Die Ons Vader-gebed: Maar verlos ons van die Bose

Pleasure is the ray, God’s love is the sun. Pleasure is the shadow; God’s love is the substance. Pleasure is the stream, God’s love is the ocean (Jonathan Edwards)

 

Die Ons Vader-gebed:  Maar verlos ons van die Bose 

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Die woord wat hier met verlos vertaal word, beteken letterlik red of weggryp. Die Bose word hier nie as ‘n idee gesien nie , maar as ‘n werklikheid – ‘n roofdier wat wag, gereed om ons aan te val.

God word hier as ‘t ware gevra om ons weg te ruk tot buite sy bereik. Bose verwys hier nie na boosheid in die algemeen nie, maar na die bose een – Satan. Mense is boos, maar die Satan is die Bose – die verleier, die vals aanklaer, die vyand. Sy koninkryk is ook hier op aarde, want nêrens lees ons dat hy sy troon in die hel opgestel het nie.

 

Hy doen hom voor as die heer van die heelal en versoek Jesus in die woestyn (Matteus 4:3 – 10). Wat opvallend is, is die manier waarop hy Jesus benader. Soos Satan van ouds sê hy: Het God werklik gesê … (Genesis 3:1). Satan se voorstel aan Jesus behels ‘n strategie vir sy sending wat wondertekens insluit om sy Goddelike uniekheid te bewys. Dit is verbasend dat Jesus en Satan hier amper soos twee rabbi’s  praat – hulle stel argument en teenargument; hulle haal die Skrif aan.

 

Juis sy subtiele benadering, sy vroom verwysing na die Skrif en sy oënskynlike bekommernis oor Jesus wys vir ons hoe sleg hy is. Deur net woorde effens te draai, laat hy hulle sê wat hy wil hê hulle moet sê. Hierdie is die groot gevaar waarvoor ons staan. Die Bose val ons selde van voor af aan: Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14). Hy het baie verskillende strategieë wat hy gebruik. Hy kanaliseer die verlange van ons harte in die rigting waarin hy graag wil hê dit moet gaan. Sonder dat ons dit eers bemerk het, word ons met trots, gierigheid, selfsugtigheid, magshonger en eer gevul. Satan het in ons denke ingekruip en maak ons harte onsensitief  vir ons medemens se behoeftes. Hy dryf ons in ‘n hoek waaruit ons baie moeilik kan ontsnap. Hy gee selfs vir ons tegnieke om te rasionaliseer waarom ons is waar ons is. sy beleid is een van stille infiltrasie – ons sien nie eers dat hy die fondament van ons geloof en lewe ondergrawe nie.

 

 Verlos ons van die Bose is nie ‘n uitroep van wanhoop nie, want ons weet al Satan se pogings om ons uit God se hande te ruk, sal misluk. Al sy pogings sal gedwarsboom word.




Die Ons Vader-gebed: Laat ons nie versoeking kom nie

Everything the world has to offer, God is better and more abiding. There is no comparison. God wins, every time (John Piper)

 

Die Ons Vader-gebed:  Laat ons nie versoeking kom nie

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Reeds in die eerste hoofstukke van die Bybel lees ons van die versoeking van die eerste man en vrou. In die res van die Bybel is daar ‘n hele reeks verhale oor versoeking.

Versoeking voorveronderstel die spanning in mense tussen wat hulle is en wat hulle behoort te wees – tussen hulle huidige toestand en hulle toekomstige bestemming. Hierdie versoek in die gebed is ‘n erkenning van die menslike natuur se swakheid.

 

Versoeking kan of verleiding tot sonde of toetsing van die geloof beteken. Ons kry iets hiervan in Jakobus 1:2 -3: Julle moet bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom … as julle geloof die toets weerstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. Hier word beproewing  as‘n toets van ons geloof gesien.

 

Ons het versoekings nodig.  As hulle dan voordelig is hoekom bid ons dat ons nie in versoeking moet kom nie?  Die gevaar is tog nie versoekings nie, maar as ons toegee aan versoekings. Moet ons nie eerder bid dat God ons help om nie aan versoekings toe te gee nie? Kom ons kyk weer: Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Hierdie twee versoeke loop eintlik parallel tot mekaar. Beide praat van beweging van een posisie na ‘n ander een: laat … kom en verlos … van.

 

Die versoek laat ons nie in versoeking kom nie, verwys hier nie na ‘n toets nie. Dit gaan hier nie oor die suksesvolle weerstaan van ‘n toets nie; hierdie is nie ‘n toets om ons te versterk nie. Iemand wat hierdie gebed bid, het nie ‘n oormaat selfvertroue nie – hy is nie uitermate vroom nie. Hy vra nie dat God aan hom die geleentheid gee om getoets te word nie – hy vra om nie getoets te word nie. Om die waarheid te sê hy bid nie eers vir krag nie: As die versoeking kom, gee my die krag om dit te weerstaan. Versoeking is vir hom angs en vrees. Op die Olyfberg, net voor Hy gevange geneem is,sê Jesus vir sy dissipels: Bid dat julle nie in versoeking kom nie (Lukas 22:40). In werklikheid sê Jesus vir hulle: “Wees realisties oor julleself en julle vermoë om versoeking te weerstaan.” Hierdie versoek waarsku dus teen geestelike bravade – moenie uit jou pad gaan om uitdagings te soek nie, maar terselfdertyd aanvaar die swaarkry wat noodsaaklik is.

 

Miskien is daar ‘n dieper betekenis vir hierdie versoek. Ons moet onthou dat hierdie gebed in Jesus se tyd en in die vroeë kerk gebid is in ‘n tyd van vervolgings, maar ook ‘n vurige verlange na die einde van die wêreld. Die dissipels het geglo hulle leef in die laaste dae – die finale stryd tussen Christus en die magte van die Bose was naby.  As hulle hierdie gebed gebid het, het hulle nie aan alledaagse versoekings gedink nie – dit wat ons daagliks teenkom nie – maar aan die groot finale toets. Dit gaan hier oor die verwerping van Christus as gevolg van vervolging. Vir ons klink dit onwerklik – ons weet nie wat dit beteken en wat dit inhou nie. vervolging en martelaarskap is nie vir ons werklikhede nie.

 

Die versoek: laat ons nie in versoeking kom nie, is inderdaad ‘n angstige gebed. Maar hierdie angs word vervang deur die kalmte en geloof van diegene wat reeds gevra het dat die Vader se Naam geheilig word, dat sy koninkryk sal kom en dat sy wil op aarde sal geskied – mense wat reeds die oorwinning van God deur Jesus Christus geproe het. Mense wat Jesus se woord gehoor het: In dié wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33).

 




Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (2)

It is impossible for a man to be freed from the habit of sin before he hates it –  Ignatius

If people really see that Christ’s righteousness has been given to them entirely as a gift, they’ll do whatever Hy wants – John Bunyan

 

Die Ons Vader-gebed:  En vergeef ons ons oortredings  (2)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree

Hier word iets van die mens verwag – die enigste verwysing na menslike aktiwiteit in hierdie gebed.

Die beginsel van wedersydse vergifnis as kernelement in hierdie gebed word beklemtoon deur wat net na die gebed volg: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie (Matteus 6:14 – 15). Hier is ‘n paar belangrike punte in hierdie frase:

  • God se vergifnis van ons is nie afhanklik van ons vergifnis van ander nie. Ons vergifnis van ander verdien nie die reg dat God ons moet vergewe nie. Ons onderhandel nie hier met God nie. Maar wat beteken dit dan? Die gelykenis van die ongenadige amptenaar (Matteus 18:23 – 35) help ons. Nadat hy deur die koning vergewe is,weier hy om ‘n ander te vergewe. Ons kan nie twee gesindhede handhaaf nie – een teenoor God en een teenoor mense nie.
  • Ons kan nie ons vergifnis met dié van God vergelyk nie. Ons skuldenaars is nie so afhanklik van ons vergifnis soos ons van God se vergifnis is nie. Ons vergifnis bepaal nie hulle lewens soos God se vergifnis van ons ons lewens bepaal nie. Ons vergifnis is maar ‘n dowwe skaduwee van God se vergifnis.
  • Die woord oortredings in sy oorspronklike beteken skuld. Letterlik beteken dit dat ons ons skuldenaars moet vergewe – ons kanselleer die skuld van diegene wat ons geld skuld. Ons kan hierdie gedeelte van die gebed nie net as godsdienstig sien nie, maar ook sosiaal en ekonomies.
  • Hier is nog ‘n werklikheid te sprake: die moontlikheid van ‘n oortreding waarvan die oortreder totaal onbewus was. Die Fariseër in Lukas 18:9 – 14 was oortuig dat hy onskuldig was – hy was ‘n sondaar sonder dat hy dit besef het. Hierdie gesindheid is moontlik in ons verhouding met God, maar ook met ander mense. Die mense in Matteus 25:31 – 46 wat nie vir die mense kos en water en klere gegee het nie omdat hulle hulle nooit bewustelik raakgesien het nie, word nie deur  Jesus vrygespreek nie, maar veroordeel. Hierdie mense sê dat hulle onskuldig is, want hulle het nie geweet nie. Hulle is skuldig, want hulle behoort te geweet het. Ons moet altyd bid dat God ons  bewus sal maak van ons skuld waarvan ons onbewus is.
  • Vergifnis lê die fondament vir verhoudings in ons samelewing. Dit geld vir beide ons vertikale en horisontale verhoudings. Vergifnis lei tot dieper verhoudings – dit bind ons dieper aan mekaar.  Vergifnis kry nooit klaar nie

 

Volgelinge van Jesus wat vir vergifnis bid word aanmekaar en aan die Vader gebind. Hulle is die kern van die nuwe gemeenskap wat wag op die voltooiing van God se koninkryk.

 

 




Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (1)

Spiritual disciplines can trim the roots of sin, but only the gospel pulls up the roots (John Owen)

Reading the Bible doesn’t create intimacy with God, but it does make room for it (Paul Miller).

 

Die Ons Vader-gebed:  En vergeef ons ons oortredings  (1)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

En vergeef ons ons oortredings

Net soos die mens materieel nie sonder brood kan leef nie, kan hy nie geestelik en sosiaal sonder vergifnis leef nie. Vergifnis was die hele doel van Jesus se bediening.

In Jesus se tyd was daar drie kategorieë sondaars:

  • Jode wat kon reken op God se genade en vergifnis;
  • Heidene – hulle kon wel na Israel se God kom, maar hulle hoop om gehoor en vergewe te word, was maar min; en
  • Jode wat soos heidene was – tollenaars, prostitute, ens – was verlore en kon nie op God se genade aanspraak maak nie.

Maar dit is juis diegene in die laaste twee kategorieë wat nou hierdie blye nuus van vergifnis gehoor het. Ons sien dit in Jesus se gelykenisse oor genade – die verlore seun/skaap/muntstuk, die Fariseër en die tollenaar en ander. Dit was beslis nie die norm onder die Jode destyds nie. Geen wonder Jesus word vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper uitgekryt nie (Matteus 11:19). Kyk net wat doen Hy:

  • Hy roep ‘n tollenaar, Matteus, om ‘n dissipel van Hom te wees (Matteus (9:9);
  • Hy belowe die koninkryk van God aan heidene (Matteus 8:11 – 12);
  • Hy genees ‘n melaatse man en maak hom weer deel van die samelewing (Matteus 8:4).

 

Jesus bring ‘n nuwe idee na vore: God is primêr die God van sondaars; die Messias bevry ons van ons skuld en die las van ons gewetes. Diegene wat die Ons Vader-gebed bid besef dat hulle nie self hulle skuld kan betaal nie – hulle draai na God en vertel Hom van hulle probleem. Wat opvallend is, is dat daar baie mense is wat nie eers besef dat hulle skuldig was nie – dink maar net aan die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle het geglo hulle is regverdig en daarom het hulle nie vergifnis nodig nie. Geen wonder dat die meerderheid van Jesus se gelykenisse  oor vergifnis en genade nie aan tollenaars en prostitute gerig is nie, maar aan diegene wat oortuig was dat hulle geestelik gesond was – diegene wat geglo het dat hulle nie ‘n dokter nodig gehad het nie (Markus 2:17).

 

Maar wat vra ons dat God moet vergewe? Die 1933 Bybel verwys na skulde;  die 1983 Bybel na oortredinge. Die oorspronklike woord beteken eintlik skuld van geld, maar dit ontwikkel mettertyd ‘n sekondêre betekenis: dit verwys na die persoon in sy totaliteit. Almal van ons skiet tekort – ons kan nie eers probeer om vir God terug te gee wat Hy vir ons gegee het nie. soos die ryk jongman glo sommige van ons dat wat God vir ons gegee het aan ons behoort. Vergeef ons ons oortredings impliseer basies dat ons verhouding met God herstel word.