Die oue weerklink in die nuwe: Moses (2) – Jan van der Watt

Maar in dieselfde gedeelte kritiseer Paulus ook die era van Moses en die wet, of laat ons liewer sê dat hy dit in die regte perspektief plaas. Hy sê dat as die Jode die wet lees, is dit asof ‘n doek of ‘n sluier oor hulle verstand getrek word, sodat hulle nie verstaan wat hulle regtig lees nie: ‘Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees’ (2 Kor 3:14). Hoewel die Jode iets goeds gehad het, kon hulle dit nie begryp of verstaan nie. Die rede is omdat ‘n mens die Ou Testament alleen verstaan in die lig van Jesus: ‘maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo’ (2 Kor 3:14). Die Heilige Gees wat mense vrymaak, help mense om die boodskap reg te verstaan. Natuurlik het die Christene die Heilige Gees wat beteken dat hulle die openbaring van God in die Ou Testament reg verstaan. Omdat die Heilige Gees die gelowiges help om die boodskap reg te verstaan, verander dit die gelowiges. Hulle word al meer soos Jesus en daarom straal hulle al meer van die heerlikheid van God uit – dit is nou heiligmaking in die hoogste rat! In die woorde van Paulus: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is’ (2 Kor 3:18).

In die Nuwe Testament is daar ook sprake van ‘n tipologie as dit oor Moses gaan. Tipologie beteken dat iemand ‘n tipe is van iets wat in ander na hom of haar ook gesien kan word – die een word in die lig van die ander gesien. Dit gaan gewoonlik oor tipiese of spesiale kenmerke. Moses en Jesus word in Hand 6-7 as tipes van mekaar gesien, al is Stefanus daarvan beskuldig dat hy teen Moses gelaster het (Hand 6:11). Ironies genoeg verwys Stefanus verskeie male na die lewe van Moses in sy toespraak in Hand 7 (bv. 7:20–24, 30–38, 44). Dit is egter veral die feit dat Moses deur sy eie mense verwerp is (7:25–29, 39–40, 52) wat ‘n tipe is van hoe Jesus deur Stefanus se opponent hanteer is (7:52). Soos Moses deur sy volk verwerp is (en die Jode besef dit was verkeerd) so is Jesus ook deur die mense verwerp (en dus was die volk ook in die geval verkeerd!).

Die Nuwe Testament wys hoe Jesus en Moses eintlik dieselfde dinge doen, maar dat Jesus net baie beter is – Moses, die leier van die volk, is ‘n tipe van Jesus, maar Jesus oortref hom net by verre. Jesus is byvoorbeeld ‘getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God’ (Heb 3:2). Beide dien God getrou in sy ‘huis’, maar ‘Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God’ (Heb 3:5-6). Moses speel wel ‘n belangrike rol in die volk (huis van God), maar is maar net ‘n slaaf – Jesus is die seun. As mens ‘n slaaf en ‘n seun vergelyk, is daar eintlik geen vergelyking nie; net so is daar ook nie ‘n vergelyking tussen Jesus en Moses nie (sien ook 3:3).

Daar is sommer nog baie ander verwysings na Moses in die Hebreërboek (3:16,18; 7:14; 8:5; 9:19; 10:28; 12:21); almal wil dieselfde sê: Jesus bied iets baie beters as wat Moses die Jode kon bied. Heb 11:23–24 beskryf Moses byvoorbeeld as ‘n geloofsheld wat gedoen het wat God vra. Daarmee was hy weereens net ‘n tipe van Jesus wat die werklike ‘Begin en Voleinder van die geloof’ was (Heb 12:2). Daarom maak dit sin om Christen te bly.




Die oue weerklink in die nuwe: Moses (1) – Jan van der Watt

Dit is interessant om te sien hoe hierdie ‘gesagvolle posisie’ van Moses gebruik word om die grootheid van Jesus te beklemtoon.

  • In Joh 1:17 word daar gesê dat God die wet deur Moses gegee het, maar dat die genade en waarheid deur Jesus gekom het. Daar word nie gesê dat Moses onbelangrik is nie, nee, hy was die instrument in God se hande. Wat wel waar is, is dat Jesus beter is, want die genade en waarheid wat die wêreld sou verander en lewe gee, kom deur Hom. Jesus is dus baie groter as hierdie groot leier van Israel.
  • Moses (saam met Elia as een van die ‘groot twee’ uit die geskiedenis van Israel) verskyn op die berg van verheerliking in die teenwoordigheid van Jesus (Mk 9:4 en parallelle). Na die ontmoeting keer Jesus na die gewone wêreld terug met ‘n stem wat uit die hemel kom met die opdrag dat daar na Jesus geluister moet word (Mk 9:7 en parallelle). Daarmee word gesê dat Jesus nou God se boodskapper in die wêreld is. Na Hom moet nou geluister word.
  • Dit is heel moontlik dat Matteus impliseer dat Jesus die ‘tweede Moses’ word wat met die Bergpredikasie (Mat 5-8) die nuwe interpretasie van die wet afkondig, soos Moses dit die eerste maal van die berg Sinaï gedoen het. So wys Jesus dus dat ‘n nuwe era in die geskiedenis van die volk van God aangebreek het. Sy boodskap oortref die boodskap van Moses. Immers, in die ‘ou dae voor Jesus’ het mense die wet op een manier verstaan, maar Jesus het vir hulle die regte pad kom wys (Mat 5:18 en verder).

Omdat Moses so met die sentraal belangrike wet verbind word, is dit dus nie snaaks dat hy in sommige gevalle ook sommer as ‘simbool’ vir die hele Joodse volk beskryf word nie. In Hand 6 word daar vertel van die konflik tussen die Jode en die Christene wat uiteindelik op die steniging van Stefanus uitgeloop het (Hand 7). In die konflik kla die Jode Stefanus aan: ‘Ons het hom teen Moses en God hoor laster’ (Hand 6:7). Hier staan die naam Moses vir die Jode met hulle tradisies. Stefanus het teen die Joodse volk (Moses) gedraai en so teen God ook. In Hand 21:21 word Paulus daarvan beskuldig dat hy die heidene aanmoedig om ‘van Moses’ af weg te draai, met ander woorde, om nie die Joodse gebruike te volg nie (‘wet van’ is hier in die vertaling ingesit en staan nie in die Grieks nie).

Uitdrukkings soos ‘die wet van Moses’ (Rom 5:13) kom baie in die Nuwe Testament voor. Omdat die Jode die wet gebruik het om te bepaal of iemand sonde gedoen het, het mense gewonder of daar sonde voor die wet was, en hoe het mense dit geweet. In Rom 5:12-14 sê Paulus dat sonde en die resultaat, die dood, eintlik al daar was sedert Adam; dit het nie met die wet eers begin nie.

In 2 Kor 3:7-18 vergelyk Paulus wat Moses gedoen het met dit wat die Gees doen, met ander woorde, wat die Israeliete gehad het met wat die Christene nou het – hy noem die era van Moses ‘die bediening wat tot die dood lei’, terwyl die era waarvan hy deel is, ‘die bediening is wat deur die Gees geskied’ (2 Kor 3:7-8; sien ook Eks 34:29-35). Nou sê hy juis nie dat wat Moses (die Israeliete) gehad het sleg was nie. Inteendeel, Moses het van heerlikheid gestraal nadat hy in die teenwoordigheid van God was. Hy skryf (2 Kor 3:7-8): ‘Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?’. Dit is juis die punt – wat die gelowiges vandag het, is soveel groter as wat Moses gehad het, want wat Moses gehad het, het gou verdwyn. Wat die gelowiges nou het, is onoortreflik en permanent: ‘Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter’ (2 Kor 3:10-11).  Dit moet die gelowiges laat moed hou en besef wat hulle het, of soos Paulus dit stel: ‘Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op’ (2 Kor 3:12). Wat Moses gehad het, was nie sleg nie, maar wat die Christene het is net veel beter. Johannes sluit op sy eie manier by die gedagte aan as hy sê: ‘God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom’ (Joh 1:17). Die wet kom wel van God af en het wel op sy manier ‘n rol gespeel, maar wat Jesus gebring het is soveel beter. Deur Jesus leer ons nie wette ken nie, maar genade en waarheid.

Volgende keer kyk ons verder na Moses.




Die oue weerklink in die nuwe: Die Eksodus en Moses – Jan van der Watt

  1. c) God red sy volk: die uittog uit Egipte.

Die uittog uit Egipte het ‘n baie belangrike rol in die lewe van Israel gespeel. As hulle later ooit in die moeilikheid of onseker was, het hulle teruggedink aan Egipte, want waar kon jy ‘n beter bewys as die verlossing uit Egipte kry dat God sy volk uit die moeilikheid sal red. En dan is daar nog die tog van 40 jaar deur die woestyn, waar God vir hulle oor en oor gewys het dat Hy hulle sal versorg en beskerm, al was hulle soms opstandig en ongehoorsaam.

Die vroeë Christene het gevoel die God van Israel wat sy mense op so kragtige en wonderlike manier uit Egipte gered het, ook hulle God is. Omdat dit is wie Hy is, sal Hy hulle dus ook so uit nood kan red. Daarom word die eksodusverhaal baie op die Christelike verhaal toegepas om so te wys dat die God van Israel ook die God van die Christene is. Hier gaan net ’n paar voorbeelde genoem word.

  1. i) Moses, die leier van God se volk.

Moses, wat die volk uit Egipte gelei het, was een van die hooffigure in die geskiedenis van Israel. Daarom is dit nie snaaks dat daar baie na hom verwys word in die Nuwe Testament nie. By hom kan daar baie geleer word, omdat hy so naby aan God was.

God het die wet deur Moses gegee’ (Joh 1:17) – daarvoor was Moses veral bekend. Die wet word selfs die ‘wet van Moses’ genoem (Luk 2:22; 24:44; 1 Kor 9:9; Hand 13:39) en die eerste vyf boeke van die Bybel (die Pentateug) word in die Nuwe Testament die ‘boek van Moses’ (Mk 12:26), of sommer net ‘Moses’ (Luk 16:29, 31; 20:37; 24:27) genoem. Moses en die wet is onlosmaaklik aan mekaar gekoppel en daarom is Moses ook gesien as die verteenwoordiger van die volk van God. Hy het die volk by God verteenwoordig toe God met sy mense by die berg Sinaï ’n verbond (kontrak) gesluit het (Rom 9:15; Rom 10:5,19) dat Hy hulle God sal wees, vir hulle sal sorg en hulle sal beskerm, maar dat hulle dan vir Hom ‘n volk moes wees. Die deel van die ooreenkoms (verbond) wat die volk moes nakom, is in die verbondswet neergeskryf. Dit was die deel van die kontrak wat hulle moes nakom om die kontrak geldig te hou. Deur die Wet te hou, het die Jode gewys dat hulle God se verbondsvolk was. As jy die wet sommer oortree het, was jy in die moeilikheid, want dan het jy die kontrak met God in gevaar gestel wat die hele volk en verbond in gevaar gestel het. Daarom lees ons in die Ou Testament dat mense wat die wet oortree het sommer kwaai gestraf is en selfs doodgemaak is. Dit verbond was immers nie met individuele persone nie, maar met die volk. As die volk dus toelaat dat individue sommer links en regs die wet breek en niks daaraan doen nie, beteken dit dat die hele volk skuldig is. Dan kan God almal straf. Daarom het die Jode dan ook so kwaad geword vir Jesus as Hy en sy dissipels nie die Sabbat hou nie. Maar Jesus het nie die wet oortree nie, maar die wet kom vervul.

Volgende keer gaan ons verder na Moses kyk.




Die oue weerklink in die nuwe: Isak, Jakob, Kain, Esau en Sara – Jan van der Watt

  1. Isak en Jakob

Isak en Jakob, Abraham se seuns, word ook in die Nuwe Testament genoem. As Moses by die brandende braambos staan en vra wie met hom praat, stel God homself bekend as die God van Abraham, Isak en Jakob (Eks 3:6, 15, 16). Jesus sinspeel hierop as hy met die Sadduseërs redeneer oor die opstanding. Hy sê: Het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes (Matt 22:32 en die parallele dele in die ander evangelies). Die Sadduseërs het natuurlik gedink daar is nie lewe na die dood nie. Nou haal Jesus Eksodus 3:6 aan om te wys dat God self sê hy IS nou (dit is hoe die Griekse teks dit stel) die God van Abraham, Isak en Jakob. As hulle nie bestaan nie, hoe kan God sê Hy is nou hulle God? Hulle moet dus nou lewe, al is hulle fisies dood! Daar is dus lewe na die dood. God is immers nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Daarom kan Matteus ook op ‘n ander plek sê: Ek (Jesus) sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel (Matt 8:11-12).

In Hebreërs 11:18-20 vertel die skrywer die verhaal van Abraham wat Isak moes gaan offer, hoewel God beloof het dat Abraham se nageslag uit Isak sou voortkom. Abraham se geloof word getoets – hy weet God sal nie sy belofte breek nie. Selfs as hy Isak offer sal God Isak weer uit die dood terugbring. Dit is dus ‘n verhaal van geloof in die God van lewe. In hierdie geloof het Abraham en Isak geleef en so ‘n voorbeeld vir alle mense gestel van wat geloof regtig beteken (sien ook Galasiërs 4:21-31).

  1. Kaïn

Die verhaal van Kaïn wat sy broer Abel vermoor het, is bekend uit die Ou Testament. In 1 Johannes 3:11-12 word die verhaal van Kaïn as voorbeeld gebruik van iemand wat nie die liefde van God ken nie, en daarom die pad van die dood gekies het deur sy broer dood te maak: Ons (gelowiges) moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. (In Heb 11:4 word net genoem dat Abel ‘n beter offer as Kaïn gebring het wat sy opregtheid bevestig het). So word Kaïn eintlik in die Nuwe Testament as die prototipe gesien van ‘n ware sondaar (sien ook Judas 11): iemand wat nie die lewe vir ander soek nie, maar die dood.

  • Esau

 Die verhaal van Esau word weer in Rom 9:11-13 gebruik om die verkiesing van God te verduidelik. Uit dieselfde familie kom twee seuns, Esau en Jakob: Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Maar daar hou dit nie op nie. Die Hebreërskrywer waarsku mense om nie so sedeloos en sleg soos Esau te wees nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. (Heb 12:16). Om jou eersgeboortereg te verkoop,  was nie sommer maar net niks nie. As oudste seun moes Esau die familie se tradisie en karakter voortdra as die pa nie meer daar is nie. Hy moes vir hulle die pad wys en die voorbeeld stel hoe om te leef. Esau het so min van die verantwoordelikheid van hom gedink dat hy dit vir ‘n pot lensiesop verkoop het. So erg is dit dat die Hebreërskrywer dit goddeloos en sedeloos noem. So moet gelowiges nie wees nie.

  1. Sara

Maar dit was nie net manne wat as voorbeelde gedien het nie. Uit die lewens van vroue soos Sara het Christene ook baie geleer. Die voorbeeld van Sara wys hoe ‘n deugsame vrou gelyk het: 3Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het  by God groot waarde. 5In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. 6Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters. (1 Pet 3:3-6). Die punt wat Petrus hier maak is dat die werklike skoonheid van iemand nie in fisiese dinge soos rykdom lê nie.

Volgende keer gaan ons na die uittog uit Egipte en na Moses kyk.