Die Linnegordel

“The chief danger of the 20th century will be religion without the Holy Spirit, Christianity without Christ, forgiveness without repentance, and heaven without hell.” Generaal William Booth (1829-1912), stigter van die Heilsleër  

 

Die Linnegordel

In Jeremia Hoofstuk 13 lees ons van die linnegordel as beeld van Juda. Hierdie linnegordel waarvan hier gepraat word, reik tot by die knieë, maar pas styf om die heupe. Jeremia kry opdrag om die gordel te koop en styf om sy lyf vas te maak.

Hy doen wat God beveel. Hy kry weer ‘n opdrag van God: gaan steek die gordel in ‘n klipskeur by die Eufraat weg. Na ‘n lang ruk beveel God hom: gaan haal die gordel. Jeremia grawe die gordel uit: Maar die gordel het begin vergaan en was nutteloos.

Jeremia se simboliese optrede het ‘n dubbele boodskap:

  1. Die sonde van hooghartigheid. Die Here haat trots. Arrogansie, ‘n oordrewe siening van jouself, maak dat ander jou verafsku. Dit lei ook tot die sondes genoem in vs 10: Hierdie slegte volk wat weier om na my woord te luister, wat hulle eie harde koppe volg en agter ander gode aanloop en hulle dien en vereer.
  2. Soos die gordel om die heupe moes Israel naby aan God wees. Soos die gordel styf teen die lyf was en nooit losgemaak is nie – dit is altyd deel van hom – so het God al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak. Hulle, die mense, wou nie – hulle het nie geluister nie. Nou gaan God hulle afhaal – iets ongehoords – en hulle soos ‘n gordel onder ‘n klip wegsteek om te vergaan.

 

Die eens bruikbare gordel word nutteloos.  Deur die gordel leer God sy mense.  Die gordel verteenwoordig die volk van Israel wat op ‘n stadium God aanbid en gedien het. Hulle word egter later nutteloos as gevolg van hulle ongehoorsaamheid.

 

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

  • Die gordel is net bruikbaar wanneer:
    • Dit gerek is – gelowiges moet gerek en uitgedaag word.
    • Dit vasgemaak is – gelowiges kry hulle identiteit by God.
    • Dit solied is – gelowiges moet stabiele waardes hê.
  • Die gordel word onbruikbaar wanneer.
    • Dit vuil is – gelowiges kan nie met sonde saamleef nie.
    • Dit los is – gelowiges kan nie op hulle eie (sonder God) leef nie.
    • Dit gekrimp het – gelowiges is nie bruikbaar as hulle klein dink nie.

 

Die linnegordel – as beeld van Juda – is ook ‘n beeld van alle gelowiges. Is ek en jy bruikbare of onbruikbare gordels?

 

 




Regverdigheid

The light of human reason differs little from darkness. —John Calvin

 

Regverdigheid

Wat is dit? Eerstens, regverdigheid is ‘n kenmerk van God: Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees (Psalm 11:7). Watter implikasies hou dit vir ons in?  Dit beteken dat God altyd optree in ooreenstemming met wat reg is. In werklikheid is Hy die finale standaard van wat reg is. Dit beteken dat Hy nooit iets verkeerd doen nie. Nog meer, God kan nie iets verkeerd doen nie.

 

 

Vir die mense is regverdigheid ‘n maatstaf van opreg lewe. Die mens speel geen rol in die definiëring van regverdigheid nie. Die mens is regverdig in so verre sy begeertes, gedagtes en dade ooreenstem met dié van God. Waar die mens van God verskil, is hy onregverdig.

 

Maar nou sê Paulus: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10). Maar Paulus gaan verder: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21). Deur Jesus Christus word ons deel van God se regverdigheid. Dit is die evangelieboodskap.

 

 

 

 




Berou

Better to face danger once than to be always in fear –  Zig Ziglar

 

Berou

Billy Graham het die VSA en sy “misleide” mense opgeroep tot berou en bekering. Dit is een van ‘n reeks waarskuwings dat God die VSA gaan oordeel. Die 93-jarige het ‘n ope brief, My Heart Aches for America, geskryf. Daarin skryf hy van die verskriklikste afwaartse spiraal waarin Amerika verkeer.  Sy oorlede vrou het by geleentheid gesê:If God doesn’t punish America, He’ll have to apologize to Sodom and Gomorrah

 

In sy brief skryf hy dat “selfgesentreerde toegeeflikheid, trots en ‘n gebrek aan skaamte oor sonde nou tekens is van die Amerikaanse leefwyse.” Alhoewel sy hart seer is vir sy volk, is die goeie nuus dat die Here ‘n God van genade is – hy reageer op berou.  In die tyd van Jona was Nineve die wêreldmag – ryk, onbekommerd en selfgesentreerd. Toe Jona uiteindelik in Nineve aankom en God se waarskuwing oordra aan die mense het hulle geluister, berou gehad en hulle bekeer. Dieselfde ding kan weer gebeur.

 

Graham se oproep vir berou en bekering is maar een van vele van bekende godsdiensleiers. Die algemene gevoel is dat Amerika agteruitgaan: ekonomiese agteruitgang, sedeloosheid, korrupsie, ‘n toenemende sekulêre humanisme en godsdienstige agteruitgang.

 

Wat godsdiensleiers tans voel is nie wanhoop nie, maar wel dringendheid. Optrede is nou nodig – nederige en opregte berou. Daar is ‘n behoefte aan ‘n geestelike herlewing.

 

Is Suid-Afrika nie tans in dieselfde posisie nie?

 

 




Psalm 119:39

The greatest joy of a Christian is to give joy to Christ. —C.H. Spurgeon

 

Psalm 119:39

Die venyn van mense, daarvoor is ek bang, moenie dat dit my tref nie. Maar u bepalings, dié is soet (NAV)

Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed (OAV)

Keer tog dat mense lelike dinge van my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat u wil hê ek moet doen (Die Boodskap)

  

Waarvoor is jy bang? Dat jy jou werk gaan verloor? Dat jy in die openbaar moet praat? Die psalmis is bang vir die venyn van mense – dat mense lelike dinge van hom sal sê. Die psalmis fokus op God se verordeninge/bepalings. Hoekom? Want hulle is soet/goed vir hom. Vir die psalmis is daar duidelik ‘n verband tussen God se bepalings en die mense se venyn. Op een of ander wyse beskerm God se bepalings hom teen hierdie venyn.

 

Die Bybel beskryf die goedheid van God se bepalings. God wil graag mense met goeie dinge seën