Terug na die Ou Testament: Allerlei (2)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (2) – Adrio König

6.2 Die ramshoring

Daar is eintlik twee musiekinstrumente: die ramshoring en die trompet. Die ramshoring is gemaak van die horing van ‘n skaapram en soms van metaal, maar die trompet was altyd van metaal. Soms word daar nie duidelik tussen die twee onderskei nie, soos sommige ouer Engelse vertalings wat soms “trompet” vir die ramshoring gebruik. Die horing het ‘n skerp klank en kan nie regtig as musiekinstrument gebruik word nie.  

Daar word die eerste keer na die ramshoring verwys by die afkondiging van die wet (Eks 19:13; 20:18).

 

Die ramshoring was deel van die lewe van Israel, en word vandag nog in die sinagoge gebruik. Dit is in verskillende situasies gebruik, situasies wat heeltemal van mekaar verskil, sodat ‘n mens nie ‘n spesifieke betekenis daaraan kan gee nie.  

 

Dit is byvoorbeeld geblaas:

  • Om die Here te loof (Ps 47:6).
  • Tydens die ramshoringfees en die aankondiging van die jubeljaar (Lev 23:24; 25:9).
  • Tydens sekere offers in die tempel (2 Kron 29:26).
  • Toe die ark na Jerusalem gebring is (2 Sam 6:15).
  • By ander feesgeleenthede (2 Sam 6:15; 1 Kon 1:34).
  • As waarskuwing dat daar ‘n vyand kom of ander onheil dreig (Hos 5:8; Jer 6:1; Eseg 33:6).
  • Om die volk tot oorlog op te roep (1 Sam 13:3; Jer 42:14).
  • En by baie ander geleenthede.

 

Die ramshoring was ook in gebruik tydens Jesus se lewe op aarde (Matt 6:2 waar “uitbasuin” die vertaling is van “’n ramshoring blaas” , 1983-vertaling). Dit word ook nog genoem wanneer daar terugverwys word na sekere gebeure in die Ou Testament (Heb 12:19). Maar verder lees ons net van die ramshoring (soms vertaal as “trompet”, en soms as “basuin”) in verband met die wederkoms van Jesus (Matt 24:31; 1 Kor 15:52; 1 Tes 4:16; en dikwels in Openbaring).

 

Maar dit kom nie voor in die lewe van die Christene nie. Dit was deel van die lewe van Israel, en soos die verwydering tussen Israel en die kerk al groter geword het, het dit eenvoudig saam met baie ander dinge verdwyn, gebruike soos die Sabbat, feeste, en die hele tempelkultus.

 

Maar die ramshoring is vandag in baie gevalle deel van Christene se terugkeer na die Ou Testament. Sommige heg besonder baie waarde daaraan, en het selfs besondere ervarings daarmee. Op sigself kan daar natuurlik nie iets mee verkeerd wees nie.

 

Maar daar kan twee probleme ontstaan. Mense kan dit vir ander verpligtend wil maak. Dit sou egter net so vreemd wees as die herinstelling van die Sabbat en die feeste. Dit het eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene.

 

Die tweede probleem is om dit in die openbaar te blaas. Dit is heeltemal ‘n onbekende geluid, en dit is nie ‘n strelende geluid nie. Iemand in ‘n woonstelkompleks kan besluit om dit elke oggend en elke aand op gesette tye te blaas – en wel om diep godsdienstige redes. Maar die res van die inwoners sal dit steurend vind en geen sin daaruit kan maak nie. Hulle sal nie eens weet wat so ‘n geraas maak nie. Dit kan dus beswaarlik beskou word as ‘n getuienis vir die evangelie.

 

Die situasie in die Bybel was totaal anders omdat dit ‘n bekende gebruik was om dit te blaas.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 

 




Terug na die Ou Testament: Allerlei (1)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (1) – Adrio König

6 Allerlei

Ramshoring, Christelike feeste soos Kersfees, dag- en maandname en jaarberekening, die begin van die dag, verjaarsdae, vleis van “onrein” diere, woestyntyd, drome. Dit is die kleiner sake wat nie elkeen ‘n hoofstuk regverdig nie. Maar dis deel van die terug na die Ou Testament beweging.

Daar is baie kleiner dinge waarin mense wil terug na die Ou Testament.

 

6.1 Wanneer begin ‘n dag?

Dis ‘n taamlik algemene oortuiging dat die dag in die Bybel in die aand begin, en nie in die oggend nie. Dit klink taamlik oortuigend. Lees ons dit dan nie oor en oor in Genesis 1 nie? “Dit was aand en dit was more”. Ons sal terugkom na hierdie uitdrukking in Genesis 1. Maar wat kry ons in die res van die Bybel?

 

Kom ons kyk na ‘n paar verhale.

 

Ná Lot se vrou ‘n soutpilaar word, besluit sy twee dogters om met hulle pa seks te hê om sy nageslag voort te sit. Hulle maak hom dronk sodat hy nie sal besef wat aangaan nie. “Daardie nag het hulle hom dronk gemaak en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad… Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: Ek het verlede nag by hom geslaap” (Gen 19:33-34).

 

Kom ons kyk mooi wat hier staan oor dag en nag. Die oudste slaap die nag by hom, en sê die volgende dag vir haar suster . As die dag in die aand begin het, moes daar tog gestaan het: “Daardie nag het hulle hom dronk gemaak en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad…Later daardie dag (toe die son opkom) sê sy toe …” Die oggend kon nie die volgende dag gewees het as die dag in die aand begin het nie. Dit moes dan mos dieselfde dag as die vorige nag gewees het.

 

Uit wat hier staan (die nag, en dan die volgende dag)  is dit duidelik dat die oggend nie dieselfde dag is as die vorige nag nie. Die oggend het ‘n nuwe dag begin.

 

Hier is nog ‘n verhaal. “Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak. Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak” (1 Sam 19:11). Praat Mikal nie verkeerd nie? Sy moes mos iets gesê het soos: “As jy nie vannag vlug nie, word jy later vandag, wanneer die son opkom, doodgemaak.” Nee, sy praat asof die dag in die oggend begin. “Môre” was nie deel van dieselfde dag as die vorige aand nie.

 

Op ‘n keer maak Israeliete die stam van Benjamin dood, en sit toe by Betel en treur daaroor. “Daar het hulle tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gesit… Die volgende môre het die volk vroeg opgestaan” (Rigt 21:2-4). Die Hebreeus vir “die volgende môre” is eintlik “die volgende dag”.  Wanneer die son opkom, is dit nie meer dieselfde dag as die vorige aand nie.

 

Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament. “Toe dit aand word, het Jesus en sy dissipels na die see toe gegaan… Die volgende dag kom daar toe ander skuitjies …” (Joh 6:16, 22). Hoekom nie: Later die dag toe die son die oggend opkom nie?

 

“Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou” (Hand 20:7). Hulle vergader tot middernag. As die son weer opkom, is dit die volgende dag, nie later dieselfde dag nie. 

 

“Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan…” (Hand 23:31-32). 

 

Verder is dit interessant hoe die Bybel die tyd van die dag aandui. Die uur word bereken van sonop af, nie van sononder af nie. Wanneer Jesus gekruisig word, lees ons dat dit om 12 uur donker word. Die Grieks lees: “die sesde uur”. Indien die dag in die aand begin het, was die sesde uur 12:00 die nag. Maar Jesus is tog in die dag gekruisig. Hulle het die ure van sonop af bereken. Dit is wanneer die dag begin het.  

 

Daar is een keer ‘n onduidelikheid in hierdie verband. In Daniël 8:14 lees ons van “Twee duisend drie honderd aande en oggende.” Maar dis nie duidelik waarom hy hierdie volgorde gebruik nie. Trouens dis goed moontlik dat hy dit doen om halfdae aan te dui. “‘n Aand en ‘n oggend” is nie ‘n volle dag nie. Wat van die res van die dag soos die middag?

 

En die skeppingsdae? Staan daar dan nie uitdruklik: “En dit was aand en dit was môre, die eerste dag” nie? (Gen 1:5, 1953-vertaling) Dan het die dag mos in die aand begin.

 

Dit is een van die opvallendste en algemeenste misverstande in die Bybel dat hierdie uitdrukking beteken die dag het in die aand begin.      

 

Is ‘n aand en ‘n môre ‘n volle dag? Wat van die middag? Of mis ons die hele punt? Die Here het die eerste dag die lig geskep. Hy het die lig en duisternis van mekaar geskei, en gesien dit is goed. Ná Hy dit gedoen het, word dit toe aand, en toe dit môre word, was die eerste dag voltooi.

 

Dus nadat die Here die dag se werk afgehandel het, het dit aand geword, en toe dit oggend word was die eerste dag verby, en kon Hy met die tweede dag se werk begin. Dit beteken dat die dag in die oggend begin het. 

 

En die Sabbat?  Maar wat dan van die sabbat en die feeste? Dit staan oor en oor uitdruklik dat die Sabbat van aand tot aand gevier moet word.  “Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende” (Lev 23:33). Oor en oor kom hierdie besondere nadruk op die aand voor in die dele oor die Sabbat en die feeste (Eks 12:6, 18). 

 

Maar bevestig dit nie juis dat gewone dae van oggend tot oggend geloop het nie? Waarom sal daar soveel nadruk geplaas word op die aand tot aand van die Sabbat as dit vanselfsprekend was dat die dag van aand tot aand loop?  Dan was dit glad nie nodig om dit te vermeld nie. Maar as dit uitsonderlik was omdat die dag altyd in die oggend begin het, is dit verstaanbaar dat dit beklemtoon moes word.

 

Maar dit beteken dat die Sabbat tegnies soos al die dae eers die oggend begin het, en dat Israel die aanpassing moes maak om dit al die vorige aand te begin vier. Dit is tog wat geïmpliseer word in Nehemia 13:19 waar ons lees dat die poorte van die stad gesluit moes word “sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat.” Tegnies was dit nog nie Sabbat die aand voor die Sabbat nie omdat die dag eers die volgende oggend begin het. Maar hulle moes die Sabbat só vier. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (5)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (5) – Adrio König

4.3 Terugkeer?

 Ons het nou twee groepe in die Nuwe Testament gekry wat wou terug na die Ou Testament.

  • Die een groep wou net hulle geloof verryk. Hulle wou by Christus ook die wet, die Sabbat en die feeste byvoeg.
  • Die ander groep het oorweeg om Christus heeltemal te los en terug te gaan na die godsdiens van die Ou Testament.

Een van die ontstellende insigte wat ons gekry het, is dat albei ewe gevaarlik is. Selfs net dit wat op die oog af so onskuldig gelyk het, om net ‘n paar dinge by Christus by te voeg, sou volgens Paulus beteken dat Christus vir hulle verder geen betekenis sou hê nie, dat hulle die band met Hom sou verbreek, en die genade van God verbeur (Gal 5:2, 4).

 

In beide Galasiërs en Hebreërs word volkome negatief gekyk na enigiets in die Ou Testament wat met Christus kompeteer en selfs net iets by Hom wil byvoeg.

 

Natuurlik is daar dinge en persone in die Ou Testament wat volkome in harmonie met Hom voortgaan. Ons is almal kinders van Abraham, ons dien dieselfde God as hy, ons word op die mak olyfboom geënt, dit is op die ware Godsvolk van die Ou Testament, ons dien die Messias van die Ou Testament, en baie, baie ander persone en sake.

 

Maar die totale formele godsdiensbeoefenig (kultus) is nie net vervul nie maar vervang: Die wet van Moses, die besnydenis, die sabbat, die tempel-, priester-, offer- en feestesisteem. 

 

En nou? Presies waar pas die huidige Christene in wat wil terug na sekere gebruike van die Ou Testament? ‘n Mens kry nie die indruk dat hulle dit ten koste vas Christus wil doen soos die Joodse gelowiges in Hebreërs nie. Wil hulle net hulle geloof “verryk” soos die Galasiërs? Is dit nie net so gevaarlik as wat dit destyds was nie?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (4)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (4) Adrio König

4.2.4 Hebreërs 11

Kom ons kyk nou na hierdie merkwaardige hoofstuk. Ons vraag is of die Hebreërbrief die Ou Testament verwaarloos. Hebreërs 11 is seker een van die bekendste hoofstukke in die Bybel: die geloofshelde. Die tema van die hoofstuk is die geloof van die belangrike figure in die Ou Testament. En die een is positiewer as die ander. En almal is uit die Ou Testament!

Maar kom ons kyk na drie dinge:

  • die plek waar hierdie hoofstuk staan,
  • die begin van die hoofstuk,
  • en die woorde direk ná die hoofstuk (hoofstuk 12 se eerste woorde).

 

Plek  Hierdie hoofstuk staan direk aan die einde van die middeldeel van Hebreërs (hoofstukke 7-10) wat eintlik die hoofdeel in hierdie Brief is en waarin die negatiwiteit oor die Ou Testament sy hoogtepunt bereik. Maar hierdie hoofstuk is nou skielik merkwaardig positief oor die Ou Testament. Dit vorm dus ’n skerp kontras met die hoofdeel van die brief.

 

Het die skrywer dit so beplan? Wou hy die lesers oortuig sy negatiwiteit oor die Ou Testament is nie ’n beginsel nie, en dit raak glad nie die hele Ou Testament nie, maar net bepaalde sake in die Ou Testament? Wou hy die moontlikheid van misverstand uit die weg ruim deur, ná die negatiwiteit, te beklemtoon watter wonderlike positiewe betekenis die Ou Testament wel het?

 

Begin  Dan die begin van die hoofstuk (11:1). Dit begin met ’n “definisie” van geloof: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

 

Die punt wat die skrywer hier maak, is dat ons nog nie die dinge sien en beleef waarop ons hoop nie. Paulus skryf iewers: “Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie” (2 Kor 5:7). Waarom skryf Hebreërs juis hier dieselfde gedagte neer, dat ons nog nie alles sien wat ons glo nie? Is dit nie dalk omdat die lesers diep bekommerd is omdat hulle nou ly juis vandat hulle Jesus as Messias aanvaar het nie? Wil hy nie vir hulle sê dat ons nog net uitsien na (hoop op) die heerlikheid wat kom, dat ons dit nog nie kan sien en beleef nie, en dat hulle swaarkry hulle dus nie moet ontstel nie? Wil hy sê dat vervolging vir Christene volkome “natuurlik” is, dat alle volgelinge van Jesus vir hulle geloof ly, en dat die heerlikheid eers in die toekoms lê? “Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nog nie sien nie.” Nou sien hulle nog net lyding. Maar dit sal verander.

 

Trouens hy beklemtoon dit sommer gou weer in hierdie hoofstuk. Wanneer hy oor Henog se geloof praat, beklemtoon hy dat ons nie God se wil kan doen as ons nie glo nie (11:6). Dit gaan dus glad nie oor wat ons beleef nie, maar oor wat ons glo. Daarom moet hulle nie bekommerd wees oor wat hulle nou beleef nie, oor hulle huidige swaarkry nie. Dis eintlik normaal. Die res van die Nuwe Testament is dan ook duidelik hieroor (Hand 14:22; 2 Tim 3:12). Miskien wou hy ’n soort “prosperity gospel” by hulle beveg.

 

Maar dit alles beteken dat die onderwerp én die plek van hoofstuk 11 baie netjies beplan is.

 

Einde  Derdens is die eerste verse ná hoofstuk 11 ook belangrik (12:1-3). Miskien het ons hier die hoogtepunt van die hele Brief. Kyk na die einde van hoofstuk 11: Die gelowiges van die Ou Testament word geprys oor hulle geloof, al het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het  nie, en al het hulle vreeslik gely (11:39, 11:32ev). Dis mos nou presies die posisie van die lesers.

 

Maar waarom het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het nie? “Omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie” (Heb 11:40). Maar hier sluit hy dus, nes Paulus en Petrus, volkome positief aan by die Ou Testament. Die Ou Testament is “open ended” want hulle het vir ons gewag.

 

Wat moes dan met ons gebeur? Wat het nog kortgekom in die Ou Testament? Waarom kon hulle nie, sonder ons, die voleinding bereik nie?

 

Omdat Christus nog nie gekom het nie. Hy voltooi alles.

 

Wat bedoel die skrywer? Ons het, net soos die gelowiges in die Ou Testament, ’n wedloop wat voor ons lê. In plaas daarvan om nou te huiwer, “geestelik moeg te word en uit te sak” (12:3), moet die lesers met volharding die wedloop hardloop, “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (12:2).

 

Wat probeer hy sê? Die hele Ou Testament het op Jesus gewag. Julle het nou by Hom uitgekom. Hou vas aan Hom. Hy is alles. Julle het die logiese eindpunt van die Ou Testament bereik.

 

Verre daarvandaan dat die Hebreërskrywer negatief is teenoor die Ou Testament, is hy inteendeel volkome positief. Hy is net negatief teenoor dié aspekte waarheen sy lesers wou terugkeer omdat dit ten koste van Christus sou wees, dié aspekte van die Ou Testament wat deur Christus vervul is én só ver oortref is dat om daarheen terug te keer, sou beteken om Christus te verag, sy bloed te minag, en sy Gees te beledig (10:29). 

 

Skrywer:  Prof Adrio König