Voed diegene wat honger het

“The riddles of God are more satisfying than the solutions of man.” – G. K. Chesterton

Voed diegene wat honger het

Mohandas Gandhi was die leier van Indië se onafhanklikheidstryd. (Hy het ‘n tyd lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk.) Hy was baie bekommerd oor die lot van die armes. Hy sê: “There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread.”

Gandhi was natuurlik nie ‘n Christen nie, maar hier dra hy ‘n belangrike waarheid van God oor: God het sy teenwoordigheid aan armes bekend gemaak deur te voorsien. In die woestyn was dit manna, kwartels en water. In Johannes 6 gebruik Hy vyf garsbrode en twee vissies om duisende  honger mense te voed.

Hierdie gebeurtenis vind kort voor die Jode se paasfees plaas. Hierdie fees herdenk die verlossing van die Jode uit Egipte. Die fees herinner hulle aan God se trou toe Hy hulle uit slawerny gered het. Deur die honger skare te voed, openbaar Jesus hier ‘n geestelike werklikheid – die mense besef dat Hy die Een is wat na die wêreld toe moes kom.

Jesus het nie net gekom om brood en vis uit te deel nie. Aan dié wat honger is, stel Hy Homself bekend as die lewende brood uit die hemel – gestuur deur God om ‘n honger wêreld te voed.




Bonhoeffer (10)

Even in literature and art, no man who bothers about originality will ever be original: whereas if you simply try to tell the truth (without caring twopence how often it has been told before) you will, nine times out of ten, become original without ever having noticed it – C. S. Lewis

Bonhoeffer (10)

Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.

 

Hierdie mense sonder besittings, hierdie vreemdelinge in die wêreld, hierdie magteloses, hierdie volgelinge van Jesus leef met Hom deurdat hulle ook van hulle eie waardigheid afstand doen – hulle is barmhartig. Asof hulle eie behoeftes en tekorte nie genoeg was nie, deel hulle in ander mense se behoeftes en skuld.

Hulle het ‘n onweerstaanbare liefde vir die swakkes en siekes – vir diegene wat mishandel word en aan wie ongeregtigheid gedoen word, vir diegene wat verwerp word, vir diegene wat seer het en bang is.

 

Hulle soek juis diegene wat in sonde en skuld verval het uit. Geen behoefte is te groot, geen sonde so aaklig dat genade dit nie kan regstel nie. Dissipels doen afstand van hulle grootste besitting – hulle eie waardigheid en eer – en bewys barmhartigheid. Hulle ken net een waardigheid en en eer – die genade van hulle Here wat hulle enigste bron van lewe is.

 

Bonhoeffer gee weer twee teksverse:

  • Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).
  • Hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes, hy is genadig, barmhartig en regverdig. Dit is ‘n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree (Psalm 112:4 – 5).

 

Hoe lyk barmhartigheid? Hoe tree barmhartige mense op? Hoe dikwels weerhou ons nie barmhartigheid nie. Dan moet ons nadink aan al die geleenthede waar God sy barmhartigheid vir ons bewys het. Dink aan iemand wat barmhartigheid nodig het. Bid vir hom, maar vra vir God hoe jy barmhartigheid aan hom kan bewys.

 

Here, mag u oneindige barmhartigheid aan my, my in staat stel om ook barmhartigheid aan ander te bewys. Amen.




Ek kan God deur gestremdhede ken

“It is not bigotry to be certain we are right; but it is bigotry to be unable to imagine how we might possibly have gone wrong.” – G. K. Chesterton

Ek kan God deur gestremdhede ken

In A Good and Perfect Gift beskryf Amy Julia Becker hoe sy haar dogter, Penny, wat met Down Sindroom gebore is, grootgemaak het. Sommige mense kyk na Penny en besef wat met haar verkeerd is. Hulle vergelyk haar met wat hulle as normaal beskou. Hulle idee van mense met verskille en gestremdhede maak hulle blind – hulle sien nie die unieke, kosbare meisie raak nie. Vir Amy en haar man is Penny egter ‘n gawe van God. Sy, gemaak na die beeld van God, weerspieël haar Skepper op baie maniere. Sy maak Hom aan ander bekend.

In die eerste eeu het gestremdhede ‘n stigma gedra – soos dit vandag steeds dikwels die geval is. Baie mense het geglo dat die oorsaak van gestremdhede sonde was. Die persoon wat met gestremdhede gebore is – dus nog nie die geleentheid gehad het om te sondig nie – het ‘n teologiese debat ontketen. Toe mense ‘n man wat blind gebore is teenkom, het hulle gewonder wat dit veroorsaak het (Johannes 9). Deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n? vra hulle vir Jesus.

 

Groot was hulle verbasing toe Jesus antwoord: Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie. Onmoontlik. Hierdie man, verduidelik Jesus aan hulle, is blind gebore sodat die werke wat God doen in hom gesien kan word. Vanaf sy geboorte was God se plan dat hy vir Jesus sou ontmoet. As Jesus hierdie man se fisiese oë oopmaak, sou die geestelike oë van baie ander ook oopgemaak word en sou hulle Jesus as die Seun van God herken.

 

Hierdie ontmoeting demonstreer vir ons die verskil van hoe God en hoe ons as mense dinge en mense sien. Diegene wat ons so maklik as anders identifiseer – selfs sondig – is dikwels diegene deur wie God se goedheid geopenbaar word.

 

Ons glo steeds dat die sterk en gesonde, die ryk en mooi mense die beeld van God dra. God het egter verkies om Homself te verneder; Hy besluit dat Hy deur swakheid sal werk. Die magtige God gee om vir diegene wat swak is. God word in ons swakhede geopenbaar.




Bonhoeffer (9)

The world does not consist of 100 percent Christians and 100 percent non-Christians. There are people (a great many of them) who are slowly ceasing to be Christians but who still call themselves by that name: some of them are clergymen. There are other people who are slowly becoming Christians though they do not yet call themselves so – C. S. Lewis

Bonhoeffer (9)

Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.

 

Dissipels doen nie net afstand van hulle regte nie, maar hulle doen selfs afstand van hulle eie geregtigheid. Hulle kry geen krediet vir wat hulle doen en opoffer nie. Al geregtigheid wat hulle het, is om te honger en dors na wat reg is.

Hulle sal nie hulle eie of God se geregtigheid op aarde hê nie Hulle kyk deurentyd vooruit na God se toekomstige geregtigheid. Hulle kan dit nie self vermag nie. Diegene wat Jesus volg, honger en dors die hele pad. Hulle verlang na die vergifnis van alle sondes en volkome vernuwing; hulle smag na die vernuwing van die aarde en God se volmaakte geregtigheid.

 

Bonhoeffer gee weer twee Bybelverse:

  • Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word (Matteus 5:6).
  • Wat die Here sê, gebeur, alles wat Hy doen, staan vas.  Hy het geregtigheid en reg lief, die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde (Psalm 33:4 – 5).

 

Honger en dors ons ooit na reg in ons lewens? Wat doen ons om dit te stil? Dink aan daardie plekke waar mense ly as gevolg van ongeregtigheid. Bid dat gelowiges nee sal sê vir lyding en ongeregtigheid en dan sal saamstaan en werk vir geregtigheid.

 

Here, mag u koninkryk van geregtigheid in my lewe en in die wêreld kom. Amen.