Die Opstanding en die Lewe

Let me never fall into the vulgar mistake of dreaming that I am persecuted whenever I am contradicted. -Ralph Waldo Emerson

 

Die Opstanding en die Lewe

In die evangelies lees ons van drie mense wat Jesus uit die dood opgewek het. [Daar mag meer wees, want Jesus sê vir Johannes die Doper se volgelinge dat hulle vir Johannes moet vertel dat dooies word opgewek – Matteus 11:4 – 5). In die eerste drie evangelies lees ons van die dogtertjie van Jaïrus en die seun van die weduwee van Nain wat opgewek word.

 

Johannes beskryf hoe Jesus vir Lasarus uit die dood laat opstaan (Johannes 11:33 – 44). Toe Jesus hoor dat Lasarus siek was, sê Hy: Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word (11:4). Jesus is nie haastig om by Lasarus uit te kom nie. Toe Jesus vir die dissipels sê dat Lasarus dood is en dat Hy soontoe gaan, sê Tomas: Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe (11:16).

 

Wat leer ons uit die verhaal van Lasarus?

  • Jesus se ware menslikheid. Hier lees ons: Jesus het gehuil (11:35). Ons lees ook dat sy gemoed vol geskiet het en dat Hy aangedaan was (11:33). Die feit dat Jesus geen sonde gehad het nie, beteken allermins dat Hy geen emosies gehad het nie. Jesus sien die mens se behoeftes raak en Hy voel saam met hulle.
  • Jesus se mag. Jesus openbaar sy mag deur een opdrag: Lasarus, kom uit! (11:43). So laat Hy sy vriend weer uit die dood opstaan. Hoe doen Jesus dit? Op twee maniere:

oGebed: Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ons moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Jesus se dissipels het die krag van gebed verstaan: Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee (Handelinge 6:4).

oHy praat. Dit is deur sy woord dat ons nuwe lewe kry: Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God (1 Petrus 1:23).

  • Voltooiing/Afhandeling. Toe Marta hoor Jesus is naby hulle huis gaan sy Hom tegemoet. Amper verwytend sê sy dat haar broer nie sou gesterf het nie as Jesus daar was nie. Hy verseker haar dat Lasarus uit die dood sal opstaan. Sy aanvaar dat Hy na die opstanding op die laaste dag verwys. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al  sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? (11:25 – 26).

 

Hierdie vraag kom na elkeen van ons: Glo jy dit?

 

 




Gister, vandag en tot in alle ewigheid

                                                       

We cannot aspire to him (God) in earnest until we have begun to be displeased with ourselves. For what man is not disposed to rest in himself? Calvyn

 

Gister, vandag en tot in alle ewigheid

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Hebreërs 13:8)

Daar is drie belangrike implikasies opgesluit in hierdie stelling oor Christus.

 

  • Christus verander nie; Hy is altyd dieselfde. Reeds in Hebreërs 1:8 en 12 lees ons: Maar van die Seun sê Hy: … Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie. Jesus kan jy vertrou. Dit beteken nie Hy is soos ‘n sfinks – ‘n stil foto – nie. Dit is die onveranderlikheid van Christus in sy lewe, liefde, heiligheid, genade, geregtigheid, waarheid en mag. Hy is altyd dieselfde vir ons al verander ons omstandighede.
  • Die belang van die evangelies. Die onveranderlikheid van Christus is sy onveranderlikheid soos ons dit in die evangelies kry. Daar kry ons sy karakterskets. Ons kan dus sê: “As dit is hoe Jesus toe was, is Hy tans nog net so.” Ken ons nog die Christus van die evangelies?
  • Christus is die hoeksteen van die waarheid. Net na die skrywer die onveranderlikheid van Jesus Christus beskryf het, sê hy: Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie (13:9). Vals lering verberg die heerlikheid van Jesus Christus. As ons in geloof en liefde vir Christus groei, soos ons dit in die Skrif kry, beskerm dit ons teen afdwaling. Dit help ons om tussen goed en kwaad te onderskei.

 

Ons moet ons oë op Jesus Christus vestig. Hy verander nooit nie.

 




Ware priester, doeltreffende offer.

For (such is our innate pride) we always seem to ourselves just, and upright, and wise, and holy, until we are convinced, by clear evidence, of our injustices, vileness, folly and impurity. Convinced, however we are not, if we look to ourselves only, and not to the Lord also – Calvyn

 

Ware priester, doeltreffende offer.

Die hoëpriesterskap van Christus is ‘n tema wat ons gereeld in die Hebreër-brief kry. Verskeie aspekte hiervan word beklemtoon.

 

  • Christus is die ware hoëpriester. Hy kan ons verteenwoordig, want Hy het een van ons geword; Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (2:14 – 18).
  • Jesus Christus is die groot Hoëpriester. Hy het persoonlik die offer vir die sondes van die mens gebring – Hy was in werklikheid die offer. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring (9:14).
  • Jesus Christus is die uitmuntende Hoëpriester. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (1:3). Die Levitiese priester se bediening was maar kort en verbygaande, want hulle het gesterf: Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander manier oorgedra word nie … Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree (7:23 – 25).

 

Die Ou Testamentiese rituele was nie die model wat Jesus se hoëpriesterskap nageboots en vervul het nie. Die Ou Testamentiese ritueel is nie die model nie, maar die afskrif: Hulle bedien egter slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom (8:5). Jesus se bediening is tans in die hemelse tabernakel (8:2).

 

Die Hebreër-skrywer gaan verder en maak sekere gevolgtrekkings uit God se groot Hoëpriesterskap:

  • Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid (10:22).
  • Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe (10:39).
  • Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (12:1 – 2).
  • Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het (13:13 – 14).

 

Dit is die pad waarlangs Christus ons sal lei in die teenwoordigheid van God.

 

 

 




Die kerk (6)

The invisible and incomprehensible essence of God, to a certain extent, is made visible in his works. It is plain that the Lord has furnished every man with abundant proofs of his wisdom – Calvyn

 

Die kerk (6)

Ben Witherington III skryf ‘n artikel oor die anti-kerk retoriek wat vandag so algemeen is. Ons stel vandag graag die kerk teenoor Jesus of die kerk as instelling teenoor organiese modelle – huiskerke, ens. So kry ons die “ek is geestelik, maar nie godsdienstig nie” beweging of “ek het Jesus, maar nie die kerk lief beweging.”

Kom ons begin met ‘n paar definisies:

  • Die kerk is God se kinders wat vir aanbidding, gemeenskap en diens bymekaar kom. Dit is nie ‘n gebou of instelling nie. Natuurlik het enige kerk ‘n plek nodig om bymekaar te kom en ‘n mate van organisasie en struktuur nodig, maar dit is nie die Nuwe Testamentiese kerk nie. Dit is juis as die geboue, strukture, organisasie en instelling van die kerk as heilig gesien word dat ons probleme kry.
  • Ekklesia beteken vergadering. Een persoon is nie ‘n kerk nie Daar moet ‘n element van bymekaarkom vir aanbidding, gemeenskap en diens wees voor dit ‘n kerk is.

 

As Protestante beklemtoon ons ons persoonlike verhouding met Christus – individuele vroomheid en toewyding. Dit geskied dikwels ten koste  van groepsidentiteit en groepeenheid. Daarom al die verskillende groeperings in die kerk.

 

Ons blameer so dikwels die strukture van die kerk, maar mense het hulle daargestel – mense hou hulle in stand. Ons moet in die spieël kyk. Onthou wat Pogo gesê het: ‘I have seen the enemy, the enemy is me.’

 

Om sake te vererger, word die samelewing meer Bybel-ongeletterd. Wat ons beslis nie nodig het, is ‘n vermindering in Bybelonderrig nie. Ons het ook nie arrogansie nodig – mense wat sê: “Ek kan dit alles op my eie leer” nie.

 

Ons moet begin besef dat dit ons niks help as ons die kerk aanmekaar slegsê nie. Dit is die liggaam van Christus en dit het strukture en organisasie nodig.