Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Where Christ is truly preached, there is the gospel; and where the gospel is truly believed, there is the church. —Mark E. Ross

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Die kerk: Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.

 

Ons gemeenskappe staan vol kerkgeboue. Om saam met mede-volgelinge van Jesus in ‘n spesiale plek bymekaar te kom, is belangrik vir ons geestelike groei. Dit is ‘n sigbare herinnering dat daar meer aan die lewe is as besigheid, inkopies, vermaak, ens. Ongelukkig kan die gebou ons fokus van wat die ware kerk moet wees, wegtrek. Die kerk is mense.

 

In die ware kerk staan die Heilige Gees sentraal – in ons vergaderings, missie en gebede. Jesus is aan die werk om deur die Heilige Gees sy kerk uit te bou en hiervoor gebruik Hy  mans en vrouens as boumateriaal. Petrus stel dit so: Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Petrus 2:5). In hierdie heilige priesterdom dien ons as God se verteenwoordigers op aarde. N. T . Wright stel dit so: As priests, we are bringing the presence of God into the wider world, carrying forward the mission of declaring God’s powerful and rescuing acts, and beginning the work of implementation the messianic rule of Jesus in all the world.

 

Dit skep vir ons ‘n probleem. Baie mense sien die kerk as die plek waar jy vriende ontmoet en so ‘n ietsie van God leer. Hierdie is ‘n selfsugtige motivering – ons wil ons begeertes gedryf deur ons verbruikersmentaliteit bevredig. Wat nodig is, is dat ons ons priesterlike identiteit aanvaar en God deur die plaaslike gemeenskap dien.

 

In die afwesigheid van die Heilige Gees se teenwoordigheid in die kerk, is die kerk stil en sonder lewe. Plaaslike gemeentes moet aanpas soos die kultuur om ons verander. Kerke moet verander om getrou aan Jesus, sy boodskap en sy verhaal te bly. Hierdie kerk wat voortdurend verander, is, volgens die belydenis, ‘n heilige kerk. Heiligheid beteken nie ons kom al die reëls na nie; heiligheid beteken ons word meer soos God: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Matteus 5:48). Dit maak die kerk anders as die kultuur waarin ons leef. Daarom moet die kerk anders as die wêreld lyk – die kerk leef volgens ander waardes.

 

God het die kerk tot stand gebring om vir die wêreld te wys hoe ons moet leef – verhoudings, die huwelik, die gesin, geregtigheid ens. Ongelukkig word die kerk so dikwels deur interne struwelinge gekenmerk. Dit vereis nederigheid en selfopoffering. Sien die samelewing reg en geregtigheid in die kerk?

 

Die kerk is ook ‘n algemene kerk. Dit beteken ons glo aan ‘n groter kerk as net ons eie plaaslike gemeente. Dit bestaan uit mense dwarsoor die wêreld wat in Jesus glo, die Skrif liefhet en die belydenis aanvaar. Maar wat van al die verskillende denominasies? Die belydenisse is die basis waarop ons die eenheid in die kerk behou. Ons kan verskil oor kerkleierskap of die vorm van openbare aanbidding, ens. Ons mag egter nooit toelaat dat hierdie nie-noodsaaklike elemente die belangrikste elemente in die lewe van die kerk word nie.

 




My Roeping: Hoe stel ek dit vas?

Community thus is obedience practiced together (Henri Nouwen)

 

My Roeping

Die kerk sit vol mense wat angstig is om van God te hoor. Om God te hoor en te doen wat Hy sê, is twee verskillende dinge. Baie van ons glo dat God ‘n plan en doel vir ons lewens het, maar hoe stel ons dit vas? Die grootste rede waarom mense nie kan vasstel wie hulle is, is omdat hulle nog nie vir God ontdek het nie, want as jy Hom ken, verander jy.

 

 

Hoe stel ek my roeping vas?

  • Ontdek God

Voor jy jouself kan verstaan, moet jy eers vir God ontdek. Ons fokus op onsself. Of ons nou ‘n goeie of slegte selfbeeld het, ons het probleme. Dit verhoed dat ons ander werklik kan liefhê. Dit verhoed ook dat ons in eerbied voor God staan en Hom aanbid. God het ons gemaak. Ons kan nie veel oor onsself ontdek voordat ons eers ons Skepper ken nie. Om God te ontdek, beteken eenvoudig om tyd saam met Hom te spandeer – tyd in sy woord en tyd in gebed; dit beteken ek laat die Heilige Gee my vervul en die waarheid aan my openbaar.

 

  • Ontdek wie jy in Christus is

As ek God ken, verander Hy my. As die Heilige Gees in ons woon, word ons verander en herstel. Ons word meer die weerkaatsing van Christus – iets wat ons veronderstel is om te wees. Jy is die enigste persoon wat gekwalifiseer is om dit te doen waarvoor God jou geskep het. Sonder Christus verloor ons ons kwalifikasies. As gelowige is jou doel om die koninkryk van God uit te bou, maar in hierdie projek het elke gelowige ‘n spesifieke rol wat hy moet vervul. Dit is hierdie spesifieke rol wat God aan ons moet openbaar. Hiervoor het ons ons geestelike gawes nodig, maar sy Gees moet jou daartoe bemagtig. As jy onseker is of God jou spesifiek lei, gaan jy aan en doen die dinge waarmee jy besig is. Intussen verdiep jy jou verhouding met God. Moet net nie op een plek vashaak nie. Miskien is jy alreeds op jou regte plek.

 

  • Begin

As jy jou roeping begin uitleef, kan jy teenstand verwag. As jy ‘n gemaklike lewe verwag het, sal jy teleurgestel wees. Jy sal swaarkry, maar jy sal leer hoe om dit te hanteer.  Daar sal moeilike tye wees, maar ook ‘n gevoel van tevredenheid en vervulling en ‘n begeerte om vorentoe te beweeg en meer van God en sy plan te wete te kom. Langs die pad sal jy ‘n paar dinge nodig hê:

  1. Mentors om jou raad te gee en te verseker dat jy op die regte pad is.
  2. Mense saam met jou om jou daaraan te herinner dat jy nie alleen is nie.
  3. Mense wat nog nie so ver as jy op die pad gevorder het nie. Dit is belangrik om die volgende geslag te bou.

 

  • Druk deur na jou doel

Soms mag jy verveeld raak; soms voel jy dat jy op een plek stilstaan; soms voel jy dat jou entoesiasme besig is om af te neem. Belangrik om die fokus te hou op die pad waarop God jou lei. Lees gereeld jou Bybel en bid gereeld. Dit hou jou op die regte pad. Onthou altyd wat God reeds vir jou gedoen het. Hy het jou gekoop. Genoeg om oor opgewonde te raak.

 

God roep elkeen van ons. Vind uit wat jou roeping is en leef dit uit.




Psalm 119:46

 “ When you choose your friends, don’t be short-changed by choosing personality over character” –  W. Somerset Maugham

 

Psalm 119:46

Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordenings met vrymoedigheid aanhaal (NAV)

Ook wil ek voor  konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie (OAV)

Voor belangrike mense wil ek oor U praat sonder om skaam te wees (Die Boodskap)

 

 

Die psalmis praat hier oor regte konings. In die tyd van die Ou Testament kon ‘n koning slegs oor ‘n paar duisend mense geregeer het. In Genesis 14 lees ons van vier konings wat oorlog maak teen vyf konings – twee koalisies. Daar lyk dit asof ‘n koning net oor ‘n stad heers – amper soos ‘n burgermeester. Hulle is waarskynlik nie demokraties verkies nie.

 

Maar dit sou nogtans moed vereis het om voor ‘n koning van God se getuienisse/verordeninge te praat. Wat gee aan die psalmis die moed om so iets te doen? Hy weet dat hy nie beskaam sal word nie. As jy in die openbaar wil praat, het jy vertroue nodig. Het jy al ‘n spreker gesien wat sy vertroue verloor het? Jy kry so iemand baie jammer. Die psalmis het egter volle vertroue in God en in sy woord.

 

Maar waar kom hierdie vertroue vandaan? As ons hierdie psalm in sy geheel lees, is dit as gevolg van sy lewenslange verhouding met God en ‘n algemene toewyding aan God se verordeninge.

 

Is ons bereid om openlik oor God en sy woord te praat of is ons skaam?

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (9)

If you would make your last words worth the hearing, let your whole life be worth the seeing. — C.H. Spurgeon

 

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (9)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Die Gees: Ek glo in die Heilige Gees

 

Voordat Jesus opgevaar het, beveel Hy sy dissipels om in Jerusalem te wag op die gawe wat die Vader belowe het (Handelinge 1:4). Op die dag van die pinksterfees word die Heilige Gees uitgestort en Jesus se volgelinge word gevul met die teenwoordigheid van God. Die Heilige Gees, soos die wind, word nie maklik gedefinieer nie. Wie en wat is die heilige Gees.

  • Die Heilige Gees is God. Dit beteken Hy is persoonlik en ons kan ‘n verhouding met Hom aangaan. Hy is nie ‘n krag of energie nie. Hy maak God ‘n werklikheid in ons lewens.
  • Die Heilige Gees is die Gees van waarheid. As die Heilige Gees in ons midde werk, kom die waarheid na vore.
  • Die Heilige Gees is die Gees van heiligheid. Om heilig te wees, is nie dieselfde as om godsdienstig of geestelik te wees nie – heiligheid beteken ek word afgesonder. Die Heilige Gees verander ons sodat ons meer en meer soos Christus word – beelddraers van God.
  • Daar is interaksie tussen die Heilige Gees en God se skepping. Die Heilige Gees maak ons ontmoeting met God ‘n werklikheid. Hy bemagtig ons en gee aan ons sekere gawes; Hy stel ons in staat om ander te dien. Ons ken God nie deur ‘n aantal feite te memoriseer nie, maar deur ‘n persoonlike ontmoeting.
  • Die heilige Gees produseer vrugte. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22 – 23)
  • Die Heilige Gees kan nie deur menslike rede beperk word nie. Ons kan nie die Gees inperk of ten volle verstaan nie.

 

 Daarom dat ons in die Heilige Gees glo.