Mense en Redding: Paulus (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Hoe dink Paulus oor redding?

 Paulus se basies boodskap stem grootliks ooreen met die evangelies. Hy vertrek ook van die negatiewe standpunt oor die mens en sy posisie voor God (Rom 1:1-3:20). Die genadige God het hom egter oor die mens ontferm en het deur Jesus sy redding aan die wêreld in nood aangebied. Diegene wat dit aanvaar word gered, word deel van God se gemeenskap op aarde wat ook so moet leef, en kan op die ewige vervulling van die heil hoop as Jesus weer kom (1 Thes 4:18vv.). Ander word veroordeel vanweë hulle ongeloof.

Terwyl Paulus dieselfde hooflyne volg, praat hy tog oor die redding op sy eie manier. Hy gebruik hoofsaaklik beelde (metafore) om te verduidelik wat gebeur as God mense kom red. Hy sal byvoorbeeld praat van mense wat slawe (van die sonde) is en losgekoop moet word, of van mense wat skuldig is en voor die regter in ‘n hof moet verskyn. Dit is beelde wat die mense in daardie tyd goed geken het. Dit was deel van die samelewing waarin hulle geleef het.  Dit help dus om die geestelike gebeure van redding op ‘n eenvoudige en praktiese manier te verduidelik.

Paulus het ‘n negatiewe siening van mense sonder God: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Rom 3:23) en …ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie” (Rom 3:9-12) en In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef 2:12). Hierdie wêreld word as goddeloos gesien (Gal 1:4) en die mens het ‘n sondige natuur wat hom vyandig teenoor God maak en laat optree (Rom 8:3, 7). Dit gaan nie net om enkelinge nie, maar oor die mensheid as geheel.

Genade speel ‘n groot rol in redding. Daarna gaan ons volgende keer kyk.




Mense en Redding: Die Johannese geskrifte (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

‘n Laaste gedeelte wat aandag moet kry, is die woorde van Johannes die Doper wat met die volgende woorde na Jesus verwys (Joh 1:27): “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Meer sê Johannes nie, wat ‘n mens natuurlik laat wonder waarna die Lam verwys? Dit lyk egter of Johannes hier impliseer dat Jesus as die Paaslam gesien moet word. Dit word duidelik uit opmerkings in die kruisverhaal. Daar sterf Jesus aan die kruis op dieselfde tydstip as wat die paaslammers in die tempel geslag word. Dan word sy bene nie gebreek nie (Joh 19:33-36), wat ‘n moontlike verwysing na die paaslam is wat niks mag makeer nie. Wat het die paaslam presies gedoen en beteken? Die paaslammers se bloed is in Egipte deur die Israeliete aan die kosyne gesmeer sodat die doodsengel nie by hulle inkom nie. Die bloed het dus as beskerming teen die bose gedien. As Jesus dus die Lam van God genoem word, beteken dit dat Hy gelowiges teen die effek van die sonde sal beskerm. Op die manier kry hulle lewe en is die bedreiging van die sonde weggeneem. Die teks word tog deur sommige verstaan as dat die bloed van die Lam die sonde sal wegwas en dat dit tot versoening sal lei. Dit word egter nie heeltemal so duidelik in die Evangelie bevestig nie.

 Volgende keer begin ons na Paulus se beskrywing van redding kyk.




Mense en Redding: Die Johannese geskrifte (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

In hierdie hele gebeure (wedergeboorte) speel Jesus die sentrale rol. Hy is die weg na die waarheid en lewe, na die Vader (Joh 14:6-7): Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken”. Hy is spesiaal uit liefde deur die Vader gestuur om lewe vir al die mense te bring: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16). God het Jesus gestuur, maar Hom vooraf voorberei vir sy sending. God het aan Jesus al die mag gegee, ook oor lewe en dood (Joh 5:21; 10:17-18). Daarom kan Jesus ook in die volgende woorde oor Homself praat: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (Joh 11:25-26). Johannes se model van redding is dus gebaseer op ‘n persoonlike verhouding tussen die gelowige en Jesus – wie in Hom glo, kry die ewige lewe. Jesus hoef dit nie eers aan die kruis te verdien nie, maar het die mag en reg om dit aan elkeen wat glo te gee.

Die vraag is dan of die kruis volgens Johannes wel enige waarde vir die redding van mense het? Wat wel duidelik is, is dat die kruis die plek is waar Jesus se ware en egte identiteit geopenbaar gaan word: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog (= gekruisig) het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is”. Met die kruis en opstanding word dit regtig duidelik dat Jesus is wie Hy sê Hy is en dus die een is wat die ware God kom openbaar. As mense dit besef sal hulle in Hom glo en so gered word. Die openbaringsfunksie van die kruis en opstanding bring mense dus tot by die punt waar hulle glo en gered word. Dit blyk ook uit die verhaal van die ongelowige Tomas. Hy wou ook nie in Jesus glo nie, maar toe die lewende en opgestane Here voor hom staan, kon hy niks anders sê as: My Here en my God! (Joh 20:28) nie.

Johannes lê dus nie soveel klem op die bloed van Jesus of die kruis as plek van versoening nie. Hy wil eerder hê dat sy lesers die Here aan die kruis duidelik en helder raaksien. Daar is tog in die briewe verwysings na die bloed van Jesus ons reinig (1 Joh 1:7): Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. Daar word selfs na Jesus verwys wat versoening vir die sonde van mense bewerk het: Hy (=Jesus) is die versoening vir ons sondes (1 Joh 2:2) en werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Dit wys dat Johannes nie teen die tradisionele Christelike gedagtes van versoening deur die bloed van Jesus is nie, maar dat hy net nie die klem daarop wou laat val in sy Evangelie nie.

Volgende keer kyk ons na Johannes die Doper se woorde oor Jesus.




Mense en Redding: Die Johannese geskrifte (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

God is die lewende God (5:26) en as Jesus wêreld toe kom, bring hy die ewige lewe (3:16, 35-36) aan mense wat in die dood en duisternis is (Joh 3:17-21; 5:25; 12:49-50). Johannes gebruik twee konsepte om die verkryging van die redding, oftewel, die ewige lewe te verduidelik, naamlik, geloof en (weder)geboorte.

  1. a) Vir Johannes breek die moment van redding aan as ‘n persoon glo: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Joh 5:24) en wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh 3:36). Geloof in God en Jesus lei na die lewe. Geloof volgens Johannes is mensomvattend. Die beste voorbeeld van wat geloof volgens Johannes beteken word duidelik uit die verhaal van die genesing van die blinde man in Johannes 9. Hy kon niks uit homself doen nie – hy was maar ‘n bedelaar. Jesus kon wel en het ook – Hy genees hom. In die verhaal wat volg verdedig die blinde man Jesus in woord en daad. Hy staan op teen die Joodse leiers tot op die punt waar hulle hom uit die sinagoge gooi (Joh 9:34). Dit het in daardie tyd beteken dat die persoon sosiaal heeltemal geïsoleer is. Niemand wou iets met hom te doen hê nie. Selfs sy ouers wou nie vir hom opkom nie (Joh 9:23). Hy was dus bereid om alles te verloor ter will van Jesus. Maar hy was ook bereid om Jesus as Seun van die mens te erken en Hom te aanbid (Joh 9:35-38). Nie alleen deur sy woorde en dade nie, maar in sy hele wese het Hy Jesus aanvaar. Die implikasie is dat hy hom volledig aan Jesus toevertrou het. Hierdie relasionele oorgawe aan Jesus is die essensie van geloof volgens Johannes.
  2. b) Johannes beklemtoon nie alleen die geloof nie, maar beklemtoon: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie… “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie” (Joh 3:3, 5). Hierdie wedergeboorte is bedoel vir elkeen wat glo: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore (Joh 1:12-13). God is die Skeppergod wat lewe gee – deur die teenwoordigheid van die Gees en die optrede van Jesus word die persoon wat glo van bo gebore, met ander woorde, die persoon word in die gesin van God gebore en kry so die ewige lewe. Dit kan so gestel word: van die kant van die mens gesien moet ‘n persoon glo en van die kant van God gesien word die een wat glo die ewige lewe geskenk deur die geboorte van bo.

Die term ‘geboorte’ wat lei tot ewige lewe suggureer reeds dat Johannes die beeld van ‘n familie gebruik om te verduidelik wat redding is. ‘n Gewone mens word in die wêreld gebore en leef dan. Die lewe is binne ‘n familie waar die persoon ‘n pa en familie het, waar hy kos en water kry, waar hy beskerm en liefgehê word, waar hy leer wat om te doen en hoe om te leef en waar daar ook van hom verwag word om gehoorsaam te wees aan die reëls en verwagtings van die gesin. Die beeld van hoe dit in ‘n gewone gesin gaan, word in Johannes gebruik om redding te beskryf. Net soos in ‘n gewone gesin word die persoon in ‘n familie, die familie van God, ingebore. Daar leef die persoon met die ewige lewe met God as sy vader. Die gelowige kan nou ook aan die familie dinge van God deelneem. Gelowiges moet hulle broers en susters liefhê en help. Hulle moet hulleself hersosialiseer. Hoewel hulle nog deel van hulle aardse gesinne is, moet hulle egter hulle nuwe familie, die familie van God voorop stel. Hulle moet God eerste gehoorsaam en die belange van God en Jesus voorop stel.

In die volgende artikel gaan ons na die rol van Jesus in al hierdie gebeure kyk