My roeping

 “If preachers decide to preach about hope, let them preach out of what they themselves hope for.” ~ Frederick Buechner  

 

My roeping

Martin Luther sê dat die hele Bybel in Johannes 3:16 saamgevat word: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hier het ons die evangelie van Jesus Christus:

 

  • Hoekom het Hy gekom? Om te sterf.
  • Wat het God gemotiveer om Hom te stuur? Sy liefde vir die wêreld.
  • Wie is Jesus Christus? God se enigste Seun.
  • Hoe ontvang ons die voordeel? Deur geloof in Jesus Christus
  • Wat is hierdie voordeel? Die ewige lewe.
  • Wat is die gevolge as ons Hom nie ontvang nie? Die ewige straf.

 

Elke gelowige het ‘n opdrag gekry. Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels. Twee maal sê Hy: Vrede vir julle!  Daarna volg sy opdrag: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook (Johannes 20:21). Ons taak is duidelik: vertel vir almal dat God sy Seun gestuur het om vir ons die kruisdood te sterf sodat ons die ewige lewe kan ontvang. Hierdie is nie ‘n taak net vir leraars nie, maar vir alle gelowiges. Ons moet praat met ander  mense asof niemand anders dit gaan doen nie.

 

Praat ons nog oor ons geloof of is ons bang ons gee aanstoot.

 




Onderrig en leer

 “God has ordained that our preaching become deeper and more winsome as we are broken, humbled, and made low and desperately dependent on grace by the trials of our lives.” ~John Piper

 

Onderrig en leer

Stigler, ‘n Professor in Sielkunde aan die Universiteit van Kalifornië, bestudeer leer en onderrig in verskillende dele van die wêreld. Hy het ‘n baie interessante waarneming gemaak oor die benadering tot kinders wat intellektueel sukkel tussen die Weste en die Ooste.

 

 

In die Weste word kinders wat intellektueel sukkel gesien as kinders met ‘n lae vermoë. Mense wat skrander is, sukkel nie – hulle verstaan dinge natuurlikerwys.

 

In die Oosterse kulture word sukkel as ‘n geleentheid gesien. Dit word eenvoudig aanvaar dat sukkel ‘n voorspelbare deel van die leerproses is. Dit word van almal verwag om te sukkel. Daarom word dit ‘n geleentheid vir die skolier om te wys dat hy emosioneel in staat is om die probleem op te los as hy volhard. Hulle word geleer dat sukkel ‘n goeie ding is.

 

Om intellektueel te sukkel word as ‘n aanduiding van swakheid in die Weste gesien. In die Oosterse kultuur word dit nie net aanvaar nie, maar word dit as ‘n maatstaf vir emosionele krag en volharding gesien.

 

Miskien moet ons ons benadering tot kinders wat intellektueel sukkel weer herdink.

 




Geestelike gawes , vrugte van die Gees en talente

All man by nature desire to know – Aristoteles (Metaphysics)

 

Geestelike gawes , vrugte van die Gees en talente

Die Heilige Gees gee aan elke gelowige ‘n besondere stel geestelike gawes wat gebruik moet word om ander op te bou. God gee aan ons gawes, talente en vermoëns. Maar ons moet tussen gawes, vrugte en talente onderskei.

 

  • Geestelike gawes en vrugte van die Gees

Geestelike vrugte is iets wat ons is; geestelike gawes is iets wat ons doen. Elke Christen moet al die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22 – 23) hê, maar geen Christen het al die gawes nie.

  • Geestelike gawes en talente

Alle mense het talente wat hulle gebruik in hulle werk wat die samelewing mag dien. Christene het ook talente as mense na die beeld van God, maar hulle het ook gawes as God se kinders – God se nuwe skepping. Christene moet dus vasstel hoe hulle talente hulle vir ‘n sekere werk toerus, maar hulle  moet ook vasstel hoe hulle gawes hulle toerus vir spesifieke bedienings.

 

As ons ons geestelike gawes gebruik, moet  ons twee probleme vermy:

  • Dit is nie my gawe nie.  Elke gawe wat ons ontvang het, is ook ‘n opdrag wat aan alle Christene gegee is. Almal is nie evangeliste nie, maar almal moet getuig; nie almal is diakens nie, maar almal moet dien. Ons kan nie sê dat omdat dit nie my gawe is ek dit nie hoef te doen nie.
  • Projeksie van gawes. Hier is eintlik twee maniere waarop dit werk:

Ek voel skuldig, want my gawes is nie so “goed” soos dié van ander nie.

Ander voel skuldig, want hulle nie so passievol  soos ek is nie.

 

Alle gelowiges moet hulle geestelike gawes vasstel en dit dan in die gemeente gebruik.

 

.




Val die kerk aan – enkele mites

The trees that are slow to grow bear the best fruit. –Moliere


Val die kerk aan – enkele mites

Gelowiges moet hulle vermoë om te onderskei, opskerp. Hier is vier mites wat ons vandag algemeen hoor:

  • God se woord is nie voldoende nie.

Die woord van God het nie al die antwoorde vir die ingewikkelde probleme van vandag nie. Wat ons nodig het is sielkunde – letterlik die studie van die siel!”

Maar God het reeds ‘n boek oor die siel geskryf – die Bybel. Sielkunde gee nie die antwoorde op  wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien nie (2 Petrus 1:3). As jy ‘n probleem of ‘n las het, is die antwoord nie om na ‘n berader wat nooit die woord van God oopmaak en wat nooit bid, toe te gaan nie. As die antwoord op jou probleem jou nie nader aan God bring nie, was dit nie die antwoord  vir jou nie.

 

  • Die woord van God is nie gesofistikeerd nie

“As jy regtig mense wil bereik – veral  jongmense – het jy ‘n meer gesofistikeerde boek as die Bybel nodig.”

Luister net wat sê sekere kerke:

“Ons kerk is nie net ‘n kerk nie – dit is ‘n avontuur.”

“Ons sal vir jou die hulpbronne en geleenthede gee om oor jouself na te dink; om ‘n gebalanseerde lewenstyl te ontwikkel; om die gesonde, hele persoon te ontdek – iets wat God belowe het.”

 

Dit is nie die antwoord op mense se probleme nie. Wat nodig is, is ‘n vertikale fokus op Christus self.

 

  • Die woord van God is nie vas nie

Die woord ontwikkel nog – die boodskap verander nog. Alles is nog vloeibaar.”

Hierdie mense glo dat die Bybel verskillende dinge vir verskillende mense beteken. In ons moderne kultuur beteken die Bybel eintlik iets anders as wat dit vir die vroeë Christene beteken het. Alles waarvan ons nie hou nie, is nou skielik van geen toepassing meer nie.

 

  • Die woord van God is nie waar of betroubaar nie

Christus is nie uniek nie en daarom moet ons sy sogenaamde unieke boodskap verwerp.”

As ons nou vinnig verhoudings wil verbreek moet ons Handelinge 4:12 aanhaal: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde  aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie. Is ons nog bereid om Johannes 14:6 hardop te bely: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

 

Wat moet ons as gelowiges doen? Die hele tyd hierdie mites aanval? Dit is nodig, maar Paulus se oproep op Timoteus mag ons nooit vergeet nie:  Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit (2 Timoteus 4:5). Gaan voort met jou bediening; moenie toelaat dat ander jou aandag aflei nie.