Is gevoelens goed of sleg?

 

There are no gradations of the image of God – Martin Luther King Jr.

 

Is gevoelens goed of sleg?

Godsdiens is ‘n ernstige saak – moenie te veel emosie wys nie. Soos die Engelse sê: stiff upper lip, my boy. Maar nou sien ons dat Jesus emosies ondervind het. Hy huil by Lasarus se graf. Lees net weer die emosie in daardie laaste ure in die tuin van Getsemane.

Wat ons nie by Jesus kry nie, is selfbejammering nie – Hy kla nie oor sy lot nie. Hy hanteer sy emosies konstruktief en gee daarmee vir ons ‘n model om na te volg.

  • Jesus erken sy gevoelens

Jesus neem vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom dieper in die tuin in. Dan lees ons: Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” (Matteus 26:38) Die basiese les wat ons moet leer, is dat as jy jou gevoelens onderdruk hulle nie sal verdwyn nie. Wees eerlik met jouself. Om jou gevoelens te erken is die eerste stap in die hantering daarvan. Sê vir God hoe jy voel.

 

  • Jesus vra ondersteuning van sy vriende.

Jesus gaan nie alleen nie – Hy neem sy drie vriende saam. Hy is eerlik met hulle en vra hulle om te wag. En ons? Ons is dikwels te trots om ons vriende te vra om ons te help.

 

  • Jesus weet dat sy emosionele lyding Hom nie van God se liefde en aanvaarding sal skei nie

God se aanvaarding van ons word nie deur ons gevoelens bepaal nie, maar deur ons geloof. Ten spyte van al die emosionele lyding bid Hy tot God en gee Hy die volgende raad aan sy dissipels: Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.”

 

  • Jesus weet dat seën volg op gehoorsaamheid

Nadat Hy sy drie dissipels vir die derde keer wakker gemaak het, sê Hy vir hulle” Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad. Dit is die pad wat God bepaal het Jesus moet loop en in gehoorsaamheid loop Hy dit. Die Hebreër-skrywer sê dat die lewe soos ‘n wedloop is en dat daar dinge is wat verhinder dat ons hierdie wedloop voluit kan hardloop: Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel (12:1 – 2).

 

Jesus het vir ons in Getsemane gewys dat gevoelens nie verkeerd is nie. Hy wys ook vir ons hoe om ons gevoelens te hanteer. Leer by Hom.

[Alle teksaanhalings kom uit Die Boodskap.]




‘n Gedig

God, like a Master Builder, has laid the foundation of the world according to law and order. God wanted us to recognize those laws by creating us after His image so we could share in His own thought – Johannes Kepler, wiskundige en sterrekundige.

 

‘n Gedig

Nancy Spiegelberg het hierdie eenvoudige gediggie geskryf. Eenvoudig, maar met ‘n groot boodskap.

 

Lord

I crawled across the barrenness to You with my empty cup,

Uncertain in asking any small drop of refreshment.

If only I had known you a little

I’d have come running

With a bucket.

 




Ek voel skuldig … en nou?

Of all sad words of tongue or pen,

The saddest are these: “It might have been.”

John Greenleaf Whittier

 

Ek voel skuldig … en nou?

God wil nie hê dat sy kinders skuldig moet voel nie. Tog het meeste van ons op een of ander stadium skuldgevoelens. Hoe kan ons vry kom van hierdie skuldgevoelens?

  • Identifiseer die oorsaak van jou skuldgevoelens

Maak seker; maak seker of jou skuldgevoelens nie vals is nie. God veroordeel ons nie vir dinge buite ons beheer nie. Jy moet eers jou skuldgevoelens in die oopte lê voordat jy hulle kan hanteer.

 

  • Besef dat God se genesing van sonde volledig is.

Dit geld ook vir sondes van die verlede. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon die sien uit wat julle verkeerd gedoen het. Op daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie (Kolossense 2:13). God gee dus aan elkeen van ons ‘n tweede kans. Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie (Hebreërs 8:12); En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat julle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie” (Hebreërs10:17). Soos ons rekenaars het God ‘n delete sleutel.

 

  • Dank God vir jou vergifnis al voel jy nog skuldig

As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar,want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is (1 Johannes 1:9). Vergifnis is wat God reeds gedoen het om die verhouding tussen ons en Hom te herstel. Reiniging (skoon was) is dit wat God doen om seker te maak dat ons weet dat ons vergewe is.

 

  • Soek genesing in al jou persoonlike verhoudings

Om ons verhouding met God te herstel, is primêr. Dit moet egter daartoe lei dat ons ons verhouding met ons naaste ook regstel.

 

Skuldgevoelens is ‘n groot probleem – vir ons gesondheid, maar veral vir ons geestelike welstand. Stel vas presies hoekom jy skuldig voel en gaan na God daarmee … sy genesing is volledig.

[Alle teksaanhalings kom uit Die Boodskap.]

 




Positiewe verandering

 

The name of Jesus was not so much written as ploughed into the history of this world – Ralph Waldo Emerson

 

Positiewe verandering

Almal van ons wil graag verbeter – ten goede. Positiewe verandering is moontlik, maar dan moet ons aan drie basiese voorwaardes voldoen:

 

  • Ons moet glo dat God goed is

Dit moet ons doen ten spyte van al die verkeerde dinge in die wêreld. Kom ons gaan terug na Genesis 3. Ons lees dat die slang – die skelmste en agterbakste dier op aarde – vir Eva ewe onskuldig sê:  ek hoor julle mag nie van die bome in die tuin eet nie. God het glo vir julle so gesê, of hoe? Toe Eva dit bevestig sê die slang: Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie. God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en julle sal soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.  Satan sê dat God Eva se ontwikkeling beperk sodat sy nie haar volle potensiaal kan bereik nie. Ons dink mos altyd ons pad is beter as God s’n. Dit is interessant dat Satan net op een boom fokus. Al die ander waarvan hulle mag eet ignoreer hy. Dit is steeds Satan se strategie – hy laat ons op een saak fokus … en ons vergeet al die ander dinge. As ons dan glo dat God goed is, kan ons ons sonder voorwaardes of vrees aan Hom oorgee. Die heel eerste tree wat ons moet gee, is dat ons bereid moet wees om ons sonde te los wetende dat God dit met iets beter sal verplaas. Doen ons dit slaag ons die eerste toets.

 

  • Neem eienaarskap van jou gedrag

Elkeen van ons is volledig verantwoordelik vir ons eie gedrag en gesindheid. Die probleem is ons onwilligheid om skuld te aanvaar – ons skuif ons verantwoordelikheid na ander. Ons verdedig onsself; ons is selfs bereid om feite te verdraai. Ons wil so graag beter lyk as wat ons werklik is. Luister vir Adam: Dit is alles die vrou se skuld – en dit nogal die vrou wat God vir hom gegee het. En Eva? Dit is die slang se skuld. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir ons gedrag en gesindheid. Ons kan baie eerlik wees, want ons weet dat God ons liefhet en aanvaar.

 

  • Vertrou op God se genade

Die Nuwe Testament is ‘n boek van hoop. Ons moet  glo dat verlossing moontlik is. Paulus sê vir die gemeente in Korinte: Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met julle sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het (1 Korintiërs 10:13). In hierdie vers sien ons dat ons saak nie uniek is nie en dat God ons die nodige hulpbronne en krag gee om versoekings te hanteer. Petrus sê basies dieselfde ding: Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ‘n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie (1 Petrus 2:9)

 

Niemand kan ‘n oorlog wen as hy nie glo dat dit moontlik is nie.

[Alle teksaanhalings kom uit Die Boodskap.]