Aanbid met jou sintuie

A man can no more diminish God’s glory by refusing to worship Him than a lunatic can put out the sun by scribbling the word “darkness” on the walls of his cell – C. S. Lewis

Aanbid met jou sintuie

Watter van jou vyf sintuie is die belangrikste om jou aanbidding en lof teenoor God te bewys?

Miskien is dit jou oor – jy hou van musiek. Psalm 98:4 – 5 nooi ons daartoe uit: Juig tot eer van die Here, , almal op aarde, wees vrolik, juig en sing! Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing. Let wel dat ons deur ons musiek God moet vereer.

Miskien is jy meer ‘n mens vir sien – ‘n sonsondergang, ‘n waterval, ‘n skildery … Is jou oë op God gerig? (Psalm 149:8). Luister na die psalmis: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem (19:2 – 4).

‘n Derde sintuig is smaak. God het aan ons die vermoë gegee om klein verskille in smaak te onderskei. So lees ons in Openbaring 7:16 – 17: Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie … want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei.

Die vierde sintuig is tas. Ons lees dat toe Jesus in die landstreek van Gennesaret kom, en die mense Hom herken het, stuur hulle boodskappers uit. Die mense bring almal wat ongesteld was na Hom: Hulle het Hom gevra of die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak (Matteus 14:34 – 36) Gebruik jy jou hande om aan te raak of te skep om so vir God te verheerlik.

Die vyfde sintuig is reuk. Die vrou wat Jesus in Betanië gesalf het (Matteus 266 – 13) het kosbare reukolie gebruik. Of jou passie nou tuinmaak of kook of blommerangskikking is, verstaan jy die belang van reuk. Dink maar aan die offers in die OT: Dit is ‘n brandoffer aan die Here; ‘n lieflike geur (Eksodus 29:18 – OAV). In Efesiërs 5:1 – 2 moedig Paulus sy lesers aan om God na te volg en in liefde te lewe. Hy sê dat Christus Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur (OAV).

Aanbid God deur van een van jou sintuie gebruik te maak. Gebruik ook daardie sintuie wat jy selde gebruik om ‘n nuwe perspektief op aanbidding te kry.




Psalm 119:34

“It is more important for a pastor to prod and empower than to pacify. Conflict… is an expected, necessary byproduct of transformative leadership in the name of Jesus. The church begins (Acts 2) in fire and earth trembling; the church dies by files and regulations.” Will Willimon

Psalm 119:34

Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart onderhou (NAV)

Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja dit kan onderhou van ganser harte (OAV)

Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê (Die Boodskap)

 

Hoe voel jy as jy iets nie verstaan nie? Gefrustreerd? Verward? Kwaad vir jouself of vir die persoon wat jy blameer omdat jy nie verstaan nie? Bang jy lyk dom of onbekwaam?

Die psalmis verlang insig/verstand, nie om verwarring te vermy nie, ook nie om slim te lyk nie, ook nie om verleentheid te voorkom nie, maar om God te gehoorsaam. Hy wil verstaan, sodat hy God se wet met sy hele hart kan onderhou.

 

Wat moet ons verstaan? Dat God se wet ‘n vorm van genade is. Die psalmis het verstaan dat God se wet ‘n manier is om die mens te seën. Ons sien dit in elke vers van Psalm 119 – die psalmis is bly in God en God se wet. Daarom vra hy voortdurend hulp om gehoorsaam te wees. Hy besef dat die goeie uit gehoorsaamheid sal voortspruit.

 

Is Psalm 119 nie ‘n bietjie oorbodig – te veel – nie? Die Skrif is soms vir ons ‘n bietjie oorbodig. Is Rigters nie oorbodig nie? Is vier evangelies nie oorbodig nie? Maar dit is reg so, want dit is goed om belangrike dinge te herhaal. Daarom herhaal die psalmis gereeld dat om God se wet te ken, goed is. Dit maak die punt duidelik.

 

God, help ons om die geheimenisse van u wêreld te verstaan en gee aan ons die vermoë om in genade op te tree. Amen.




Hoe hanteer ek diegene wat van my verskil? (4)

The safest road to Hell is the gradual one — the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts – C. S. Lewis

Hoe hanteer ek diegene wat van my verskil? (4)

The Biologos Forum is ‘n webblad waar artikels oor die wetenskap-godsdiens dialoog verskyn. Roger Nicole (1915 – 2010), bekende teoloog, het hierdie kort reeks geskryf. Wat ons moet doen, is om sekere beginsels te ontdek wat ons verhouding met diegene wat van ons verskil sal bepaal. Nicole beantwoord drie vrae in sy artikel:

(1) Wat skuld ek die persoon wat van my verskil?

(2) Wat kan ek leer van die persoon wat van my verskil?

(3) Hoe hanteer ek die persoon wat van my verskil?

Hy voel sterk dat ons hulle in hierdie volgorde moet vra. Ons is so geneig om na die derde vraag te spring – hoe kan ek hom regsien! Jy sal nie baie van jou teenstanders op hierdie manier oortuig nie.


Argumente wat berus op die Christelike geskiedenis en tradisie.

Die geskiedenis stel ons in staat om die moontlike ontwikkelings wat mag voortspruit uit die leerstellings wat ons aanvaar, waar te neem. Die besluite van sinodes en belydenisskrifte help ons dikwels om teen verkeerde menings te waak. As ons hierdie kennis verwaarloos, mag ons dieselfde foute weer maak.

 

Konstruktief is dit belangrik dat ek moet probeer bewys dat ek geloofstellings wat algemeen aanvaar word, ondersteun. Dit is veral belangrik as die belydenisskrif of besluit juis aanvaar is met die doel om die siening wat deur die persoon van wie ek verskil gehandhaaf word, te weerlê. Alle mensgemaakte stellings kan hersien en reggestel word, maar dit is haas onmoontlik dat ‘n siening direk teenstrydig met die Geloofsbelydenis van Nicea reg sou wees. Hierdie belydenisse is immers deur die eeue deur Christelike denke getoets. Dit is egter belangrik dat ons alle faktore oorweeg en nie net dié wat ons siening ondersteun nie. Lesse uit die geskiedenis moet versigtig toegepas word.

Argumente van die persoon wat van ons verskil mag ook irrelevant wees, want dit hanteer nie werklik die probleem nie – hulle mag slegs perifeer verband hou met die saak onder bespreking.

 

Die Christen se doel

Die Christen moet te alle tye bewus wees van die doel wat hy wil bereik. Dit rig die hele debat. Die vraag is: Wil ons ‘n argument wen om sodoende ons meerdere kennis en argumenteringsvaardighede te bewys of probeer ons ‘n ander persoon, wat ons glo vasgevang is in ‘n verkeerde siening, te wen deur hom aan die lig en waarheid wat God aan ons geskenk het, bloot te stel?

 

As ons doel is om ons meerdere kennis en vermoë ten toon te stel, is ons pogings tevergeefs. Probeer ons egter die persoon wat van ons verskil wen, getuig dit van liefde. Dit vermeerder ook ons geduld as ons argumente geen onmiddellike effek het nie. Dit is ‘n uitdaging om te verstaan watter argumente die oortuigendste vir hulle sal wees. God het ons immers aangestel om van die lig te getuig. Hy maak ons getuienis doeltreffend.

 

God kan natuurlik selfs die mense wat die meeste weerstand bied, oortuig. Wie sou geglo het dat Stefanus die hart en denke van enigeen van die mense wat hom gestenig het, sou aanraak? Maar hy het Saulus se hart aangeraak. God het Stefanus se argumente gebruik om sekerlik die ywerigste en mees bekwame teenstander van die Christelike geloof te verander in die grootste apostel – Paulus.

 

‘n Christen wat sake bespreek met iemand wat van hom verskil, is nie ‘n bokser nie – hy wil nie die ander persoon ‘n uitklophou gee nie. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en tot kennis van die waarheid bring (2 Timoteus 2:24 – 25).




Psalm 119:33

There is not one blade of grass, there is no color in this world that is not intended to make us rejoice. —John Calvin

Psalm 119:33

Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek tot die einde toe daaraan kan hou (NAV).

Here, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan hou (OAV)

Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra (Die Boodskap)

Waarvoor bid jy? ‘n Nuwe werk? Gesondheid?

 

 

Die psalmis bid dat God vir hom sy voorskrifte/insettinge sal leer. Hy vra nie net dat God hom hierdie voorskrifte moet leer nie, maar ook hoe om hulle uit te voer. In die OAV praat hy van ‘n weg – ‘n reis, ‘n pelgrimstog van gehoorsaamheid. Waarheen lei hierdie weg? Nader na God toe. Die psalmis gaan hier ‘n ooreenkoms met God aan: As God hom die weë van sy wet leer, sal hy tot die einde daaraan vashou. Dit gaan hier oor die einde van die pad – die einde van die psalmis se lewe. Wat ‘n geweldige doelwit: Ek gaan God se voorskrifte gehoorsaam tot aan die einde van my lewe. Die psalmis wil voltooi wat hy begin het.

 

Vers 33 is die eerste vers van die He gedeelte (119:33 – 40). In hierdie gedeelte begin elke vers met die Hebreeuse letter He.

 

God, leer my om u pad te volg. Ons wil hulle tot aan die einde van ons lewe hou.