Wat is die nota (titulus) wat aan die kruis vasgespyker is?

Wat is die nota (titulus) wat aan die kruis vasgespyker is?

Hoewel daar huidiglik geen ander bewyse uit antieke dokumente is rondom notas wat aan kruise vasgespyker is nie, was die rede vir die nota waarskynlik die volgende: Mense is nie destyds gekruisig om hulle te straf nie (dit ook), maar kruisiging is veral as afskrikmiddel gebruik.

Dit is brutaal en wreed gedoen, sodat mense wat dit sien daar en dan besluit hulle wil nie dieselfde pad loop nie. Maar dan moes hulle weet wat die persoon verkeerd gedoen het, sodat hulle nie dieselfde doen nie, en daarvoor is die nota opgesit. Jesus s’n is in drie tale (Hebreeus, Grieks en Latyn – Joh 19:20) opgesit sodat al die mense kon verstaan. Dit het gelees: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” (Joh 19:19).

Wat sou die mense wat dit gelees het daaronder verstaan het? Die Romeinse Ryk het oor die hele bekende wêreld van destyds geheers. Daarom was iemand wat homself as koning van ‘n volk voordoen vir hulle ‘n politieke bedreiging en moes uit die weg geruim word. As die mense dus Koning van die Jode sou lees, sou hulle dadelik verstaan het dat hier iemand was wat in opstand teen die owerheid wou of kon kom. Jesus is dus onder ‘n politieke nota gekruisig.

Die titulus is volgens die beskikbare Nuwe-Testamentiese getuienis op ‘n manier bokant Jesus se kop vasgemaak sodat dit bokant Jesus se kop moes uitsteek. Daaruit lei geleerdes af dat die nota aan die stuk van die kruis wat bokant Jesus se kop uitgesteek het, vasgemaak is. Daaruit kan ons dus ook aflei dat die kruis nie T- of X-vormig was nie, maar gelyk het soos “ons bekende kruisvorm” (crux imissa).

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hoe is Jesus gekruisig?

Hoe is Jesus gekruisig? – die beskrywing daarvan in die Nuwe Testament

Hoewel die kruisiging so sentraal in die Christelike godsdiens staan, vertel die evangelies ons omtrent niks van hoe dit gedoen is nie.

Hulle stel die feit net kort en kragtig: “Toe kruisig hulle Hom” (Mark 15:24; sien ook Matt 27:35; Luk 23:33; Joh 19:18). Hier word niks gesê van die manier van kruisiging nie, byvoorbeeld of daar spykers of toue gebruik is om sy liggaam aan die kruis vas te kry, of sy arms oopgespalk is of nie, of hy eers aan ‘n dwarsbalk vasgesit is en toe teen ‘n regop paal opgehys is of so iets nie (alles dinge wat moontlik was). Die verwysings in die res van die Nuwe Testament help ook nie veel nie, want dit gee nie ekstra inligting nie (bv. Matt 20:19; 23:34; 26:2; 27:22,23,26,31,35,38; 28:5; Mk 15:13,14,15,20,24,25,27; 16:6; Luk 23:21,23,33; 24:7,20; Joh 19:6,10,15,16,18,20,23,41; Hand 2:36; 4:10; 1 Kor 1:13,23; 2:2, 8; 2 Kor 13:4; Gal  3:1 en Open 11:8). Wat ons wel weet is dat daar spykers by die proses betrokke was, maar meer nie. Maar waarop is die evangelies so stil oor hierdie onderwerp? Die kriptiese hantering van hierdie gegewens deur die evangeliste hang waarskynlik saam met die gebruik van daardie tyd om nie die grusame kruisgebeure gedetailleerd te beskryf of simbolies voor te stel nie. As ‘n mens byvoorbeeld gaan soek na beeldhouwerke of tekeninge op potskerwe uit daardie tyd wat oor kruisiging gaan, kry jy feitlik niks, wat vir ons sê dat dit nie ‘n onderwerp was waaroor mense baie spraaksaam was nie. Daar is wel tekste waarin kruisigings beskryf word, maar dit is baie skaars. (Jan van der Watt).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Wat is presies gedra as daar staan “die kruis” is gedra?

Wat is presies gedra as daar staan “die kruis” is gedra?

Wat is presies gedra? Van die opsies is: (i) óf die hele kruis soos dit ingeplant is, (ii) óf net die dwarsbalk wat (soms) bo-op ‘n paal wat reeds regop geplant is, geplaas is.

Daar is kommentatore wat beweer dat Jesus net die dwarsbalk (Latynse woord patibulum) sou gedra het. Hulle het egter geen bewyse, behalwe dat ons weet dat dit soms gebeur het nie. Dit is egter nie genoeg rede om te sê dat Jesus net die dwarsbalk gedra het nie. Die gegewens lei ons in ‘n ander rigting.

Al vier evangeliste gebruik die Griekse woord staurov~ (stauros) gebruik en dit word normaalweg met kruis vertaal. Al die groot Griekse woordeboeke (Liddell & Scott; Bauer et al) noem net dat die woord na die hele kruis verwys. Net een belangrike woordeboek (Louw en Nida) noem die moontlikheid dat dit miskien na net ‘n deel van die kruis (die dwarsbalk) kan verwys. Ook die vroeë vertalers van die Bybel in Latyn (die Vulgaat) vertaal die Grieks met crucis (= kruis) en nie met patibulum (= dwarsbalk) nie. Ander gebruike van die woord staurov~ (stauros) in die Nuwe Testament bevestig dat dit na die hele kruis verwys. Hier is ‘n klompie voorbeelde: vgl. Matt 10:38; 16:24; 27:322; Mark 8:34; 15:21; Luk 9:23; 14:27; 23:26; Joh 19:17 waar dit saam met ander woorde vir die dra van die kruis (selfs figuurlik) gebruik word. Op ander plekke dui dit op die plek waar iets gebeur (bv. Matt 27:40,42; Mark 15:30,322 Joh 19:25,31; ietwat anders, maar tog met dieselfde basiese strekking is Fil 2:8, Kol 1:20 en Heb 12:2). Die kruis (as geheel) word ook teologies herinterpreteer (bv. 1 Kor 1:17,18; Gal 5:11; 6:12,14; Ef 2:16; Fil 3:18; Kol 1:20; 2:14). Die mees algemene opinie ogv. al die gegewens is dat dit die hele kruis is wat gedra is.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hoe is die kruis gedra?

Hoe is die kruis gedra?

Hoewel Jesus die kruis die eerste en gedra het, vertel die sinoptiese evangelies dat Simon later gehelp het. Maar wat is presies gedra?

Was dit die dwarsbalk, ‘n paal, of die hele kruis? Die manier waarop Matteus 27:32 en Markus 15:21 dit stel kan ons nie vir seker sê wat of hoe dit gedra is nie. Lukas 23:26 se formulering interesseer ons egter: ”Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ‘n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra”. Volgens die Griekse uitdrukking (ἐπέθηκαν αὐτῷ) moes hulle die kruis op ‘n manier bo-op Simon gesit het sodat hy dit op sy skouer(s) moes dra. Hoe dit gedoen is, word nie gesê nie – vrae soos of hy die hele kruis opgetel het of gesleep het kan nie beantwoord word nie. Johannes (19:17) noem nie dat Simon gehelp het nie, maar sê bloot dat Jesus sy kruis opgetel en self gedra het. Ook hier is daar geen aanduiding van wat presies Hy opgetel het of hoe hy dit gedra het nie. Die Bybelgegewens help ons net om te kan sê dat iets (wat “kruis” genoem word) op die skouer gedra of miskien gesleep is.

Skrywer: Prof Jan van der Watt