Ons gaan kerk toe

Eugene Peterson

Ons gaan kerk toe

Is dit goed om eredienste by te woon? Gewoonlik kry ons ‘n lys godsdienstige redes waarom ons eredienste moet bywoon. Op Scot McKnight se blog kry ons nou ‘n aantal nie-godsdienstige redes waarom dit goed is om eredienste by te woon.

 

  • Vriende – vir jou en jou kinders.
  • Gemeenskap – dit is mense wat iets in gemeen met jou en jou kinders het.
  • Aktiwiteite en gebeure – die gemeente se kalender is gewoonlik vol. Daar is baie dinge wat aangaan – en meeste is nogal verniet! Dit is gratis vermaak vir jou en jou gesin met gesinne waarmee julle iets in gemeen het.
  • Versorging van kinders – jou kinders is onder toesig terwyl jy die erediens bywoon. Hulle word geleer oor Jesus en die Bybel.
  • Gesinswaardes – in die kerk kry ons morele versterking.
  • Motivering – jy word blootgestel aan ‘n denkwyse wat uiteindelik beïnvloed hoe jy die wêreld, jouself en ander sien.
  • Geleenthede om ander te help – in die kerk kry ons dikwels unieke maniere om ander te help. As jy rondkyk sal jy ‘n plek kry waar jy ander kan help – ‘n plek wat inpas by jou gawes, talente en vaardighede.
  • Roetine – stel jy jouself en jou gesin aan al hierdie positiewe gebeure bloot, verander die manier waarop julle saamleef ook mettertyd.

‘n Mens dink nie altyd aan hierdie voordele as ons dink aan kerkbywoning nie. Dit is duidelik dat kerkbywoning meer as net teologiese voordele het.

Vervang die leier

Vervang die leier

Wat verwag God van ‘n leier? In Jeremia 23:1 – 16 lees ons dat God nie sal huiwer om ‘n slegte leier te verwyder nie. God oordeel hulle en dan verwyder Hy hulle. Maar wat verwag God van ‘n leier? Kom ons kyk na ‘n paar eienskappe van ‘n leier wat God sal noop om hom te vervang:

 

  • (= leiers) deur wie die skape uit my kudde doodgemaak word. Dit is leiers wat mense vernietig in plaas daarvan om hulle op te bou en te ontwikkel.
  • Dit is leiers wat mense verdeel in plaas daarvan om hulle om ‘n saak te verenig.
  • Herders wat die kudde nie versorg nie. As die herder die kudde versorg, sal die kudde nie meer bang of verskrik wees nie. Hierdie herders aanvaar nie verantwoordelikheid vir die kudde nie.
  • Leiers wat hulle mag misbruik. Hierdie herders is onregverdig en tree in eie belang op.
  • Leiers wat leef asof daar geen God is nie. In vers 11 word hulle as godloos beskryf.
  • Leiers wat hulle mense mislei. In Jeremia se tyd het die godsdiensleiers die volk Israel mislei.
  • Leiers wat verkeerde dinge doen – selfs diegene wat verkeerd doen help om verder verkeerd te doen. Met die gevolg dat niemand hom van sy verkeerde dade bekeer nie.
  • Leiers wat vals verwagtings by hulle mense wek. Hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie.

Hier het ons ‘n instrument wat ons met vrug kan gebruik as ons leiers evalueer.

Moenie aan die wêreld gelyk word nie

(Calvyn)

Moenie aan die wêreld gelyk word nie

(Romeine 12:2).

 In vers 1 moedig Paulus ons aan om onsself as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, aan God te gee. As Christene eer ons God deur elke dag vir Hom te leef. Vers 2 begin  met ‘n negatiewe oproep: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.  Dit beteken dat ons nie die gedrag en gebruike van die wêreld moet navolg nie. Dit is as hierdie gedrag en gebruike teenstrydig met die wil en waarheid van God is.

Om nie aan hierdie sondige wêreld gelyk te word nie, is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie – dit is ‘n daaglikse keuse wat ons moet maak. Ons moet elke oomblik van die dag die wêreld teenstaan – ons sê nee vir die wêreld sodat ons ja vir God kan sê.

Christene voel hierdie spanning tussen die gedrag en gebruike van die wêreld en die Bybelse siening van ons denke en optrede aan. Christene moet die “heerskap” van die wêreld en sy kultuur verwerp as hulle Jesus as hulle Heer bely. Dit vereis dat die Gees ons moet lei, sodat ons kan bepaal waar die weë van die wêreld God se weg weerspreek. Dan moet ons die moed hê om nee te sê vir hierdie wêreld en ja vir God. Dit beteken nie dat ons ons uit die wêreld moet onttrek nie.

Psalm 1

In the sacred volumes there is a truth divine, a something that makes it immeasurably superior to all the gifts and graces attainable by man. (Calvyn)

Psalm 1
Ons sien die Psalms dikwels as aanbiddingsliedere. In Psalm 1 lees ons dat dit goed gaan met mense wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Dit is natuurlik goed om die psalms te sing, maar ons moet hulle ook bestudeer – dag en nag. Om te oordink, beteken letterlik om herhaaldelik met jouself te praat. Die psalms is by uitstek geskik vir oordink. Ons kry groeperings wat dieselfde woorde en temas oor en oor herhaal. Dit lei tot nadenke.

 Een tradisionele praktyk om die Bybel te lees, staan as Lectio Divina bekend. Dit bestaan uit vier stappe:

1. Lectio – hoor die Skrif.
2. Meditatio – oordink die Skrif
3. Oratio – bid, voer ‘n gesprek met God deur die Skrif.
4. Contemplatio – laat die Skrif ons in die liefde van God lei.

Psalm 1 moedig ons aan om toe te laat dat ons verhouding met God ons as mense vorm. Die alternatief is om die raad van goddeloses te volg. Hierdie alternatief lei ons op verkeerde paaie en verhard ons harte; dit plaas ons, en nie God nie, in die middelpunt van die heelal.

Die Here ken ons – die Here lei die regverdiges op hulle pad. Psalm 1 sê vir ons: God het aan ons ‘n hulpbron gegee waardeur ons Hom beter kan leer ken. Ons moet gereeld sy woord oordink en deur gebed met Hom in gesprek tree.