Argeologie – Watersisteme

Argeologie – Watersisteme – Daan Pienaar

Een van die belangrikste kommoditeite in dié relatief droë gebied bekend as Siro-Palestina, is water.  Dit figureer betekenisvol in die lewe van die mense van die Bybel en daar kan geen ernstiger saak vir hulle wees nie as die gebrek aan water (vgl. 1 Konings 17; Jeremia 14:1-6; Joël 1:20; Haggai 1:11). Dit is die rede waarom water so dikwels in die Bybel genoem word (vgl. Genesis 18:4; 24:16 vv.; Numeri 20; Psalm 23; 42 ens.).

Dit het selfs ʼn metafoor geword vir geloof in die Here bv. dat die gelowiges self ʼn bron van lewende water word (vgl. Johannes 4:13-14).  Water het ook die simbool geword van God se seëninge (Jesaja 32:2; 35:6&7 ens).

Dink ook aan die doop wat die reiniging van sonde simboliseer.  In die OT moes die priesters hulleself ook reinig voordat hulle diens gedoen het in die tempel (Eksodus 29:4).  By die wyding van Leviete moes hulle met water besprinkel word (Numeri 8:7).

Water het natuurlik ook ʼn bedreiging ingehou.  Hier kan ons dink aan die sondvloed, die tog deur die Skelfsee (vgl. ook Psalm 18:17; 32:6 ens.).

Dit is genoeg om aan te dui dat water ʼn betekenisvolle rol in die lewe van die Bybelse mense gespeel het;

Watervoorsieningstelsels was ʼn integrale element van enige beplanning in die Bybelse tyd hetsy deur ʼn put, sisterne of ʼn ander vorm van watervoorsiening.

1.    Stedelike watervoorsieningstelsels:

Sisterne: Selfs vandag nog word sommige antieke sisterne gebruik.  Die mees klassieke voorbeeld is dié by Masada.  Die geskiedskrywer Josefus vertel van die volop water wat daar beskikbaar was en dit in ʼn plek waar min reën geval het en geen fontein was nie.  Om water beskikbaar te kry, is daar ʼn damwal gebou oor die wadi (droë spruit) noord van die berg en ʼn waterleiding is gebou om die water na die 12 sisterne te herlei.  Hierdie damwal het die water van die stortreëns wat some daar voorgekom het, te keer dat dit nie wegvloei nie.  Die kapasiteit van die sisterne was om en by 8 miljoen liter.  Die water is van die onderste sisterne met donkies na die boonste sisterne gebring om dit makliker toeganklik te maak vir diegene wat op die kruin van die berg gewoon het.

w01

Oop sisterne in die Negev gevind.

w02

ʼn Massiewe sisterne by Masada

1.2.      Ondergrondse stelsels

1.2.1. Hasor:

Uit die negende eeu V.C. is daar ʼn watervoorsieningstelsel by Hasor ontdek.  Hierdie stelsel het op ʼn unieke manier die water vir die stad beskerm sodat vyandige beleëringsmagte dit nie kon besoedel nie.  Die watervoorsieningstelsel het bestaan uit ʼn vertikale skag wat binne die mure van die stad gegrawe is, ʼn dalende tonnel en ʼn holte of vertrek aan die einde van die tonnel waar die water versamel het.  Die skag en die tonnel het oor ʼn trap beskik waarlangs die water vervoer kon word.  Van die top tot aan die onderste vertrek is die diepte 40 m.  Die dalende skag loop ook nie in die rigting van die fonteine aan die voet van die heuwel nie maar slegs tot onder die watertafel.  Die dalende tonnel is ook voorsien van trappe wat uit die kalkklip gekap is.  Omdat die kalkklip maklik verweer in water, is daar aan die einde van die tonnel basalttrappe aangebring.  Dit was die deel wat van tyd tot tyd deur water bedek kan word namate die watertafel styg en daal.

w03

Die skaggedeelte

w04

Die dalende tonnel van binne gesien

w05

Die plek waar die water versamel

w06
ʼn Skets van die stelsel van bo-af

 

w07

Dwarssnitte van Hasor se stelsel

w08
Die Gallery: Salomo se stelsel

1.2.2. Megiddo

w09

Sketse van Megiddo se stelsel

w10

Binne die tonnel van Megiddo

 


1.2.3. Gibeon

w11

Gibeon te stelsel: Dwarssnit

w12

Gibeon: Die trap na onder

1.2.4.   Geser

w13

Gibeon: Die tonnel na buite

w14
Geser se watervoorsieningstelsel

 

1.2.5.   Die stad van Dawid

w15

Dwarssnit van die waterstelsel van Jerusalem

w16
Waterstelsels by Jerusalem.

2.         Die benutting van afloop water

w17

w18

Afloopwaterstelsel

Qanatstelsel van bo

w19
Dwarssnit van die Qanatstelsel by Yodfata

 

w20

 

w21

Afloopwater plaas

Afloopwater plaas

 

Outeur: Prof Daan Pienaar




Grafte en begrafnisgebruike (2)

Grafte en begrafnisgebruike (2) – Daan Pienaar

Ons bespreek grafte en begrafnisgebruike in die tyd van die Nuwe Testament. Ons let op die hantering van die lyk en na rougebruike. Ons sluit af met die verskillende soorte grafte wat gebruik is.

Die Nuwe Testament

Die Lyk:

Gewoonlik is die lyk gewas en in ʼn bepaalde vertrek gelaat (Handelinge 9:39).  In die geval van Lasarus en Jesus is hulle hande en bene in linnedoeke wat met aromatiese speserye behandel is, toegedraai.  ʼn Linnedoek is ook om die hoof gedraai.

Die rougebruike:

In Jaïrus se huis is daar geween en geweeklaag (Markus 5:38).  Vanweë die hartseer het mense op hulle bors geslaan (Lukas 18:13; 23:48).  Jaïrus het ook fluitspelers gehuur (Matteus 9:23) waarskynlik om die lykslied te begelei.  By Nain het Jesus ʼn prosessie teëgekom.  Die lyk was op ʼn baar en was gedra deur draers.  Rouklag het voortgeduur na die begrafnis.

 

g01

Die sogenaamde Koningsgrafte in Jerusalem

 

g02

Ossuarium

 

g03

Voorbeeld van rouklaers (Egipties)

g04

Grot 3 in in die grafkompleks van Akeldama suid van Jerusalem.

 

Verskillende soorte grafte:

Skuifgraf:  Hierdie graf word in die grafkelder uit die rots gekap en is tonnelvormig en loodreg in die wand van die grafkelder gegrawe waarin die lyk geskuif word.

Boogbankgraf:  Hierdie graf was onder ʼn boogvormige nis in ʼn rotswand gekap.  Aan die einde is daar ʼn effense styging in die graf waarop die hoof neergelê is.

Troggraf:  Met hierdie graf is daar ʼn nis in die rotswand gekap wat die lyk kon akkommodeer.  Dit neem die vorm aan van ʼn klipkis.

Trogbooggraf.:  Dit is ʼn kombinasie van die boonste twee (2 en 3).  Klaarblyklik is die Here Jesus in so ʼn graf begrawe.

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Grafte en begrafnisgebruike (1)

Grafte en begrafnisgebruike (1) – Daan Pienaar

Die grafte en begrafnisgebruike soos ons dit in die Ou Testament kry, word bespreek. Ons let veral op die grafte wat gebruik is, die wette wat alles gereël het en rougebruike.

Die Ou Testament

Die Aartsvaders

Dit was gebruiklik dat opvolgende geslagte in die familiegraf begrawe is.  Die graf was gewoonlik uit rots gekap of was in ʼn grot.  ʼn Voorbeeld hiervan is die graf van die Aartsvaders waarin Sara (Genesis 23:19), Abraham (Genesis 25:9), Isak, Rebekka en Lea (Genesis 49:31) begrawe is.  Indien iemand ver van die familiegraf af sterf, word die persoon dan in ʼn ander graf begrawe, soos Ragel (Genesis 35:8).

Afgesien van die gebruiklike ween en rou word die klere geskeur en ʼn kleed van sak aangetrek (Genesis 37:34-35) en dit het so lank as sewe dae geduur (Genesis 50:10).  Die balseming van die lyk (Jakob en Josef) en die gebruik van ʼn hout kis volgens Egiptiese gebruik, was uitsonderlik (Genesis 50:2-3, 26).

Mummifisering is gedoen deur die verwydering van die ingewande om apart bewaar te word.  Volgens die Egiptiese gebruik is dit in ʼn sogenaamde “kanope” bewaar.  Die liggaam is dan verpak in sout en daarna toegedraai in linne.  Balseming en rou is gewoonlik dan oor ʼn tydperk van 70 dae gedoen.

Pentateugwette

Afgestorwenes moes so gou as moontlik begrawe word.  Dit sluit die lyke van tereggesteldes in (Deuteronomium 21:22-23).  Aanraking van die afgestorwene het meegebring dat die persoon seremonieel onrein was.

Om iemand te beween, die skeur van die klere en die losmaak van die hare was toegelaat vir die Aäronitiese priesters (Levitikus 21:1-4), maar nie vir die hoëpriester nie (Levitikus 21:10-11) of die Nasireërs nie (Numeri 6:7).

Dit was verbode om die liggaam te skend deur insnydings ens. as teken van rou (Levitikus 19: 27-28; Deuteronomium 14:1, gewone mense en Levitikus 21:5 die priesters).  Selfs verwante gebruike soos uiteengesit in die aangehaalde gedeeltes was verbode aangesien dit gesien is as heidens.

Israel in Palestina

Begrafnis: Indien moontlik is mense in familiegrafte begrawe (vergelyk Rigters 8:32 en 16:31).  Die liggaam was op ʼn baar geplaas (2 Samuel 3:31).  Indien daar geen behoorlike begrafnis was nie, is dit as baie negatief ervaar (1 Konings 13:22; Jeremia 16:6).

Grafte was gewoonlik buite die stad.  Daar is getuienis dat grafte soms uit rots gekap is en dat dit uit verkillende vertrekke bestaan het met banke wat met ʼn dalende skag bereik is en afgesluit is met ʼn rots wat so gesny is dat dit oor die ingang geplaas kon word.  Die rotsgrafte kon soms baie weelderig wees (Jesaja 22:15-16).  Pottebakkersware en ander voorwerpe is soms in die grafte geplaas.  By die Israeliete was dit bloot ʼn soort formaliteit, maar by die Kananiete het dit ʼn ander rol gespeel omdat dit soms groot afmetinge aangeneem het.  By die Egiptenare was dit ook so, vergelyk die graf van Tutankamen.

Herdenkingsgrafte is soms opgerig (2 Samuel 18:18) en buite Jerusalem was daar ʼn stuk grond vir die grafte vir die “gewone mense” (2 Konings 23:6; Jeremia 26:23).  Ongetwyfeld was dit bedoel vir die eenvoudiges wat nie duur grafte kon bekostig nie.  ‘n Tereggestelde misdadiger of vyand se graf is soms aangedui met ʼn hoop klippe (Vergelyk Akan Josua 18:27).

Lykverbranding was nie gangbare praktyk is Israel nie, maar onder moeilike omstandighede is dit wel toegepas.  Byvoorbeeld as iemand nie in die familiegraf begrawe kon word nie (2 Samuel 31:12-13 Saul en sy seuns).

2. Rougebruike

In Palestina is die volgende toegepas:

1. Die hoof is kaal geskeer  en die baard is geknip.

2. Die liggaam is gekerf.

3.  Die klere is geskeur en ‘n sakkleed is aangetrek.

4.  Stof of as is op die hoof gestrooi.

5.  Ween en weeklaag.

Hoe die Israeliete rou bedryf het kan gesien word in die verhale van Dawid (2 Samuel 1-11-12; 13:31) en die vrou van Tekoa (2 Samuel 14:2).

Die dood van prominente persone het soms gepaard gegaan met ʼn poëtiese weeklag.  So het Dawid geweeklaag oor Saul en Jonatan (2 Samuel 1:17-27) en Jeremia en andere oor Josia (2 Kronieke 35:25).

Soms is professionele klaers gehuur (Jeremia 9:17-18; Amos 5:16).

Outeur: Prof Daan Pienaar




Argeologie: Vestingswerke(2)

Argeologie: Vestingswerke(2) – Daan Pienaar

Ons gaan voort om te kyk na die vestingwerke. In die vorige artikel het ons na Jerigo gekyk. Vandag kyk ons na Hasor en Megiddo 

HASOR (NAB-GASOR)

Afgesien van Jerigo is daar ook nog die stad Hasor wat deur Josua ingeneem is (Josua 11:10-13).  Tydens die Intog het hierdie stad uit twee elemente bestaan, ʼn bottelvormige boonste deel wat ongevee 7 hektaar groot is en die res wat aan die noorde kant van die tel lê van ongeveer 74 hektaar.  Dit is een van die grootste tells in Israel en opgrawings daar het aangetoon dat die stad bewoon is vanaf die Vroegbronstydperk (2850-2650 V.C.) tot die Hellenistiese tydperk (332-142 V.C.).  In die laer gedeelte van die stad is daar uitgebreide vestingwerke gevind.  Die oudste daarvan dateer uit die Middelbrons tydperk (ongeveer middel 18de eeu V.C.).  ʼn Grond stuwal het hierdie onderste gedeelte beskerm.

Daar is duidelike tekens van ʼn groot brand wat in die tweede helfte van die dertiende eeu V.C. die stad in puin gelê het.  Die laer stad is nie weer bewoon hierna nie, maar die boonste deel is wel.  Yadin bring hierdie brand in verband met Josua se inname van die stad (Josua 11:13).

Die Ystertydperk bewoning van die boonste stad word aan die Israeliete toegeskryf.  Vroeëre bewoningslae korreleer met die van die laer stad, maar kontinueer in die Ystertydperk.  Dit was veral tydens die regering van Salomo dat die stad mooi ontwikkel is.  Hy het die stad voorsien van ʼn groot sesvertrek stadspoort sowel as aangerensende verdedigingstorings en ʼn kasematmuur.  Op die westelike rand van die stad was daar ʼn soort fort gebou.

Duidelike getuienis van die bouwerk van die Omriede is ook blootgelê.  Die sogenaamde pilaregebou wat gebruik is as ʼn skuur vir die berging van voorrade (veral graan), ander stoorkamers wat in die kasematmuur was en ʼn groot fort is gebou.  ʼn Indrukwekkende watervoorsieningstelsel is ook binne die mure aangelê.  Dit getuig van die voorspoed wat hierdie stad in die Israelitiese tydperk beleef het.  Die stad lê op die oosgrens met Sirië en moes ʼn groot garnisoen kon huisves omdat daar veral in die tyd toe die Omriede regeer het voortdurend ʼn bedreiging uit daardie oord was.

Opgrawings lig die Israelitiese samelewing toe tot die vernietiging van die stad in 732 V.C. deur Tiglat-Pileser van Assirië (2 Konings 15:29).

ʼn Groot gebou wat uit die Assiriese besetting dateer is tot in die Persiese tydperk gebruik.  Reste van ʼn Hellenistiese vesting dui die einde van die Bybelse bewoningsfase van Hasor aan.

Jerigo en Hasor is die twee stade wat besonder prominent was tydens die Intog onder leiding van Josua. Ander stede wat hier ter sake is, is Dan (Lais), Jerusalem, Betsan, Megiddo, Gibea, Sigem en Geser.

 

v02

Die bottelvormige boonste deel van die tel by Hasor.

 

 

v03

 

Die pilaregebou by Hasor.

 

v04

Die voorste vesting by Hasor.

 

v05

Rekonstruksie van die ingang na die vesting by Hasor.

 

v06

Stadspoort van Megiddo.

 

v07

Grondplan van die stadspoort by Megiddo

 

v08

Plan van Megiddo.

 

v09

Grondplan van die Salomoniese stadspoort van Geser 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar