Woorde uit die Bybel – Openbaring (3)

 

You can always give without loving, but you can never love without giving. —Amy Carmichael

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (3)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

Teksaanhalings kom uit Die Boodskap.

 

Wat het God aan die mens geopenbaar?

Kom ons kyk na enkele dinge wat God aan die mens geopenbaar het:

  • God openbaar Homself aan die mens

Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekend gemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag veral in die skepping aan ons kom wys (Romeine 1:20). Die hoogtepunt van sy openbaring van Homself was sekerlik die menswording van Jesus Christus.

  • God openbaar sy koninkryk aan ons.

Luister net na Jesus se “intreepreek”: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Kyk net hoeveel van Jesus se gelykenisse het met die koninkryk te doen.

  • God openbaar sy verbond aan ons

Doen dit, want jy behoort aan die Here. Van al die volke op die aarde het die Here jou gekies en jou sy spesiale eiendom gemaak. Jy moet daarom anders as die ander volke leef (Deuteronomium 7:6). In die Nuwe Testament kry ons ‘n nuwe verbond met Jesus Christus as Middelaar. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan (Galasiërs 4:9).

  • God openbaar sy wet aan ons

God persoonlik skryf die tien gebooie op die kliptafels en gee dit vir Moses by Sinaiberg. Dit is sy wil vir alle mense.

  • God openbaar sy verlossing aan ons

Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat oor die goeie boodskap oor Jesus wat julle red (Efesiërs 1:13). Ons kry dieselfde in Romeine 1:16: Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo. God red mense van dit wat hulle bedreig.

 In ons volgende gedeelte gaan ons kyk na God se algemene en sy spesiale openbaring.




Woorde uit die Bybel – Openbaring (2)

A secret sin on earth is an open scandal in heaven – Lewis Sperry Chafer

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (2)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

 

Teksaanhalings kom uit Die Boodskap.

 

Persoonlike Openbaring

God openbaar Homself aan die mens. Sy doel is dat die mens Hom as persoonlike God in ‘n persoonlike verhouding met die mens kan sien. Hoe maak God Hom aan ons bekend? Net soos ons ons aan ander mense bekend maak – deur te praat oor Homself en oor ons soos Hy ons sien. Hy vertel vir ons wat Hy in die verlede gedoen het (byvoorbeeld die skepping van alles); Hy vertel vir ons wat Hy tans besig is om te doen (hoe Hy alles orden en beheer); Hy vertel vir ons van sy toekomsplanne (die wederkoms van Jesus Christus). Hy gee vir ons rigting en raad; Hy maak beloftes en waarsku ons; Hy sê vir ons wat Hy goedkeur en wat Hy afkeur. Deur stellings oor Homself te maak, maak Hy Hom aan ons bekend.

 

Openbaring in die Ou en Nuwe Testamente

In die Ou Testament het God direk met sekere mense gepraat – Adam en Eva, Kain, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Moses en die profete. Deur Moses en die profete praat Hy met Israel. Amos sê: Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers (= die profete) gesê het nie (3:7). Die uitsprake van die profete begin dan ook dikwels met die woorde: Die Here sê …

 In die Nuwe Testament verander dinge egter. In Hebreërs 1:1 – 4 lees ons daarvan. God praat nie meer deur sy profete nie, maar deur sy Seun. In hierdie opsig vervul Jesus Christus dus die bediening van die profete. Maar dit wat Jesus gesê het, kom van die Vader: Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen (Johannes 7:16). Maar Jesus openbaar nie net die Vader deur wat Hy gesê het nie, maar ook deur wie Hy was en wat Hy gedoen het. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk, sien ons wie en hoe God is (Kolossense 1:15)

 Nog ‘n verdere ontwikkeling is dat God die Heilige Gees gestuur het. Later sal my Vader vir julle julle spesiale helper, die Heilige Gees stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26). Die Heilige Gees openbaar die volle waarheid oor God en stel die gelowiges in staat om van God te getuig: Dit is die ware Gees wat ook die waarheid goed ken. Hierdie Gees sal alles kom beklemtoon wat Ek gesê en gedoen het. Julle gaan ook vir die ongelowiges van My vertel en hulle probeer oorreed om Christene te word (Johannes 15:26).

 Jesus Christus en die apostels se woorde vorm ‘n eenheid – die Nuwe Testament. Dit was God se laaste woorde aan die mens.

 Maar wat is dit wat God aan die mens geopenbaar het? Daarna kyk ons volgende keer.

 




Woorde uit die Bybel – Openbaring (1)

He that is low need fear no fall – John Bunyan

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (1)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

 

 

Openbaring

Die Griekse woord wat gebruik word, is apokalipsis wat oopmaak beteken (HAT). Dit beteken dat God die sluier wegneem en vir ons dinge wys wat vantevore verborge was. God neem ons as ‘t ware in sy vertroue en deel sy geheime met ons.

 Onmiddellik kom drie vrae na vore:

  • Hoekom is ‘n openbaring nodig? Daar is sekere dinge wat vir ons verborge is totdat God dit vir ons openbaar.
  • Wat is die doel van openbaring? God gee hiermee vir ons kennis van hierdie verborge dinge.
  • Wat moet ons gesindheid teenoor openbaring wees? Ons moet met dankbaarheid die openbaring ontvang en hoor wat God aan ons bekend wil maak. As God praat, moet ons luister, leer en reageer.

 As ons aan die woord openbaring dink, is daar verskeie aspekte waaraan ons aandag moet gee:

  • Persoonlike openbaring
  • Openbaring in die Ou en Nuwe Testament
  • Wat is dit wat God in die Bybelse tyd geopenbaar het?
  • Algemene en spesiale openbaring
  • Huidige en toekomstige openbaring

 Volgende keer gaan ons na die eerste twee aspekte kyk: Persoonlike openbaring en openbaring in die Ou en die Nuwe Testament.

 




Aanbidding: Wat is dit?

Love all, trust a few, do wrong to none. -William Shakespeare (1564-1616)

 

Aanbidding: Wat is dit?

 “Worship is the proper response of all moral, sentient beings to God, ascribing all honor and worth to their Creator-God precisely because he is worthy, delightfully so.” —D. A. Carson.

 Die woord aanbidding,  in een of ander vorm, is baie algemeen in Die Bybel. Gaan ons hulle na, sien ons wat die Bybelskrywers met die woord bedoel het.

Hier is van die algemeenste gebruike:

  • Aanbidding is om eer aan God te bring in reaksie op sy selfopenbaring. U het al die nasies gemaak; hulle sal voor U kom buig, Here, en aan u Naam die eer gee (Psalm 86:9).
  • Aanbidding gaan oor neerbuig – letterlik of figuurlik – om onderdanigheid aan God te wys. Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe (Openbaring 4:9 – 10).
  • Aanbidding gaan oor die bring van offers aan God. En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1).

  Daar is ‘n vooruitgang:

  • Aanbidding is basies die verheerliking van God deur ons reaksie op sy selfopenbaring;
  • Ons verheerlik God en aanbid Hom deur neer te buig en Hom te gehoorsaam; en
  • Ons gehoorsaam (en daarom verheerlik en aanbid ons Hom) deur alles wat ons het en alles wat ons is aan Hom as offer aan te bied.

 

 Nancy Leigh DeMoss sê: “Worship is a believer’s response to God’s revelation of Himself. It is expressing wonder, awe, and gratitude for the worthiness, the greatness, and the goodness of our Lord. It is the appropriate response to God’s person, His provision, His power, His promises, and His plan.”