Teologie teenoor God

“When Christ is Lord, nothing is secular.” John Stott

 

Teologie teenoor God

In sy boek (Killing Calvinism) skryf Greg Dutcher dat daar ‘n neiging by Christene is om meer beïndruk met hulle teologie as met God te wees. Hierdie is ‘n versoeking wat vir alle godsdienste geld – nie net vir Calviniste nie. Luister net na hierdie gebed van hom:

  

Almagtige God,

Dankie dat U aan my oë, ore, ‘n geheue en ‘n intellek gegee het. U  stel my in staat om die wonder van u soewereine genade dwarsdeur die wêreld raak te sien. As U my nie gekies het nie, sou ek nie u kind gewees het nie. As u my nie eerste liefgehad het nie, sou ek U nooit liefgehad het nie.

 

Mag ek nooit meer beïndruk wees met die teologie wat my hierdie dinge duidelik laat sien as om vir U te sien nie. Vergewe my vir die kere toe ek my verstaan van U ‘n afgod gemaak het.

 

As ander my sien, mag hulle ‘n persoon wat oorweldig deur u heerlikheid en nederig voor u genade staan, sien.

 

Om Jesus se ontwil.

Amen

 

 




Musici

If it is hard to accept a rebuke, even a private one, it is harder still to administer one in loving humility. —D.A. Carson

 

Musici

Het jy al mooi gekyk na ‘n orkes en hoe hulle saamwerk om resultate te kry?  Wat kan ons by hulle leer?

 

  • Jy moet jou deel leer. As jy nie weet wat gaan aan nie, kan jy nie waarde toevoeg en ‘n bydrae maak nie. Al wat jy kan bydra is geraas en verwarring. Ken jou rol; ontwikkel jou vaardighede sodat jy kan doen wat jy moet doen.
  • Speel jou deel. Jy kan net doen wat jy kan doen – wat jy geleer het om te doen. Jou voorbeeld sal ander aanmoedig om ook hulle deel te doen.
  • Hou die wysie; bly by die ander. Jy kan nie sommer vooruit storm of agterraak nie. Dit beteken mos niks as jy vooruit gaan sonder die ander nie. Gee aandag en hou pas.
  • Die lewe is nie altyd interessant nie, maar dit is ook nie ‘n voorspelbare roetine nie. Jy moet doen wat nodig is wanneer dit nodig is. Lees die situasie en reageer daarop.
  • Eindig goed. As jy jou deel klaar gespeel het, moet iemand opmerk dat jy met passie gespeel het. Iemand moet sien dat jy waarde toegevoeg het – dat jy jou bes gedoen het.

 

Ons lewens op aarde is maar kort. Niemand kan daardie lewe namens my leef nie.

 

 

 

 




God roep my om op te offer

“When Christ is Lord, nothing is secular.” John Stott

 

God roep my om op te offer

Nêrens in die Bybel lees ons dat God se kinders nie gaan swaarkry nie. Jesus maak dit baie duidelik dat die wêreld hulle sal haat (Johannes 17:14). God se wil is nie meer vir die moderne mens belangrik nie. Dit skep spanning by sy kinders. Ons hou nie daarvan as die wêreld ons haat nie; ons wil graag deel van die wêreld wees. Dit is dan wat gelowiges allerhande kompromieë met die wêreld aangaan.

 

 

Christene moet opoffer. As God my roep, gee Hy aan my sekere verantwoordelikhede en verwag Hy van my sekere opofferings. As daar iemand is wat moes opoffer, was dit Jeremia. Lees net weer sy lewensverhaal:

  • Sy roeping was nie maklik nie: Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Jeremia het goed geweet dat as hy hierdie roeping gaan uitvoer hy beslis nie die gewildste persoon in Israel gaan wees nie.
  • Hy mag nie getrou het nie. Seker die belangrikste lewensanker naas God, jou familie, was hom nie beskore nie.
  • Jeremia word gemartel, in die tronk gegooi en in ‘n put gehou. Hier versmoor hy byna.
  • So het die Here vir my gesê: Maak vir jou jukke met skeie en stroppe en sit een daarvan op jou nek (27:2). Geen wonder Jeremia word gereeld deur die volk gespot nie.

 

Uit hierdie kort skets is dit duidelik dat Jeremia ‘n moeilike pad geloop het. Alles was teen Jeremia, maar hy het nooit sy boodskap of sy roeping versaak nie. Hoe kry hy dit reg: Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red (1:19). Dit hoekom ons kan en moet volhard al gaan dit swaar met ons: ons het die versekering dat God met ons is.

 




God roep; God bemagtig

Seducers are more dangerous enemies to the church than persecutors. —Matthew Henry

 

God roep; God bemagtig

In Jeremia 1:4 – 10 lees ons van Jeremia se roeping tot profeet. Dit is nogal interessant om te let op al die ooreenkomste tussen sy roeping en dié van Moses.

 

Jeremia was nog jonk toe God hom geroep het. Dit maak hom bang: Ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk. Wat Jeremia nie besef het nie, is dat as God jou roep, bemagtig Hy jou om dit te doen waarvoor Hy jou geroep het.

 

As God my roep, kan ek dit nie ignoreer of allerhande verskonings maak nie. Hy gee altyd vir my alles wat ek nodig het. Een van die probleme is dat ons dikwels sommer ‘n roeping uitdink – dit kom nie werklik van God af nie. As God ons nie roep en stuur nie, gaan ons nie slaag nie.

 

Kom ons kyk na Jeremia se roeping van nader:

  • God het Jeremia vir ‘n spesifieke doel geskep: Voordat Ek jou in jou moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
  • Jeremia maak verskonings – hy kan nie goed praat nie; hy is te jonk. Hy voel hy is nie bekwaam genoeg nie.
  • God vra totale beheer. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Hierdie is vir ons baie lastig, want ons wil altyd voel dat ons in beheer is. As God ons roep, is Hy in beheer.
  • God bemoedig Jeremia. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. God stuur ons nie op ‘n sending so op ons eie nie – Hy stap saam met ons.
  • God bemagtig vir Jeremia: Ek kan nie goed praat nie …  Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. God weet wat ons swakhede is, maar Hy stel ons in staat om dit te oorwin. Toe Moses sê dat hy nie goed praat nie, stuur God vir Aäron om die praatwerk te doen. God verwag nie dat ons iets moet doen as Hy ons nie daartoe bemagtig nie.
  • As God my roep, is dit nie om gemaklik te wees nie. Kyk net waarvoor roep God vir Jeremia: Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Geen wonder Jeremia het so swaar gekry nie.

 

As God my roep, moet ek nie bang wees nie, want ek het die versekering dat as Hy my roep, Hy my ook sal bemagtig.