Christus en die drie verskynings

A golden coffin will be a poor compensation for a damned soul. —C.H. Spurgeon

 

Christus en die drie verskynings

Die skrywer van die Hebreër-brief gee vir ons “eenvoudige” opsommings van God se verlossingsplan. Een so ‘n opsomming kry ons in 9:24 – 28. Hy gebruik drie maal die woord verskyn om na drie gebeurtenisse in die bediening van Jesus Christus te verwys.

 

  • Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn.
  • Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offers die sonde weg te neem.
  • As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

 

Hy het verskyn; Hy verskyn nou; Hy sal verskyn. ‘n Bybelkenner word gevra of hy verlos is. Sy antwoord is insiggewend: Do you mean have I been saved, and am I being saved, or will I be saved. All three are true.

(a)   Christus het op aarde verskyn om sonde weg te neem. Dit was ‘n eenmalige en volkome offer. Sy dood, opstanding, hemelvaart en uitstorting van sy Gees is die begin van die laaste dae (1:2).

(b)   Ons leef in ‘n tyd nadat God ons sondes finaal en volledig weggeneem het. Maar wat doen Hy nou? Hy is in die hemel om ter  wille van ons voor God te verskyn. Sy verskyning aan God se regterhand is die intrede wat almal van ons nodig het.

(c)    Solank Christus in die hemel voor God is, sal ons verlossing voortduur. Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree (7:25). Maar nog iets lê vir ons in die toekoms voor: As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag (9:28).

 

Hierdie drie verskynings van Christus help ons om die evangelie te verstaan. Die eerste twee verskynings gee vir ons ‘n waardering vir wat Christus gedoen het en wat Hy tans doen. Die gevolg is dat ons Hom gretiglik verwag. Hoe gretig is jy?

 

 




Die Brief aan die Hebreërs

There was never a sinner half as big as Christ is Savior. —C.H. Spurgeon

 

Die Brief aan die Hebreërs

Die Brief aan die Hebreërs is anders. Die denkrigting is vir ons vreemd – te Ou Testamenties. Dit is min mense se geliefde boek in die Nuwe Testament. Maar hoofstuk na hoofstuk lees ons van Christus en wat Hy gedoen het. Eers in 10:19 en 22 kry ons die skanier van beskrywing na toepassing. Daar is egter baie goeie redes waarom ons ons in hierdie boek moet verdiep.

 

  •  Die boek maak dit duidelik dat Christus die sleutel in vir ons verstaan van die Ou Testament – dit is 75% van ons Bybel! Die boek beklemtoon die sentrale boodskap van die OT; dit wys vir ons hoe verskillende elemente in die Ou Testament kombineer om ons na Jesus te lei. In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak (1:1 – 2). Hierdie twee hou verband met mekaar: as belofte en vervulling; as skadu en werklikheid. Hulle word aanmekaar verbind deur een belofte, een verlossingsplan, een weg van genade, een Verlosser. As ons Hebreërs verstaan, kan ons die Ou Testament met ‘n bril lees wat Christus gesentreerde sin maak.

 

  • Christus Jesus se grootheid. In die lig van die volle  openbaring van God se genade in Jesus Christus vervaag alles wat dit voorafgegaan het. Hebreërs beklemtoon Christus se oppermag oor engele, Moses, Josua, Aäron, die priesteramp, die tabernakel en offers – oor alles en almal.

 

  • Die menslikheid van Jesus Christus. Die boek beklemtoon die teologiese en praktiese belang van Christus se menswording. Ons het ‘n Verlosser nodig wat naby aan ons is en wat ons verstaan. Dit alles is Jesus Christus. As ons ons oë op Jesus Christus vestig, sal ons hele lewe verander word.

 

  • Die aard van ware geloof. Die eerste ontvangers van hierdie brief verkeer onder druk om na hulle ou weë en godsdiens terug te keer. Maar die skrywer sê: Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is (6:11). Op hierdie manier word hulle een met die geloofshelde van die verlede – almal het vooruit gekyk na die vervulling van al die beloftes in Christus. Almal het gely vir die saak van die beloofde Christus.

 

Miskien kan ons met vrug weer die Hebreër-brief lees.

 

 




DIE KERK (5)

If it be asked what cause induced him (God) to create all things at first, and now inclines him to preserve them, we shall find that there could be no other cause than his own goodness – Calvyn

 

Die kerk (5)

Ons het nou na drie beelde van die kerk gekyk: die huisgesin, die liggaam en die kudde. Ons kom nou by die laaste beeld wat ek gaan beskryf.

 

Beeld #4: Die bruid van Christus

 In enige huweliksverhouding moet daar liefde en trou wees. Maar wat behels hierdie beeld van die bruid?

  • Reinheid. Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus (2 Korintiërs 11:2). Ons weet tog dat die bruidegom, Christus, sonder sonde is. Christus het die vermoë om sy bruid – die kerk – sonder vlek of rimpel of iets dergelik, heilig en onberispelik te maak (Efesiërs 5:27).
  • Beskerming. Dit is ‘n seën vir ‘n bruid om te staan en wag vir haar bruidegom. Jy kan tog nie die bruidegom (Christus) liefhê en die bruid haat nie.

 

Ek het hierdie paar blogs geskryf, want ek is bekommerd oor mense wat gedurig die kerk afkraak. Ons moet ons liefde vir die kerk weereens verklaar. Die kerk is nie volmaak nie … ons ook nie. Ons moet die mense en leiers van die kerk liefhê. Ons kan nie ‘n verlore en sterwende wêreld liefhê as ons nie God  se bruid – sy kerk – liefhet nie.

 

In die laaste blog kyk ons na ‘n artikel van Ben Witherington III oor hierdie saak.

 




Christus as mens

By it (the Scriptures) all the thoughts of our minds, and the words of our mouths, should be tested – Calvyn

 

Christus as mens

In Johannes 1:14 lees ons: Die Woord het mens geword (1:14). Hoekom is dit belangrik? Die Hebreërboek skryf heelwat oor hierdie vraag. Hy noem ‘n aantal redes waarom God mens geword het.

 

 

1.Oorwinning

In hierdie boek beteken verlossing, vrylating uit Satan se greep. God se menswording is belangrik, want daarmee behaal Hy die oorwinning oor die duiwel en die dood: Dit het Hy gedoen om deur sy dood die een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig, en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry (2:14 – 15). Hoe kan ons bevry word? Net deur Satan se greep op ons te verbreek. Dit kan net gebeur as iemand die prys vir sonde kan betaal, want sonde gee aan die duiwel sy mag en houvas op ons. Slegs dood kan die dood oorwin. Die persoon wat dit doen, moet drie eienskappe hê:

  • Moet persoonlik vry wees van die behoefte om vir sy eie sonde te sterf.
  • Moet gewillig wees om te sterf.
  • Moet die vermoë besit om weer sy lewe terug te kry.

Geen mens kan dit regkry nie. Maar nou lees ons: Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword (2:14). So behaal Hy in sy opstanding die oorwinning.

 2.Versoening

Daarom moes hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen (2:17). Verlossing vereis nie net dat ons vyand, die duiwel, oorwin moet word nie, maar die toorn van die heilige God moet ook verwyder word. Versoening moet vir die sondes van die mense gemaak word. Jesus Christus bewerk die reiniging van sondes (1:3). Jesus offer Homself as versoening.

 3.Vertroosting

Ons word vertroos deur God se menswording. Jesus het in elke opsig aan ons gelyk geword (2:17). Hy was wel sonder sonde.

  • Die feit dat Hy wel sonder sonde was, het Hom nie teen die versoekings van die sonde gevrywaar nie – ook nie die gevolge van die sonde nie – sy kruisdood.
  • Slegs ‘n Verlosser sonder sonde kan vir ons sondes sterf.

 

Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (2:11). Daaroor moet ons ons verheug. Jesus se menswording is ‘n keerpunt in die geskiedenis van die mens.