Die Tien Gebooie: Aanbid die regte God op die regte manier

The most important daily habit we can possess is to remind ourselves of the gospel – Charles Spurgeon.

 

Die Tien Gebooie: Aanbid die regte God op die regte manier

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of  op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (Eksodus 20:4)

 

Die mens aanbid nie alleen vals gode nie, maar probeer voortdurend om nuwe maniere om God te aanbid, te ontdek. Soms is die God wat so aanbid word die God van die Bybel – soms nie. Maar wat is vals aanbidding?

  • Mens-gesentreerde aanbidding. Nou vertel ons vir mense wat ons dink hulle graag wil hoor – hoe God dinge vir ons kan doen en ons behoeftes kan hanteer. Ons openbare aanbidding is dikwels gerig op die verbruiker. As dit ons benadering is, vereis dit voortdurende innovering, want ons is besig om mense te vermaak. Natuurlik is daar aanvaarbare nuwe aanbiddingstyle. Ons kan egter nie blindweg nuwe style aanvaar net soos ons nie blindweg aan tradisie kan vasklou nie. Dit gaan oor die heerlikheid van God en nie oor verbruikersvriendelike kerke nie.
  • Selfgesentreerde aanbidding. Ek glo dat God vir my bestaan – my geluk en my plesier. Ons kom kerk toe om iets te ontvang en nie te gee nie – ons gee nie lof, danksegging en diens nie. Ons wil passief die gebeure om ons ondervind. God is nie meer die middelpunt van ons bestaan nie. God moet net die vissies en broodjies wat ons vir ons bestaan nodig het, voorsien. Jeremia tree as profeet op vir ‘n volk wat dink dat alles reg verloop. Hy kom en sê dat hulle profete vals verwagtings wek – hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie (23:16). Later lees ons: Elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God (vers 36). ons nie ook vir ongelowiges positiewe dinge net om hulle aan te trek nie? Vals gode is waardeloos, maar ook vals godsdiens en vals aanbidding van die ware God.
  • Verbeeldingryke aanbidding. Die gebruik van ons verbeelding in aanbidding is Godgegewe. Maar ons gebruik dikwels ons verbeelding om ‘n verbruikersvriendelike God te skep. Ons vergeet dat ons geen beheer oor God het nie – ons wil Hom manipuleer, maar dit is nie moontlik nie.
  • Kuns in aanbidding. Mense glo dat hulle meer geraak word deur wat hulle sien en ondervind as wat hulle lees en hoor. Die bedoeling is altyd goed – ons wil mense help om God meer doeltreffend te aanbid. Maar sien en ondervind, kan nie die aanhoor van sy woord vervang nie.
  • Menings in aanbidding. Kontekstualisering beteken dat ons die onveranderlike evangelie in ‘n veranderende kultuur inbring. Dit is noodsaaklik, maar oorkontekstualisering is gevaarlik. Ons ontwikkel ons eie menings oor wat vir God aanvaarbaar is. Die uiteinde is dat daar geen verskil tussen die kultuur binne en buite die kerk is nie.

 

Om verder as God se woord te kyk vir kommunikasie met God is om jou eie aanbidding te skep. Mag ons oor God dink? Beslis, maar dan soos Hy Homself geopenbaar het in die Skrif. Mag ons nadink oor God se karakter en optrede? Beslis, maar dan soos Hy Homself verduidelik het en soos Hy in die geskiedenis opgetree het. Hierdie gebod verbied nie die gebruik van die sintuie nie net so min as wat dit die gebruik van die rede ontmoedig.

 

Moderne Christene word meer deur beelde as woorde aangetrek, meer gefokus op subjektiewe idees en menings as duidelike oortuigings die gevolg van ernstige Bybelstudie en nadenke. Hierdie gebod verseker ons dat God ons vir Homself gekies het; Hy het aan ons die vermoëns gegee om ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te hê. Dit is nie genoeg om die regte God te aanbid nie – ons moet die regte God reg aanbid.

 

Volgende keer kyk ons na die misbruik van God se Naam.

 

 




Die Tien Gebooie: Geen ander gode nie (3)

One living sermon is worth a hundred explanations –  Robert Coleman

 

Die Tien Gebooie: Geen ander gode nie (3)

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2)

 

Wat word van ons in hierdie gebod verwag? Luther het gevoel dat die gevaarlikste vorm van afgodery geregtigheid deur werke is. Want ek kan van hulle getuig  dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig (Romeine 10:2). Ons aanbid ons eie deugde: as ek dit doen, sal God dat doen … Ons verbreek hierdie gebod as ek iets of iemand anders aanbid, vertrou, aanroep of dank in plaas van God. Vertrou ek God volkome of maak ek staat op my eie vermoëns?

 

Wanneer ons in die moeilikheid is, na wie hardloop ons vir hulp? [Dit geld natuurlik onder alle omstandighede en nie net as ek iets nodig het nie.] Sê ons dat ons dit self kan doen; hardloop ons na ons afgode: besittings, vermaak, ens vir hulp? Het ons die regte insig om te besef dat God alleen die antwoord is? Ons moenie vir God dank net vir ons verlossing nie, maar ook vir die gawes wat Hy vir ons gee – ons werk, familie, vriende. Sien ons Hom as die Voorsiener van al ons behoeftes?

 

Dit is baie belangrik dat ons die God wat  in die Bybel beskryf word en sigbaar is in die persoon van Jesus Christus aanbid. In hierdie gebod word ons verbied om ons geloof in onsself of in iets/iemand anders te plaas. Ons moet slegs die een ware God wat Hom met ons in Jesus Christus versoen het, aanbid. Sonder hierdie God is daar geen verlossing nie.

 

Dit bring ons nou by die tweede gebod.




Die Tien Gebooie: Geen ander gode nie (2)

The Church exists for nothing else but to draw men into Christ, to make them little Christs. If we are not doing that, all the cathedrals, clergy, missions, sermons, even the Bible itself, are simply a waste of Time – C. S. Lewis

 

Die Tien Gebooie: Geen ander gode nie (2)

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2)

 

Ons kom nou voor ‘n belangrike vraag te staan: Wat is afgodery? Ons aanvaar dat ons weet wat afgodery is. Luister na Deuteronomium 6:4: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Die omliggende nasies het ‘n verskeidenheid van gode gehad – vir landbou, vrugbaarheid, liefde, oorlog, ens. Hierdie onpersoonlike magte het die heidene beheer. Godsdiens was ‘n afsonderlike kompartement in hulle lewe.

 

Ons moderne mense beskou al hierdie afgode as primitief. Is dit so? Sien ons nie dikwels dat God in beheer is van slegs ‘n spesifieke kompartement – godsdiens – in ons lewens nie. Die res van ons lewens word deur ‘n hele reeks ander gode beheer – beroep, besittings, familie, vriende, vermaak, die mode, ens. Sodra ons begin om ons lewens in kompartemente in te deel, het ons ernstige probleme. Nou glo ons Sondae is vir godsdiens, maar Maandag is vir werk. Ons werk behoort ‘n verlengstuk van ons aanbidding te wees.

 

Dit is duidelik dat ons siening van ‘n afgod te eng is. Dit is nie net beelde aan wie ons offers bring nie. ‘n Afgod is enigiets wat God se plek in ons lewe inneem. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

 

Ons sluit ons bespreking oor die eerste gebod af met die vraag: Wat word van ons in hierdie gebod verwag?

 

 

 




Die Tien Gebooie: Hoe gebruik ons dit?

The best way to overcome the world is not with morality or self-discipline. Christians overcome the world by seeing the beauty and excellence of Christ. They overcome the world by seeing something more attractive than the world: Christ – Thomas Chalmers

 

Die Tien Gebooie: Hoe gebruik ons dit?

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Daar is ten minste drie gebruike van hierdie geskrewe wet:

 

  • ‘n Siviele gebruik

As ons Romeine 1:29 – 32 lees, gee Paulus vir ons ‘n hele lys van verkeerde dinge wat die mens doen. Dit lyk nie juis asof ons die menslike natuur kan vertrou nie. Ongelukkig is die enigste ding wat ons soms keer om die wet te breek die dreigement dat ons gestraf gaan word. Die wet dien dus as afskrikmiddel in die siviele sfeer.

 

  • ‘n Teologiese gebruik

Die wet wys vir ons hoe ver ons tekortskiet aan die vereistes wat God neergelê het. Die probleem vir ons is dat die wet nie ons optrede met dié van ander mense vergelyk nie, maar met dié van God. Dit dryf ons tot wanhoop en veroorsaak dat ons skuiling teen God se toorn soek in Christus se geregtigheid.

 

  • ‘n Morele gebruik

Die wet is die volmaakte standaard wat God vereis. Ons gaan nie God se guns verwerf deur die hele wet te onderhou nie – dit is nie moontlik nie. Ons gehoorsaam God, want Hy het ons alreeds in Christus aanvaar. Vir diegene, soos die Fariseërs, wat dink dat hulle deur hulle eie geregtigheid met God versoen kan word, kom die wet om te veroordeel. Vir diegene wat die goeie nuus van God se vryspraak aanvaar,  gee die wet leiding.

 

‘n Psalm wat baie hieroor sê, is Psalm 119: Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe (Vers 32); Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar (vers 18). Daar is baie soortgelyke verse in hierdie psalm.

 

Ons is nou gereed om na die verskillende gebooie te kyk.