Bonhoeffer (14)

Bonhoeffer (14)

Let wel: nie julle behoort die sout te wees nie, maar julle is. Die dissipels het geen keuse nie – hulle kan nie besluit of hulle sout wil wees of nie. Hierdie is ook nie ‘n oproep op hulle om sout te wees nie. Hulle is die sout of hulle dit nou wil wees of nie. Hoe het hulle hierdie sout geword? Deur die roeping wat na hulle gekom het. Hier staan ook nie dat hulle die sout het nie – hulle is die sout.

 




Geheime

G. K. Chesterton

Geheime

As jy die woord geheim in ‘n preek hoor of in die Bybel lees, wat doen jy? In ‘n preek oor 1 Timoteus 3:16 – Die groot geheim van Goddelikheid – het Calvyn gesê dat daar twee dinge is wat ons moet onthou:

 

  • Ons moet ons beperkings ken. Ons moenie onsself vlei deur te dink ons het voldoende kennis om so ‘n omvangryke saak te verstaan nie.
  • Ons is geneig tot twee sondige reaksies as ons die woord geheim hoor of lees:

    • Trots. As ons die woord geheim hoor, is ons onmiddellik trots op onsself en dink ons het die vermoë om hierdie geheim te hanteer. Of
    • Luiheid. Ons aanvaar daar is niks in hierdie geheim wat ons aandag nodig het nie. Ons sluit af.

    Wat is jou gewone reaksie? Meeste mense wissel tussen die twee. Ander is beide trots en lui terselfdertyd: “Ek gaan nou nie my tyd mors deur die saak te ondersoek nie, maar as ek dit sou doen, sal ek dit oplos!”

    As ons op die woord geheim/geheimenis in die Bybel afkom, bêre jou trots, raak ontslae van jou luiheid en gee aandag. God is besig om vir jou iets te sê.




Bonhoeffer (13)

Bonhoeffer (13)

Wie is diegene wat vervolg word? Hier gaan dit oor diegene wat vir ‘n regverdige saak vervolg word. Dit is Jesus se dissipels wat ly as gevolg van hulle optrede. Jesus se dissipels oordeel en tree anders op as die mense van die wêreld.  Hulle doen afstand van hulle eiendom, hulle regte, hulle doen afstand van geweld.

Gehoorsaamheid en Genade

Gehoorsaamheid en Genade

Tim Keller het by The Gospel Coalition’s Women’s Conference hieroor gepraat. Hy glo dat die volgorde belangrik is. God het nie vir die Israeliete die wet – die tien gebooie – gegee en gevra dat hulle moet sê dat hulle alles sal doen wat die wet sê nie. Daarna sê Hy nie: “Goed, nou sal Ek julle uit Egipte lei en julle van slawerny verlos,” nie. God het hulle eers gered en toe gesê: “Omdat Ek julle gered het, moet julle my gehoorsaam.”

 

Interessant dat die Israeliete niks moes doen om uit Egipte verlos te word nie – geen burgeroorlog nie. Dit was alles net genade. Keller beklemtoon die volgorde van gebeure tydens die uittog: die verlossende optrede van God, gehoorsaamheid van die volk in reaksie op wat God gedoen het en seën as gevolg van hulle gehoorsaamheid.

In ‘n neutedop: verlossing deur genade, gehoorsaamheid en dan seën. Hierdie volgorde is vas. Die evangelie is dat ek aanvaar dat ek verlos is as gevolg van die bloed van Jesus Christus en daarom gehoorsaam ek. Die alternatiewe benadering – eers gehoorsaam en dan verlos – berus op vrees – hulle gehoorsaam, want hulle is bang. Maar as ons verstaan dat God ons eers verlos het en daarom is ons gehoorsaam, is die motiverende faktore liefde en dankbaarheid.

As ek sê dat as ek gehoorsaam is, God my sal seën, tree ek selfgesentreerd op. Hoekom gehoorsaam jy vir God? Om dinge te kry. Sulke gehoorsaamheid is altyd voorwaardelik. As ek egter weet dat ek reeds alles in Jesus Christus het, is ek nie gehoorsaam omdat ek dinge wil hê nie – ek is gehoorsaam om God te verheerlik.