Hoekom bereik ons nie die kerklos mense nie?

Democracy means government by the uneducated, while aristocracy means government by the badly educated ― Gilbert K. Chesterton

 

Hoekom bereik ons nie die kerklos mense nie?

Thom Rainer, die President van LifeWay Christian Resources, ‘n navorsingsinstelling, identifiseer ‘n aantal redes waarom ons nie kerklos mense bereik nie. Hoekom sukkel ons so om ons geloof met ander te deel?

 

  • Geestelike traagheid. Eenvoudig gestel: Ongehoorsaamheid. Geestelike traagheid kom as ons God nie gehoorsaam nie. Die probleem is dat baie gelowiges nie geestelik groei nie. Dit lei, onvermydelik, dat ons nie Christus met ander wil deel nie.
  • Toenemende inklusiwiteit.  Pluralisme – alle gelowe lei na God –  is vinnig besig om in die kerk toe te neem. Hierdie siening is dat Jesus Christus die enigste weg na verlossing is, maar dat ons Hom in ander “goeie godsdienste” kan kry. Mense glo dat “goeie mense” op een of ander manier in die hemel sal kom, sonder dat hulle waarlik bekeer word.
  • Toenemende verwerping van die hel.  As ons die bestaan van die hel ontken, is daar geen dringendheid om ons geloof in Christus te plaas nie.
  • Besig wees. Dit is waarskynlik een van Satan se doeltreffendste strategieë. Ons is so besig ons het nie tyd om dit wat die Bybel ‘n hoë prioriteit noem, te doen nie. Die kerklos mense wag dat ons hulle van Christus moet vertel – hulle moet op ons te-doen lysie wees, maar daar is nie plek op ons lysies nie. Watter prioriteit gee ons aan uitreik na kerklos mense?
  • Vrees vir verwerping.  Eintlik is dit onnodig. Daar is mense met ‘n antagonistiese gesindheid, maar hulle verwerp jou nie persoonlik nie. Vrees vir verwerping is nie ‘n verskoning nie.
  • ‘n Begeerte om verdraagsaam te wees. Die boodskap van die Bybel is soms onverdraagsaam. Die een ware God maak dit baie duidelik dat daar geen ander gode kan wees nie – Hy is ‘n jaloerse God. Jesus het nooit gehuiwer om duidelik te sê dat Hy die enigste weg na die enigste ware God is nie. Ons is so bang ons word as onverdraagsaam beskryf.
  • Ons verloor die gewoonte om te getuig. Vir een of ander rede hou sommige gelowiges op om te getuig – dit is nie meer vir hulle ‘n prioriteit nie. Getuig, soos gebed en Bybelstudie, is ‘n dissipline wat gereeld beoefen moet word of ons verloor die gewoonte.
  • Geen aanspreeklikheid nie.  Of jy nou getuig teenoor kerklos mense of nie maak vir baie gemeentes nie saak nie. Maar wat van ons aanspreeklikheid teenoor God?
  • Ek nooi nie mense uit nie. Wanneer laas het jy iemand wat lank laas in die kerk was, uitgenooi om ‘n erediens saam met jou by te woon? Eenvoudig, maar ons doen dit nie.
  • Ons sit in gemeentes wat nie kerklos mense bereik nie – dit is nie op hulle radarskerm nie.

 

As ons mooi na hierdie redes kyk, is dit duidelik dat ons met God se hulp en krag hierdie mense kan bereik – ons moet net besluit dat ons dit moet doen.

 




Vrae

To know the will of God is the greatest knowledge! To do the will of God is the greatest achievement! —George Truett

 

Vrae

Kinders peper mense met vrae – veral net voor hulle skoolouderdom bereik. Hulle leer egter gou dat te veel vra lei tot: “Want ek het so gesê!” Daarom leer meeste van ons om minder vrae te vra. Soos kinders is mense wat pas tot geloof gekom het ook nuuskierig. Soos kinders beperk hulle gou hulle vrae, want die antwoord op hulle vrae is: “Maar ons het dit nog altyd so gedoen!”

 

 

Ons kla gedurig dat die kerk in die moderne wêreld irrelevant geword het. Een metode om hierdie probleem te oorbrug, is deur goeie antwoorde op goeie vrae te gee. As iemand vrae vra oor ‘n praktyk of idee beteken dit nie dat hy die waarde daarvan betwyfel nie. Maar om te praat waarom ons doen wat ons doen en glo wat ons glo, is vir ons van groot waarde. Hoekom?

  • Dit help ons om weer aan ons doel te dink. Hoekom is die kerk hier? Hoekom het ons al die bedienings? Moet ons nie sekere dinge los en eerder op ander konsentreer nie?
  • Ons sien hoe dinge met mekaar verbind op maniere wat ons nie vantevore raakgesien het nie.

 

Ons doel is om die wil van God te doen – as individue en as gemeente van Christus. Moeilike vrae laat ons dink aan die verband (of gebrek aan verband) tussen God se wil en ons planne.

 




Jesus, die Vredemaker

True joy comes only from God and He shares this joy with those who walk in fellowship with Him. —Jerry Bridges

 

Jesus, die Vredemaker

In Paulus se dae het die buitenste hof van die tempel  as die Hof van die Heidene bekend gestaan. Dit was van die binneste howe deur ‘n muur geskei. Daar was ‘n duidelike waarskuwing op die muur aangebring wat vreemdelinge gewaarsku het, dat as hulle die binneste howe sou betree hulle slegs hulleself kan blameer vir hulle dood. Is dit nie wat Paulus in gedagte gehad het toe hy Efesiërs 2:14 – 18 geskryf het nie?

 

 

Die werk van Jesus Christus het die geestelike dinamika tussen Jode en heidene fundamenteel verander. Dit vee nie God se vroeëre beloftes aan die Jode uit nie. As dit egter by verlossing kom, het God nie afsonderlike paaie vir Jode en nie-Jode nie. Beide word deur die evangelie van genade en geloof in Jesus Christus verlos.

 

Die evangelie het die muur tussen Jode en nie-Jode verwyder. Almal het direkte toegang tot God; deur Jesus Christus het die ou verdeling geen betekenis meer nie. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie; in Christus Jesus is hulle almal een (Galasiërs 3:28). Almal kan reageer op Christus se uitnodiging om na Hom te kom.

 

Hierdie verandering was nie die gevolg van sosiale of politieke ingryping nie, maar as gevolg van ‘n Persoon. Jesus het die muur verwyder deur sy offer aan die kruis. Hierdie optrede van Hom open die weg van versoening.

 




Algemene en spesiale openbaring

 ‘Christians do not have friendships in order to smooth talk one another, but rather to focus on care for one another’ — John Calvin 

 

Algemene en spesiale openbaring

Openbaring verwys na die bekendmaking van iets wat vantevore onbekend was. In teologie beteken dit die openbaarmaking van die kennis van God se karakter en sy weë. In die Bybel lees ons van twee tipes openbaarmaking:

 

  • Algemene openbaring

Dit verwys na ons kennis van God wat in die skepping geopenbaar word: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee (Psalm 19:2 – 3). Paulus maak dit duidelik in Romeine 1:18 – 20: God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want Gods het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie.

 

  • Spesiale openbaring

Hierdie kennis van God kom na ons deur veral die profetiese woord wat ons in die Bybel kry. Dit is waarna Paulus in 2 Timoteus 3:14 – 15 verwys:  Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was, en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Sonder hierdie heilige Skrif wat van God af kom – die spesiale openbaring –  is verlossing onmoontlik. Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” (Romeine 10:13 – 15)

 

Die mens verwerp die algemene openbaring van God. Maar in sy genade stuur Hy vir ons ‘n ander Woord – een van barmhartigheid en versoening deur die dood van sy Seun. Almal wat hierdie openbaring ontvang en daarop vertrou, sal gered word.