Die evangelie is nie alles nie.

You gain strength, courage and confidence by every experience in which you really stop to look fear in the face. You must do the thing you think you cannot do. – Eleanor Roosevelt 

Die evangelie is nie alles nie.

Wat bedoel ons as ons van die evangelie praat? Nie alles wat in die Bybel staan, is evangelie nie. Die evangelie is ‘n boodskap van hoe ons van ‘n ramp gered is. Evangelie se agtergrond is ‘n nuusberig oor ‘n lewensveranderende gebeurtenis wat reeds plaasgevind het.

 

  1. Die evangelie is goeie nuus, nie goeie raad nie. Dit is nie iets wat ons doen – ‘n lewenswyse – nie. Dit is iets wat reeds vir ons gedoen is en waarop ons moet reageer. Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos (Psalm 40:10). Omdat die evangelie goeie nuus is, moet dit verkondig word – dit is immers wat ons met nuus doen.
  2. Die evangelie is goeie nuus wat aankondig dat ons verlos is. Waarvan is ons verlos? Jesus deur wie ons gered is van die oordeel wat kom (1 Tessalonisense 1:10). Hierdie is God se oordeel; ons verhouding met Hom is verbreek. In Romeine 1:18 – 32 identifiseer Paulus God se toorn as die groot probleem van die mens. Hierdie toorn van God het verskeie ramifikasies. Omdat ons van God vervreem is, is ons sielkundig van onsself vervreem – ons is skaam en bang. Maar ons is ook sosiaal van mekaar vervreemd en omdat ons van God vervreemd is, is ons ook fisies van die natuur vervreemd. Ons ondervind nou harde werk, fisiese degenerasie en die dood. Ons leef in ‘n wêreld vol lyding, siekte, armoede, rassisme, natuurrampe, oorlog, veroudering en die dood. Ons moet dus verlos word. Die wortel van die probleem is ons vertikale verhouding met God. Alle menslike probleme is eintlik simptome – ons skeiding van God is die onderliggende oorsaak. Die basiese oorsaak is dat ons nie met God versoen is nie. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8); Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Korintiërs 5:20). Die eerste en belangrikste ding wat die mens sal red, is om weer ons verhouding met God te herstel.
  3. Die evangelie is nuus oor wat Jesus Christus gedoen het om ons verhouding met God reg te stel. Om Christen te word beteken ons verander ons status: Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het (1 Johannes 3:14). Let wel: klaar oorgegaan het. Jy is of in Christus of nie; jy het die ewige lewe of jy het dit nie.

 

Die evangelie is goeie nuus – leef ons sodat mense kan sien ons het deel aan hierdie goeie nuus?




Hoop is skaars

The fact that I think that I am following your will does not mean that I am actually doing so. But I believe that the desire to please you does in fact please you – Thomas Merton (Thoughts in Solitude)

 

Hoop is skaars

As ons praat van hoop is Sefanja nou nie ‘n boek waaraan ons onmiddellik dink nie. Nie minder as twee en ‘n half van die boek se drie hoofstukke gaan oor diegene wat ander gode as YHWH dien.

Hulle aanbid vir Baäl (1:4), die hemelliggame (1:5), Milkom (1:5). Niemand ontsnap die profeet se ontsteltenis nie – die afgodspriesters (1:4), amptenare en prinse (1:8), die handelaars (1:11). Kortliks: almal wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed of kwaad nie (1:12).

 

Wat gaan gebeur met hierdie mense wat God verwerp?  Hulle besittings gaan geplunder word, hulle huise verwoes word. Hulle sal huise bou, maar nie daarin woon nie, wingerde plant, maar nie die wyn drink nie (1:13). God verwerp hulle net soos hulle Hom verwerp het.

 

In Hoofstuk 2 val die profeet die aanbidding en praktyke van die nasies om Israel aan: die Filistyne, dan die Moabiete en Ammoniete, die Kussiete (antieke Etiopiërs) en selfs die magtige Assiriërs. In 3:1 – 7 keer hy na die sondes van Jerusalem terug, maar in 3:8 – 13 kyk hy weer wyer as Israel. Maar die toorn van God word deur sy vrede en rus gevolg. Dat rus en vrede sal kom, is seker; wanneer dit sal gebeur, is onseker.

 

Ons leef in ‘n wêreld wat nie van dié van Sefanja verskil nie. Ons kan 3:14 – 20 nie verstaan as ons nie die agtergrond van die voorafgaande hoofstukke het nie. Ook Jesus is in so ‘n wêreld gebore – die goddelose wêreld van die Romeinse Ryk – ‘n wêreld vol afgode en inhaligheid en vals gode.

 

As die profeet  dan sy lied in 3:14 sing, vergeet ons baie maklik die kwaai woorde wat die lied vooraf gegaan het. Luister net na sy lied: Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Soos in 3:15 hoop ons saam met die profeet vir die dag wanneer die Here ‘n einde maak aan die straf en die vyande laat padgee. En dan die vreugde: Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.

 

Die lied sluit af: Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak Ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here (3:20). As ons die Ons Vader-gebed bid en vra: Laat u koninkryk kom,  sê ons dat ons wil hê dat God ons lewens op aarde moet beheer. Ons leef nie tans in ‘n wêreld wat deur God beheer word nie – ons verlang en bid vir daardie wêreld; daardie wêreld is aan ons beloof.

 

Ons leef nog in die wêreld van Sefanja 1 – 3:7 – ‘n wêreld van oorlog en gierigheid; ‘n wêreld wat nie in God glo nie. Maar ons het nog die belofte en ons klou daaraan vas.

 




Is ons missioneel?

It is true that the Lord’s Supper is only for sinners. But within that group, it is only for repentant sinners. —Mark Dever

 

Is ons missioneel?

Missioneel is nie ‘n gebeurtenis in ons reeds besige lewe nie – dit is die manier waarop ons lewe. Hoe is dit moontlik?

  • Eet saam met nie-Christene. Gaan saam met ‘n medewerker eet; nooi jou nie-Christelike bure om by julle te kom eet. Daar is baie geleenthede – gebruik hulle. Kom uit die Christelike subkultuur.
  • Loop, moenie ry nie. Loop rond in jou buurt; loop as jy gou gaan brood en melk koop. As jy loop, groet die mense wat jy nie ken nie. Maak vriende; kom uit jou huis uit; stel belang in jou bure en hulle kinders; vra vrae; bid soos jy loop.
  • Volg ‘n roetine. In plaas van sommer op enige plek jou kar vol petrol gooi, jou hare laat sny, gaan koffie drink, gaan elke keer na dieselfde plek. Glimlag, vra vrae – hulle ken jou mos. Bou so verhoudings.
  • Beoefen jou stokperdjie met nie-Christene. Geniet dit met ander mense. Geniet dit; wees jouself; maak vriende.
  • Praat met jou medewerkers. Koffietyd is praattyd. Stel in hulle belang; bid vir hulle; gaan saam met hulle uit.
  • Werk as ‘n vrywilliger  by organisasies buite die kerk – al is dit net een maal per maand. Dien jou samelewing.
  • Neem deel aan gebeure in jou stad. Praat daar met mense; bestudeer die kultuur; dink na oor wat jy hoor en sien; bid vir die stad.
  • Dien jou bure. Maak nie saak wat dit is nie, dien net. Wees kreatief.

 

Missioneel is nie “nog ‘n ding” wat ons by ons besige skedule moet voeg nie. Nee, maak jou huidige skedule missioneel.

 




Wie is Jesus?

Sin forsaken is one of the best evidences of sin forgiven. —J.C. Ryle

 

Wie is Jesus?

Niemand het nog ooit ‘n groter impak op die wêreld as juis Jesus Christus gemaak nie. Tog is daar baie min mense wat werklik weet wie Hy is. Baie mense sê dat sy verhaal in Betlehem begin, maar nou lees ons in Johannes 1:1 – 2: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. 

Jesus is die ewige Seun van God, wat beteken dat Hy geen begin en einde het nie. Sy geboorte in Betlehem was slegs sy fisiese koms na die wêreld wat Hy geskep het.

 

Jesus was die langverwagte Messias, wat na die wêreld gekom het om die roeping van God uit te voer.  In Matteus 16:13 – 16 lees ons van Petrus se belydenis. Jesus vra vir sy dissipels: Maar julle … wie, sê julle, is Ek. Dit is ‘n vraag wat elkeen van ons moet antwoord – daar is geen uitkomkans nie. Hy is of die Seun van God of Hy is ‘n bedrieër.

 

Petrus antwoord Jesus se vraag: U is die Christus, die Seun van die lewende God.  Jesus antwoord hom: Dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. Ons het ook die Vader se hulp nodig om te verstaan wie Jesus werklik is. Die beste manier om Hom te verstaan, is deur sy geboorte, lewe en bediening soos dit in die Skrif opgeteken is, te bestudeer.

 

Maar om te weet wat die Bybel alles oor Jesus Christus sê, is nie genoeg nie – ons moet reageer. Wat  gaan ons met Hom doen? Om die waarheid te hoor en dit dan te verwerp is geestelike selfmoord. Diegene wat die waarheid hoor en dit glo, ontvang die ewige lewe.

 

Wat gaan ons met Jesus Christus doen?