Is verstaan van die kultuur belangrik?

The band is rockin’, arms are swayin’, and you’re about to come on screen in high definition with such stunning visual clarity that even people in the nosebleed seats can see your perfect smile. Is this a rock concert? A beer commercial? Or just a typical Sunday morning? These days, it could be any of the above – Mercer Schuchardt

 

Is verstaan van die kultuur belangrik?

Ons hoor so dikwels dat as ons die Bybel wil verstaan, moet ons die kultuur van destyds verstaan. Is dit so? Kom ons kyk na  die reiniging van die tempel in Matteus 21:12 – 13. As ons hierdie verhaal werklik wil verstaan, moet ons iets van die kultuur weet.

 

  • Die tempel was die belangrikste plek op aarde vir die Jode – die heiligste plek in die heelal; die hart van die Joodse aanbidding; die kroonjuweel van Judaïsme. As Jesus, wat geen gesag op die tempelterrein gehad het nie, instap en die plek begin skoonmaak, hanteer Hy die hart van die Judaïsme. Nog nooit vantevore het iemand so iets gedoen nie.
  • Die sienings van die Messias by daardie mense – wat het hulle van die Messias verwag?  Hy was die verwagte Joodse koning wat Israel sou herstel en die Romeine sou uitdryf. Toe Jesus Jerusalem ingery het, vra die mense: Wie is hierdie man? (Matteus 21:10). Sommige sien Hom as ‘n koning en ander as ‘n profeet. Jesus het nie aan hulle verwagting van ‘n Messias voldoen nie.
  • Die Sanhedrin. Dit was die amptelike Joodse hof. Hulle gesag het hulle van die Romeinse owerheid gekry. Hulle is as ‘t ware deur die Romeine gekoöpteer. Messias-figure veroorsaak ‘n politieke krisis. Die tempel was die setel van die Sanhedrin se mag. Geen wonder dat die godsdiensowerhede later in die hoofstuk Jesus se gesag bevraagteken nie: En wie het u hierdie gesag gegee?  Wat hulle dink is: Ons het nie vir U die gesag gegee nie en dit is ons tempel.

 

Onmiddellik verstaan ons hierdie verhaal beter.




Lees die Bybel. Hoekom?

One of the most seductive false gospels is moralism. This false gospel can take many forms and can emerge from any number of political and cultural impulses. Nevertheless, the basic structure of moralism comes down to this — the belief that the Gospel can be reduced to improvements in behaviorAlbertMohler   

 

Lees die Bybel. Hoekom?

Natuurlik is dit belangrik dat Christene die Bybel moet lees. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van van siel en gees en van gewrigte en murg (Hebreërs 4:12). Maar dit is belangrik dat alle mense die Bybel moet lees en nie net Christene nie.

In The New Dictionary of Cultural Literacy skryf E. D. Hisch  dat no one in the English-speaking world can be considred literate without a basic knowledge of the Bible. Ons kan net nie ons taal verstaan sonder hierdie basiese kennis van die Bybel nie. Hoe sal jy weet wat bedoel word as iemand sê ‘n dit is ‘n geveg tussen Dawid en Goliat of as hy van die wysheid van Salomo praat?

 

Of ons nou sê iemand is die sout van die aarde of sê iemand het die goeie stryd gestry of sê ‘n klein hoeveelheid is ‘n druppel in die emmer,  jy praat die taal van die Bybel. Hierdie uitdrukkings, wat ons vandag so algemeen gebruik, kom uit die Bybel – lang blootstelling aan die Bybel het hulle deel van ons alledaagse taal gemaak. Daar is meer as 1300 aanhalings of verwysings na die Bybel in die werke van Shakespeare. Hulle sê hy het met die pen in die regterhand en die Bybel in die linkerhand geskryf.

 

Die Bybel is steeds die boek wat jaar na jaar die meeste verkoop in die wêreld. Dit is ‘n kragtige mag wat steeds die wêreld vorm. Net bloot uit die oogpunt van ons taal en kultuur is dit dus belangrik om die literatuur van die Bybel te verstaan.

 

 

 




Die kultuur in die gemeente

The more light that is given, the harder the human heart must become to reject it. —Erwin Lutzer

 

Die kultuur in die gemeente

Kerkleiers moet verantwoordelikheid vir die kultuur in hulle gemeente aanvaar. Strategie en struktuur is belangrik, maar kultuur is belangriker. Culture eats strategy for breakfast (Peter Drucker). In ‘n gemeentekultuur gesentreer op die evangelie is daar harmonie tussen teologie, filosofie en praktyk.

Teologie is hoe die gemeente oor God dink. Bedieningsfilosofie is hoe die gemeente oor bediening dink. Praktyk is wat die gemeente doen.

 

Teologie is die fondament van die gemeentehuis. Dit is nie uniek nie – dit is die woord van God en die evangelie van Jesus. Dit word ontvang en nie ontwikkel nie. Enige poging om die fondament aan te pas, maak die evangelie kragteloos en nutteloos. Geliefdes,ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas 3); Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus (1 Korintiërs 3:11). In Efesiërs 2:19 – 21 lees ons dat die kerk ‘n gebou is ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

 

Bedieningsfilosofie is die huis wat jy op die fondament gebou het. Dit moet in die evangelie geanker wees. Dit word bepaal deur die konteks waarin God jou geplaas het en die passie wat Hy in jou geplaas het. As die gemeente ‘n teologie gesentreer op Christus het, maar die evangelie dryf nie die filosofie nie, verwar dit mense – hulle weet nie hoe die evangelie in hulle lewens toepassing kry nie; daar is geen praktiese implikasies nie. As jou teologie geen impak op jou bediening het nie, is jou teologie waardeloos.

 

Bedieningspraktyk in ‘n gemeente met teenstrydige filosofieë ly aan ‘n persoonlikheidsafwyking. Hierdie verwarring is duidelik sigbaar in die praktyk. Gemeentes moet hulle praktyk ferm verbind aan hulle teologie en filosofie. Nou is jou kalender vol programme, maar sonder enige sin. Die gemeente se praktyk word grootliks deur die konteks bepaal. Jy het dus ‘n groot mate van vryheid solank as die teologiese fondament en die bedieningsfilosofie solied is. Praktyk is belangrik, maar dit is nie die beginpunt nie.

 

Die sinergie tussen teologie, filosofie en praktyk is belangrik, maar die harmonie word deur leiers gebou. In die Ou Testament het God profete, priesters en konings gebruik. Konings gee sterk leierskap; profete pas die waarhede toe; priesters offer. Hierdie is maar net ‘n skadubeeld van die volmaakte Profeet, Priester en Koning – Jesus Christus. Hy is die volmaakte profeet wat sy mense na God rig deur sy wysheid en onderrig; Hy is die volmaakte Koning wat sy koninkryk kom vestig het en sy gesag oor demone, die natuur en siekte bewys het; Hy is die volmaakte Priester wat in liefde en deernis sy kinders versorg en genees.

 

Jesus is die Leier van die kerk, maar Hy gee gawes en gesag aan diegene wat Hy as leiers van die kerk geroep het.

 

 




Jesus se gemeenskap

Tact is the ability to describe others as they see themselves. -Abraham Lincoln,

Jesus se gemeenskap

Hoe lyk ‘n gemeenskap wat op Jesus en sy werk sentreer – in die praktyk?  In Romeine 1 – 11 bespreek Paulus die volheid en heerlikheid van die evangelie. In Hoofstuk 12 beweeg hy na ons reaksie in die lig van die evangelie. In die laaste deel van die hoofstuk kry ons praktiese riglyne wat ons help in ons najaag van ‘n gemeenskap wat op die evangelie sentreer.

Nadat hy bewys het dat Christus die een is wat die gemeenskap vestig, rig hy ‘n uitdaging: die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid (Romeine 12:9 – 13).

 

Kom ons kyk na van hierdie stellings:

Die liefde moet opreg wees. Ware gemeenskap is eg. Die gemeenskap is nie oppervlakkig of vals nie; nie vol maklike antwoorde  nie – geen maskers word toegelaat nie. Sonde, vrese, probleme, mislukking word gereeld bely. Gelowiges word in gemeenskap met mekaar geplaas vir een rede: omdat God hulle uit hulle vorige lewenswyse geroep het.

 

Verafsku wat sleg is. So ‘n gemeenskap erken die teenwoordigheid van sonde, maar reduseer nooit die erns van sonde nie. Verafsku is ‘n sterk woord. ‘n Gemeenskap gesentreer op die evangelie skep ‘n veilige omgewing vir mense om eerlik te wees oor waar hulle is. Hulle bely hulle sonde. As God ons red, verander ons gesindheid teenoor sonde – ons verafsku dit meer en meer. Omdat ons dikwels nie ons eie sonde raaksien nie, het ons ander nodig om dit vir ons uit te wys. Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene (Spreuke 27:6).

 

Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar. Christene gee om vir mekaar. Maar Paulus gaan verder: bewys eerbied teenoor mekaar – teenoor alle gelowiges die hele tyd. Eerbied en liefde is aan mekaar verbind. As ons God se liefde vir ons – ten spyte van onsself – verstaan, kan ons ander liefhê – ten spyte van hulleself. Liefde vir God lei tot liefde en eerbied vir ander.

 

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Hierdie geld nie net vir individuele Christene nie, maar vir die hele geloofsgemeenskap. Werklike liefde  is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik (1 Johannes 4:10 – 12)

 

Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Hierdie gemeenskap word gekenmerk deur die warmte en gasvryheid wat voortdurend daaruit spruit. Ons is almal behoeftig. Omdat God in ons behoeftes voorsien het, moet ons in die behoeftes van ons broers en susters voorsien. Maar hierdie behoeftes is nie net materieel nie, maar ook geestelik. God het die geloofsgemeenskap gekies om te verseker dat sy kinders versorg word.

 

Die gemeenskap wat ons tans ondervind, is slegs ‘n weerkaatsing van die uiteindelike, ewigdurende gemeenskap. Daar is niks sterker en dieper om die gemeenskap op te bou nie as die evangelie nie. Gemeenskap is net so sterk soos dit waarop dit gebou is.