Skinder is moord

The Bible does not yield its meanings to lazy people – A. W. Pink

 

Skinder is moord

Die ou rabbi’s het geglo dat skinder moord is, maar nie net die moord van een mens nie, maar van drie. Hoe is dit moontlik?

 

  • Die persoon van wie geskinder word, is duidelik ‘n slagoffer.
  • Die luisteraar is ook ‘n slagoffer, want sy verhouding met die persoon waaroor geskinder word, word negatief beïnvloed. Dit is ook vir die luisteraar ‘n groot versoeking om hierdie storie verder te versprei.
  • Die spreker. Met verloop van tyd besef die mense dat iemand wat skinder nie vertrou kan word nie. Hulle distansieer hulle van hom, want hulle is bang hy verraai hulle ook. Skinder is iets soos ‘n stadige selfmoord.

 Hoekom waarsku die Bybel ons so sterk teen skinder? Net ons eie waaksaamheid stop ons om dinge te sê wat ander kan seermaak en verhoudings afbreek. As ‘n woord eers oor ons lippe is, kan ons dit nie weer terugtrek nie.




Sosiale geregtigheid: Levitikus 19:9 – 18

If you are not going to be better tomorrow than you were today, then what need have you for tomorrow – Rabbi Nachman

 

Sosiale geregtigheid: Levitikus 19:9 – 18

Sosiale geregtigheid is ‘n belangrike onderwerp veral vir jong Christene. Wat sê die Bybel hieroor?  ‘n Gedeelte wat ons baie help is hierdie gedeelte in Levitikus 19. Die hoogtepunt kry ons in vers 18: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Hierdie gedeelte verduidelik dan vir ons hoe hierdie liefde vir die naaste lyk. Dit word in vyf gedeeltes verdeel. Elkeen sluit af met die woorde: Ek is die Here.

  • Besittings (vers 6 – 10: Hierdie is ‘n voorbeeld uit die landbou. Jy moet nie elke koringaar en druiwekorrel afoes nie: Laat dit alles bly vir die armes en vreemdelinge. Paulus stel dit so: Hy moet deur harde werk op ‘n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee (Efesiërs 4:28). Die basiese beginsel is eenvoudig: Moenie alles op jouself spandeer nie.
  • Woorde (vers 11 – 12): Praat die waarheid: Julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. Julle mag nie ‘n vals eed aflê in my Naam nie. Ons moet baie versigtig met ons woorde wees.
  • Optrede (vers 13 – 14): ‘n Hele paar aspekte word hier hanteer:Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie; jy moet die dagloner stiptelik betaal; jy mag nie ‘n dowe persoon vloek al hoor hy dit nie; jy mag nie ‘n hindernis in die pad van ‘n blinde plaas nie al weet hy nie wie dit gedoen het nie. Die onderliggende beginsel is dat God se kinders nooit swakkes mag uitbuit nie.
  • Die regspraak (vers 15 – 16): Regspraak in die Bybel is regverdig – geen partydigheid nie. Ons kan nie onverskillig  teenoor ander se probleme staan nie. Geen omkopery, geen agterkamer ooreenkomste, geen breek van beloftes nie. Daar is een standaard en dit geld vir almal.
  • Gesindheid (vers 17 – 18): Geen haatdraendheid nie; moenie wat hy verkeerd gedoen het teen hom hou nie; jy mag nie wraak neem nie. Geskille moet openlik met mekaar uitgemaak word.

 Jy moet jou naaste liefhê. Hoe doen jy dit? Levitikus gee hier vir ons ‘n aantal riglyne wat ons met vrug kan gebruik.

 




Die Groot Opdrag: Matteus 28:16 – 20

He who studies the Scriptures, but does no works of love, lives without God – Talmoed

 

Die Groot Opdrag: Matteus 28:16 – 20

Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. In die Bybel is berge dikwels dié plek waar onderrig gegee word. Ons dink aan Sinaiberg waar God aan Moses die tien gebooie gegee het, die bergrede en die berg van verheerliking.

 

 Voordat Jesus die opdrag gee, begin Hy eers met die goeie nuus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Die basis vir sy opdrag is die gesag wat Hy het in die hemel en op die aarde. In die opdrag self kry ons vier werkwoorde. Een daarvan kan as die hoofwerkwoord beskou word en die ander drie as ondersteunend. Die hoofwerkwoord is: Maak die mense my dissipels. Die ondersteunende werkwoorde beskryf wat dit presies behels:

  • Gaan dan na al die nasies toe.
  • Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
  • Leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.

Die gedeelte word met ‘n versekering afgesluit: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Hierdie belofte van Jesus maak net sin as die opdrag ook vir al die dae geld.

 Ons kan dit alles soos volg saamvat:

  • Jesus gee ‘n roeping aan sy eerste dissipels. Hy verwag volgelinge moet dit uitvoer tot die einde van die tyd. Die dissipels se roeping is ons roeping.
  • Ons word gestuur, want Christus is gestuur en ons gaan in sy Naam en onder sy gesag.
  • Die roeping bestaan uit verkondig en onderrig, aankondig en getuig, maak dissipels
  • Ons word in die wêreld uitgestuur – oral.
  • Ons gaan in die krag van die HG en in onderwerping aan die Seun.



Ek hou van skinder

The beginning of awe is wonder, and the beginning of wisdom is awe – Abraham Heschel

 

Ek hou van skinder

Ek hou van stories. Die storie is van die dorp se hoof skinderaar. Hy besluit dat genoeg genoeg is – hy gaan sy sonde bely. Daarom gaan hy na die huis van die rabbi in die dorp.

 

Man: “Jy weet hoe graag ek skinder. Is daar iets wat ek kan doen om dit reg te stel?”

Die rabbi vryf oor sy baard en sê: “Gaan huis toe en gaan haal ‘n kussing.”

Die man gaan dadelik na sy huis om die kussing te kry. Dit was darem nie te moeilik nie – ‘n eenvoudige geskenk en sy sonde is vergewe.

Rabbi: “Sny die kussing oop.”

Dit was ‘n winderige dag en die vere waai die hele dorpie vol.

Rabbi: “Gaan maak al die vere bymekaar en sit hulle weer in die kussing.”

Man: “Maar dit is tog onmoontlik.”

Rabbi: “Net so is dit onmoontlik om al die skade wat jy met jou skindery veroorsaak het weer reg te stel.”