Gereeld bid

“What embitters the world is not excess of criticism, but an absence of self-criticism.” –  G. K. Chesterton

Gereeld bid

Is dit verkeerd om aan te hou bid vir dieselfde ding? Insinueer ek nie daarmee dat God nie luister of nie omgee of nie onthou nie? David McIntyre (The Hidden Life of Prayer) sê dat God verwag dat ons dinge wat vir ons belangrik is, moet vra: Maak is alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Filippense 4:6).

 

Nou die vraag: Hoekom? Hoekom wil God dinge juis op hierdie manier doen? McIntyre gee vier redes hiervoor:

  • Afhanklikheid. Deur gebed wys ons dat ons in nederigheid op die genade van God vertrou.
  • Gemeenskap. God wil graag hê dat ons in sy teenwoordigheid moet wees. Hy wil nie hê dat ons van Hom moet praat nie, maar met Hom.
  • Voorbereiding. Baie moet in ons gedoen word voordat ons waardig is om sy gawes ten volle te ontvang. God berei ons harte voor deur nie ons versoeke onmiddellik toe te staan nie. So bly ons in sy teenwoordigheid totdat ons sy wil verstaan.
  • Samewerking. Ons is, saam met God, mede-arbeiders. Net in gebed gaan ons dit regkry.




Bonhoeffer (15)

The more you pray, the less you’ll panic. The more you worship, the less you worry. You’ll feel more patient and less pressured.” ― Rick Warren

Bonhoeffer (15)

Goedkoop genade beteken dat die sonde, maar nie die sondaar, vrygekoop is. Omdat genade alles doen, kan alles maar bly soos dit in die verlede was – alles wat ons doen is immers tevergeefs. Die wêreld bly wêreld en ons bly sondaars. Die Christen leef nes die wêreld leef.

 

Goedkoop genade is wat ons vir onsself toeëien; goedkoop genade is die verkondiging van vergifnis sonder berou; dit is die gebruik van die Nagmaal sonder belydenis van ons sonde; goedkoop genade is genade sonder dissipelskap; goedkoop genade is genade sonder die kruis en sonder die lewende Jesus Christus wat mens geword het.

 

  • Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie, maar onder die genade? Beslis nie. Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen (Romeine 6:15 – 18).
  • Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie? Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien (Psalm 51:12 – 14).

 

Wat gebeur met die dissipels as sout vir die aarde as die kerk sulke goedkoop genade uitdeel? Herken ons sekere van hierdie eienskappe van goedkoop genade wat Bonhoeffer hier identifiseer ook in ons eie lewens of in ons geloofsgemeenskap?

 

Here, U het my met ‘n ewigdurende liefde lief. Verlos my van goedkoop genade dat ek op u liefde met my hele lewe kan reageer. Amen.

 




Mites aangaande die kerk

“I agree with the realistic Irishman who said he preferred to prophesy after the event.” – G. K. Chesterton

Mites aangaande die kerk

Ons moet ons vermoë om te onderskei opskerp. Hier is vier mites aangaande die kerk wat baie mense laat twyfel.

 

Mite #1: Die woord van God is onvoldoende.

Die woord van God het nie al die antwoorde vir wat mense in die ingewikkelde lewe van vandag nodig het nie. Wat ons eintlik nodig het, is sielkunde!

Is dit waar? Luister net hierna: Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien (2 Petrus 1:3). As jy ‘n probleem/las/stryd het, is die antwoord nie om van God se woord weg te hardloop en maand na maand ‘n berader te sien nie. Gelowiges moenie die wêreld vra om dinge op te los wat God reeds in sy woord en deur sy Gees opgelos het nie.

 

Mite #2: Die woord van God is nie gesofistikeerd nie.

As jy regtig mense – veral jongmense – wil bereik het jy iets meer gesofistikeerd as God se woord nodig.

Die probleem is dat baie kerke hierdie mite glo en op die horisontale dimensie fokus – ons sal jou help om jou selfbeeld te verbeter, ens. ‘n Ware kerk fokus op die vertikale dimensie – op Christus as die antwoord van al ons probleme.

 

Mite 3#: Die woord van God is nie vas nie.

Die woord is nog besig om te ontwikkel; die boodskap kan nog verander. Die Bybel beteken verskillende dinge vir verskillende mense.

Hierdie benadering gee aan mense die gesag om maar sonde te doen. Ons moet daardie dele wat ons sondes beskryf en verdoem anders interpreteer. Alles in die Bybel is nie meer relevant nie – die Bybel moet opgedateer word. Nie waar nie.

 

Mite #4: Die woord van God is nie betroubaar nie

Christus is nie uniek nie. In ons plurale wêreld moet ons sy unieke boodskap verwerp. Maar die Bybel is baie duidelik hieroor: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat hulle verlos moet word nie (Handelinge 4:12); Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6).

 

Wat moet ons doen? Moet ons al ons tyd spandeer om die woord van God te verdedig? Dit is nodig, maar Paulus se opdrag aan Timoteus help ons baie:

3Die tyd sal kom wanneer mense nie meer belang sal stel om na die waarheid te luister nie. Hulle sal eerder wil aanloop agter dinge wat vir hulle lekker is. Daarom sal hulle liewers na predikers toe stroom wat net vir hulle vertel wat hulle graag wil hoor. 4Van die waarheid sal hulle niks meer wil weet nie. Nee, hulle sal baie meer hou van allerhande stories oor godsdiens wat mense sommer uit hulle duim gesuig het. 5Maar jy moet nie dieselfde fout maak nie. Bly wakker en hou altyd kop. As dit jou in die moei­­lik­heid bring, moenie bang word nie, maar hou aan om die mense van God te vertel, want dit is jou werk. Doen alles goed wat jou werk van jou mag vra. (2Timoteus 4:3 – 5 – Die Boodskap).

 

Ons luister so graag na wat ander te sê het oor die kerk en godsdiens. Oppas vir mites. Hier is vier genoem, maar daar is nog meer.




Entoesiasme

Our prayers run along one road and God’s answers by another, and by and by they meet. —Adoniram Judson

Entoesiasme

John Wesley skryf in sy joernaal (10 en 11 Junie, 1776) van ‘n vrou wat hy nie kon bereik nie:

 

Terwyl ek daar was, het ek veral met ‘n vroom vrou gesels – ‘n vrou wat ek nie kon verstaan nie. Ek twyfel nie dat sy opreg was nie en aan God toegewy was nie. Maar sy het onder ‘n groep entoesiaste verval. Hulle het dit goed bedoel. Hulle leer haar om na die stem uit haar binneste te luister. Sy moes haar aan die samelewing onttrek, geen eredienste bywoon en nie die nagmaal gebruik nie. Sy moes van feitlik alle uiterlike middele ontslae raak. ‘n Mens weet nie hoe om vir hulle raad te gee nie. Hulle mag nie teen hulle gewete, al is dit verkeerd, optree nie Wie kan hulle oortuig dat hulle gewete verkeerd is? Net die Almagtige.

 

Ons eerste reaksie: Gelukkig nie ‘n probleem waarmee ons vandag te doen het nie. Is jy seker. In ons samelewing is daar ook mense soos hierdie vrou. Dink aan daardie mans wat nie die eredienste saam met hulle vrouens bywoon nie, want hulle kan “godsdienstig” wees sonder om eredienste by te woon. Dink aan daardie mense wat sê hulle is geestelik, maar nie godsdienstig nie; dink aan daardie mense wat sê dat hulle weet wat hulle glo en niemand gaan hulle mening verander nie.

 

Daar is niks nuuts onder die son nie. Soos John Wesley kan ons maar net hierdie mense aan God in gebed opdra.