Ons roeping op aarde

 “Happiness is neither virtue nor pleasure, 
nor this thing nor that, 

but simply growth. 
We are happy when we are growing.” 
– W. B. Yeats

 

Ons roeping op aarde

Die koninkryk begin met Jesus se koms na die wêreld as mens; toe Jesus uit die graf opstaan, oorwin Hy die dood en die hel. Die werk om God se koninkryk finaal en volkome te vestig, was egter nie klaar nie. Totdat Jesus weer kom, het gelowiges nog werk om te doen.

Ons moet mense oproep om hulle te bekeer en die goeie tyding van sy verlossing te aanvaar. In hierdie tussenin tye het die kerk en gelowiges werk om te doen. Ons kan nie die wêreld heeltemal regmaak nie – dit is God se werk – maar ons doen waartoe ons deur Hom geroep word.

Miskien kan hierdie drie punte ons help om duidelikheid te kry oor ons roeping op aarde.

  • Ons roeping is om Jesus met ‘n gebroke wêreld te deel. Dit is meer as die doen van goeie werke. Natuurlik is dit noodsaaklik om goed aan ander te doen, maar is dit al? So dikwels in ons pogings om aan die behoeftes van ander te voldoen, skuif ons die evangelie wat hierdie werke inspireer op die agtergrond. Jesus stel dit duidelik: Maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). Ook belowe Hy ons net voor sy hemelvaart dat ons krag sal ontvang om sy getuies te wees (Handelinge 1:8)
  • Ons roeping sluit in om die behoeftes om ons te verlig. Net soos mense verlore is sonder Jesus Christus, net so is hulle honger, dors, naak, siek en in die gevangenis (Matteus 25:42 – 43). En ons moet hulle versorg.
  • Ons roeping fokus op beide die plaaslike gemeenskap en die groter wêreld. Hierdie roeping begin dikwels klein – in plekke binne ons eie gemeenskap wat ons nie raaksien nie. Daarna kan ons saam met ander na geleenthede dwarsoor die wêreld kyk.

Gelowiges is agente vir transformasie. Ons kan nie net onbekommerd terugsit en die pyn in die wêreld dophou nie. Ons kan ook nie ontmoedig word deur probleme wat so oorweldigend lyk nie. Onthou altyd:

God se koninkryk is ontsaglik.

God se koninkryk kan nie gestop word nie.

Begin waar jy is

Gebruik wat jy het

Doen wat jy kan

Moenie bang wees nie.

 

 




Verskille

Were I to dwell at large on every subject, my work would be endless.  – John Calvin

 

Verskille

Om ledig rond te sit en wag vir Jesus om terug te kom, is nie Bybels nie. Die Christelike lewe is meer as wat baie Christene leef. Hulle is verlos en daarom kan hulle net sit en wag vir die weerkoms. Dit word tog van Christene verwag om as God se agente te leef.

Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Korintiërs 5:18). Christene het werk om te doen.

Dit is interessant dat Paulus juis dit aan die Korintiërs skryf. Ons weet hulle leefstyl was vir God onaanvaarbaar. As God se koninkryk uitgebou moet word, sou hulle kultuur drasties verander moet word. Drie kritiese perspektiewe is van belang om dit reg te kry:

  • Koninkryksagente moet onthou dat op ‘n stadium hulle lewens net so onversoenbaar met God se vereistes was soos die lewens van die Korintiërs. Ons was almal Korintiërs voordat God ons gered het. Op een of ander vlak was ons lewens ook buite beheer. Maar God, in sy groot genade en liefde,  het alles verander: Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).
  • ‘n Koninkryksagent moet onthou dat die Korintiërs baie bewus van hulleself was.  Mense is gewoonlik bewus van hulle sondes; hulle weet hulle moet beter lewens lei en beter keuses maak. Dikwels is hulle so oorweldig dat hulle die saak as hopeloos beskou. Maar Christene het ondervind dat geen saak by God hopeloos is nie. Hulle is ‘n lewende hoop vir die hopeloses.
  • Koninkryksagente moet onthou dat daar goeie redes is waarom die Korintiërs gevoel het dat versoening met God onmoontlik is. Sonder Christus kan hulle nie versoen word nie. Koninkryksagente bring ‘n boodskap van hoop, maar nie vals hoop nie. Waarheid is die fondament waarop die evangelieboodskap gebou is. Christene besef die waarheid is ‘n Persoon (Johannes 14:6). En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:32).

Ons het koninkryksverantwoordelikhede. Dit behels baie meer as die bywoning van eredienste op ‘n Sondag.

 




Die koninkryk van God

Religion that honors God is religion with feet – Mike Slaughter

Die koninkryk van God

In Matteus 25 kry ons ‘n aantal koninkryksprofesieë wat ons sal help om te verstaan hoe ons lewe behoort te wees in hierdie tussenin periode – die periode tussen Jesus se eerste en tweede koms. Die eerste gelykenis van die tien meisies beskryf ons houding in hierdie periode – wees getrou en wakker terwyl ons vir die bruidegom wag.

Gelowiges moet wakker wees, want ons weet nie op watter dag en uur dit sal gebeur nie. Die volgende gelykenis – die gelykenis van die muntstukke – voeg ‘n tweede element by: aktiewe wag. Dit gaan nie net oor wag nie. Volgens Lukas 19:13 gee die eienaar aan hulle ‘n bevel: Dryf handel daarmee totdat ek terugkom. Die eienaar kom eers na ‘n lang tyd terug.

Vandag is daar nog steeds gelowiges wat hulle muntstukke ronddra en so af en toe kyk of hulle nie dalk ‘n silhoeët van Jesus Christus sien nie. Maar Jesus sê: Dryf handel daarmee. Ons wag nie net vir die koninkryk nie – ons word geroep om aktiewe, verantwoordelike rolle in hierdie koninkryk te vervul.

As ons dan bruikbare agente in sy koninkryk wil wees wat moet ons doen?

  • Wees syne. Die gelykenis gaan oor geld, maar dit het ‘n baie wyer toepassing. God het tog baie meer dinge aan ons gegee om verandering in die wêreld teweeg te bring. Hy gee aan ons vaardighede en vermoëns; Hy gee aan ons tyd en energie om by koninkryksaktiwiteite betrokke te wees … ons kan eintlik onbeperk voortgaan. Maar hierdie muntstukke wat hierdie man vir sy slawe gee, was sy eiendom – sy besittings. Alles wat ons besit behoort aan God. Wat ons het, is aan ons toevertrou. Dit is nie ‘n opoffering nie, want daar is dinge wat dien as beloning vir jou harde werk in God se koninkryk. Dink aan die gevoel – ‘n gevoel wat alles oortref – as jy God hoor sê: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!
  • Wees anders. Die eienaar kon die muntstukke uitdeel soos hy wou – dit was syne. Hy gee nie aan elkeen dieselfde nie … net soos God nog steeds doen. Ons dink dit is onregverdig, maar ons is tog nie almal dieselfde nie. Dit was God se besluit dat ons van mekaar sal verskil. Ons is nie altyd daarmee tevrede nie. Maar as koninkryksagente moet ons God dank vir wat Hy vir ons gegee het, want Hy het ‘n doel daarmee. Gebruik wat jy ontvang het. God sal jou nooit in die stryd stuur sonder om jou daarvoor toe te rus nie.
  • Wees getrou. As jy dink die Christelike lewe se vereistes is maar min en maklik, moet jy weer dink. Die eienaar in hierdie gelykenis het teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Hy wil weet wat hulle met die muntstukke gedoen het. Elke gelowige moet God verheerlik deur sy koninkryksagenda uit te voer. Ons sê so graag nog net dit of dat, dan sal ons wegspring. Dit is nie revolusionêr nie – dit is gemaklik. Luister hoe reageer die eienaar as die slaaf sê dat hy die muntstuk begrawe het: Jy is ‘n slegte en lui slaaf!

Ons is koninkryksagente; ons behoort aan Hom; almal van ons het spesifieke gawes ontvang; wees getrou aan Hom.

 

 




Psalm 119:42

When prophets and teachers have to do with a teachable people, they have no need to fight: but when there is no fear of God, and no regard for him, yea, when men are led away by the violence of their lusts, no godly teacher can exercise his duty without being prepared for war. — John Calvin

 

Psalm 119:42

Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord (NAV)

Sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord (OAV)

Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê (Die Boodskap)

 

 

Iemand het die psalmis vals beskuldig of gespot. Die dan aan die begin van die vers koppel dit aan vers 41 waar die psalmis gepraat het van die liefde en redding van die Here. Dan alleen sal hy ‘n antwoord hê vir diegene wat hom beskuldig of met hom spot.

 

Hoe antwoord ek iemand wat my vals beskuldig? Deur te sê: God het my lief en Hy red my. Is dit nie goed as ons duidelik kan sê wat ons van God weet en wat ons verhouding met Hom is nie? Die doel van ‘n vals beskuldiging is om ons te verkleineer. As ek weet dat God my liefhet en red, gee dit vertroue aan my.

 

Die laaste gedeelte van vers 42 is die sleutel tot die verstaan van vers 41 en 42: Want ek vertrou op u woord. As gevolg van hierdie vertroue weet die psalmis dat hy vals beskuldigings kan hanteer. Die psalmis weet dat God se woord betroubaar is.

 

God gee aan ons vertroue in u woord, u liefde en u redding sodat ons nie ontmoedig word nie. Amen.