Argeologie: Vestingwerke(1)

Argeologie: Vestingwerke(1) – Daan Pienaar

In die OT lees ons heelwat van oorloë en vestingstede. Argeologiese vondste brei ons kennis verder uit. ʼn Bekende verhaal is die inname van Jerigo deur Josua. Vandag kyk ons na Jerigo.

In die historiese gedeeltes van die Ou Testament is daar heelwat gegewens wat die tydgenootlike militêre konstruksies soos vestings, vestingwerke, garnisoene ens. toelig.  Heelwat van hierdie inligting is verder toegelig deur die argeologiese vondste.  Die Kanaänitiese  oorblyfsels van die Middelbronstydperk met sy massiewe verdedigingswerke het waarskynlik steeds ʼn rol gespeel in die Laatbronstydperk.  Die Middelbronstydperk word gekenmerk deur sy besonder goeie vestingwerke terwyl die Laatbronstydperk op sy beurt deur ʼn hoogsontwikkelde kultuurlewe met baie min vestingwerke gekenmerk word.  Daar is vakkundiges wat van mening is dat die Middelbronsvestingwerke steeds in gebruik was tydens die Laatbronstydperk.  Jerigo word dan as voorbeeld hiervoor genoem.

JERIGO

Opgrawings by Jerigo het nog geensins antwoorde verskaf oor die inname van die stad deur Josua nie. 

Die Hebreeuse teks van Josua vertel dat die Israeliete om die stad getrek het en uiteindelik het die mure geval.  Die LXX (Septuagint) skets op sy beurt ʼn ander prentjie van mense wat die stad omsingel het en so van die buitewêreld afgesny het.  Ons kan tot dusver op grond hiervan nie ʼn duidelike beeld van die inname van Jerigo skep nie.

Wat wel by Jerigo gevind is, is die Middelbrons mure met ʼn gepleisterde helling (“glaci”) van vasgestampte grond en ʼn steenmuur daar bo-op.  Met verloop van tyd is daar twee ander hellings bygevoeg – dit wil sê bo-oor die eerste helling.  Die laaste een is van klip en is in ongeveer 1750 gebou en in 1550 V.C. vernietig.  Die stad is weer bewoon, maar daar is tot dusver geen mure gevind wat van Josua se inname getuig nie.

Die vernietiging van die laat Kanaänitiese stad word in die dertiende eeu V.C. geplaas.

Hoe ons dit moet verstaan, is nie duidelik nie.  Sommige vakkundiges (Y.Yadin) is van mening dat die inwoners nog steeds die Middelbrons mure gebruik het terwyl andere beweer dat die Laatbrons mure eenvoudig wegge-erodeer het aangesien daar heelwat stortreëns in die gebied val.

 

v01

Dwarssnit van die Middelbrons mure by Jerigo 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Kultiese Strukture (2): Tempels

Kultiese Strukture (2): Tempels – Daan Pienaar

In die Bybel word die tempel dikwels genoem die “huis van God’.  Dit was ʼn term wat algemeen in die Ou Midde-Ooste gebruik is.

Die tabernakel in Silo en die tempel in Jerusalem is soms ook genoem die “heiligdom” (I Samuel 1:7; I Konings 3:1).

Argitektonies wil die tempel die idee beklemtoon dat dit die huis van God is, daarom is die toerusting en ameublement van die tempel ook simbool van die teenwoordigheid van God.  Daar was die ark, die gerubs, die toonbrode, die kandelaar en die gordyn.  Nie-Israelitiese tempels het ook nog een of ander beeld van hulle afgod vertoon.

Die skoonheid van die tempel en die koste aan die bou daarvan verbonde moes juis die toewyding van die gelowiges aan God weerspieël.

a10

Tempel van Salomo

a11

Filistynse tempel

a12

Fenisiese tempel

a13

Grondplan van Esegiël se tempel wat dieselfde as Salomo se tempel was. a14

Die Israelitiese tempel by Arad.

a15

Die tempel by Karnak.

a15

a17

Die tempelaansig soos op ʼn munt uitgebeeld.

a18

Die sinagoge by Meiron

a19

Die sinagoge by Gush Halaf.

a20

Die kerk wat bo-oor die huis van Petrus gebou is in Kapernaum.  Dit dateer uit die vyfde eeu NC. 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar
 




Argeologie: Kultiese strukture (1)

Argeologie: Kultiese strukture (1) – Daan Pienaar

Nadat ons na algemene aspekte van argeologie gekyk het, gaan ons nou kyk na spesifieke kultiese strukture. In die Bybel lees ons veral van drie kultiese strukture: die altaar, die tempel en hoë plekke. Ons begin met die altaar en let veral op die materiaal wat gebruik is en die vorm van die altare 

KULTIESE STRUKTURE (1)

Die mens het sedert hy in permanente nedersettings begin woon het, bepaalde kultiese strukture opgerig.  Hy het hom afhanklik gevoel van ʼn Opperwese.  Hy het na aan die natuur geleef en was vir die vrugbaarheid van sy kuddes en gewasse van God afhanklik.  Die mens het toe “woonplek” na aan sy eie aan die godheid voorsien, want hy wou graag sy god naby hom hê in tye van gevaar en nood.  Dikwels was die motief om die bepaalde godheid wat vereer is, te manipuleer met allerlei rituele.  Baie van hierdie heiligdomme word in die Bybel vermeld en moderne argeologie het van die plekke blootgelê.

Daar is veral drie algemene terme wat in die Bybel gebruik word om dergelike plekke mee aan te dui:

  1. Die Tempel
  2. Die Hoë Plek
  3. Die Altaar

Altaar

Gewoonlik is ʼn altaar gebruik vir die bring van (slag)offers.  Later is die altaar nie meer gebruik om diere op te slag nie.  Diere alleen was ook nie langer daarop geoffer nie, maar ook graan, wyn en wierook.  Nog later het die altaar meer funksies vervul soos byvoorbeeld getuienis (Josua 22:26-29) of asiel.

In die Midde-Ooste is daar oral oor verskillende altare gevind, selfs vanuit die vroegste tye.  Klaarblyklik het die altaar ook ʼn belangrike funksie vervul vir nomades soos dit duidelik blyk uit die omswerwinge van die aartsvaders.

Die vorm van die altaar

Drie verskillende soorte materiaal is gebruik vir altare naamlik klip, grond en metaal.

In Eksodus 20:24 (vergelyk II Konings 5:17) word ʼn grondaltaar beveel.  So iets is nog nie gevind nie en het sekerlik ook geen lang leeftyd dat ʼn mens reste daarvan sal kan verwag nie.  Wat wel in die verband gevind is, is ʼn Kanaänitiese altaar van stene gebou, by Bet San in Israel.

a01

 

Klipaltare verweer nie so maklik nie en ons het ʼn oorvloed van voor-Israelitiese altare tot ons beskikking.  Die vorm daarvan wissel van onverwerkte klip, los klippe, effens uitgeholde oppervlaktes tot gekapte klip en volledig mensgemaakte strukture.  Voorbeelde is gevind by Geser, Hasor, Megiddo, Naharyyja en Arad.  By Arad is ʼn die altaar volgens die spesifikasies van Eksodus 20:1 gebou, naamlik drie el vierkant en 5 el hoog.  Dis ʼn eenvoudige struktuur van grond en onverwerkte klip (Eksodus 20:22).

Die Bybel maak melding van natuurlike klip (Rigters 13:19-20; I Samuel 6:14; 14:33-35; I Konings 1:9).  Alle ander Bybelse altare was van klip gebou.

a02

 

Kanaänitiese hoë plek (altaar) wat by Megiddo gevind is.

a03

 

Reukofferaltaar

By Megiddo is daar twee tempels gevind waarin daar reghoekige altare was.  Een was van moddersteen gebou en die ander was met kalkgepleisterde stene gebou.  Laatbrons tempels met dergelike altare is by Lakis, Bestaan en Hasor gevind.  By Hasor is daar uit die Laatbrons ʼn groot verwerkte klipblok gevind met twee holtes daarin, moontlik was dit bedoel om die bloed van die offerdiere op te vang.  By Megiddo en by Nahariya is daar groot klipplatforms gevind wat klaarblyklik gebruik was as offerplek.  Dit het eintlik meer die funksie van ʼn hoëplek vervul eerder as ʼn altaar (vergelyk skets hierbo). [Die Laatbrons periode verwys na die periode waarin die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän plaasgevind het.]

ʼn Aantal altare uit gekapte kalksteen met horings op die vier hoeke uit die tyd van die Intog is ook by Megiddo gevind (vergelyk die brandofferaltaar hierbo).  Dit was maar relatief klein (70cm hoog) en was seker vir reukoffers gebruik.  ʼn Groot aantal kleiner klei reukofferaltare is by Megiddo, Betsan en Lakis uit die Brons- en Ystertydperk lae gevind.

Die gebruik van altare was wyd verspreid en nie beperk tot Palestina nie.  Opgrawings by Eridu, Ur, Khafajah en Assur in Mesopotamië het ook altare opgelewer.

By Sinai het God aan Moses die spesifikasies van die altare in die tabernakel bekend gemaak.  Dit was die brandofferaltaar sowel as die reukofferaltaar.

 

a04

 

Skets van die Tabernakel

In Eksodus 20:24-26 gee God aan Moses die opdrag dat hy ʼn altaar van óf grond óf ongekapte klip te bou.

a05

 

Israelitiese altaar wat by Berseba gevind is.  Die klip waarvan hierdie altaar gebou is, is in sekondêre gebruik in Berseba gevind.  Dit was gebruik om ʼn hoek van ʼn stoorkamer mee te herstel, moontlik tydens die Assiries inval in 701 V.C.  Hierdie altaar was gebruik vir brandoffers.  Die hoogte is 1,57m tot by die punt van die horings.

a06

 

In die Tempel van Salomo

Hoewel hy beïnvloed is deur die Fenisiërs het hy tog probeer om die basiese uitleg van die tabernakel te probeer navolg.  Hoewel Dawid reeds ʼn brandofferaltaar gebou het (II Samuel 24:25), het Salomo sekerlik ʼn nuwe gebou (I Konings 8:22,54, 64 & 9:25).  Altare uit hierdie tydperk word goed geïllustreer deur die vondste by Arad.  In die binnehof van die tempel wat hier gevind is, was daar ʼn altaar wat van steen en rommel gebou was vir brandofferdoeleindes (vergelyk Eksodus 20:25). Dit was 5 vk. el (2,5 vk. m) soos in die tabernakel (Eksodus 17:1).  By Arad is daar ook twee reukofferaltare gevind met holtes bo-op.  Hulle is gevind aan die bopunt van die trap wat na die “heilige der heilige” gelei het.

Outeur: Prof Daan Pienaar




Hoe bedryf ‘n mens argeologie?

Hoe bedryf ‘n mens argeologie? – Daan Pienaar

Vandag let ons op die vereistes wat gestel is vir die vestiging van ‘n nedersetting en op die ontstaan van puinhope (tells). In hierdie puinhope is daar gewoonlik duidelike lae sigbaar. Laastens word gelet op die verskillende dateringsmoontlikhede van artefakte asook op verskillende skrifsoorte in die Ou Midde-Ooste.

Identifiseer ʼn projek:  Dit is die eerste stap. Dit kan byvoorbeeld beteken dat ʼn mens die besettingspatrone van die Israeliete wil bestudeer, of die huise wat in ʼn bepaalde tydperk gebou is, of ʼn bepaalde stad en sy funksie in die geskiedenis. Daar kan ook ruïnes wees wat die aandag trek en dus bestudeer kan word. Met ander woorde ʼn projek word bepaal en dan die plek waar dit ondersoek sal word en dan kan die metodes aangewend word wat ter sake is.

Indien dit ʼn opmetings- of ondersoekprojek is, sal die metodes verskil van ʼn stad wat opgegrawe word.

Indien ʼn bepaalde plek geïdentifiseer is kan dit in terme van die projek ondersoek word.

Die vereistes waaraan ʼn plek in die antieke tyd gekies is om ʼn nedersetting te begin, is gewoonlik omdat dit naby ʼn konstante waterbron was (ʼn fontein, soos Jerusalem, of ʼn rivier soos Dan), genoeg ruimte vir die bewerking van die grond of weiding vir vee, ʼn verdedigbare plek (heuwel) en naby aan ʼn kommunikasie- en handelsroete. Latere geslagte en beskawings het dieselfde vereistes gestel en hulle het dus op dieselfde plek gebou met die gevolg dat die plek later soos ʼn groeiende heuwel geword het. Sulke ruïnehewels het ʼn kenmerkende voorkoms naamlik dat dit ʼn plat kruin het en skuinstes rondom die kruin. Hierdie kunsmatige heuwels is bekend as ʼn tell. Die gemiddelde oppervlakte van so ʼn tell is tussen 3 en 7 hektaar. Die grootste tell in Israel is tell van die stad Hasor. Sy maksimum uitbreiding het ±60 hektaar terwyl die minimum ±,25 hektaar beslaan het.

Van hierdie tells is oor ʼn tydperk van tussen 1000 en 2000 jaar lank bewoon wat beteken dat by sommige van hulle soms meer as twintig lae van vernietigde stede te vinde is.

Afgesien van tells is daar ook ander ruïnes wat ondersoek kan word.

Stratigrafie: As ʼn ruïneheuwel opgegrawe word, is daar duidelike lae opmerkbaar. Gewoonlik is daar ʼn verandering in die grondtekstuur, kleur en die inhoud van die puinlae merkbaar. Die argeoloog sal dan hierdie verskillende lae bestudeer en die inhoud, kleur en tekstuur daarvan uitmekaar hou en afsonderlik beskryf. Soms word hierdie lae versteur deur diere, grondverskuiwings en latere bewoning. Die opgeleide argeoloog sal dan baie noukeurig moet werk. Vroeër is die lae een vir een afgeskil. Die probleem daarmee is dat alles vernietig word daardeur en dit is ook ʼn baie duur proses. Tans word sogenaamde toetsslote op strategiese plekke gegrawe en slegs die inhoud daarvan ondersoek. Bevindinge kan dan deur latere argeoloë gekontroleer word. ʼn Klassieke voorbeeld van so ʼn metode is by Megiddo toegepas en latere argeoloë soos Yigael Yadin het toe bittermin reste gehad waarop hy die vroeëre bevindinge kon kontroleer. Hy het wel daarin geslaag om bepaalde korreksies aan te bring.

In 1904 het Ernst Sellin by Taänak opgrawings onderneem. Ongelukkig het hy die stratigrafie verwaarloos vanweë personeel wat nie behoorlik opgelei was nie. Schumacher wat onder Sellin gewerk het, het sy eie projek by Megiddo aangepak en het wel goeie sketse van vondste gemaak maar ook weer het die stratigrafie in die slag gebly. In 1907 het Sellin en Watzinger by Jerigo begin met opgrawings wat tot 1909 onderneem is. Hulle het van die beste metodes gebruik gemaak en het hulle resultate in 1913 gepubliseer. Ongelukkig was hulle kennis van die pottebakkersware nog onvoldoende en het hulle die Middelbronsmure aan die Laatbrons/Ystertydperk toegeskryf en toe tot verkeerde konklusies geraak aangaande die muur wat tydens die Intog sou geval het.

By Samaria is daar deur Reisner en Fisher opgrawings onderneem. Hulle resultate is in 1942 gepubliseer en hulle metodes was besonder akkuraat aangesien hulle alle beskikbare wetenskaplike metodes aangewend het. Die beginsel van stratigrafie wat deur Dörpfeld en Koldewey by Babilon verder ontwikkel is en die pottebakkersdatering wat Reisner onder Petrie studeer het, is toegepas. Daarmee is die Palestynse argeologie op ‘n stewige basis geplaas.

Datering: Een van die ingewikkeldste probleme is om dit wat met uitgrawings gevind word, te dateer. Verskillende hulpmiddels word aangewend soos die studie van die vorms van pottebakkersware, argitektuur, munte en dan die radioaktiewe koolstof 14 metode.

Pottebakkersware is in so ʼn oorvloed by antieke plekke dat dit die meeste inligting oor datering bied.  Daaruit kan bv. die chronologie, etnisiteit, buitelandse betrekkinge ens. Afgelei word.

Daar word gewoonlik dmv ʼn intensiewe studie van die keramiekware gemaak om alle aspekte rakende die vervaardiging, petrografie (mikroskopiese ondersoek van deurskynende snitte van die pottebakkerswerk) wat insig in die fisiese samestelling van die klei bied, neutron aktiveringsanalise bied ʼn duidelik afbraak van die chemiese samestelling van kleisoorte, wat dit moontlik maak om die plek van oorsprong vas te stel.  Voorts is daar ook die tipologie, morfologie en vergelykende studie van die relatiewe chronologie van die pottebakkersware van elke plek, streek en tydperk.

Dieselfde soort studie word ook gemaak van voorwerpe uit allerlei soorte stowwe bv. metaal, klip, ivoor en hout sowel as plant- en dierereste as omgewingsfaktore.  Dit word dan verbind met ʼn historiese ondersoek. Hierdie soort ondersoek het as basis enige relevante opgetekende materiaal.

Sir Flinders Petrie, wat eintlik ʼn Egiptoloog was, is deur die Palestine Exploration Fund gevra om in Palestina met werk te kom help. In Maart 1890 het hy daar aangekom en het toe na die veronderstelde plek, Eglon, gegaan om daar met opgrawings te begin. Toe hy die plek ondersoek het, kon hy net Romeinse pottebakkersware daar sien en hy het toe verskuif na Lakis. Hier het hy ook ontmoedig geraak en het toe verskuif na ‘n heuwel om en by 8 km daarvandaan. By die plek, deur die Arabiere Tell el-Hesi genoem, was daar ʼn magdom van ou potteskerwe. Hier is die Palestynse vertakking van die Bybelse Argeologie gebore.

Petrie is terug na Egipte nadat hy ses weke daar gewerk het en is opgevolg deur ʼn Amerikaner met die naam van F.J. Bliss. Hy is deur Petrie opgelei voordat hy daar begin werk het. Hy het vir drie jaar daar gewerk en geen stuk gekry wat in ʼn museum uitgestal kan word nie. Wat hy wel gekry het, was ʼn kleitablet van 5×6 cm met ‘n Egiptiese inskripsie daarop. Die tablet kon gedateer word in die tyd van Aken-aton in die veertiende eeu v.C. en dit het ook die naam van ʼn bekende prins van Lakis, Zimreda, vermeld. Alles wat onderkant hierdie laag gelê het was ouer as die 14de eeu en alles bo-op uiteraard later. Die belangrikheid van hierdie vroeë opgrawings is dat Petrie en Bliss gedemonstreer het hoe belangrik die studie van pottebakkersware was. Dit is wel brokstukke van gebruiksvoorwerpe maar dit self is onvernietigbaar en dit verteenwoordig veranderende modes en vorms wat uiteindelik gelei het tot die intensiewe studie daarvan vir dateringsdoeleindes.

Palaeografie is die wetenskap wat die ontwikkeling van ‘n bepaalde skrifsoort nagaan. Al hoe meer skrifsoorte word in die Ou Midde-Ooste ontdek soos Ugaritiese spykerskrif, Akkadiese spykerskrif, Egiptiese hiërogliewe, Oud-Hebreeus en die latere kwadraatskrif.

 Dateringsmetodes kan nie net op een aspek van die materiële kultuur gebou word nie, maar op verskillende aspekte wat in samehang met mekaar gebruik word.

Registrasie en publikasie van ontdekkings en studieresultate

Dit is belangrik dat die resultate van opgrawings noukeurig bestudeer en opgeteken word. Dit moet ook toeganklik vir ander navorsers gemaak word sodat resultate van verskillende ekspedisies met mekaar vergelyk kan word.

Ongelukkig is heelwat van die publikasies slegs toeganklik vir die ingewydes toeganklik. Gelukkig is daar vakkundiges wat hulle resultate interpreteer en so toeganklik maak vir die belangstellende nie-vakkundige. 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar