‘n Nuwe Kategismus: Vraag 23

Till men have faith in Christ, their best services are but glorious sins. —Thomas Brooks

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 23

Vraag:

Hoekom moet die Verlosser ’n mens wees?

 

Antwoord:

Dat Hy in sy menslike wese volledig vir ons die hele wet kan gehoorsaam en die straf vir menslike sonde kan dra; ook dat Hy simpatie kan hê met ons swakhede. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Skrifgedeelte:

Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue  Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen (Hebreërs 2:17).

 

Kommentaar:

Die Seun van God word ‘n mens om mense in staat te stel om seuns van God te word … Die Tweede Persoon in God, die Seun, word mens omdat Hyself in hierdie wêreld as mens gebore word – ‘n ware mens van ‘n sekere lengte, ‘n spesifieke haarkleur, wat ‘n spesifieke taal praat, en wat soveel kilogram weeg. Die ewige Wese wat alles weet en wat die hele heelal gemaak het, word nie net ‘n mens nie, maar voor dit ‘n baba … Die gevolg is dat ons nou een mens gehad het wat werklik was wat die mens bedoel was om te wees … Omdat die hele probleem vir ons is dat die natuurlike lewe, in ‘n sin, doodgemaak moet word. Hy verkies ‘n bestaan op aarde wat beteken dat sy menslike begeertes moet sterf – armoede, Hy word deur sy familie misverstaan, Hy word deur een van sy intieme vriende verraai; Hy word uitgejou en deur die polisie mishandel; Hy word gemartel tot Hy sterf.

 

En dan, nadat Hy so sterf – in ‘n sin elke dag doodgemaak word – word die mens in Hom, omdat Hy met die goddelike Seun verenig was, weer lewendig. Die Man in Christus staan weer op: nie alleen die God nie. Dit is die hele punt. Vir die eerste keer sien ons ‘n ware mens wat volledig weer lewend word.

 

Watter verskil het Hy aan die hele mensdom gemaak? Net dit: dat om  seun van God te word, om van die tydelike biologiese lewe na ‘n tydlose geestelike lewe oor te gaan, reeds vir ons gedoen is. Ons kan dit op baie verskillende maniere uitspreek. Jy kan sê dat Christus vir ons sondes gesterf het. Jy kan sê dat die Vader ons vergewe het op grond van wat die Seun vir ons gedoen het – iets wat ons eintlik self moes gedoen het. Jy mag sê dat God die dood oorwin het. Almal is waar.

 

Hierdie kommentaar is deur C. S. Lewis geskryf. Hy was lektor in Engelse literatuur aan die Universiteit van Oxford en professor van Engels aan die Universiteit van Cambridge. Hy skryf literêre kritiek, kinderliteratuur, fantasieliteratuur, sowel as teologie. Sy bekendste werke is Mere Christianity (waaruit hierdie kommentaar kom), The Srewtape Letters en The Chronicles of Narnia. Hy was ‘n lidmaat van die Anglikaanse Kerk. Sy bekering was deur sy vriend en kollega aan Oxford, J. R. R. Tolkien, beïnvloed

 

Uit  “Mere Christianity” in The Complete C. S. Lewis Signature Classics(New York: Harper Collins, 2002), 145–146.

 

Verdere Leesstof

 “The Incarnation” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.

 

Gebed

Wie kan my uit die hande van God verlos? Watter maatreëls kan ek tref of wie sal my Verdediging wees? Is daar nie wat genoem word die Redder en magtige Verlosser nie? In sy Naam sal ek hard uitroep; Jesus, die geseënde Jesus. Dit, dit is Hy, die Regter, voor wie ek bewe, maar ook die Verlosser op wie ek vertrou … O Jesus,  Jesus, in u wonderlike Naam pleit ek  dat U my sal hanteer  volgens die belang van hierdie Naam. Want dit is die Naam vol liefde, vol vreugde, vol vertroosting en vertroue vir elke sondaar wat toevlug in u Naam neem. Jesus is die Verlosser.  Hoekom het u daardie naam aanvaar?  Om te verklaar dat U u kinders van hulle sondes sal verlos. Ek pleit dat U inderdaad my Jesus sal wees:  U het my gemaak – moenie die werk van u hande vernietig nie. U het my verlos – moenie dit wat U met u kosbare bloed gekoop het, weggooi nie.

 

Ek bely dat my tekortkominge baie en ernstig is, maar u goedheid en mag ken geen perke nie. Daarom pleit ek, op grond van u liefde so oorvloedig in die verlede bewys, laat u genade by my wees – oneindig. Onthou Here, dat ek aan U behoort – U, wonderlike Verlosser,  wat saam met die Vader en die Heilige Gees aanbid en verheerlik word. Amen.

 

Hierdie gebed  is deur Augustinus  (354 – 430), die Biskop van Hippo in Noord-Afrika, geskryf.  Hy was ‘n teoloog en filosoof. Beide die Katolieke en Anglikaanse Kerk beskou hom as ‘n heilige. Hy skryf oor sy bekering in sy Confessions, sy bekendste boek. Hy was ‘n produktiewe skrywer en het geskryf in Latyn.  Baie van sy werke het behoue gebly – honderde titels. Dit sluit in apologetiese werke, werke oor Christelike leerstellings en kommentare en meer as 350 preke wat behoue gebly het.

 

Uit Pious Breathings: Being the Meditations of St Augustine, his Treatise of the Love of God, Soliloquies and Manual, vertaal deur Geo. Stanhope (London: J. Nunn & Co., 1818), 311–313.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Vergeef ons hierdie foute

Creation culminates in humanity where the spiritual and material world are joined together.” ~Herman Bavinck 

 Vergeef ons hierdie foute

John Newton, eienaar van ‘n slaweboot en latere Anglikaanse predikant, was ‘n goeie prediker, maar hy was veral bekend as herder en raadgewer. Sy pastorale briewe is ‘n skatkis. In een van hierdie briewe – Some Blemishes on Christian Character –  sê hy dat baie Christene daarin slaag om baie sondes te vermy, maar van werklike geestelike groei is daar maar min sprake.

 

Hy gee dan ‘n oortuigende en spesifieke voorbeeld van Christene wat fokus op hulle sterkpunte en niks aan hulle swakpunte doen nie. Hulle sien hierdie tekortkominge as slegs swakpunte. Dit lyk nie asof hulle enige uitgesproke opdrag in die Skrif oortree nie. Tog is hulle sondig, want hulle dra nie die vrug van die Gees wat gelowiges veronderstel is om te dra nie.

Hierdie klein “foutjies” in ‘n groot deel van die gelowige bevolking, beteken dat hierdie mense min invloed vir Christus by ander mense het. Ons foute lyk altyd klein vir onsself as gevolg van selfregverdiging, maar vir ander lyk hulle nie so klein nie. Newton het ‘n lys van hierdie “tekortkominge” opgestel.

Tim Keller  het hierdie lys uitgebrei, maar dit berus steeds grotendeels op Newton se oorspronklike lys. Newton het in elke geval ‘n humoristiese Latynse naam gebruik.

  • Austerus – ‘n soliede en gedissiplineerde Christen, maar krities, nie vrygewig en kwasterig. Hulle is temperamenteel, gee selde komplimente, prys nie sommer ander nie en is feitlik nooit nederig nie.
  • Infitialis – ‘n persoon met ‘n doelgerigte en versigtige karakter, maar  gewoonlik sinies, negatief,  pessimisties en altyd besig om ander te ontmoedig (dit sal nooit werk nie). Hulle ondersteun nie ander nie; hulle is nooit werklik gelukkig nie.
  • Pulsus – passievol, impulsief en ongeduldig; hulle deurdink nie dinge nie; hulle praat te gou; hulle kla gou en moet dikwels verskoning maak vir kras stellings.
  • Querulus – ‘n persoon met sterk oortuigings, maar luister swak. Hy argumenteer graag; leer nie graag nie; stadig om te erken dat hy verkeerd was.
  • Subjectio – ambisieuse persoon. Hy is dikwels geneig om die waarheid so effens te draai; bevorder homself; baie partydig; beskerm sy terrein
  • Potestas – kry dinge gedoen, maar hy moet in beheer wees; sukkel om mag te deel; wil alles graag self doen; baie suspisieus – vertrou nie ander nie.
  • Fragilis – vriendelik. Soek vriende, maar sy gevoelens word gou seergemaak; neem dikwels aanstoot; baie ontsteld deur ware of verbeelde kritiek van ander.
  • Curiosus – sosiaal, maar hy hou daarvan om negatiewe dinge van ander te weet. Hy skinder graag; dra vertroulike inligting oor; hou daarvan om ander te konfronteer.
  • Volatilis – Goedaardig en saggeaard. Hierdie persone help graag, maar hulle is onbetroubaar. Hulle is nooit betyds nie; kom nie beloftes na nie; hulle aanvaar te veel en doen daarom dikwels afskeepwerk.

Kyk om jou en jy sien hierdie eienskappe in baie mense om jou. Kyk na jouself: hoeveel van hierdie eienskappe sien jy nie in jouself nie? Heelwat.




Is my godsdiens iets wat ek privaat kan uitleef?

No man should judge unless he asks himself in absolute honesty whether in a similar situation he might not have done the same. -Viktor Frankl, skrywer, neuroloog en psigiater (1905-1997)

Is my godsdiens iets wat ek privaat kan uitleef?

Diegene wat glo dat hulle godsdienstig is, is aan twee versoekings onderworpe:

  • Hulle glo dat geestelikheid iets innerlik en privaat is.
  • Hulle glo dat geestelikheid ‘n saak van uiterlike prestasie is.

Ware liefde vir God se wortels lê in die hart, maar dit word in die lewe uitgeleef.

Ons sien die baie duidelik in Deuteronomium 6:6 – 9:

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees. 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

Moses gebruik hier ‘n konsentriese patroon – vier sirkels wat al hoe wyer uitbrei. Onvoorwaardelike toewyding aan die Here moet alle dele van ons lewens deursuurdeeg.

  1. Dit moet in jou gedagtes bly. Dit moet op jou innerlike wese geskryf word – onuitwisbaar. Israel se geloof word nierituele gedefinieer nie, maar deur ‘n diep innerlike toewyding aan die Here.
  2. Dit is ‘n familiesaak: 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.. Jy moet dit vir jou kinders leer en met die lede van jou huishouding bespreek. Inskerp beteken dat jy dit gereeld herhaal. Elke volwasse Israeliet en Christen is ‘n leermeester en moet elke geleentheid aangryp om te onderrig.
  3. Dit is ‘n openbare saak. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees. Wat vasgebind moet word, is die Shema – die oproep vir heelhartige verbondsliefde: Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (6:5). Wat presies aan die hande gebind moet word, is onseker. Op die voorkop beteken letterlik tussen die oë. Israeliete en Christene moet gemerk word as mense wat aanspraak maak dat die Here hulle God is en wat Hom volledig liefhet.
  4. Laastens is daar ‘n openbare verklaring: 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. Hiermee herinner hulle hulleself dat hulle primêre verbondenheid aan die Here is. Hulle sien dit elke keer as hulle hulle huise verlaat of terugkom. So dra hulle die Here by hulle huise in as gas en Hoof van dieHulle moet dit op die stadspoorte skryf – so brei hulle hulle toewyding na die hele gemeenskap uit. Hulle herinner burgers en reisigers dat die Here oor hierdie stad regeer. Omdat hofsake naby die stadspoorte gehou is, herinner dit die mense wat die reg uitoefen dat alles tot eer van die goddelike Heerser gedoen moet word.

In hierdie gedeelte lees ons dat selfs die versierings in ons huise moet van ons geloof getuig – alle gaste en verbygangers moet weet van die geloof van die mense wat in daardie huis woon. Die inwoners van die huis moet herinner word dat hulle in afhanklikheid van die Here moet leef en dat hulle seëninge van hulle gehoorsaamheid afhanklik is. Sal mense wat in ons huise kom, weet dat ons gelowiges is?




Die evangelie is ons skietlood

Our chief want in life is somebody who shall make us do what we can. -Ralph Waldo Emerson, skrywer en filosoof (1803-1882)

Die evangelie is ons skietlood

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.

Die evangelie is die skietlood vir al ons denke, praat, onderrig en lewe. ‘n Skietlood meet of iets vertikaal is of dit meet diepte

. Geen skietlood kan die diepte van die evangelie meet nie. Uit die diepte van liefde, genade en barmhartigheid trek ons die lewegewende voordele wat ons in staat stel om op God se weg te loop. Die evangelie is die skietlood waarmee ons die diepte en gehalte van ons lewens, bediening en leer meet.

‘n Skietlood word deur bouers gebruik om te bepaal dat wat hulle bou absoluut vertikaal is. Hy het my gevra: Wat sien jy Amos? En ek het gesê: “’’n Skietlood.” Toe sê die Here vir my: Ek gaan ‘n skietlood aanlê in my volk Israel, Ek gaan hom nie meer spaar nie (Amos7:7 – 8). God gebruik hier ‘n skietlood om aan te dui dat sy volk van sy Weg afgedwaal het. Die evangelie is vir ons die skietlood waarmee ons ons lewens en onderrig meet. Paulus sê vir Timoteus dat hy goed moet let op sy lewe en leer, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister (1 Timoteus 4:16). Paulus skryf ook aan Timoteus dat die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie (1 Timoteus 1:11). In Titus 2:1 – 10 skryf Paulus aan Titus oor die gesonde leer. Dit is wat Titus moet verkondig. Daarna gee hy opdragte oor hoe gelowiges moet leef – hulleself gedra. Ons kry dus gesonde leer wat in ooreenstemming met die evangelie is en dan is daar ‘n leefwyse wat met hierdie gesonde leer ooreenstem.

Hiermee kom ons aan die einde van die reeks blogs oor kategese.