Psalm 32 (1)

 

We must train ourselves to be men and women of God, not well-dressed executives – Scott Dawson

 

Psalm 32 (1)

U het my skuld vergewe (32:1 – 11)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Die Psalm is ‘n danksegging of getuienis – in die openbare aanbidding bring dit die implikasies van dit wat die Here vir die psalmis gedoen het onder die aandag van ander mense. Hierdie getuienis het twee onderskeidende kenmerke:

  • Die onderwerp van die getuienis is ‘n besondere vorm van verlossing. Dit is die ondervinding van vergifnis en vrystelling wat volg op die erkenning van sonde nadat hy eers probeer het om dit te ontken
  • Die didaktiese element van die getuienis is opvallend.

 

Die psalm begin met ‘n veralgemening van die implikasies vir ander mense van die psalmis se ondervinding (vers 1 – 2). Eers daarna lees ons van die ondervinding self (vers 3 – 5). Daarna word die belang van die ondervinding weer beklemtoon (vers 6 – 7). Heeltemal onverwags volg ‘n woord van die Here aan die psalmis (vers 8). Die psalm sluit af soos hy begin het met verdere didaktiese veralgemenings en ‘n oproep tot wysheid en ‘n uitnodiging aan ander mense om hulle in die Here te verheug op grond van die implikasies van die getuienis (vers 9 – 11).

 

Nota: Ons sien ‘n paar keer in hierdie psalm  dat die woord Sela gebruik word – 73 keer word dit in die Psalmbundel gebruik. Die betekenis is onbekend. Dit is waarskynlik ‘n musiekterm. Sommige geleerdes meen dit dui op ‘n pouse in die lees of sing van die psalm.

 

32:1 – 2: Twee algemene stellings

Die digter begin met twee algemene stellings oor die mens se geestelike welsyn. Die digter het die greep van die sonde op sy lewe ervaar, maar hy het ook ondervind dat sy sonde vergewe is. Daarom gaan dit goed met hom. God reken sy oortredings nie meer toe nie. Om vergifnis te ervaar, is suiwer goedheid of seën. Beide verse sê wat God doen. Soos met die offer, lê God hier sy hand op die sondaar en sê: “Ek sien nie meer jou sonde nie.” Ons kry hier woorde wat die mens se sonde beskrywe: oortreding … sonde … skuld … bedrog. Die Here wil graag sondaars vergewe. Vergifnis was nog altyd deel van sy liefdevolle natuur. Hy het dit vir Moses gesê, aan Dawid geopenbaar en dit op dramatiese wyse deur Jesus Christus vir die wêreld gewys. Hier dui verskillende dinge op God se vergifnis: die wegneem van skuld en sonde, die feit dat dit nie vir die sondaar toegereken word nie en die feit dat hy in die regte rigting gelei en gestuur word. Paulus haal hierdie woorde aan (Rom 4:7 – 8) en sê dat die wonder van vergifnis deur geloof in Christus kom.

 

32 Van Dawid. ’n Maskiel.

[Maskiel: ‘n Tegniese term wat moontlik aandui dat die psalm vir onderrig gebruik is.]

Die opskrif vestig ons aandag dat hierdie psalm se doel is om Godgegewe duidelikheid te gee op ‘n verhouding met God en op die manier om te bid. In ons verbeelding kan ons sien dat dit Dawid is wat hier bid gevolg deur sy belydenis van sy verhouding met Batseba en sy moord van Urija.

 

Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.

Hier kry ons twee beskrywings van die aard van sonde en vergifnis. Sonde is soos ‘n opstand teen ‘n gesag of soos wanneer jy die teiken nie raakskiet nie of mik na ‘n teiken waarna jy nie veronderstel is om te mik nie. Verlossing is as jy die koste van die opstand op jouself neem en nie toelaat dat dit jou verhouding met die Here verbreek nie. Vergifnis kan ook beteken dat ‘n persoon se tekortkominge bedek word. Dit veroosaak dus nie openbare skaamte nie Geen wonder die psalm sê dat iemand wat so ‘n ondervinding gehad het gelukkig is nie.

 

2Gelukkig is die mens vir wie die Here skuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie.

Hier kry ons ander beelde vir sonde en vergifnis. Sonde  is ook skuld. Vergifnis beteken dat die Here die verkeerde dade wat ons doen nie toereken nie. Miskien dink die Here nie aan hulle nie – hulle is vergete.

 

Vers 1 – 2 spesifiseer die volle omvang van menslike goddeloosheid, maar ook die volledigheid van Goddelike vergifnis wat vreugde moontlik maak. Vers 2c praat van bedrog. Dit sê nie dat die gelukkige persoon vry van bedrog vir sy hele lewe moet wees nie. Ons sal dit moeilik kan rym met die erkenning van opstand, mislukking en verkeerd optree. Die psalmis verklaar dat daar ‘n openheid in verhoudings moet wees wat hierdie werklikhede erken eerder as om almal te probeer mislei. Om gelukkig te wees vereis God se liefde wat alles bedek en weier om te tel. Maar dit vereis ook openheid by die mens wat nie probeer mislei nie. Bedrog verwys gewoonlik na valsheid in jou verhouding met ander mense. Maar bedrog beteken ook dat ek my sonde teenoor die Here ontken. Dit kan ook my geluk in gevaar stel.

 

 




Dag 12: ‘n Verrassing

 

 

Dag 12:  ‘n Verrassing

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Sit in die hospitaal by die ouers van ‘n nuwe baba. Verpleegsters loop in en uit om seker te maak alles is reg met die baba.  Familielede kom bymekaar in die kamer en vertel vir die ouers hoe oulik die baba is. Nuwe babas kry baie aandag.

 

Met Jesus se aankoms het Hy volgens menslike standaarde maar min aandag gekry. Die Koning van die hele skepping word gebore – verontagsaam. Hy was ‘n “niemand-baba.” Hoekom? Deels omdat Josef en Maria in die oë van die wêreld “niemand” was nie. Josef was ‘n ambagsman in ‘n klein dorpie – Nasaret. Maria was ‘n jong vrou wat swanger was al was sy en Josef nie getroud nie. Hulle was juis die “niemande” wat God wou gebruik. Dit was ‘n verrassing.

 

Die skaapwagters was ook nie gerekende mense in die samelewing nie. Volgens die standaarde van destyds was die beroep van skaapwagter ‘n vuil beroep – hulle behoort aan die lae sosiale klasse. Tog het skaapwagters ‘n koninklike assosiasie in die Skrif. Hierdie growwe skaapwagters was die eerste mense wat Jesus na Josef en Maria as mens gesien het. Dit is ‘n verrassing.

 

Ook die sterrekykers uit die ooste was ook nie juis wat ons sou verwag om ‘n boodskap van God te ontvang nie. Hulle was oënskynlik ryk, maar hulle kom van buite Israel – hulle was heidene. Maar hulle was deel van God se lewensverhaal. Hulle was, in ‘n geestelike sin, “niemande.” Hulle reis ver in reaksie op God se verbasende boodskap – hulle volg ‘n ster. Hulle aanbid hierdie Koning-Kind. Heidene om die Joodse koning was beslis ‘n verrassing.

 

Gereeld doen God verbasende dinge. Sy boodskap kom in onverwagte pakkies; sy weë raak onverwagte lewens; God is die God van die “niemande.” Dit is my en jou storie. Mag ons die soort mense wees wat na ander “niemande” uitreik met hierdie verbasende goeie nuus: ‘n “Niemand-Baba” het gekom en Hy maak ons “iemand” in God se oë.

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (1 Korintiërs 1:25).

 

 




My identiteit (3)

 

The Jesus way wedded to the Jesus truth brings about the Jesus life – Eugene Peterson

 

My identiteit (3)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

In die vorige blog het ons na van die probleme van ‘n moderne identiteit gekyk. Is daar ‘n alternatief? Die gelowige in God kry sy vervulling in sy goddelike ontwerp en roeping. Daar is drie paaie na identiteit:

  • Kyk na buite – hierdie is die tradisionele mense wat na hulle plig en rol in die gemeenskap kyk om hulleself te vind.
  • Kyk na binne – hierdie is die groep waarna ons in die vorige blog gekyk het – die moderne mense.
  • Kyk na bo – hierdie mense kyk nie na binne of na buite nie, maar na bo. Wat nou belangrik is, is nie wat die samelewing van my dink of wat ek van myself dink nie, maar wat God van my dink.

 

Daar moet iemand wees vir wie jy liefhet en wat vir jou liefhet. As ons hierdie mag in die hande  van ‘n feilbare mens, wat gereeld verander, plaas, kan dit ons vernietig. Geen menslike liefde kan hierdie standaard bereik nie – slegs die onvoorwaardelike liefde van God is reg. Die Nuwe Testament erken self hierdie drie paaie na die mens se identiteit:

Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eers nie … Dit is die Here wat my beoordeel (1 Korintiërs 4:3 – 4). Paulus sê dat al wat vir hom belangrik is, is wat God van hom dink.

 

Paulus kan sê dat God hom beoordeel, nie met angs nie, maar met vertroue. Hoekom? ‘n Christelike identiteit word nie ontwikkel nie, maar ontvang. As ons vir God vra om ons te aanvaar en aan te neem doen Hy dit as gevolg van Christus. Wat nou van belang is, is nie my prestasies en pogings nie, maar my geloof in Jesus Christus. Hoe weet ons dit is waar?  Jesus Christus, Seun van God, wat die hoogste eer en Naam gehad het – die hoogste moontlike identiteit – het Hom van sy heerlikheid leeggemaak en sterf aan die kruis sodat ons ‘n identiteit kan hê wat vir altyd duur (Filippense 2:1 – 11). Dit is hoeveel hy vir ons omgee.

 

Volgende keer gaan ons verder na hierdie nuwe identiteit in Christus kyk.

 




Dag 11: Die Verlossing van Advent

 

Dag 11: Die Verlossing van Advent

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Jy is in ‘n pakhuis met rye en rye pakkies. Skielik slaan iemand die lig af. Dit is pikdonker. Jy moet nou tussen al die pakkies jou pad kry na die ligskakelaar. Wat het dit met Advent te doen? Alles.

 

Jesus het na hierdie donker wêreld gekom. Ons was vasgevang in die donkerte, maar hy kom as die lig na hierdie wêreld. Ons het hulpeloos in die donkerte rondgetas; ons het gesukkel om die sin en betekenis van die lewe te verstaan. Maar daar is goeie nuus: die gekruisigde en opgestane Here stap in die donkerte van ons pyn en lyding en gee aan ons ‘n uitgang daaruit. As ons Hom volg, kan ons die ewige lig van die lewe geniet. Wees iemand wat ander mense kan wys waar hulle ook hierdie Lig kan kry – hierdie Lig wat die deur na ‘n nuwe hoop en ‘n nuwe lewe oopmaak.

Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Johannes 8:12).