Christus staan sentraal in God se sending

God is insulted whenever any higher reason than his will is demanded – Augustinus.

 

Christus staan sentraal in God se sending

Die persoon en werk van Jesus Christus is noodsaaklik as ons die sending van God wil verstaan. Hoekom? Want Jesus is die sentrale figuur in die verlossingswerk van God. Sentraal in die evangelie staan nie ‘n idee nie, maar ‘n Persoon.

Sentraal in God se sending staan nie optrede deur mense nie, maar die werk wat God reeds deur sy Seun deur sy menswording gedoen het. Christus is die middelpunt van God se sending en ons is voordeeltrekkers van wie Hy is en wat Hy gedoen het. Kolossense 1:15 – 20 sal ons baie help om dit alles te verstaan.

 

  • Die menswording van Jesus

Jesus, gebore in Betlehem en grootgeword in Nasaret is die beeld van God wat self nie gesien kan word nie. Nog meer: God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon. Die feit dat die ewige God gekies het om in ‘n menslike liggaam te woon, gaan ons verstand te bowe. Maar vir die vervulling van God se sending was dit noodsaaklik. Die menswording is beide genadig en noodsaaklik. Deur God se aankoms in die wêreld in die vorm van ‘n mens aanvaar hy die offerwerk wat niemand anders kan doen nie – dit is genade.

 

  • Jesus Christus se unieke vermoë tot versoening

Dit is net deur Christus se werk dat die mens en skepping met God versoen kan word. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.  Christus alleen het gesag oor die skepping en daarom is Hy die enigste een wat ons kan verlos. Hy is die Skeppergod.

 

Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. As gevolg van sy Goddelike wese, is Hy die grootste onder alle mense. In wese is Hy God en daarom kan Hy ons met God versoen. Maar: Hy is die Eerste, die een wat uit die dood opgestaan het. Hy alleen het die dood oorwin en dus kan Hy vrede bring vir diegene wat Hom vertrou.

 

  • Jesus Christus maak vrede deur die kruis

Deur die bloed van sy Seun aan die kruis, het Hy die vrede herstel. Die kruisiging en opstanding staan sentraal in God se sending – deur hierdie unieke gebeurtenis versoen God ons met Hom. Christus kan dit doen, want Hy is volkome mens en volkome God.

 

  • Jesus Christus is die Hoof van die kerk

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan. Ons as gelowiges het die opdrag gekry om versoening te verkondig wat deur Iemand anders bewerk is. Hy het die werk voltooi en ons getuig van daardie werk. As lidmate van die kerk moet ons bemoedig wees dat Hy ons nie aan ons eie lot oorgelaat het nie. Jesus Christus bly betrokke by die versoeningswerk wat nog tussen God en individue aan die gang is. Hy voeg gelowiges saam in ‘n geloofsgemeenskap om verlossing te verkondig en om te dien sodat ander ‘n prentjie van sy genade in ons lewens kan sien.

 

Die doel van die sending is bereik, want Jesus is ‘n unieke Verlosser wat in ons plek gesterf het. Hy bemagtig ook sy kerk.

 




Doen aan ander

Therefore, let us willingly remain hedged in by those boundaries within which God has been pleased to confine our persons, and, as it were, enclose our minds, so as to prevent them from losing themselves by wandering unrestrained – Calvyn

 

Doen aan ander

Kom ons kyk weer na een van Henri Nouwen se stukkies.

Paulus skryf aan die Romeine: Seën julle vervolgers … moet hulle nie vervloek nie … moenie self wraak neem nie … As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink … Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12:14 – 21).

 

 Hierdie woorde sny in die kern van ons geestelike lewe in. Dit maak dit baie duidelik wat dit beteken om lewe en nie die dood te kies nie; om seëninge en nie vervloeking te kies nie. Maar wat hier van ons gevra word, gaan teen die grein van ons menslike natuur. Ons sal net kan reageer volgens Paulus se woorde as ons met ons hele wese weet dat dit wat ons gevra word om vir ander te doen, is dit wat God vir ons gedoen het.

 




Hebreërs 11

Do not work so hard for Christ that you have no strength to pray, for prayer requires strength. —Hudson Taylor

 

Hebreërs 11

In hierdie hoofstuk lees ons van ‘n hele reeks geloofshelde. Teen die einde van die hoofstuk versnel die skrywer die tempo. Hy verdeel dan sy rolmodelle in twee groepe:

 

  • Van die een groep lees ons: Deur die geloof het hulle koninkryke verower … gloeiende vuur geblus … krag ontvang (verse 13 – 14).
  • Van die ander groep lees ons: Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap … met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor (verse 36 – 37).

Het hierdie twee groepe iets in gemeen? Ja, hulle het die woord van God geglo en alles gewaag daarvoor.

 

J. D. Greear vra die eenvoudige vraag: In watter groep sou jy graag wou wees? Almal van ons wil in daardie eerste groep wees. Maar ‘n lewe van geloof vereis vertroue in ‘n God wat jy nie kan sien nie en in beloftes wat jy nie altyd voel nie. Dikwels staan jy soos daardie mense in die tweede groep – alleen. As ons wêreldse  bevestiging vir ons geloof nodig het, sal ons dit nie maak nie.

 

Kan jy alles waag vir iets wat onsigbaar is? Sal ons soos Abraham glo as ons op die proef gestel word? Sal ons gehoorsaam wat God sê al maak dit vir ons geen sin nie? Sal ons in donker oomblikke glo dat die sonsopkoms nader kom? As my kanker hervat het? As my eggenoot my permanent verlaat het? Bring dit vir jou vreugde as jy weet dat God ‘n tragedie in ‘n triomf kan verander? Jou vermoë om jou in alle dinge te verbly, is ‘n maatstaf van jou geloof.

 

Sal jy, soos die Israeliete by die Rooisee, vertrou dat God in onmoontlike situasies kan voorsien? Sal jy soos Moses kies om liewer sleg behandel te word  as om die kortstondige genieting van die sonde te hê?

 

Geloof beteken ek waag omdat ek op die beloftes van die onsigbare God vertrou. Geloof weet dat ons wêreldse offers nie werklik offers is nie.

 

 




Wat is daarin vir my?

To grow in grace is to learn to love, to hope, to unify, and to trust, and no longer to separate, manipulate, manage, and control. It is to move from self-regard and self-protection to other-regard, growing in flexibility in relationships and in openness to others. – Tim Gombis

Wat is daarin vir my?

Vir baie word die evangelie gereduseer tot Ek – wat is daarin vir my? Wat is die persoonlike implikasies en voordele van die evangelie vir my? Nou word die evangelie ‘n terapeutiese hulpmiddel: Hoe kan dit help/red/herstel? Dit word ‘n oefening om mense gelukkiger en beter te maak. Maar dit is nie wat die evangelie is nie.

 

 Vir ander is die evangelie meganika: Hoe bereik die evangelie wat dit wel bereik? Dit is ‘n evangelie wat slegs fokus op die vryspraak-teorieë. Die hele evangelie gaan dus oor hoe ek skuldig geword het en hoe die evangelie my help om van my skuld ontslae te raak. Maar dit is tog nie wat die evangelie is nie.

 

Scot McKnight glo dat die enigste manier waarop ons oor die evangelie kan praat, is om toe te laat dat die evangelie weer word wat dit destyds was. Die evangelie van Christus en die apostels was nie eerstens oor my of oor meganika nie. Die evangelie van 1 Korintiërs 15 is die verhaal van Jesus; die evangelie van al die preke in Handelinge gaan oor Jesus; die evangelies noem ons die evangelies, want hulle vertel ons van Jesus.