DIE KERK (3)

Calvyn

 

Die kerk (3)

In die vorige blog het ons na die kerk as huisgesin van God gekyk. Ons kyk nou na ons tweede beeld.

Beeld #2: Die liggaam van Christus

 

Ons kry hierdie beeld in verskeie van Paulus se briewe. Hierdie beeld dra kenmerke soos interafhanklikheid en aktiwiteit oor. Aktiwiteit is lewensnoodsaaklik vir die kerk. Die verskillende liggaamsdele pas bymekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie en so bou die liggaam homself op in liefde (Efesiërs 4:16). Elkeen het ‘n funksie en moet dit vervul. Gebeur dit nie, kan die kerk nie optimaal funksioneer nie.

In Efesiërs 4:4 – 13 beskryf Paulus die gawes wat God aan die liggaam gegee het. Hoekom gee Hy hierdie gawes: Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. As Christus se liggaam is ons sy versorgingsagente op aarde.

Hierdie beeld maak dit duidelik dat daar nie “mindere” lede van die liggaam is nie. Vir optimale funksionering moet alle lede betrokke wees. Kerke moet beklemtoon dat hulle een doel het – al verskil hulle van mekaar.

Dit bring ons nou by die derde beeld van die kerk in die Bybel: die kudde van God.

Stilte

We [Christians] are not diplomats but prophets, and our message is not a compromise but an ultimatum.”  — A.W.  Tozer

 

Stilte

Weer een van Henri Nouwen se kort stukkies:

Dit is in stilte dat ons, soos Jesus, verstandelik en liggaamlik kan groei en in guns by God en die mense toeneem (Lukas 2:52). Dit is slegs in stilte waar ons ware intimiteit met God en ware liefde vir mense kan ondervind.

Selfs tydens sy aktiewe bediening het Jesus gereeld stil plekkies waar Hy alleen met God kon wees, opgesoek. As ons nie so ‘n stil lewe met God het nie, kan ons openbare lewe vir Hom nie vrugte dra nie.

Sokrates en godsdiens

Calvyn

Sokrates en godsdiens

Die Christelike geloof word tans deur militante ateïste aangeval. Hoe hanteer ons dit? Petrus sê: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15). Die probleem is dat Christene dikwels nie die werklike vrae wat ongelowiges vra, antwoord nie. Die beste formaat om hierdie probleem te hanteer, is debat. Die probleem met so ‘n debat is dat hoflikheid maar skaars is in ons moderne samelewing. Daar is ook ‘n sinisisme oor die waarheid en rede. Baie mense glo vandag dat daar nie so iets soos die absolute waarheid is nie.

  

Sokrates het geglo dat die lewe wat nie ondersoek is nie, nie die moeite werd is om te leef nie. Sy model vir die soeke na die waarheid was gesonde, openbare debat. Hy het homself beskou as ‘n vroedvrou – sy vrae sou lei tot die geboorte van ‘n nuwe idee. Hy glo dat die sterk- en swakpunte van ‘n siening slegs na vore kom as dit krities ondersoek word. Hierdie is nie altyd ‘n aangename ondervinding nie – veral as jou oortuigings op vooroordele berus. Jy leer nederigheid as jy besef dat iemand anders se siening eintlik beter as jou eie is.

Daar is baie mense wat by so ‘n debat kan baat:

Ateïste – ten minste diegene wat bereid is om te luister.

Christene wat seker is in hulle geloof, maar graag beter antwoorde op die vrae van ongelowiges wil gee.

Christene met twyfel waarvoor hulle nie antwoorde het nie.

Mense wat hou van ‘n lewendige debat – maak nie saak wat hulle glo nie.

Die probleem is dat mense wat eenders dink, saam kom – hulle word nie blootgestel aan ander idees nie. Miskien moet ons weer kyk na Sokrates se model.

DIE KERK (2)

Calvyn

Die Kerk (2)

In die vorige blog het ek probeer aantoon dat die kerk ‘n belangrike plek in God se plan vir die wêreld speel. Ons kyk nou na ‘n paar beelde van die kerk soos ons dit in die Bybel kry. Dit word beweer dat daar meer as negentig beelde van die kerk in die Bybel beskryf word. Dit is omdat geen enkele beeld die volle belang van die kerk kan beskryf nie. Ons gaan in die volgende blogs na vier van hierdie beelde kyk.

 

Beeld #1: Die huishouding van God

Mense wat saam in ‘n huishouding leef, is ‘n intieme toneel van liefde. Paulus skryf aan Timoteus: Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:15). In Efesiërs 2:19 verwys hy na die gelowiges as lede van die huisgesin van God. Liefde in die kerk straal uit hierdie beeld van die kerk as huisgesin. In ‘n huisgesin is dit belangrik dat lede mekaar moet liefhê.

Ons moet ons medegelowiges liefhê, maar ons moet ook maniere vind om te verseker dat ander mense ook die goeie nuus van ons Vader hoor. In die huisgesin sorg ons vir diegene wat minder bevoorreg as ons is. Dien ons nog die minder bevoorregtes in ons gemeenskappe?

Wat nou van al die gevegte in die kerk? Gesinslede baklei ook. Solank as wat ons nog hier op aarde is, is die kerk ‘n disfunksionele gesin. Dit is omdat gesinslede staan op hulle regte en hulle eie voorkeure wil afdwing – in plaas van ons oë op die oes gerig te hou.

Volgende keer gaan ons na die tweede beeld van die kerk in die Bybel kyk: die liggaam van God.