Kan die kerk die wêreld verander?

To progress is always to begin again (Martin Luther)

 

Kan die kerk die wêreld verander?

Die kerk wêreldwyd het amper twee biljoen vrywilligers wat net wag om gemobiliseer te word. Die kerk het die mannekrag – hulle moet net tot aksie oorgaan. Die kerk se opdrag is immers om die goeie nuus aan die wêreld te bring. Rick Warren sê ons moet die latente energie in gelowiges wat niks vir die koninkryk van God doen nie, loslaat.

 

 

Hy sê dat die kerk die liggaam van Christus is, maar dit lyk asof hierdie liggaam geen hande en voete het nie – meeste van die tyd net ‘n groot mond. Dit is tyd dat die mense hoor waarvoor die kerk staan – genade, deernis, barmhartigheid, vergifnis, verlossing en ‘n nuwe lewe in Jesus Christus. Dit is nie nodig om te sê waarteen die kerk is nie – almal weet dit.

 

Jesus sê aan sy dissipels: Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom (Markus 16:15). Die kernwoord is: Gaan. Jesus sê vir ons om te gaan – nie net vir die sendelinge  nie. Natuurlik het ons professionele mense nodig, maar ons kan nie verwag dat hulle ons werk vir ons moet doen nie. Jesus sê: Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8). Wat is ‘n getuie? Iemand wat sy/haar storie vertel: “Dit is wat ek gehoor het; dit is wat ek gesien het; dit is wat met my gebeur het.” Niemand anders kan jou storie vertel nie en jy het ook geen spesiale opleiding nodig om jou storie te vertel nie.

 

Maar is Jesus se opdrag in Handelinge 1:8 op ons van toepassing?Jesus is hier besig om sy plan uit te lê. As Hy sê gaan na Jerusalem sê Hy dat ons met ons familie, vriende en medewerkers moet begin. Judea is die gebied waar jy leef. Samaria is ook mense wat in jou buurt woon, maar kultureel verskil hulle van jou. Jesus sê: Gaan na mense wat anders as jy is. Laastens sê Hy dat ons tot in die uithoeke van die wêreld moet gaan. Dit beteken alle ander mense – nou beweeg jy uit jou gemaksone. Ons moet dissipels van al die nasies maak.

 

Wat is ons veronderstel om te doen as ons vir Jesus gaan. Ons moet doen wat Hy gedoen het. Hy het nie net gepreek nie; Hy het die onderdruktes, armes, siekes, bejaardes, blindes en melaatses versorg. Hy het omgegee vir mense met geestesongesteldhede, die weduwees en wese, diegene in tronke en die haweloses. Jesus gee om vir mense wat die wêreld graag wil vergeet. Die grootste probleme van die wêreld in Jesus se tyd is steeds die grootste probleme vandag: geestelike leegheid, egosentriese leierskap, armoede, siekte en ongeletterdheid – die reuse.

 

Hoe het Jesus hierdie reuse aangevat? Hy het vyf dinge gedoen wat Hy wil hê dat sy volgelinge steeds moet doen. Dit is:

  • Hy plant geloofsgemeenskappe. As ons die liefde van God met miljoene mense wil deel, moet ons bestaande gemeentes help, maar ook nuwe geloofsgemeenskappe vestig. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? (Romeine 10:14).
  • Hy rus dienaarleiers toe. Dwarsdeur duie wêreld is daar leiers wat hulle mag misbruik – hulle gebruik nie hulle mag vir hulle mense nie, maar vir hulleself. Daarom moes die volk weg, moes hulle in ellende beland soos skape wat nie ‘n wagter het nie (Sagaria 10:2); Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik. ‘n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê (Spreuke 16:12 – 13 – Die Boodskap).
  • Hy help die armes. Meer as helfte van die mense op aarde oorleef op minder as $2 per dag; ‘n biljoen mense woon in krotbuurtes. WorldVision sê dat 600 miljoen uit armoede kan losbreek as iemand net bereid sou wees om vir hulle ‘n klein lening te gee. ‘n Gelowige weet dat hy ‘n arm mens moet help. ‘n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie (Spreuke 29:7 – Die Boodskap).
  • Hy versorg die siekes. Miljoene mense, veral kinders, sterf nog jaarliks aan voorkombare siektes. Die grootse oorsaak vir kindersterftes is onsuiwer water. Ons weet mos hoe om water te suiwer.
  • Hy onderrig die volgende geslag. Geen land kan sterk wees as hy nie sykinders opvoed en onderrig nie; geen land kan groei as sy burgers nie kan lees nie. Meer as die helfte van die wêreldbevolking is nog ongeletterd.

 

Rick Warren noem dit die PEACE plan (plant, equip, assist, care, educate). Dit is ‘n beweging vir gelowiges – alle gelowiges en nie net leraars nie. Dit gaan oor alle gelowiges in elke gemeente wat doen wat Jesus gesê het, gedoen moet word. Dit gaan oor gemeentes wat saamwerk om hierdie vyf reuse in hulle samelewing aan te pak. Die huidige gehoor moet in ‘n leër verander word, verbruikers in bydraers, toeskouers in deelnemers.

 

Net die kerk deur die krag van die Heilige Gees kan dit doen – geen regering nie. net die kerk het die mannekrag – twee biljoen vrywilligers wat wag om gemobiliseer te word. Net die kerk het die mag van die Heilige Gees om hom te bemagtig.

 

Jesus het ons beveel om dit te doen. Sal ons doen wat Hy beveel het? Lees net weer Psalm 67:3: Almal op aarde moet sien hoe groot en goed U is. Volke wat U nie ken nie, moet besef dat U mense red (Die Boodskap). God wil al sy kinders gebruik om die wêreld vir Jesus Christus te bereik. Mense moet besef dat die grootste avontuur vir ons is om deur God gebruik te word.

As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen (Markus 8:35 – Die Boodskap).

 




Gaan die lewe oor gelukkig wees?

‘Injustice anywhere is injustice everywhere.’ – Martin Luther King

 

Gaan die lewe oor gelukkig wees?

In die Journal of Positive Pcychology  het sielkundiges amper 400 Amerikaners ondervra. Die vraag was: Dink julle julle lewens is gelukkig en/of  betekenisvol? Die navorsers se bevinding was dat die twee tot ‘n mate oorvleuel, maar in baie opsigte ernstig verskil. Om ‘n gelukkige lewe te leef, is jy ‘n “ontvanger”; ‘n betekenisvolle lewe beteken dat jy ‘n “gewer” is. 

 

 

Hoe verskil die twee?  ‘n Gelukkig lewe beteken dat jy goed voel – hulle is gesond, hulle kan die dinge koop wat hulle nodig het. Daar is ook min spanning en bekommernisse. Die najaag van ‘n gelukkige lewe gaan gepaard met selfsugtige gedrag – mense is gelukkig as hulle kry wat hulle wil hê.

 

Gelukkige mense ondervind vreugde as hulle iets ontvang; mense wat betekenisvolle lewens lei, kry vreugde as hulle aan ander gee – vir hulle gaan die lewe oor meer as ek. Wat mense van diere onderskei is nie die najaag van geluk nie – ons kry dit oral in die natuur. Wat mense en diere onderskei, is betekenis – dit kry ons net by mense. Betekenis gaan oor ander en opoffering van my kant af. Hierdie mense soek aktief betekenis al mag dit ten koste van geluk wees. Omdat hulle in iets groter as hulleself belê, het hulle hoër vlakke van spanning en angs in hulle lewens – meer so as gelukkige mense.Partly what we do as human beings is to take care of others and contribute to others. This makes life meaningful but it does not necessarily make us happy” (Bauermeister). Geluk is ‘n emosie wat ons nou en hier ondervind, maar mettertyd vervaag dit. Betekenis hou stand.

 

Die probleem is dat die kerk vandag  kliënte vorm wat die kerk as ‘n pad na persoonlike geluk beskou – nie mense vir wie betekenis belangrik is nie. Kyk na werk. Die kerk bevestig meestal dat daar geen betekenis in ons daaglikse werk is nie – betekenisvolle werk is dit wat jy vir die kerk doen. As die kerk nie bereid is om te stoei met die betekenis van werk en ons daaglikse lewens nie, is dit nie ‘n doeltreffende uitdrukking van die Koninkryk van God nie.

 




God tug my omdat ek gesondig het?

Seeking to “free” sexual love from old restraints, we’ve “freed” it from its meaning, responsibility, and exaltation. – Wendell Berry

 

God tug my omdat ek gesondig het?

Vraag: Die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? (Hebreërs 12:6 0 7).

 

Beteken dit nou dat swaarkry, siekte, ens gebeur omdat God sy kinders tug? Wat van die swaarkry van ongelowiges? Is dit God wat hulle tug? Is dit straf vir hulle sonde? Beteken dit dat slegte dinge (of net sekere slegte dinge) wat met Christene gebeur,  gebeur omdat God ons tug? As ‘n Christen griep of kanker kry of as hy in ‘n motorongeluk is of sy werk verloor – moet ons dit as God se tug sien? Natuurlik is God soewerein oor alle dinge, maar as slegte dinge met Christene gebeur, is dit God se tugtiging of gebruik God dit vir ons beswil?

 

Hierdie vraag het ‘n leser na die Gospel Coalition se blog gestuur. Ek gebruik dit hier, want dit is ‘n vraag waarmee almal van ons op een of ander stadium mee sukkel.

 

Antwoord:

Prof D. A. Carson het die vraag geantwoord.

Daar is gedeeltes waar God katastrofiese oordeel bloot as vergelding stuur. Dink aan die vernietiging en dood van Saul – Samuel kry selfs opdrag om nie meer vir hom te bid nie. Daar is gedeeltes waarin mense vir jare lank ly wat glad nie aan ‘n onmiddellike sonde verbind kan word nie – die blinde man in Johannes 9. In hierdie geval moet ons aanvaar dat sy blindheid deel van lewe in ‘n gevalle wêreld is. Hy sou nie blind gebore gewes het as Genesis 3 nie plaasgevind het nie. Aan die ander kant is dit deel van God se voorsienigheid – Jesus sê dat hy blind is sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. Ons kan ook dink dat in sommige gevalle lyding as gevolg van sonde is – Jesus sê vir die man wat al 38 jaar verlam was: Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets erger met jou gebeur nie (Johannes 5). Hier mag tug ter sprake wees.

 

Daar is gedeeltes wat lyding nie die gevolg van ‘n direkte oortreding was nie. Hoe verklaar ons dit?  Daar is die enigste “verduideliking” dat ons God wie se mag en kennis oneindig groter as ons s’n is, moet vertrou. Hier dink ons byvoorbeeld aan Job.

 

Dit is duidelik dat ons uit hierdie verskeidenheid gedeeltes ten minste drie gevolgtrekkings met belangrike pastorale implikasies kan maak:

  • Ons gaan groot foute maak as ons enige van hierdie gedeeltes neem en aanvaar dat hulle alle lyding verduidelik. Daarvoor is hulle te uiteenlopend. Ons kan tog nie Saul se situasie op Job van toepassing maak nie. ‘n Christen moet nie aanvaar dat elke geval van lyding wat hy ondervind noodwendig die gevolg van God se tug vir ‘n spesifieke sonde is nie. Net so kan ‘n Christen nie aanvaar dat God dalk nie sy lyding as tugtiging gebruik nie.
  • In elke geval van lyding is God besig om baie dinge te doen al sien ons net twee of drie raak. ‘n Christenvrou in haar middeljare wat gevorderde borskanker ontwikkel: Berei Hy haar voor vir die ewigheid – dit is genade om te weet jy gaan sterf en tyd te hê om jou daarvoor voor te berei? Is God besig om haar 20 jarige seun wat ongelowig is, te skok sodat hy homself ondersoek?  So kan ons aan baie moontlikhede waarmee God besig is, dink. Soms moet ons net stilbly en in geloof bely dat ons nie alles begryp wat God besig is om te doen nie. Ons weet dat Hy getrou is – Hy het sy Seun gestuur om vir ons te ly.
  • Lyding is ‘n geleentheid vir selfondersoek God mag met ons as ons wyse hemelse Vader praat – iemand wat diegene wat Hy liefhet tugtig. Dit mag sy reaksie op spesifieke sondes in ons lewens wees. Dit mag wees dat Hy ons sterker maak sodat ons sal ophou dink Hy skuld ons gesondheid en welvaart. Of, soos in Job se geval, het God dalk ‘n weddenskap met Satan aangegaan. Ons selfondersoek moet eerlik wees, maar ons moenie glo alle sleg wat met ons gebeur as gevolg van my persoonlike sonde is nie. Maak nie saak wat die oorsaak van ons lyding is nie – die antwoord is altyd dieselfde: Gaan na die kruis en vertrou jou goeie, genadige en heilige Vader.

 

Maklik formules om die ingewikkelde probleem van lyding te verstaan help nie. Dit reduseer die probleem en dit is swak teologie.

 




Die Tien Gebooie: Goeie nuus vir mense wat die wet breek

When sin becomes bitter, then Christ becomes sweet – Thomas Merton

 Die Tien Gebooie: Goeie nuus vir mense wat die wet breek

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo (Romeine 1:16 – 17).

Hiermee verklaar Paulus sy eie vertroue in die Christelike boodskap. In die wet word die geregtigheid van God geopenbaar – dit  verdoem al ons aansprake op geregtigheid. In die evangelie word die geregtigheid van God as ‘n gawe geopenbaar. God wys vir ons in die wet wat ons moet doen om gered te word, maar terselfdertyd gee Hy aan ons die status van volkome heiligheid – dit kry ons net in die evangelie.

 

Die slegte nuus: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou nie en nie daarvolgens lewe nie (Deuteronomium 27:26). Paulus begin sy brief aan die Romeine deur te verduidelik dat die Jode deur die wet veroordeel is en die heidene deur ‘n wet wat op hulle gewetes deur die skepping geskryf is, veroordeel is. Daarom sê Paulus: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie … almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Romeine 3:9 – 12). Sy gevolgtrekking is duidelik: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (3:20).

 

Die goeie nuus: Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus  (3:21 – 24). Luther sê: Terselfdertyd vrygespreek en sondig. Ons eie prestasie is dus van geen waarde nie.

 

Die evangelie, anders as die wet, is nie iets wat ons met ons rede of uit die natuur kan leer nie. Daarvoor het ons ‘n openbaring van God nodig en dit kry ons in sy Woord. In Christus ontvang ons ‘n nuwe lewe wat lei tot geregtigheid en gehoorsaamheid wat uit ‘n hart wat vernuwe is, vloei. Ons noem die heiligmaking. God spreek ons nie alleen vry nie – Hy maak ons heilig.

 

Die Heidelbergse Kategismus vra die vraag: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie? In die antwoord word twee redes genoem:

  • Sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken, en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek.
  • Ons moet ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik.

 

Dit is duidelik uit hierdie reeks  dat die Tien Gebooie vir ons steeds belangrik is. Ons moet ook let op Jesus Christus se interpretasie van hierdie gebooie – veral in sy bergrede. Ons sien dat Hy die toepassing van hierdie gebooie uitgebrei het.