Wat is die evangelie? (8)

 “When you are troubled by your thoughts, drive them away in any way you can—if not with some argument, then at least by conversation about something you find delight in.” Martin Luther

Wat is die evangelie? (8)

Paulus vat die kern van die evangelie in 1 Korintiërs saam. Hierdie is bloot ‘n opsomming: Christus sterf vir ons sondes en word uit die dood opgewek. Hierdie gebeur volgens die Skrifte en word deur ooggetuies gestaaf. Vers 3 – 7 se struktuur herinner aan ‘n belydenis – dit is wat Paulus van die vroeë Christelike gemeente in Jerusalem  ontvang het en wat hy nou weer aan die gemeente in Korinte oorgedra het.(vers 3).

 

 

Maar kom ons kyk verder wat Paulus, die ontydig geborene, in verse 10 – 19 sê. Kyk na vers 19: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerwaardigste van alle mense. Besoek vandag ‘n gemiddelde gemeente en jy sal waarskynlik ‘n preek  hoor oor die lewe in hierdie wêreld en hoe Jesus jou kan help om meer oorvloedig te lewe – hier en nou. Die evangelie gaan nie primêr oor ons en hoe ons onsself en ons wêreld kan verbeter nie. Dit gaan oor Christus – nie Christus in die algemeen nie of wat Hy hier en nou vir ons kan doen nie. Dit gaan oor wat hy vir ons op ‘n spesifieke tyd gedoen het. Dit gaan oor sy dood vir ons sonde en sy opstanding op die derde dag soos deur  profete gesê is voor dit gebeur het en soos dit deur die apostels verkondig is. Hierdie gebeure moet eerstens as  waar aanvaar word. Die evangelie mag ‘n persoon se lewe verander, maar dit is die vrug van die evangelie en nie die evangelie self nie.

 

Ons het dinge omgekeer. Ons praat nie meer van die vrug van die evangelie nie, maar van sy terapeutiese waarde. – hoe dit eensaamheid kan oplos, hoe dit gebroke verhoudings kan herstel, ens.  Maar die waarheid is effe anders. As Jesus dan weer gaan kom, het dit implikasies vir almal. Daarom is dit belangrik om aandag te gee aan wat Jesus van Homself en waarheen die geskiedenis op pad is, sê – en die nodigheid vir verlossing.

 

In die eerste twee verse van 1 Korintiërs 15 sê Paulus dat ons deur die evangelie gered word … as ons daaraan vashou. Hierdie is nie net ‘n aankondiging van ‘n stel feite nie, maar is van ewigheidsbetekenis vir ons. Ons verhouding met God berus nie op wat ons gedoen het nie. Ons word gered deur aandag te gee aan ‘n besondere gebeurtenis wat ongeveer 2000 jare gelede plaasgevind het.

 

Die evangelie red – nie kerkbywoning of versorging van armes of die najaag van sosiale geregtigheid nie. Ons word vrygespreek  omdat ons  in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het (Romeine 4:25). Ons word vrygespreek oor wat Jesus, nie ons, gedoen het

 




Wat is die evangelie? (7)

We are called not to adjust ourselves to each other, but to adjust ourselves to God. — AW Tozer

Wat is die evangelie? (7)

As die evangelies ware geskiedkundige gebeure beskryf en nie net die idees van vroeë dissipels nie, hoekom openbaar die opgestane Jesus Hom net aan gelowiges? Sou dit nie beter gewees het as Hy Hom ook aan ongelowiges geopenbaar het nie? Hierdie beswaar berus op ‘n verkeerde uitgangspunt.

 

 

1 Korintiërs 15: 3 – 7 was waarskynlik ‘n vroeë Christelike belydenis wat Paulus hier aanhaal. In die finale reël van die belydenis lees ons: Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Van Jakobus lees ons ook in Josefus se geskrifte. Hy beskryf onder andere sy marteldood deur steniging.

 

Hoekom het Jakobus so vas geglo dat sy ouer broer die Messias was? In Johannes 7:5 lees ons tog: Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Markus 3:21 stel dit nog sterker: Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”  Teen Handelinge 1 het dinge dramaties verander: Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by (vers 14). Jakobus en sy broers word gelowiges na Jesus se opstanding.

 

Het die opstanding werklik gebeur? Diegene wat gesê het dat hulle die opstanding gesien het, het kante gekies en ander daarvan probeer oortuig – iets wat ‘n mens sou verwag as dit werklik gebeur het. Maar wat van die aanklag dat Jesus net aan sy volgelinge verskyn het?  Nie waar nie. Hiervan is Jakobus ‘n goeie voorbeeld Ons lees tog duidelik in die evangelies dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie. Later, na die opstanding, verskyn Jesus aan hulle. Daarna sluit hulle by die ander dissipels aan. Jesus verskyn aan sy ongelowige broers en hulle glo.

 

Jesus het Homself aan ongelowiges geopenbaar. Waar wil jy ‘n beter voorbeeld as Paulus self hê: Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Paulus sê self dat hy nie dit werd is om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het (1 Korintiërs 15:8 – 9). Teen hierdie tyd was die belydenis voltooi. Paulus voeg nou sy eie getuienis en aanstelling as apostel by. Aanvanklik was Paulus ‘n vyandige getuienis … totdat hy die opgestane Christus gesien het. Soos met Jakobus die geval was, het iets vir Paulus oortuig van ‘n totale ommekeer.

 

Hierdie ou belydenis sê dat ‘n sekere Joodse rabbi vir ons sondes gesterf het en op die derde dag weer opgestaan het. Hy verskyn voor gelowiges en vyandige getuies.

 

In die laaste blog gaan ons kyk na Paulus se argumente vir die stelling: As Christus nie opgestaan het nie, is ons prediking sonder inhoud.




Wat is die evangelie? (6)

The only thing of our very own which we contribute to our salvation is the sin which makes it necessary. —William Temple

Wat is die evangelie? (6)

Kom ons kyk nou na 1 Korintiërs 15:5 – 6. Let op die volgorde van gebeure. Die opgestane Jesus verskyn eerste aan Sefas. Later verskyn Hy aan die twaalf en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk.  Hierdie volgorde verskil van dié in die evangelies.  Verskeie vroue ontdek die leë graf en ‘n engel vertel vir hulle dat Jesus opgestaan het. Hulle vertel vir Petrus en hy en Johannes hardloop na die graf toe. Daar vind hulle dat die graf leeg is – net soos die vroue dit beskryf het. Maria Magdalena sien dan die opgestane Jesus – aanvanklik het sy gedink Hy is die tuinier.

 

Hierdie verskillende weergawes rapporteer verskillende aspekte en perspektiewe van dieselfde gebeurtenis. Soms is dit moeilik om hulle te integreer. Dit is tipies wat jy sou verwag van die getuienis van ooggetuies by ‘n gebeurtenis wat hulle glad nie verwag het nie. Tog moet ons vra waarom Maria Magdalena en geen ander vrou in 1 Korintiërs 15 genoem word nie.

1 Korintiërs 15 is waarskynlik ‘n belydenis wat in die vroeë jare 30 opgestel is veral vir gebruik onder die Jode. Hierdie belydenis  gee nie alleen vir ons die basiese feite van die evangelie nie, maar gee ook twee soorte getuienisse wat van hierdie feite getuig. In die Joodse kultuur van destyds is vroue nie as betroubare getuies gereken nie.

Josefus, die bekende Joodse geskiedkundige van die eerste eeu skryf die volgende in sy kommentaar oor die wet van Moses: 

Antiq. 4:219 “…let not a single witness be believed; but two or three at the least, and those such whose testimony is confirmed by their good lives. But let not the testimony of women be admitted, on account of the levity and boldness of their sex…”

Geen wonder vrouens word nie vermeld nie.

 

Ons lees verder dat Christus aan 500 broers – nie mense nie – verskyn het. Dit was die gebruik destyds om net mans te tel as jy die grootte van ‘n skare wou bepaal. Hierdie 500 broers was waarskynlik deel van ‘n veel groter skare. Lees net Matteus 14:21 oor die vermeerdering van die brood: Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

 

Ons moet ook daarop let dat Paulus nie sê dat Christus eerste aan Sefas verskyn het nie – sy naam is net eerste op die lys. As hy na die 500 broers verwys sê Paulus dat sommige van hulle al dood is. Daar het dus ‘n tyd verloop tussen wanneer die gebeure plaasgevind het en Paulus se neerskryf daarvan. Daar was egter party wat nog geleef het en ondervra kon word.

 

Hoekom openbaar Jesus Hom net aan gelowiges? Hoekom het Hy Hom nie ook aan ongelowiges geopenbaar nie? Daarna kyk ons volgende keer.




Wat is die evangelie? (5)

“The highest good, than which there is no higher, is God, and consequently He is unchangeable good, hence truly eternal and truly immortal. All other good things are only from Him.” – Augustinus

Wat is die evangelie? (5)

Tot dusver het ons uit 1 Korintiërs 15 gesien dat die evangelie waaraan Paulus die gelowiges herinner gefokus is op Christus en die kruis en gebou is op die fondament van die Ou Testament. Maar in verse 5 en 6 lees ons: Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd  broers tegelyk.

 

Hieruit sien ons dat die evangelie nie  ‘n beginsel is nie. Iets soos: dit maak nie saak hoe donker dit in die middel van die winter is nie, die lente is net om die draai. Nee, die evangelie is ‘n gebeurtenis wat op ‘n spesifieke tyd gebeur het en waarvan baie getuies kan getuig. Moses het geleer dat twee of drie getuies nodig is om oor die waarheid te getuig voordat dit aanvaar kan word. Hier is honderde getuies. Dit is voorwaar goeie nuus.

Daar is mense wat beweer dat ons die opstanding van Jesus Christus figuurlik moet sien en nie letterlik nie. Dit strook egter nie met die feite nie. Al die apostels vertel dieselfde verhaal. Die opstanding is nie ‘n simbool van iets wat in hulle harte aan die gang was nie; die opstanding was nie ‘n visie of hallusinasie nie. Luister na Johannes en Petrus:

  • Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe (1 Johannes 1:1)
  • Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien (2 Petrus 1:16). Petrus sê nie ons het ‘n warm gevoel gekry as ons aan Hom en sy onderrig gedink het nie – hulle het Hom in al sy majesteit met hulle eie oë gesien.

Volgens 1 Korintiërs 15 het Jesus vir ons sondes gesterf; Hy is begrawe; Hy is op die derde dag weer opgewek uit die dood.

Hierdie opgewek op die derde dag is nie ‘n gevoel in my hart nie, maar gebeur volgens die Skrifte en volgens ooggetuies: Sefas,  die twaalf en meer as 500 mense. Hier is twee soorte getuies hier ter sprake:

  • Die getuienis van die profete wat oor hierdie gebeure geskryf het lank voor dit gebeur het; en
  • Die apostels wat oor hierdie gebeure geskryf het nadat dit gebeur het.

Volgende keer gaan ons die aansprake  van die apostels kyk en die betekenis van hierdie aansprake evalueer.