‘n Herder

This is true religion, to approve what God approves, to hate what he hates, and to delight in what delights him. —Charles Hodge

 

 ‘n Herder

As gevolg van veranderende sosiale omstandighede verander ons verstaan van belangrike Bybelse konsepte. Een daarvan is die beeld van die herder. As ons dink aan ‘n herder dink ons aan harmonie en vrede met die natuur. Is dit die beeld van die herder wat ons in die Skrif kry?

 

 Die Bybelse herder is ‘n sterk en brawe man. Die Bybelse beeld van ‘n herder is ‘n man omring deur baie bedreigings – hy moet mens en dier konfronteer. Sy taak is om sy kudde te beskerm. Hy werk in ‘n moeilike terrein – barre woestyn, gevaarlike berge en valleie, ens. Daar moet hy water en voeding vir sy skape kry. Rowers en diewe mag probeer om sy kudde te steel; sy skape kan die prooi van wilde diere word. Die beskerming van sy kudde mag hom sy lewe kos. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11).

 

Maar as ons aan ‘n herder dink, dink ons teerheid, deernis, voorsiening en die persoonlike versorging van sy skape. Ons kry hierdie beeld ook in die Bybel – Psalm 23, Jesaja 40:11, Esegiël 34 en Johannes 10. In Jesaja 40:11 lees ons dat God sy lammers bymekaar maak en hulle teen sy bors dra. Dit is dieselfde God wat in vers 10 die Magtige wat regeer, genoem word. Dieselfde Here wat sy kudde  in groen weivelde laat rus, is ook die Here wat sy kudde teen vyande beskerm. Ons beskou Dawid as ‘n jong man, maar ons lees dat hy leeus en bere doodgemaak het om sy kudde te beskerm (1 Samuel 17:36 – 37).

 

Hierdie misverstand van die rol van die herder het oorgespoel na ons siening van bediening. Vir ons is die Christelike herder iemand wat saggies die kudde hanteer en in al hulle behoeftes voorsien – ‘n terapeutiese en ondersteunende rol. As die Bybelse beeld van die herder korrek is, kort daar iets. Die herder is ‘n vegter – vasberade en sterk. Enigeen wat sy kudde skade wil aandoen, sal dit ontgeld.

 

Die Christelike herder moet op sy hoede wees – hy moet die vyande van die kudde wegdryf. Maar terselfdertyd moet hy sy eie kudde lei en voorsien in hulle behoeftes. In ons huidige beeld van die herder is daar geen sprake van gesag, mag, leierskap, konflik en teenstand nie. Die beeld van die Christelike herder wat God se staf as wapen teen die vyande van God se kudde gebruik,  is vir baie Christene aanstootlik.

 

Christelike herders moet God se kudde liefhê en versorg, maar hulle moenie bang wees vir konflik nie – hulle moet daarvoor voorberei word.

 




Dis ‘n slegte dag

 “A self-sufficient human being is sub-human…God has made us so that we will need each other.”— Desmond Tutu

 

Dis ‘n slegte dag

Almal ondervind slegte dae. Selfs kinders van God word mismoedig. Jeremia is ‘n goeie voorbeeld. Om mismoedig te word, is nie die kern nie – die kern is wat ek met my mismoedigheid doen. Bly lê ek of staan ek op? Maklik gesê, maar hoe staan ek op as ek mismoedig is?

  

  1. Moenie vasgevang word in selfbejammering nie – mislukking is nie net ‘n gevolg nie, maar ook ‘n gesindheid.
  2. Dink positief. Sukses kom as ek van mislukking na mislukking gaan sonder om my entoesiasme te verloor.
  3. Leer uit jou ondervinding. Mislukking is net mislukking as jy niks daaruit leer nie.
  4. Soek alternatiewe. Alle suksesvolle leiers wissel hulle benadering af.
  5. Ontwikkel ‘n sin vir humor. Lag is die korste afstand tussen twee mense en die gouste manier om weer perspektief te kry.
  6. Wees realisties.
  7. Kry nuwe doelwitte. Mislukking is ‘n geleentheid om weer te begin – maar hierdie keer slimmer.
  8. Ontwikkel ‘n passie. Jou eie vasberadenheid om te slaag, is die belangrikste.
  9. Verbreed jou ondersteuningsbasis. Geen enkele onderneming moet my hele emosionele lewe ondersteun nie.
  10. Skei jou selfwaarde van jou prestasies.  ‘n Positiewe selfbeeld berei jou voor vir sukses.

 

Mislukking is onafwendbaar. Dikwels maak dit ons mismoedig. Dan moet jy opstaan en voortgaan met jou lewe.

 

 




Die kerk

Temptations and occasions put nothing into a man, but only draw out what was in him before. —John Owen

 

Die kerk

Die kerk beleef ‘n moeilike tyd. Almal val oormekaar om die kerk te kritiseer. Maar wat sê die Bybel oor die kerk?

 

1.Jesus sê dat Hy self die kerk bou: Op hierdie rots sal Ek my kerk bou (Matteus 16:18).

2.Jesus self is die Hoof van die kerk: Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan (Kolossense 1:18). Hy sal tog nie die hoof van ‘n betekenislose organisasie wees nie.

3.Jesus het die kerk gebruik om gemeenskappe te beïnvloed – en doen dit steeds (Handelinge 2:38 – 41). Sodra dit gebeur verander die gemeenskap.

4.Jesus is die hoeksteen van die kerk (Matteus 21:42). Daarom bestaan en groei die kerk steeds na 2000 jaar. Geen ander organisasie kon dit nog ooit regkry nie.

5.Jesus wil nog groter dinge deur die kerk doen. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid en dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus (Efesiërs 3:20 – 21).

6.Jesus het deur sy kerk ons lewens verander. Daar het ek die evangelie gehoor en my lewe aan Hom oorgegee. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan (Hebreërs 10:24 – 25).

7.En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor (Matteus 24:14), Dit kan tog immers net deur die kerk gebeur.

 

Natuurlik het die kerk foute, maar ons moet ophou om die kerk af te kraak en eerder die kerk opbou.

 

 

 




Kom hier!

 “We [Christians] shall never lack those who persecute Christ in us, even though they proudly attack us in the name of Christ.”  — Huldrych Zwingli

 

Kom hier!  

In Markus 1:16 – 20 lees ons van Jesus wat sy eerste dissipels roep. Hy sê vir hulle: Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak. Nêrens in die Bybel lees ons van God wat iemand roep en dan met hom oor die voorwaardes van sy roeping onderhandel nie.

Nêrens roep Jesus iemand op ‘n proefbasis nie. As God roep, het ons twee keuses: of ons volg Hom of ons volg Hom nie

 

Ons kan Jesus ook nie op ons voorwaardes volg nie – so ‘n kafeteria benadering waar ons kies wat ons wil doen en wat nie, lei tot toeskouers en nie volgelinge nie. Lidmaatskap van ‘n gemeente is nie dieselfde as om lid by ‘n gesondheidsklub te wees nie. Die kerk het nie kliënte of verbruikers van goedere en dienste nie. In die kerk is die kliënt nie koning nie; die kerk is nie daar om aan kliënte se behoeftes te voldoen nie.

 

Ons moet ontslae raak van die verbruikersmodel in die kerk – geen onderhandelings met Jesus as Hy ons roep nie. Jesus roep. Ons volg. God bepaal die voorwaardes.