Die vrug op die dienaar se lyding (53:10-12) – Francois Malan

53:10-11a Vers 9 vertel van die einde van die dienaar, maar dit is nog nie die einde nie, want die Here…! Die Here wil dat die gedig nog verder gaan. Dit was sy goeie wil om sy dienaar so te gebruik, so ’n effektiewe lyer te ontplooi. Dit is sy wil dat Hy deur sy dienaar sy doel bereik, suksesvol sal wees (5:13 gebruik ‘n ander woord vir suksesvol). Die Here se plan is dat sy dienaar wat alles gegee het, alles sal ontvang. Sy dienaar is ‘n instrument in sy hand, ‘n skuldoffer vir sonde, maar word op die ou einde nie verlaat nie. Hy sal nog ‘n nageslag hê en lank lewe. So iets van die lewe na die dood begin hier deurskemer (vgl. 26:19). Hy sal die lig sien en Hom ken (1983 die Here ken; letterlik: die wil van die HERE is suksesvol in sy hand). Hy sal die wil van die Here ken en daarvolgens lewe en optree (vgl. Jn 8:28-29; 12:27-28; 14:10).  So behoort elke gelowige te lewe (vgl. Mt 6:10).

53:11b-12 Die kernboodskap van dié loflied oor die dienaar van die Here word in verse 11b-12 saamgevat: Die Here noem hom ‘die regverdige,’ dit beteken hy lewe in die regte verhoudig tot God. En hy sal baie tot regverdigheid lei deurdat hy die skuld van hulle sonde dra. Dit is nederige werk om jouself te gee deur ongewaarborgde diens aan en uit innige belangstelling in mense wat dit nie verdien nie.

53:12 Die dienaar se selfvernedering is die rede (daarom) dat God hom verhoog. Die dienaar wat hom met die oortreders geïdentifiseer het, wat soos een van hulle gelyk het, wat vir hulle gebid het en as hulle advokaat opgetree het, ontvang nou die ‘daarom’ van die Here wat aan die geringe en misvormde ‘n aandeel gee saam met die magtiges en die sterkes.

[Sommige verklaarders skryf die lewensverhaal van Serubbabel verder as Sagaria 4:6-10, waar ons Bybelse kennis van hom ophou. Hulle pas dan hierdie hoofstuk op hom toe, as sou hy onregverdig gely het, omdat hy as Kores se agent beskou is, en deur goewerneur Tattenai onregverdig verhoor en doodgemaak is (vgl. Esra 5:3-6 waar hulle teen die bou van die tempel was, maar volgens Esra 6:13 het Tattenai Darius se opdrag om die tempel te laat bou uitgevoer. Die verklaarders meen Serubbabel was toe al dood. Dit is alles egter raaiwerk om hfs. 53 te probeer verklaar].

Uit hierdie hoofstuk, wat die ontmande Etiopiër op pad gelees het, het Filippus vir hom die evangelie oor Jesus verkondig (Hand. 8:30-35; vgl. ook die goeie nuus vir ontmandes in Jes 56:3-5. Die 1983-vertaling vertaal eunuch telkens met ‘amptenaar’ in Hd 8:34,36, 38).

Maar dat God anders werk as die wêreld, is duidelik uit hierdie hoofstuk en uit Jesus se lewe, sterwe en opstanding, wat die vervulling is van Jes 52:13-53:12. Daarmee het Jesus vir sy volgelinge ‘n voorbeeld gestel om soos Hy, vernedering, slae en lyding te verduur om die bose kringloop van geweld te verbreek – moenie ‘n slegte mens teengaan nie. As iemand jou op die regterwang klap, moet jy ook die ander een vir hom draai (Mt 5:39). Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees (Mt 5:44-45). Hierdie hoofstuk is egter die basis van die evangelie: ons verhouding met God word reggestel deur die soendood en opstanding van sy Seun, sodat ons kinders van God kan wees deur ons geloofsband aan sy Seun.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die lydende dienaar van die Here (53:1-9) – Francois Malan

Die vierde ‘dienaar van die Here’ gedeelte in Jesaja word hier voortgesit uit 52:13-15, met die klem op sy plaasvervangende lyding.

 

53:1 Die vernedering wat ‘n verhoging word, openbaar God se mag (sy arm) wat die onverwagte nuwe lewe bewerk. Die twee retoriese vrae  is ‘n oproep tot geloof en vertroue in God, die geloofspad wat nie die gewone verloop van sake in die wêreld volg nie (Ps 24:14 wag/vertrou op die Here!). Die antwoord op die twee vrae is: niemand sal dit glo of sien in die onaansienlike dienaar van die Here nie, wat in 52:13-15 geskilder is.

53:2-3 Die lewe van die dienaar van die Here word beskryf, van sy geboorte in vers 2 tot sy dood in vers 9. Sy geboorte was nie ‘n aanskoulike begin nie: uit droë grond, geen vorm, geen heerlikheid, niks om te bewonder of van waarde nie. ‘n Verworpene, nie waardeer nie, moontlik verstoot, miskien misvorm, iemand van wie niks verwag is nie. Iemand van geen belang nie. Daarby iemand wat in pyn en siekte lewe. Maar hy is soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit (11:1) en ‘n wortel uit droë grond – soos die wonder van lewe in die natuur, van die koringkorrel wat sterf om ’n groot oes te lewer (Joh 12:24). Alle lewe in die hele skepping kom van die Here, ook die loot wat voor die Here uitspruit.

53:4-6 Ten spyte van sy verwerping deur die mense geskied ‘n wonder van God. Hierdie gestremde geïgnoreerde veragte dienaar neem op homself die gestremdhede en die siektes, die lyding as gevolg van sonde, die straf op sondes. Hy word gewond, gepynig, gestraf – en ‘ons’ word genees! Die gedig sê nie hoe dit gebeur of moontlik is dat een vir ander kan ly nie, maar dit is die kern van die verlossing deur die Here. In sy selfverloënende liefde neem die dienaar van die Here die straf en smet van die sonde van die wêreld op hom (Rom 5:8). Die Here het al ons sonde op sy dienaar laat afkom. Die digter-profeet bied sy belydenis en erkenning met verbystering daaroor aan.

Die wonder van die genesing is in ver 6 verbind aan die belydenis van sonde: ‘Ons’ (7x met klem en persoonlik; in Hebreeus 12x ‘ons’ in die drie verse) was eiesinning, weerspannig, soos dom onverskillige skape wat van die regte weiding af gewei het, sonder om na die herder te luister; so het ons afgedwaal in die gevaar in. En die dienaar het verantwoording gedoen vir ons dwaling en sonde. Die verse praat telkens van ons. Dit is nie koue objektiewe stellings nie, maar die stem van hulle wat genees is en wat nou eers insien dat ons gedwaal het, verbyster oor die verlossing en van harte dankbaar. Dit geld eintlik vir alle mense wat die vloei van heling en verlossing, wat deur lyding bewerk word, heelhartig aanvaar. Daarby is die lewe en lyding van die dienaar nie slegs vir enkelinge nie, maar vir die hele gemeenskap – vir ons, in ons plek. Hierdie is ‘n diepe Joodse erkenning van hoe God met lyding sy doel met ons bereik. Deur sy Seun se lyding is ons oorgeplaas in die misterie van die nuwe lewe in Christus, en as ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik kan word (Rom 8:17). So is Israel in die lyding van die baliingskap dienaar van die Here; Jesus die vervulling van die rol van die dienaar, en elke gelowige word deel van die lyding van Christus, die dienaar van die Here, deurdat Hy in ons kom woon het en saam met ons ly (Rom 8:17; in ons ly, Mat 25:15-40).

53:7-9 Die lewe en dood van die dienaar is ‘n vertoonstuk van hoe egte reg verdraai word. Deur ‘n verdraaiing van die reg is hy onregverdig weggeneem – hy het geen geweldsmisdaad gepleeg nie en daar was geen bedrog op sy lippe nie (v9). Hy was onskuldig en moes geen straf gekry het nie, die een wat onregverdig ly, soos die Psalms telkens sing. Die uiterste vernedering is dat hy tussen goddeloses begrawe is, tussen die rykes – wat woeker deur ander te misbruik. Voor die wêreld word sulke rykes geëer, maar hulle is inderwaarheid goddeloos.

In die hof waar hy verkeerdelik beskuldig is, verkeerd gevonnis is, verkeerd tereggestel is, het hy geen protes aangeteken nie en geen verdediging aangebied nie – hy het sy mond nie oopgemaak nie, soos ‘n skaap wat geskeer word of na die slagplek gelei word (v7). Stil en onderwope ontvang hy wat aan hom toegeken word, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29), word onregverdig weggeneem. Hy gee sy lewe vir die lewe van ander – geen bevrediging van God se toorn nie, geen oorwinning oor die krag van die dood nie, maar slegs ‘n sagte plaasvervanger vir die straf op die sonde. So word die bose kringloop van pyn, geweld en dood deurbreek deur ‘n kwesbare lewe wat in die geweld en dood ingaan en hulle tirannie beëindig deur dit te ly.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die dienaar van die HERE (52:13-15) – Francois Malan

Die vierde ‘dienaar van die Here’ profesie (42:1-9; 49:1-7; 50:4-9); alvier met groot probleme om uit te lê: gaan dit om ‘n spesifieke historiese persoon of is dit ‘n metafoor?  Dit is egter duidelik dat die Here ‘n menslike agent aanwys vir heling en bevryding in die wêreld, met spesifieke verwysing na Israel. Soms kan dit Kores of sy opvolgers wees, soms, Serubbabel, ook Israel as die volk van die Here. As metafoor is die beelde wat gebruik word  ontwykend. Die Nuwe Testament pas dit egter op Jesus Christus toe (Mat 8:17; Lk 22:37;  Jn 12:38; Hd 8:32-33; Rm 4:25; 10:16; 15:21;  1 Petr 2:22-25) . Daarby word ongewone Hebreeuse woorde gebruik en is die teks soms verwarrend.

Die liedere oor die dienaar vind hier ‘n klimaks. Die dienaar ondervind ongelooflike en onmenslike lyding (50:6), maar die Here doen juis deur hierdie veragte persoon  iets ongeloofliks. Die dienaar se lyding het ‘n besondere doel, en hy gaan die doel van die Here verwesenlik en baie eer daarvoor ontvang. Hy ly in die plek van sy volk se sondes, dra hulle straf en bring daarmee vir hulle vrede met God.

52:13 Die Here praat van ‘my dienaar.’ Dit is die tema-woord. Daarmee stel die Here sy besluit dat die dienaar (wie hy/hulle ookal mag wees) in alle opsigte suksesvol sal wees (die Hebreeuse woord vir suksesvol dui ook aan: voorspoedig, met insig, geskik, toegewyd). Hy sal geëer word en hooggeag  word. Die stelling word aan die einde van die stuk (53:10-12) uitgebreid bevestig te midde van, en op grond van sy lyding. Dit is duidelik dat die verering en voorspoed eers volg ná ‘n lewe van bitter lyding en vernedering.

52:14-15 Die dubbele tema van vernedering en verhoging wat die intrige van hierdie gedeelte is, word reeds in hierdie twee verse duidelik uitgespel.

52:14 Die beeld van die dienaar word hier geskilder as ‘n gemerkte en verwronge figuur. Die veronderstelling is dat dit op liggaamlike verminktheid dui. Die dienaar is nie een van die ‘mooi mans’ nie. Sy voorkoms is egter so misvormd dat jy kwalik na hom wil kyk, en tog is jy so vasgevang dat jy nie van hom af kan wegkyk nie. Hy is ‘n egte verstoteling, ‘n uitgeworpene, maar iemand wat jou fasineer.

52:15 En juis só is baie nasies besprinkel/verskrik – deur hom  (1983: opspring van verbasing), en oor hom is konings stomgeslaan (letterlik: hulle monde is saamgetrek). Almal is doodstil uit respek voor iemand wat soveel majesteit en waardigheid uitstraal. Dit is onverwags. hulle sien wat hulle nie van tevore gehoor het nie, en dit is onverklaarbaar, hulle hoor wat hulle nog nooit gehoor het nie, begin nou verstaan, nl. die krag van God wat deur menslike swakheid werk, om God se doel in die wêreld te volvoer (vgl. 2 Kor 12:9).

So lyk die aaklige ruïnes van Jerusalem en die vertrapte Joodse slawe in Babilon. Maar deur God se verlossingsplan met die heidense Kores en sy opvolgers, is hulle op pad terug na hulle stad en land om die Here met vreugde te gaan dien. So is die man wat aan die kruis gespyker is verhef tot die regterhand van God om die mensdom met God te versoen. Die wêreld reken dat lyding ‘n doodloopstraat is sonder ‘n toekoms en dat daar niks nuuts onder die son is nie. En dit is juis deur die vernederdes en lydendes wat God sy doel deurvoer om mense te verlos en te red.




Word wakker en staan op! (52:1-12) – Francois Malan

52:1-2 Sion-Jerusalem-Jerusalem-Sion word met sewe bevele opgewek om op te staan tot ‘n lewe in vreugde en met lewenskrag. Hulle moet hulle bannelingstatus en -mentaliteit met al sy droefheid en diepe wanhoop, sy vernedering en willose onderwerping (stof, toue om die nek) afskud. Hulle moet hulle klee vir ‘n feestelike viering. Want hulle lewe nie meer onder ‘n volk wat onrein van lippe is nie (6:5). Hulle is deur die Here verlos van hulle onreinheid. Die ballingskap was ‘n proses van reiniging (vgl. 48:10: Ek jou gelouter in die smeltkroes van ellende), reiniging van die ou lewe in diens van die afgode (2:6-8) en van ‘n lewe vir hulleself (5:8). Hulle word geroep om vir die Here te lewe, wat sy genadeverbond met hulle gemaak het om hulle God te wees en hulle om sy volk te wees. Jerusalem is sy heilige stad om  aan Hom toegewy te wees.

52:3-4 Sonder rede/onverdiend, is julle verkoop (Die 1983-vertaling  ‘Ek het julle verkoop…’ het die passiewe werkwoord ‘is verkoop’ verkeerd vertaal, in die lig van vers 4) en sonder silwer sal julle teruggekoop/verlos word.  ‘In die begin het my volk na Egipte gegaan om daar as vreemdelinge te bly’ (Jakob en sy gesin; 1650 v.C.) – en toe het die Egiptenaars van hulle slawe gemaak, onverdiend! (Daarna) het Assirië hulle vir niks verdruk (722 v.C.). Al het die Here hulle oorgegee aan hulle begeerte om die Egiptiese en Assiriese gode te dien, het Egipte en Assirië geen rede gehad om hulle erg te mishandel nie (vgl. die Egiptiese god Apis, die bul van Memfis, en Israel se goue bulkalf, Eks 32:4; Agas wat ná sy besoek aan die koning van Assirië in Damaskus, die tempelaltaar verskuif het om plek te maak vir die imposante altaar van die Siriese god, Hadad-Rimmon/Ramma, die god van die donder en geweld wat ook deur die Assiriërs vereer is naas hulle god Assur, 2 Kon 16:10-15). En nou sit Juda al 75 jaar in ballingskap onder sy eertydse vriend Babel , 2 Kon 20:12-18). Die Here gaan hulle egter uit genade verlos en sonder ‘n losprys vir Hom terugkoop.

52:5 Die Here het niks gebaat, geen koopsom ontvang, vir sy volk Israel, toe Egipte, Assirië en Babel hulle van Hom af weggevat het nie. Hulle (Israel se) leiers huil oor hulle ellende (die veel ouer Dooie See manuskrip lees: hulle – Babel se leiers – spog. Hulle roem oor hulle oorwinning, onderwerping en vertrapping van Israel en van Israel se God, die Here). Daagliks word die Here  belaster as na sy volk se ellende verwys word.

52:6 Maar nou het die tyd aangebreek dat die Here sy volk gaan herstel. Op daardie dag sal die Here se volk sy Naam ken, dit is sy karakter, wie en wat Hy is – dat dit Hy is wat sê: ‘hier is Ek’. Die Naam Here beteken Ek is persoonlik aktief teenwoordig (vgl. 40:9: Jou God is hier). Dit is sy Naam wat Hy aan Moses bekendgemaak het (Eks 3:14). Dit beteken Israel is vry om huis toe te gaan en Babel kan niks doen om dit te verhoed nie. Dit veronderstel ‘n skielike ingryping deur die Here, die nag toe Belsassar gesterf het en  Kores Babel in een nag, die nag van 11 Oktober 539 v.C. ingeneem het (Dan 5:30).

52:7  Dié vers sing oor die HERE se triomf. Daar is vier rollle in die drama van verse 7 tot 10. Eerstens die boodskapper wat van Babilon na Jerusalem hardloop met die goeie nuus (vgl. 40:9) dat die Here Babel se mag verbreek het. Die wagte luister goed na die boodskap en dra dit met uitbundige vreugde oor aan die inwoners van die verwoeste stad: Die Here regeer weer oor ons, daar is vrede want ons is vry, ons ballingskap is verby! Hulle sien die Here kom in majesteit om die bewind in Jerusalem en oor sy volk oor te neem (vgl 40:3-5).

52:8 Die wagte op die gevalle mure van Jerusalem waak oor die stad en wag vir nuus uit Babel. En dan, buite hulleself van vreugde begin hulle die goeie nuus in Jerusalem uitbassuin. Hulle sien voor hulle oë wat gebeur. Ballinge is in aantog as bewys, want die oorwinning is van die Here en Hy kom terug na Jerusalem met sy reg en geregtigheid (5:7,16). Die God wat Hom verborge gehou het (45:5) sal nou weer openlik te sien wees in die herstel van sy mense, die opbou van die stad en land, en die vreugde van sy volk.

52:9-10 Die puinhope van Jerusalem  jubel en juig toe hulle die wagte se boodskap hoor dat die Here weer terugkom na die stad toe. Die mure wat sedert 587 v.C. afgebreek rondlê, juig oor hulle herstel. Hulle is beelde van die armsalige en vreesbevange  mense van die stad wat bedags en snags wagte uitsit om hulle teen wilde diere en  hulle vyande te beskerm. Die Here kom van die vertrapte onderdruktes weer mense maak wat sy beeld vertoon (Gen 1:27).

Letterlik: ‘want die Here het sy volk vertroos (deur by hulle te wees, 40:1) en Jerusalem losgekoop (soos Hy hulle uit  Egipte en Assirië losgekoop het).’ Elkeen, elke volk,  kan sien wat hier gebeur, dat ‘n slawevolk weer vry geword het om mens te wees voor God, deurdat ‘die Here sy heilige arm kaal gemaak het (sy moue opgerol het om te werk; 1983 ‘sy heilige mag geopenbaar het’) voor die oë van al die nasies.’ Sy volk gaan nou die mure van die tempel en die stad opbou as bewys van hulle geestelike opbou, die buurvolke neem kennis daarvan, en sommige opponeer die werk (Esra 4:1-4).

52:11-12 Die oproep gaan aan die ballinge in Babel wat deur Kores se proklamasie (Esra 1:2-4) vrygemaak is en nou kan teruggaan na Jerusalem. Israel is deur die Here gereinig. Met die ballingskap het die Here Israel gereinig van hulle begeerte om afgode te dien. Nou word hulle vermaan om die lewe en versoekings van Babel agter te laat: ‘Trek weg! Trek weg! Gaan uit daarvandaan! Moenie aan iets raak wat onrein is nie! Kom uit daar!’Israel word opgeroep om ook geestelik aan Babel vaarwel te sê.  Dié wat die 5,400 goue en silwer stukke tempelgereedskap moes terugdra (Esra 1:11) word vermaan om te sorg dat hulle rein is. Die Here gaan saam met hulle op hulle terugtog, dit is ‘n godsdienstige pelgrimsreis, daarom is daar nie meer ruimte vir afgode en die heidense lewenswyse nie. Hulle hoef hulle ook nie te haas op pad terug nie, soos Israel in haas uit Egipte moes vlug nie (Eks 12:11), want die Here gaan voor julle uit en die God van Israel is julle agterhoede (vgl Ps 139:5).

Skrywer:  Prof Francois Malan