Ek is gewond

All possible care must be taken, that we hold that faith which has been believed everywhere, always, by all –  Vincent van Lérins in 434

 

Ek is gewond

Kom ons kyk weer na Henri Nouwen:

Almal van ons word op een of ander stadium gewond. Ons is gewonde mense – of fisies of emosioneel of geestelik. Die vraag wat ons vra, is: “Hoe kan ek my wonde wegsteek?” Dit is ‘n verkeerde vraag. Ons hoef nie verleë te wees omdat ons gewond is nie.

Die vraag wat ons moet vra, is: “Hoe kan ek met my wonde vir ander tot diens wees?” As ons wonde nie meer ‘n bron van skaamte is nie, maar ‘n bron van genesing, word ons gewonde genesers.

 

Jesus is God se gewonde Geneser. Deur sy wonde is ons genees. Jesus se lyding en dood bring vreugde en lewe. Jesus se verwerping bring vir ons ‘n gemeenskap van liefde. Sy vernedering bring heerlikheid. As volgelinge van Jesus kan ons ook toesien dat ons wonde genesing vir ander bring.

 

 




God se liefde

To remain ignorant of what has happened before you were born is to remain always a child – Cicero.

 

God se liefde

Christene in Nigerië word wreed vervolg. Hulle word met gewere en pangas vermoor; kerke en huise word afgebrand. Ons lees gereeld verhale van Christene wat, ten spyte van al die pyn en lyding, God vir sy genade en goedheid prys. Hulle weet dat vervolging deel is van die Christen se lewe: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 21).

  

Vir mense wat swaarkry of onder misdaad ly, is Psalm 10 ‘n bron van troos. Hierdie psalm begin so: Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? Vers 2 – 11 skilder vir ons ‘n somber prentjie van die goddeloses. Hulle is trots en arrogant; in hulle gedagtes is daar geen plek vir God nie; hulle gierigheid en begeertes heers in hulle; hulle stel strikke vir die hulpeloses; hulle is oneerlik. Hulle glo dat God Hom nie aan hulle dade steur nie en daarom sal Hy hulle ook nie oordeel nie.

 

Alles is nie verlore nie. Die psalmis glo dat God sy kinders kan en sal red – uiteindelik sal Hy hierdie mense oordeel (vers 12 – 18). Die goddelose mense sal nie maar ongestraf kan voortgaan en die verkeerde dinge doen nie. God sien en weet presies wat aangaan – U let daarop en maak daar ‘n einde aan.

 

Luister net hoe eindig hierdie psalm: Die Here bly altyd koning … U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed … sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.

 

God verdedig die weeskind en die mens in nood. As sy volgelinge moet ons sy voorbeeld volg. Verdedig ons die weeskind en die mens in nood? Hierdie mense is net so deel van dieselfde liggaam van Christus as wat ons is.

 




Is ons verbruikers?

In the Lord’s prayer I never doubt that I have prayed according to God’s will – Martin Luther

 

Is ons verbruikers?

Daar word baie geskryf oor die verbruikersmentaliteit in die kerk. Die kritiek fokus gewoonlik op afgodery – die versoeking om materiële dinge en nie God nie sentraal in ons lewens te plaas. Maar ons moet tog dinge verbruik om te lewe. Die probleem is nie verbruik om te lewe nie, maar lewe om te verbruik.

 

 Ons leef in ‘n kultuur wat ons verhoudings en optrede primêr definieer deur ‘n matriks van verbruik. Ons beoordeel ons eie waarde en die waarde van ander op grond van die dinge wat ons koop. Ons identiteit word nou bepaal deur die klere wat ons dra, die motor wat ons bestuur en die musiek op jou iPod – dit wat ons verbruik.

 

As hierdie verstaan van ons wêreld en onsself ons geloof insypel gebeur twee dinge:

  • God word van God na ‘n kommoditeit gereduseer. Sy waarde, soos dié van alle ander dinge, word bepaal deur hoe nuttig Hy vir ons is. Vir verbruikers is persoonlike begeertes en hulle vervulling die strewe. Alles en almal – ook God – is daar om hierdie begeertes te bevredig. Maar die Bybel sê ons moet ons aan God onderwerp en in nederigheid saam met Hom loop. Verbruikers sien God as ‘n middel tot ‘n doel – ‘n nuttige instrument om ons begeertes te vervul. God word nou ‘n terapeut.
  • Jesus Christus is nie meer Here nie, maar ‘n etiket. Toe die vroeë Christene gesê dat Christus die Here is, het hulle die gewilde siening – die keiser is here – van destyds omgekeer. Dit was ‘n verklaring van Jesus se gesag en mag oor alle dinge. Hy is ons hemelse Koning.

 

Vir verbruikers is die kliënt koning. Christene se verwagting is nie meer gehoorsaamheid en trou aan Christus nie, maar die verbruik van allerhande Christelike goedere en ondervindings – musiek, boeke, T-hemde, konferensies, ens. Ons leef nie meer die waardes en etiek van God se koninkryk uit nie, maar dié van ons verbruikerskultuur. Ons identiteit as Christene is ‘n dun lagie vernis.

 

Dit beteken ons moet moeilike vrae oor ons geloof vra. Soek ek werklik ‘n lewe met God of gebruik ek Hom net? Is Christen ‘n etiket wat ek aanplak of beïnvloed dit my lewe en gedrag? Verkondig ons Jesus Christus as die middelpunt van ons lewens? Of word Hy verpak en verkoop as ‘n kommoditeit?

 

 




Trek nederigheid aan

We do not err because truth is difficult to see. It is visible at a glance. We err because this is more comfortable. -Alexander Solzhenitsyn

 

Nederigheid

Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5).         

Hierteenoor Mohammed Ali: “Dit is moeilik om nederig te wees as jy so groot soos ek is.”

Baie van ons dink nogal soos Mohammed Ali – ons is net nie so dom om dit te sê nie! As ons nie dink ons is groot nie, is ons terneergedruk, want ons dink ons behoort groot te wees.

   

 Nederigheid is nie ‘n normale eienskap van mense nie. Dit is eers as Jesus ons red en ons met die Heilige Gees gevul word, dat ons verander. Dit gebeur nie outomaties nie – ons moet werk daaraan. Dit vereis ‘n poging van ons kant. Die New King James Version sê: be clothed with humility – ons moet nederigheid aantrek. Dit is nie maklik nie.

 

Hoe kan ons nederigheid aantrek? Hier is ‘n paar voorstelle:

  • Luister na ander

Terwyl jy luister, moet jy nie dink oor jou antwoord nie; moenie onderbreek nie: Maar dit … maar dat … Dit is ‘n duidelike bewys dat jy nie luister nie.

 

  • Wees leerbaar

‘n Duidelike teken dat jy nie leerbaar is nie, is as jy nie kan wag dat mense ophou om vir jou iets te sê nie. Ek weet dit … ek weet vooraf alles wat jy gaan sê. So iemand gaan nie leer nie.

 

  • Moenie ander vir jou sondes blameer nie

Die ou storie: Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang. Onskuldig. Ons is verantwoordelik vir die keuses wat ons maak. Moenie ander blameer as jy verkeerde keuses maak nie.

 

  • Moenie so seker wees dat jy altyd reg is nie

Daar is regtig mense in hierdie wêreld wat meer as jy weet – moeilik om te glo.

 

  • Stel in ander mense belang

‘n Nederige persoon probeer ander betrek deur vrae oor hulleself te vra. Nederige mense stel in ander mense belang.

 

  • Vra opreg om verskoning

 Dit is meer as om net te sê jy is jammer. Vergewe my asseblief.

 

  • Bid oor jou gebiede van swakheid en versoeking

 Noem dit by die naam. Moenie sommer so in die algemeen bid nie. Bid dat God jou sal help om jou humeur te beheer, ens. Vra ook ander om vir jou te bid. Hiermee erken jy dat jy swak is.

 

Trek nederigheid aan. Dit is God se opdrag. Nog ‘n rede om dit te doen: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.