as beskerming teen die son. Want Hy wat Hom oor hulle ontferm, sal hulle lei – die Here word nie genoem nie, maar veronderstel, as die Goeie Herder wat hulle sal lei, soos in Ps 23, en hulle gids wees na waterbronne langs die pad (na waters waar daar  rusplek is). So is Jesus ook die Goeie Herder (Jn 10) wat die verlore skape soek (Lk 15), hier die verstrooide volk wat die dienaar bymekaar maak (Jes 49:5). Die idilliese prentjie van die Here as hulle herder word vir die bannelinge geskilder om hulle aan te moedig om terug te gaan Israel toe.

49:11 Soos in 35:8 en 40:3 word paaie en ‘n grootpad vir die ballinge gemaak om terug te gaan, as beeld van die Here se bystand op die reis en in hulle nuwe lewe in hulle tuisland. Dat hulle my paaie en my grootpaaie genoem word, verwys waarskynlik ook na die lewe in Palestina, die land  wat die Here aan sy volk gegee het, en die oorkoming van probleme as hulle terug is in hulle land, wat die Here aan Abraham en Jakob en hulle nageslag belowe het (Gen 13:17; 35:12).

49:12 Die oorblyfsel kom terug uit baie lande waarheen hulle vertrooi is; uit die noorde (rondom die ou Nineve van Assirië) en die weste (letterlik: die seë; uit die eilande in die Middellandse see en Klein-Asië) en uit die land van die Siniete, waarskynlik in die suide van Egipte.

49:13 Die vers is ‘n jubellied oor die werk van die Here wat sy volk se terugkoms bewerk het. Die hemelse skare en die aarde se nasies en berge, die hele skepping moet kom sing oor die Here se vertroosting van sy volk en sy barmhartigheid oor sy nederiges/onderdruktes/armes (‘ani); oor die wonderlike wyse waarop die Here hulle verlos, sonder geweld, uit sy vrye genade oor sy uitverkorenes, sy volk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Here roep Israel om Babel te verlaat (48:14-22) – Francois Malan

48:14-16  Die gedeelte begin weer met ‘n oproep wat waarskynlik bedoel is vir Israel om bymekaar te kom en te luister na wat die Here sê (48:12); die ‘almal’ kan verwys na die hele Israel maar betrek ook die nasies en hulle afgode (soos in al die hoofstukke vanaf hoofstuk 41), en hulle word uitgedaag: wie onder hulle, die afgode en hulle priesters, kon voorspel wat die Here nou doen? en so bewys dat hulle gode is wat teen die Here kan staan, teen Hom, wat die gang van die geskiedenis bepaal! Ek, ja, Ek, Ek het gepraat.

Die een vir wie die Here liefhet, verwys na Kores. Ek het hom geroep (as my dienaar), Ek het hom gebring (na Babel toe), en hy sal voorspoedig wees op sy weg – om die hele bekende wêreld van destyds in te neem en op ‘n nuwe manier te beheer; dit sluit die hele ryk van Babel onder die bestuur van die Galdeërs in, wat voor die wil en mag (letterlik: die arm) van Kores sal buig. Die woord ‘sy weg’ sluit die groot gebied in wat hy gaan inneem, maar ook die nuwe manier waarop hy gaan regeer.

Die gedeelte in vers 16a herhaal die oproep van vers 14 met ‘n uitnodiging om nader na die Here toe te kom en na Hom te luister. Dwarsdeur Kores se hele optrede het die Here die gebeure deur sy profete bekend gemaak en was die Here betrokke by wat gebeur. Daarom moet die skare wat Hy opgeroep het aanvaar wat die Here deur Kores doen. Dit sluit die oorwonne nasies in, maar veral Israel moet hierdie redder wat die Here gebruik aanvaar as van die Here.

In 16b begin ‘n nuwe saak. Dit verwys moontlik na die leier wat Israel gaan teruglei na Jerusalem (vgl. Sesbassar in Esra 1:8,11; 5:14 en sy opvolger Serubbabel uit die geslag van Dawid, in Esra 2:2, Neh 7:7; Haggai 1:1; Sag 4:6-7). ‘En nou, die Here HERE en sy Gees het my gestuur.’

Die nuwe woord van God word ingelei met: ‘So sê die HERE, jou Losser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God wat jou leer tot jou voordeel, wat jou lei op die pad wat jy moet gaan.’  Soos die Here vir Kores sy pad voorspoedig maak (v15), sê Hy ook vir Israel se leier: Ek lei jou op die pad wat jy moet gaan ( met die uittog uit Egipte op pad na Kanaän het die Here Israel by Sinai geleer en sy wet vir hulle gegee; daagliks het Hy hulle gelei met die wolkkolom). Die pad verwys hier weer na die die pad waarlangs hulle gaan terugkeer na Kanaän, maar ook na die nuwe lewenswyse wat die Here vir hulle gaan leer.

48:18-19 is ‘n terugblik op Israel se verlede as waarskuwing aan die nuwe leier om nie dieselfde ou pad van Israel te gaan nie, en ‘n aanmoediging om in gehoorsaamheid aan die Here te gaan lewe en die volk te lei: As jy maar aan my opdragte aandag gee (my bevele gehoorsaam),

dan sal jou sjalom (vrede en voorspoed) soos ‘n rivier wees

en jou tsedaka (geregtigheid) soos die golwe van die see.

en jou saad (nakomelinge) soos die sand  (soos aan Abraham belowe.. Gen 13:16; 22:17)

en die afstammelinge uit jou liggaam soos sy korreltjies

hulle naam sal nooit afgesny of vernietig word voor my nie

 

48:20 Die opdrag kom nou dringend om Babel te verlaat en vinnig ook. Daarby moet ‘n vreugdelied gesing word om hulle vertrek luidkeels aan die wêreld sing-sing te verkondig: Die HERE het sy dienaar Jakob/Israel losgekoop/ verlos.

48:21 Die leiding van die Here op die terugtog word beskryf in terme van Israel se woestynreis uit Egipte, toe daar water uit die rots gekom het om hulle te laaf. So sal die Here saam met hulle trek en versorg op hulle terugtog na Kanaän.

48:22 Die hoofstuk sluit af met ‘n waarskuwing, waarskynlik vir die Israeliete wat nou huiwer om terug te gaan, en die ander wat reeds besluit het om in Babel op te gaan. Hulle het geen deel aan die rivier van  sjalom (vrede en voorspoed) nie, want hulle bly agter sonder die HERE – die goddeloses, wat die HERE se reddingsplan nie aanvaar nie, maar teenstaan.

Die eerste klein groepie terugkerende ballinge is uit Babel saam met Sesbassar en met van die skatte van die ou tempel (vgl. Esra 1). Die voltooiing van die uittog sou ‘n honder jaar neem onder verskillende Persiese regeerders en Joodse leiers; vgl. bv. Kores se dekreet in 538 v.C. (2 Kron 16:22); Darius, 530-486 v.C. in Esra 6:1-5; die Jode onder koning Ahasveros (485-464 v.C.) in die boek Ester, koning Artasasta (464-432 v.C.) in Nehemia 2:1. Die bannelinge in Babel was skepties, Jerusalem was bang. Maar die meule van God draai stadig voort.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Here se verlossingsplan (48:1-13) – Francois Malan

Die hoofstuk het Jesaja se bekende temas: die verheerlikking van die Here; die val van Babel; die bevryding van Israel. Die gedig stel bevestiging en bestraffing teenoor mekaar, want die Here is wonderlik sorgsaam, wat as die enigste heerser ook eise stel. Die woord shema ‘hoor’ word in v1 gebruik as ‘n uitnodiging om te luister (gehoorsaam), in v3 bekendmaak (aangekondig),  in v5 aankondig, in v20  laat hoor (aankondig). Israel se toekoms as ‘n gemeenskap hang af van luister na die beloftes van die Here en ag slaan op die bevele van die Here. Hoor beteken om jou lewe oor te gee aan die goeie heerskappy van die Here en ander lojaliteite prys te gee (vgl. Jesus se boodskap oor die koningskap/koninkryk/koningsheerskappy van God in die drie sinoptiese Evangelies).

48:1 Israel word opgeroep om te hoor, dit is om te luister, te gehoorsaam en te vertrou. Dit plaas Israel in die bevoorregte posisie dat die Here aan hulle aandag gee en oor hulle besorg is. Hulle geskiedens gaan terug tot by hulle voorvader Jakob, hulle roep die Here as getuie by hulle eedswering en aanbid die God van Israel, die verbondsnaam wat die Here aan hulle voorvader gegee het (Gen 32:28). Maar dit word nie in waarheid gebruik en nie in geregtigheid uitgeleef nie. Die profeet wys op Israel se dubbelhartigheid, op hulle inkonsekwente toewyding aan die Here.

48:2 Hulle beskou hulleself nog steeds as burgers van die Godstad Jerusalem, al woon hulle al lank in die vér land,  en hulle steun op die hulp van die Here van die leërskare in hulle ballingskap. Daarom word hulle opgeroep om gehoorsaam te luister na wat die Here, wat die ganse skepping beheer, vir hulle sê.

48:3 ‘Die vorige dinge het Ek vooraf  duidelik vir julle uitgespel, uit my mond het hulle voortgekom, en Ek het hulle laat hoor/aangekondig; plotseling (of: verrassend) het Ek dit uitgevoer, en dit het onverhoeds gebeur.’ Dat dit plotseling gebeur het, bewys dat dit van die Here kom en dat Israel nie daarop voorbereid was nie. Wat die vorige dinge was, is nie so duidelik nie: dit kan die strawwe wees wat in hoofstukke 1-39 in Jesaja se tyd aangekondig is en plotseling gebeur het toe Nebukadneser 120 jaar later Jerusalem ingeneem het, waarby v4 kan aanpas. Of dit kan verwys na hulle verlossing wat reeds in die eerste 39 hoofstukke voorspel is, en met Kores se optrede onverwags vervul word, wat beter by v5 aanpas.

48:4  Die Here het dit voorspel omdat Hy weet dat Israel eiesinnig is met ‘n nek so sterk soos yster wat nie maklik buig onder ‘n juk nie en ‘n voorkop so hard soos brons – Israel luister nie maklik na vermanings nie, wil sy eie kop volg, is dwars en bloos nie maklik van skaamte oor sy gedrag nie.

48:5 Met die vroegtydige aankondiging van Israel se bevryding uit die ballingskap wou die Here vir hulle duidelik bewys dat dit Hy is wat hulle gaan verlos, en nie hulle afgode of afgodsbeelde nie, waarop hulle vertrou het reeds voor hulle in ballingskap gegaan het. Gedurende die ballingskap het baie saam met Babel voortgegaan met hulle dien van die afgode. Daar was slegs ‘n oorblyfsel wat nog op die Here vertrou het, soos in die oertyd met Noag (vgl. Gen 5:9-12;  Eseg 14:20. Hebr 11:7; 2 Petr 2:5) en later in Elia se tyd (1 Kon 19:18).

48:6-8 Die eerste deel van vers 6 verwys na Israel se verlossing (vers 5: wat Ek lank tevore aangekondig het): ‘Jy het gehoor’ – die Here se beloftes van verlossing uit die ballingskap, soos in die eerste deel van die boek, hoofstukke 1-39, uit die tyd van  die profeet Jesaja 120 jaar tevore. ‘Kyk!’ – jy moet kyk na die visioen wat aan hulle oorgedra is deur die profeet. Nou gaan julle dit sien gebeur. Gaan julle dit nie verkondig/aan die groot klok hang nie? (iets hoog en duidelik onmiskenbaar voor iemand plaas).

Die nuwe dinge wat die Here hulle van nou af gaan laat sien is hulle verlossing deur Kores. Dié plan van die Here was vroeër vir hulle verborge en onbekend – die Here het dit vir hulle verberg want so iets het nog nooit voorheen gebeur dat volke vrygelaat is sonder ‘n opstand of ‘n geveg nie, en Israel kan nie sê: ek het geweet die Here gaan so optree nie. Want die Here ken Israel, dat hulle misbruik daarvan sou gemaak het en vir hulleself roem toegeëien het asof húlle dit beplan het; want van die moederskoot af word jy ‘n rebel genoem – in opstand teen die Here en sy groot verlossingsplan. Dit is ‘n nuwe skepping wat die Here beplan het (bara ‘skep’ v7; nou word dit geskep; 1983-vertaling Ek gaan dit nou doen). Die besluit van Kores is in 2 Kronieke 36:22-23 en Esra 1:1-4 opgeteken.

48:9-11 Vers 9 begin met wat die Here doen ter wille van sy Naam en van sy eer (Hy bedwing sy toorn oor Israel en vernietig hulle nie – ten spyte van hulle sonde; die Nuwe Testament noem dit genade, soos in Eks 34:6-7, vgl. Num 14:13-16), en vers 11 sluit af met wat Hy nie toelaat om met sy Naam en sy eer gedoen te word nie (dat sy Naam  onteer word en sy eer aan iemand anders gegee word). Dit is die motief vir die Here se optrede met Israel en met Kores. Die nasies het geweet die Here is die God van Israel. As Hy Israel sou uitwis sou die nasies dink dat Hy nie meer bestaan nie, dat Hy uitgewis is soos die afgode van verslane volke. Nou kan hulle sien die Here het sy volk met die ellende van ‘n  70/200-jarige ballingskap gestraf, en Hy bring hulle weer terug, ná hulle loutering, wat erger is as die loutering van silwer deur vuur (Jeremia 11:4 noem Israel se 400jaar in Egipte die ystersmeltoond; vgl. 1 Petr 1:6-7).

v11 ‘Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit’ – in 45:4 het die Here vir Kores gesê, ter wille van Israel het Hy hom geroep; in 45:6 sodat alle mense kan weet dat daar buiten My geen God is nie.

48:12-13 Soos in 48:1 begin die slotdeel van die hoofstuk ook met ‘n oproep van die Here tot Jakob/Israel om na Hom te luister, na Hom wat met hulle praat, en wat Hy sê: ‘Ek is Hy (41:4 Ek Jahweh Die ‘Ek is’ die persoonlik teenwoordige, van Eks 3:14), Ek is die Eerste (re’sjon, die hoof wat voor alles was en wat alles begin het), Ek is ook die laaste (‘ageron, wat agter alles is en ook die laaste sê het). Met menslike terme verduidelik die Skepper: my hand het die fondamente van die aarde gelê (soos ‘n bouer ‘n huis vir mense bou), en my regterhand het die hemelkoepel uitgesprei (soos ‘n tent as ‘n beskerming vir mens en dier). Die Here roep die aarde en die hemelkoepel op en hulle tree soos twee soldate aan, wat saam vorentoe staan vir diens, op aandag en gereed om sy bevele te gehoorsaam (maar Israel het nie geluister toe die Here hulle voor die ballingskap dikwels opgeroep het nie, 48:18). Hierdie majestieuse Here van die hele skepping noem Jakob/Israel op sy naam en noem hulle ‘my groepenes’ – die mense wat aan Hom behoort ten spyte daarvan dat hulle hulle rug op Hom en sy woord gedraai het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die straf oor Babel (47:8-15) – Francois Malan

47:8-11 Babilon word opgeroep om die aanklag teen haar aan te hoor. Sy word aangespreek as ‘jy wat in weelde lewe (1983 in wellus), wat sorgeloos sit en in jou hart sê: Ek (is), en (daar is) niemand buiten (my nie)’ – Ek alleen is die gebiedster van die nasies, niemand kan teen my standhou nie. In 43:11; 45:5,6,21; 46:5,9 het die Here gesê: buiten My is daar geen god nie. Nou eis die Babiloniese ryk dié uniekheid vir homself op, met klem op ‘Ek,’ amper soos die naam  Jahweh, die Ek is.

Die beeld van die jongvrou van vers 5 word vervang met die beeld van ‘n vrou en ‘n moeder.  Die kinders verwys na die bevolking. Weduwee en kinderloosheid was van die grootste rampe wat ‘n vrou kon tref en het  haar weerloos en onbeskermd gelaat.  Arrogant beweer Babel dat sy nooit van haar beskermers en haar bevolking beroof sal word nie.

47:9 Die straf pas by die arrogansie van vers 8. In een oomblik, op dieselfde dag en in volle maat sal sy ‘n weduwee en sonder kinders word – in die gemeenskap waar ‘n vrou totaal afhanklik was van haar man en kinders vir beskerming en versorging, is dit ‘n skrikwekkende beeld. Dit gaan gebeur ten spyte van Babel se menigte toorderye wat hulle veiligheid moes waarborg, en hulle sogenaamde wysheid en kennis waarop hulle vertrou, maar  wat as kragtelose beswerings afgemaak word. Niks gaan hulle geweldige verlies aan mense en goedere verhoed nie, nie hulle godediens, tegnologie of kennis nie. Die Babiloniese ryk wat homself mislei, is totaal magteloos en hulpeloos voor die aanslag van die Here.

47:10 Die oordeel word gevel. Jy het op jou bose dade vertrou – tevergeefs het hulle geglo dat hulle groot mag hulle bose geweld en onderdrukking van mense sal bedek, en dat hulle steeds hulle bestaan op slawe-arbeid kan bou (vgl Eks 14:5).  Hulle sê: niemand sien ons nie, maar vergeet van die alsiende oog van die Here. Babel se vertroue op sy wysheid en kennis, hulle ingebeelde kennis van towery en waarsêery,  het hom mislei sodat hy kon sê: Ek en niemand anders nie (vers 8).

47:11 Die straf oor dit alles is onafwendbaar: ‘n ramp wat hulle toorkunste nie kan voorkom nie; ‘n onheil wat ‘n losprys nie kan keer nie, sy onverwagse ondergang. Babel se wysheid en kennis het hulle tot boosheid gelei, wat ‘n ramp geword het en vernietiging. Die huis van leuens stort op Babel ineen.

47:12 In die krisis weet Babel van geen ander hulp nie, en wend hulle nog steeds tot beswerings en toordery. Hulle word uitgedaag om dit te gebruik (soos Elia die Baälpriesters spottend uitgedaag het, 1 Kon 18:27). Die laaste sin sê tweemaal ‘miskien’ (letterlik: of nie) – miskien mag jy daaruit voordeel trek; miskien sal jy dan kan weerstand bied – maar ons weet beter.

47:13 Jy is moeg gemaak deur jou baie skemas/beraadslagings. Soos Babel ywerig besig was met towery, so was sy ook besig om raad en leiding te soek by sterrewiggelary, wat in Babel sy oorsprong het. Laat dié haar nou red en raad gee wat om nou te doen. Hulle deel die hemel in ‘huise’ van die diereriem/sodiak zooön ‘dier’ – die denkbeeldige gordel van 12 sterrebeelde in die hemelruim (ram/aries, bul/taurus, tweeling/gemini, kreef/cancer, leeu/leo, maagd/virgo, weegskaal/libraque, skerpioen/scorpius, boogskutter/arcitenens, steenbok/caper, waterdraer/amphora, visse/pisces) wat die baan van die maan en die planete bevat en volgens die astroloë groot invloed op die mens en sy handelinge bevat. Die sterrewiggelaars voorspel die toekoms van  elke maand  se gebeure. Daarmee was Babel van sy jeug af besig.  Laat hulle nou die pad aanwys!

47:14-15 Die straf word ingelei met ‘n oproep: Kyk! – hier kom ‘n belangrike aankondiging met twee negatiewe uitsprake: Die geleerde sterrewiggelaars kan hulleself nie help nie – en aan die einde: niemand kan red nie. Die Babiloniese ryk is magteloos om die besluit van die Here te weerstaan of af te wend. Die gedig skilder die ondergang van die ryk met ‘n vernietigende veldbrand, wat nie eers kole laat oorbly om hulleself by warm te maak nie. Babilon is so diep in sy toordery en sterrewiggelary vasgevang met wie sy haar van jongs af inlaat, dat sy nie meer gered kan word nie. Soos die gode geen bron van redding is in hoofstuk 46 nie, so is die politieke organe kragteloos in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel, die Here wat aan Israel toegewy is. Babel se baie godsdienstige en bygelowige handelinge wat sy van haar jeug af bedryf, kan hulle nie uit die Here se hand red nie en kan nie die onbeheersde onafhanklikheid om self hulle lot te bepaal, hulle hebsug en die uitbuiting van hulle beleid, bedek nie.

Dit is die vierde maal wat na Babel verwys word en aangespreek word (hoofsukke 13-14,21,39,47). Die Babel van Genesis 11 was ook bekend vir hulle trots en ambisie (47:10 daar is niemand soos ek nie), wat die simbool is van die sonde van die mens, van sy selfmisleiding, sug na mag, sukses en weelde. Die mens se selfmisleiding is jou illusie dat jy ewig en goddelik is (47:7a), sonder insig in die gevolge daarvan (dit kan nie met my gebeur nie, 4747:7b), sonder ‘n gedagte aan rekenskap gee van jou dade (daar is niemand wat my sien nie, v10).

Die kras oordeel oor Babel is bedoel om die ballinge en ander uit Babel opnuut te verseker van die Here se sorg oor dié wat op Hom vertrou, en ‘n waarskuwing aan dié wat nog nie op die Here vertrou nie. Die oorwinning van Kores oor Babel is ook ‘n oorwinning oor alles waarvoor Babel gestaan het.

Hierna spreek die Here sy eie mense aan oor hulle nuwe rol in die nuwe bedeling.

Skrywer:  Prof Francois Malan