Sonder liefde is dit tevergeefs

The great Christian revolutions came not by the discovery of something that was not known before. That happens when someone takes radically something that was always there – H. Richard Niebuhr

 

Sonder liefde is dit tevergeefs

God is nie tevrede as ons Hom dien omdat dit van ons verwag word nie. God wil hê dat ons Hom moet dien omdat ons lief is vir Hom.

Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks (1 Korintiërs 13:1 – 3).

 

Paulus het hier ‘n indrukwekkende lysie saamgestel – die tale van mense en engele, die gawe van profesie, ken al die geheimenisse, besit al die kennis, geloof om berge te versit, deel alles aan ander uit, gee my liggaam prys. Sekerlik behoort dit ons in die top 1% van godsdienstige mense te plaas. Maar Paulus sê dat al hierdie dinge nie opweeg teen dit wat God graag wil hê nie – liefde. Sonder liefde is selfs die radikaalste toewyding aan Hom van geen waarde nie.

 

Jy kan al die geestelike gawes in die wêreld hê, jy kan absoluut gehoorsaam wees, jy kan al jou besittings uitdeel, jy kan die Bybel memoriseer, jy kan soos Martin Luther elke môre vier uur lank bid, maar as dit nie uit ‘n hart vol liefde vloei nie, is dit niks nie.

 

Om ware liefde in jou hart te kweek, vereis meer as geestelike gawes, groter Bybelkennis, absolute geloof en selfs radikale gehoorsaamheid. Dit vereis iets radikaal anders. Dit is nou waar die evangelie ter sprake kom. Net die evangelie kan liefde vir God in jou hart kweek. Paulus verwys na die evangelie as God se krag tot redding van elkeen wat glo (Romeine 1:16). As die evangelie verkondig word, maak die Gees die hart lewend om die heerlikheid en skoonheid van God wat daarin geopenbaar is, te sien. Die verhaal van Jesus se dood en opstanding het die krag om dooie harte weer lewend te maak.

 

Godsdiens kan vir jou sê wat om te doen – jy moet God met jou hele hart, siel, verstand en krag liefhê – maar net die evangelie gee vir jou die krag om dit te doen. Hoekom? Die evangelie bring ‘n gehoorsaamheid gedryf deur ‘n begeerte na vore.

 

Die probleem is dat ons allerhande kosmetiese veranderinge maak om ware hartsverandering te vervang. Ons soek nuwe geestelike gawes, ons ontdek weer ou aanbiddingstegnieke, ons sê ons moet die groot opdrag van Matteus 28 uitleef … Natuurlik het hierdie dinge ‘n plek, maar nie een van hulle lei tot liefde vir God nie. Net die evangelie kan dit doen. Sonder die evangelie is al die ander dinge nutteloos.

 

Die evangelie is nie die ABC van die Christelike geloof nie – dit is die A tot Z; dit is nie die eerste tree op die leer van die waarheid nie – dit is die spilpunt van al God se waarhede. Alle ander Christelike deugde vloei hieruit voort. Groei in Christus gaan nie verder as die evangelie nie – dit gaan dieper in die evangelie.

 




‘n Nuwe Kategismus: Inleiding (2)

Character cannot be developed in ease and quiet. Only through experiences of trial and suffering can the soul be strengthened, vision cleared, ambition inspired and success achieved.”  – Helen Keller

 ‘n  Nuwe Kategismus: Inleiding (2)

 

Hoekom nuwe katagismusse skryf?

Daar is tog baie uitstekende kategismusse wat die toets van die tyd deurstaan het. Hoekom  ‘n nuwe een? Mense besef nie dat daar ‘n tyd was toe dit normaal en belangrik en noodsaaklik was vir kerke om gereeld nuwe kategismusse te skryf nie.

Die Lutherse kerk het Luther se groot en klein kategismusse (1529). So is daar  Calvyn se Geneefse Kategismus (1541), die Heidelbergse Kategismus (1563) en die Westminster Kategismus. Dan is daar baie kategismusse wat net in bepaalde denominasies of groepe gebruik is.

 

Hoekom het mense kategismusse geskryf?

  • ‘n Omvattende uitleg van die evangelie.  Nie alleen word die evangelie verduidelik nie, maar ook die boustene waarop die evangelie gebou is, word uitgelê. Dit sluit dan dinge in soos die Bybelse leerstellings van God, die menslike natuur, van sonde, ens.
  • Die uitleg word op so ‘n manier gedoen dat dwaalleer, foute en dit wat die tyd en kultuur glo, hanteer en weerspreek word.
  • ‘n Meer pastorale doelwit was om ‘n onderskeibare groep mense – ‘n soort teenkultuur – te vorm wat meer en meer gelykvormig aan Christus word. Hierdie geld nie net vir die karakter van individue nie, maar ook vir die gemeente se kommunale lewe.

Hierdie doelwitte verduidelik waarom ‘n nuwe kategismus nodig is. Die uitleg van die leerstellings in die evangelie mag nie afwyk van dié van ouer kategismusse wat Bybels waar is nie, maar die kultuur en ook die versoekings en uitdagings waarvoor mense toegerus moet word om dit te hanteer, het verander.

 

Die nuwe kategismus

Die New City Catechism bestaan uit 52 vrae en antwoorde. [Die Heidelbergse Kategismus het 129 en die Westminster Shorter het 107 vrae en antwoorde.] Daar is dus een vraag en antwoord vir elke week. Dit pas dus gemaklik by die jaar in.

 

Dit is ‘n gesamentlike volwasse en kinder kategismus – dieselfde vraag word vir beide groepe gevra. Die antwoord vir die kinders is altyd deel van die antwoord vir die volwassenes. Dit beteken die ouers leer hulle kinders en leer terselfdertyd die antwoorde. Die kinders se antwoord is ‘n verkorte weergawe van die volledige antwoord.

 

Die New City Catachism is gebaseer op Calvyn se Geneefse Kategismus, die Westminster Shorter and Larger Catechisms, maar veral die Heidelbergse Kategismus. Dit stel mense dus bloot aan die insigte en rykdom van die kategismusse wat tydens die Hervorming ontstaan het. Dit sal hopelik mense aanmoedig om dieper te delf in die geskiedkundige kategismusse en om die kategetiese proses dwarsdeur hulle lewe vol te hou.

 

Die kategismus word in drie dele verdeel:

Deel 1 = God, die skepping en sondeval, die wet (20 vrae)

Deel 2 = Christus, verlossing en genade (15 vrae)

Deel 3: Gees, herstel, groei in genade (17 vrae).

 

Soos in meeste tradisionele kategismusse word elke vraag en antwoord vergesel van ‘n vers uit die Bybel. Vir elke vraag en antwoord is daar ‘n kort kommentaar en ‘n kort gebed geneem uit die onderrig en preke van leermeesters uit die verlede. Dit help lesers om na te dink oor die onderwerp wat ondersoek word. In die afdeling vir kinders word die vrae en antwoorde vergesel van dieselfde Bybelteks. Die gebede vir volwassenes is aangepas, gemoderniseer, korter en eenvoudiger om dit meer toepaslik vir kinders te maak. Daar is ook kort video kommentare deur moderne teoloë.

 

Hierdie nuwe kategismus bestaan uit 52 vrae en antwoorde. Hulle is veral goed vir studie in groepe soos families en kleingroepe (vir die eerste tien minute van die byeenkoms).

 

Die beplanning vir 2013 is soos volg:

  • Ons begin met ‘n reeks blogs oor die Apostoliese Geloofsbelydenis op 1 Januarie 2013.
  • Dit word gevolg deur ‘n reeks oor die Ons Vader-gebed.
  • Elke Sondag publiseer ons ‘n vraag en antwoord uit die nuwe kategismus

 




‘n Nuwe Kategismus: Inleiding (1)


“Learning is like rowing upstream; not to advance is to drop back.” – Chinese Spreekwoord

‘n  Nuwe Kategismus: Inleiding (1)

Vraag:              Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe?

Antwoord:        Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Hierdie is die beginwoorde van die Heidelbergse Kategismus. Ons kry variasies hiervan in baie van ons belydenisse en geloofstandpunte; hulle is bekend aan ons uit preke en boeke.

Tog weet baie min mense wat die oorspronklike bron hiervan is. Nog minder mense het hierdie vrae gememoriseer as deel van die Kategismus  waaruit hulle kom.

 

Baie gemeentes en Christelike organisasies publiseer “stellings van geloof” wat die raamwerk van dit wat hulle glo, vorm. In die verlede is verwag dat dokumente van hierdie aard Bybels ryk en versigtig saamgestel word; dat hulle gememoriseer sal word; dat hulle vir groei en onderrig van Christene gebruik sou word. Hulle word geskryf in die vorm van vrae en antwoorde en kategismusse genoem. [Die oorsprong is die Griekse woord katechein  wat “om mondeling te onderrig” beteken.] Die bekendste is die Heidelbergse Kategismus van 1563 en die Westminster Shorter and Larger Catechisms  van 1648. Hulle is nog steeds die leerstellige standaard van baie kerke in die wêreld.

 

Die verlore praktyk van kategese

Vandag het die praktyk van kategese, veral by volwassenes, feitlik heeltemal verdwyn. Moderne dissipelskapprogramme konsentreer op praktyke soos Bybelstudie, gebed, koinonia en evangelisasie. Hulle is baie dikwels oppervlakkig as dit by die Christelike leer kom. In teenstelling neem die klassieke kategese die student deur die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Tien Gebooie en die Ons Vader-gebed – ‘n perfekte balans van Bybelse teologie, praktiese etiek en ‘n geestelike ervaring. Die kategetiese dissipline van memorisering dryf konsepte dieper in die hart. Studente word ook so aanspreeklik gehou om die materiaal te bemeester – meer so as by tipiese dissipelskapkursusse. Die praktyk van vraag en antwoord bring studente en leermeesters in ‘n natuurlike, interaktiewe, dialogiese proses van leer.

 

Kategetiese onderrig is minder individueel en meer kommunaal. Ouers kan hulle kinders onderrig; leraars kan nuwe lidmate met ‘n kort kategismus en nuwe leiers met ‘n meer uitgebreide kategismus onderrig. Weens die rykdom van die materiaal kan kategetiese vrae en antwoorde in eredienste geïntegreer word.

 

Omdat ons die praktyk van kategese verloor  het, kry ons:  “Superficial smatterings of truth, blurry notions about God and godliness, and thoughtlessness about the issues of living—career-wise, community-wise, family-wise, and church-wise—are all too often the marks of evangelical congregations today...” (From Grounded in the Gospel: Building Believers the Old-Fashioned Way, deur Gary Parrett and J. I. Packer, gepubliseer deur Baker,  2010.)

 

Volgende keer gaan ons na die rede waarom nuwe kategismusse nodig is.




Danksegging onder alle omstandighede

Augustinus het gesê: Nothing, therefore, happens unless the Omnipotent wills it to happen, or he brings it about himself.

 

Danksegging onder alle omstandighede

Paulus sê ons moet onder alle omstandighede dankbaar wees – goed en sleg. Dankbaarheid is nie ‘n natuurlike deug nie, maar ‘n vrug van die Gees. Luister na Paulus se aanklag teen mense: Al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:21). Danksegging is ‘n erkenning van afhanklikheid. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Korintiërs 4:7).

 

 

As God se kinders moet ons Hom onder alle omstandighede dank. Lees net weer die verhaal van die tien melaatse mans wat Jesus genees het – al tien roep om genesing, al tien is genees, net een kom terug om vir Jesus te bedank (Lukas 17:11 – 19). Ons is ook so – gou om God se hulp te vra, maar ons vergeet van dankie sê. Ons moet ‘n gees van dankbaarheid kweek.

 

Ons het probleme om God te dank as die omstandighede sleg is. Maar ons glo tog dat Hy in beheer is en onder alle omstandighede aan die werk is. Ons moet hierdie waarheid aanvaar al weet ons nie hoe Hy alles ten goede gaan laat meewerk nie. Ons moet besef dat God op ‘n proaktiewe en nie op ‘n reaktiewe wyse werk. Hy reageer nie op ons omstandighede om die beste van ‘n slegte saak te maak nie. Hy weet vooraf presies hoe hy die omstandighede gaan gebruik. Josef sê vir sy broers: Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie (Genesis 45:8). Later sê hy vir hulle: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20). Daarom sê Paulus dat ons onder alle omstandighede dankbaar moet wees.

 

Is ons dankbaar genoeg?