DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (11)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (11) – Jan van der Watt

Episode 9: Markus 14-16

Die kruis wat voorspel is, word nou ‘n realiteit – omdat dit so bekend is, hoef ons nie te veel daaroor te sê nie.

 

 

  • Jesus word gesalf midde van planne om Hom te verraai en te vang (14:1-11)
  • Die nagmaal (14:12-25)
  • Petrus sal Jesus verloën en Jesus word dan ook in Getsemane gevang (14:26-52)
  • Jesus verskyn voor die Joodse Raad en Petrus verloën Hom (14:53-72)
  • Jesus voor Pilatus en Hy word oorgelewer om gekruisig te word (15:1-15)
  • Jesus word bespot en gekruisig (15:16-41)
  • Jesus word begrawe (15:42-47)
  • Jesus staan op en verskyn aan sy dissipels (16:1-20)

 

Jesus word gekruisig, maar staan weer op.

 

Dit is nie presies seker waar die Evangelie van Markus eindig nie. Volgens sommige grondtekste (dit is nou die ou Griekse tekste) eindig die Evangelie by Markus 16:8. Ander het 16:9-20 by. Dit laat mense nou wonder of 16:9-20 nie later bygevoeg is nie.

 

As die Evangelie by vers 8 eindig, is dit ‘n baie interessante einde, want dit eindig “stomp”: Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang…Tog is die einde nie so stomp as wat dit lyk nie. Die “bang” is nie ‘n bang vir spoke of vreesagtige bangwees wat jou wil laat weghardloop nie. Dit is “bangwees” omdat jy weet iets groots lê voor, maar jy weet nie wat nie. Dit is om bang te wees met ‘n “bungee jump” – jy weet dit gaan lekker wees, maar jy hart klop in jou keel… van bang antisipasie. So eindig Markus ook. Die dissipels weet nou dat niks weer dieselfde gaan wees of kan wees nie. Jesus het opgestaan… ‘n nuwe toekoms, die nuwe lewe het aangebreek en niemand kan die klok meer terugdraai nie.

 

Slot

 

Nou, nadat die Evangelie voluit gelees is, kan daar oor Jesus gepraat word. Hy is die Seun van God wat wonders doen, maar ook die Seun van God wat as losprys vir ons aan die kruis sterf. Sy glorie lê ook in sy opofferende lyding vir ons. Die glorieryke Seun is ook die lydende Seun. As jy dit verstaan, verstaan jy die Evangelie van Markus. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (10)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (10) – Jan van der Watt

Episode 8: Markus 11-13

Jesus betree nou die hartland van die Joodse geloof. Hy gaan na die tempelstad toe, die stad van die Joodse geloof met hulle Joodse leiers.

 

 

Die temas verskuif nou, meer na ‘n tipe debat toe oor die godsdiens van die Jode in Jerusalem vs. die godsdiens wat Jesus bring. Die groot temas gaan oor die tempeldiens en reinheid, die godsdienstige gesag waarmee daar opgetree word en hoe gesag in verskillende vorms lyk, hoe die wet verstaan moet word, wat skynheiligheid is en hoe dit hanteer moet word, hoe ware godsdiens lyk. Markus 11-12 moet dus in die lig van die konflik van twee godsdienstige groepe gelees word. Kyk of jy ‘n aanvoeling vir die debat kan kry en dan vir jouself kan sê waar die Christendom van die Jodendom verskil.

 

  • Jesus trek die grootstad Jerusalem triomfantelik in (11:1-11)
    • Daar hang maar doodsheid in die stad (11:12-14)
    • En die tempeldiens moet skoongemaak word (11:15-19)
    • God se krag deur gebed speel nou ‘n rol (11:20-26)
  • Gesag op verskillende maniere
    • Wie gee Jesus die gesag? (11:27-32)
    • Wat se gesag het die Joodse leiers? (12:1-12)
    • Hoe lyk dit met die Romeinse gesag (12:13-17)
  • ‘n Groot debat:
    • Is daar ‘n opstanding? Die Jode stem nie oor alles saam nie (12:18-27)
    • Nog ‘n groter vraag: Hoe moet die wet verstaan word? (12:28-34)
    • Is Christus familie van Dawid (12:35-37)
  • Oppas vir skynheiligheid (12:38-40)
  • Ware godsdiens op ‘n ander manier – soos die arm weduwee (12:41-44)

 

Hoofstuk 13 is ‘n baie spesiale hoofstuk. Dit gaan oor die groot profesie van wat in die laaste tye gaan gebeur – ons noem dit apokaliptiese materiaal. Die klem val veral op die oordeel en die wederkoms. Met Jesus  se koms het die koninkryk van God gekom en bly die finale oordeel nog oor. Dit is aan die kom en gaan nie lekker wees nie.

 

‘n Groot profesie:

  • Rampe, vervolging en groot verdrukking (13:1-23)
  • Die Seun van die mens sal kom (13:24-27)
  • Tekens van die wederkoms (13:28-31)
  • Die uur van die wederkoms (13:32-37)

 

Jesus het die Joodse manier van God te dien radikaal kom verander en Hy het die gesag om dit te doen. 

 

Skrywer: Prof  Jan van der Watt

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (9)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (9) – Jan van der Watt

Episode 7: Markus 10

Nuwe lewensreëls geld in die skadu van die kruis – die menslike waardesisteme word op hulle kop gedraai. Christene dink anders oor krag, status en belangrikheid. Hoe sien jy dit uit Markus 10? …

 

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Kom ons kyk hoe lyk Markus 10:

  • Neem as voorbeeld egbreuk en skei – in God se koninkryk lyk dit anders (10:1-12)
  • Jy moet soos ‘n kind word (wat die ryk jongman nie wou doen nie – 10:13-31)
    • Jesus se kruis wys Hy is gehoorsaam (10:32-34)
    • Die belangrikste posisies geld nie (10:35-45)
    • Dis bedelaars by wie Jesus stop en hulle oë gaan oop (10:46-52) 

  

As daar staan dat ons soos ‘n kind moet word, beteken dit nie dat ons soos babatjies in die kot moet gaan lê nie. Kinders is destyds op ‘n spesiale manier gesien. Hulle is as wordende persoonlikhede gesien. ‘n Mens kan dit vergelyk met ‘n glas. As die kind gebore word, is sy basiese karaktertrekke daar, soos die glas. Soos die kind grootword, moet hy/sy water in die glas kry – dit is die onderrig, lewenslesse ens. wat die kind van sy ouers en die gemeenskap kry. Soos die onderrig (die ‘water”) die glas voller maak, groei die persoonlikheid en word dit al meer volwasse. So “word” die kind wat hy moet wees. In die proses moet die kind dus soos die glas “oop” en ontvanklik wees. Hy moet gehoorsaam luister (die water toelaat om die glas vol te maak). Hy moenie self die glas probeer volmaak of dink hy het nie die water nodig nie – hy moet in afhanklikheid en gehoorsaamheid die onderrig en leiding ontvang. As Jesus hier sê dat ons soos kinders moet word bedoel Hy juis dit: ons moet in gehoorsame afhanklikheid voor die Here staan en ons deur sy voorbeeld en onderrig laat “volmaak”. Ons moenie teëpraat of dink ons weet self nie. Gehoorsame ontvanklikheid en navolging is die sleutelwoorde. Juis daarvoor het die ryk jongman nie kans gesien nie!

 

Markus 10:45 is die samevatting van alles: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense”. So moet sy dissipels en volgelinge ook hulle lewens inrig. Christenskap is dienslewering in gehoorsaamheid aan Jesus.

 

Jesus bring ‘n nuwe manier van lewe… soos ‘n kind van God 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (8

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (8 – Jan van der Watt

Deel 3 – die inhoud van Markus 8:22-16:20

 

Die eerste deel van Markus (1:1-8:21) het Jesus geteken as die Seun van God wat wonders doen en kragtig optree. Hy is ‘n suksesverhaal – so lyk die eerste “wip van die wipplank” – dit wip op. Nou kom die tweede “wip” en hierdie keer gaan dit vanuit menslike oogpunt ondertoe.   

 

Episode 6: Markus 8:22-9:50

Kyk noukeurig na 8:22-9:29. Watter tekens van “skynbare mislukking” kan jy hier sien? …………

………………………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

Die draaipunt – ‘n verhaal wat anders lyk, want dit dra die tekens van lyding:

  • Jesus genees ‘n blinde… twee maal! (8:22-26)
  • Petrus bely en Jesus kondig sy dood aan (8:27-33)
  • Navolging deur die dissipels beteken kruisdra (8:24-9:1)
  • Die verheerlikte Jesus is die lydende Jesus (9:2-13)
  • Selfs die dissipels sukkel – die bose geeste wil nie na hulle luister nie, maar met Jesus is dit anders (9:14-29)

 

 

Kyk net na die volgende:

 

  1. Met sy vorige genesing (7:31-37) het Jesus twee siektes met een slag gesond gemaak – Hy het alles goed gedoen! Nou (8:22-26) moet Hy twee probeerslae vat om een siekte te genees. Dit is Markus se subtiele manier om vir ons as lesers te wys dat die verhaal nou draai… wipplank wip af.
  2. Ander draai ook – Petrus word ‘n instrument in die hande van die duiwel (8:33) omdat hy nie verstaan nie… Jesus moet ly, want dit is God se wil. Jesus se dissipels verstaan eenvoudig nie wat aangaan nie. Jesus sal die pad alleen moet loop, want of sy dissipels kan Hy nie werklik staatmaak nie (9:14-29).
  3. Christenwees is nie net maanskyn en rose nie – dit is nie net wonders doen en skares trek nie. Dit is ook diens en lyding. Jy moet soos Jesus jou kruis dra (8:24-9:1)

 

Op die manier word ‘n ander sy van Jesus en Christenskap geteken: Jesus moet ook ly. Dit gaan nie net om glorie nie, maar ook om lyding… Die verheerliking op die berg trek alles egter net mooi in perspektief – die Een wat gaan ly, is steeds die verheerlikte Seun van God (9:7). Dieselfde Jesus wat wonders doen en mense genees is ook die Seun van God wat aan die kruis moet sterf.

 

In die wipplank wat begin af gaan, skitter daar tog ligpunte wat ‘n mens help om die “afgaan” behoorlik te verstaan – dit “geskitter” het al begin toe Jesus die bose gees uit die seun uitgejaag het wat sy dissipels nie kon nie (9:14-29). Hoewel Jesus aan ‘n kruis vasgeslaan gaan word, beteken dit alles behalwe magteloosheid. Die Seun wat aan die kruis hang, bly die Seun wat kragtige wonders kan doen. Dit is nie volslae mislukking nie – inteendeel, dit is deel van God se plan. Sterwe gaan verander in opstanding. Kyk na Markus 9:30-50: 


  • Die ligpunt… Jesus gaan sterf, maar gaan ook opstaan (9:30-32)
  • Hoe verstaan ek dit alles… deur die regte waardes te hê – Jesus se waardes: Byt vas en moenie dit vir ander swaarder maak nie (9:42-50)
      • wie is die belangrikste? Dinge word op hulle kop gedraai (9:33-37)
      • wie’s ons mense? Wie nie teen ons is nie, is vir ons (9:38-41)

 

 

Ja, daar is ook ‘n ander kant aan die suksesvolle Jesus – Hy gaan sterf, maar nie in hopeloosheid nie. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt