Mense wat God ongelukkig maak (Sondaars)

Mense wat God ongelukkig maak (Sondaars)

Sondaars is mense wat nie doen wat God wil nie. Hulle maak God ongelukkig. Die woord sondaars beskryf iemand se status en posisie as ʼn mens wat nie leef soos God dit wil hê nie omdat hy of sy nie aan God behoort nie. Dit is wie die persoon is… ʼn sondaar.

Christene dra nie meer die titel van “sondaars” nie, al doen hulle nou en dan nog sonde. Nee, God het elkeen wat in Hom glo sy KIND gemaak. Christene is koningskinders, geredde mense wat God se erfgename geword het. Om dus ʼn kind van God ʼn sondaar te noem is so goed as om ʼn multimiljoenêr ʼn boemelaar te noem. Dit pas net nie. Daarom praat die Nuwe Testament ook nie van Christene as sondaars nie. Nee, hulle dra ʼn ander status; hulle is God se kinders.

Dit beteken nou nie dat Christene nie ook soms sonde doen nie. Maar dit maak nie van hulle skielik sondaars en nie meer kinders van God nie. As jy ʼn fout maak, hou jy nie skielik op om jou ouers se kind te wees nie. Net so hou ʼn Christen nie skielik op om God se kind te wees as hy of sy sonde doen nie. Wat wel moet gebeur, is dat jy daardie sonde voor God moet regstel. Jy moet om verskoning gaan vra.

Moet jouself nie iets maak wat jy nie is nie. As jy aan God behoort is jou status voor Hom nie die van ʼn sondaar nie, maar van ʼn koningskind. Leef so!

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God wil hê dat ons moet weet wat ons moet weet (Onderrig)

God wil hê dat ons moet weet wat ons moet weet (Onderrig)

G’n mens weet sommer alles van God af nie. Hoe moet ons nou weet wat is sonde en wat nie? Wat moet ons doen om God gelukkig te maak en te dien? En as ons as gelowiges bymekaar kom, wat word van ons verwag? Wat is liefde en geloof en uitverkiesing en sulke dinge?

Die goed weet ons nie sommer maar net nie. Ons kan dit ook nie sommer uitdink nie. Ons moet dit leer. Daarom was dit vir die Here van die begin af belangrik dat daar “leraars” of geestelike onderwysers in sy gemeente moet wees. Mense moet weet wat aangaan en daar moet mense wees wat dit vir hulle leer. En die Bybel moet die bron van kennis wees. Daar openbaar God immers vir ons wat ons moet weet. Daarom moet ons die Bybel al hoe beter leer ken.

Daar is verskillende maniere waarop ons as gelowiges moet leer wat God van ons verwag. Die predikante se preke moet ons help om alles beter te verstaan. Dit is waarom ons vir ʼn uur stilsit en luister. Ons moet daar leer wat die Here vir ons wil leer. Dan is daar ander maniere van leer soos kategese of Bybelstudie.

Die belangrike punt is dat die Here nie wil hê dat enige van sy kinders moet sê: “Ek het nie geweet nie”. Ons moet sorg dat ons weet wat die Here wil hê en daarvoor is daar mense in die gemeente wat ons kan help. Miskien, as jy moeite doen en uiteindelik die boodskap van die Bybel goed leer ken, sou jy ook iemand kon word wat weer ander help om meer van die Bybel te leer.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Om dankie te sê vir God is om Hom te loof (Lof)

Om dankie te sê vir God is om Hom te loof (Lof)

Lof is ʼn ander woord vir “om vir God dankie te sê”. Aanbidding is om God te erken vir wie Hy is; lof is om Hom dankie te sê vir wat Hy in jou lewe doen. Ja, dit is om te erken dat Hy in jou lewe besig is en dat wat daar gebeur van Hom af kom.

As jy dus erken dat jou talente en jou gawes van God af kom en jy sê vir Hom dankie daarvoor, dán loof jy die Here. As jy vir die Here dankie sê dat jy gesond is en kan leef, dán loof jy Hom. Dit beteken dat ons God op baie maniere kan loof. Ons kan stil op sy skoot gaan sit en net vir Hom daar dankie sê. Ons kan lekker luidkeels saam met ʼn orkes vir hom dankie sê vir sy redding en genade. Ja, glo dit of nie, ons kan selfs met stemmige orrelspel Hom heerlik loof. Dit gaan nie oor die manier nie, maar oor die opregte dankie sê. Ons hoor partymaal na ʼn lekker singsessie dat iemand sê: “Ek het die Here nou lekker geloof”. Dit is goed om daarna lekker te voel, maar die groot vraag is nie of jy lekker gevoel het nie. Die vraag is of God lekker gevoel het. Lof se doel is om Hom te erken vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Dit sal God laat lekker voel.

Maar kan ek nog die Here loof as dit swaar gaan? Waarvoor moet ek dan vir Hom dankie sê? Natuurlik kan jy God dan nog loof, al is dit net vir die voorreg om Hom te ken en op sy skoot te mag sit. Want as jy op sy skoot sit, sal jy weet… Hy sal jou nooit in die steek laat en jou ook nie bo jou kragte versoek nie. Soek dan jou krag in sy krag. Daaroor kan jy die Here verseker loof.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Seks om te geniet

Seks om te geniet

Ons hoef nie bang of skaam te wees vir ons eie seksualiteit nie.

God het ons so gemaak. Dit is ʼn gawe van Hom af. Maar soos alle dinge wil Hy ook hê dat ons dit verantwoordelik moet gebruik. Hoewel daar in die Bybel ʼn sterk lyn deurloop dat seks se einddoel voortplanting is, kan ʼn mens ook jou seksualiteit bloot net geniet. Kyk maar hoe mooi skryf Hooglied oor die liefde.

Daar is tog ook grense aan die uitleef van ons seksualiteit. Ons kan dit goed gebruik of verkeerd gebruik. Dit hang van ons eie selfbeheersing af, want die drang vir seks voel ons almal maar. Die Bybel voel egter baie sterk oor die huwelik en sien dit as die regte en eintlik die enigste plek vir seks in sy mees intiemste vorm.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy