Laat sy liefde jou lei: Om jou sê te sê!

Laat sy liefde jou lei: Om jou sê te sê! – Milanie Vosloo

Tog sê Miga: “Ek voel dat die Here se Gees in my lewe is. Hy gee my baie krag. Ek het ook ‘n gevoel vir wat reg en verkeerd is. Miga 3:8a

Die Gees het ’n wonderbaarlike manier om met mense se praat. Wanneer ons hart daarop ingestel is om werklik te hoor wat Hy sê, openbaar Hy sy wysheid en insig aan ons presies wanneer, waar en hoe ons dit nodig het. Dan ontvang ons sy heilige waarheid wat ons in staat stel die onmoontlike te doen.

Ja, en soms mag dit ook gebeur dat die Gees van jou verwag om vir Hom op te staan. Wanneer dinge teen God se wil gesê of gedoen word of wanneer iemand Hom oneer aandoen, is dit my en jou plig om daadwerklik vir Hom standpunt in te neem. En dis verseker nie altyd maklik nie! Tog sal dit altyd die moeite werd wees! Selfs wanneer ons dalk tydelik daaroor benadeel sou word, sal God ons op sý manier met goedheid en seёn oorlaai. Daarom moet ons elke dag bid dat ons Vader aan ons die insig, moed en dapperheid sal gee om sy belange áltyd voor op te stel.

As die Gees dalk vir jou fluister om vir Hom op te staan, kan jy soos Miga sê: ”Verder is ek nie bang om vir die mense van Juda en Israel te sê wat hulle verkeerd doen nie en waarvan die Here nie hou nie.” (Miga 3:8b)

Vader, vandag gaan ek sê en doen wat U my vra.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Hoe bid ek vir my vyande?

Laat sy liefde jou lei: Hoe bid ek vir my vyande? – Milanie Vosloo

“Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle.” Lukas 6:35a

 

Wanneer Jesus ons die opdrag gee dat ons vir ons vyande moet bid, bedoel Hy natuurlik nie dat ons sal vra dat die Vader hulle op een of ander manier sal benadeel nie. (Ja, ons voel soms so!) Hy meen dat ons met ’n opregte hart sal bid dat hulle in eie reg deur die Vader ge-seën sal word.

Wanneer jy dus vir dié mense bid van wie jy verskil, van wie jy nie hou nie of die wat jou seergemaak of benadeel het, is dit belangrik om die volgende gebedspatroon te volg:

  • Bid dat die Gees jóú hart in staat sal stel om begrip, empatie en deernis vir daardie mens/e te hê.
  • Bid dat die Vader ’n stukkie van die liefde wat Hy vir hulle het (ja, Hy het alle mense lief!) ook in jou hart sal sit.
  • Vra ruiterlik vir God om hulle te seën en goed te wees vir hulle.
  • Bid dan laastens dat Hy deur sy wonderwerk-krag julle albei in staat sal stel om mekaar met ánder oë raak te sien: oë van onvoorwaardelike aanvaarding en liefde vir mekaar.
  • Hou aan om hierdie versoeke voor die Vader se voete te lê elke keer wanneer iemand jou hare laat rys. Gou sal jy ervaar hoe die krag van die liefde elke hare-kloof-ding tussen julle sal wegvee.

    Vader, leer my een van die moeilikste gebede: om in opregtheid vir my vyande te bid.

     

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

    milanie_boeke_advertensie

     

     Skrywer: Milanie Vosloo

     




    Laat sy liefde jou lei: Om die “onaangenames“ te seën

    Laat sy liefde jou lei: Om die “onaangenames” te seën – Milanie Vosloo

    Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. Lukas 6:28

    Ek is seker jy het met die lees van die vorige stukkie ‘n paar mense voor jou geestesoog opgeroep wat jy régtig nie kan liefhê nie. Party van hulle is dalk spoke uit jou verlede, ander onlangse ontmoetings of dalk is ván hulle mense wat intens déél van jou lewe is. Miskien het jy baie hard probeer om vir hulle te bid en ondervind dat die negatiewe beeld wat jy van hulle het, telkemale jou gebede versmoor. Hopenlik het jy tóg ’n sweempie verandering in jou hart gevoel toe jy hulle aan die Vader opgedra het.

    Ongeag wat jou hart se reaksie op jou gebede was, moet jy aanhou probeer om voort te gaan om vir daardie mense te bid van wie jy nie hou nie. Bid ook dat die Gees van God jou in jou swakheid sal bystaan en jou in staat sal stel om dinge te doen wat menslik gesproke onmoontlik is. Ja, dat Hy jou hart radikaal sal verander!

    Bly bid en gló dat Hy jou menslike hart sal omskep in ’n hart soos dié van Jesus: ’n Hart wat tot aan die kruisdood in staat was om vir sy vyande te bid. Gló dat Hy reeds begin het om dit te doen en gaan leef daarvolgens,

    Gees van God, ek kan nie self liefhê nie, maar dankie dat ek deur U wel my vyande met liefde kan seën.

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

    milanie_boeke_advertensie

     

     Skrywer: Milanie Vosloo

     




    Laat sy liefde jou lei: Wrang smake

    Laat sy liefde jou lei: Wrang smake – Milanie Vosloo

    Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyand liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. Lukas 6:27

    Ken jy iemand wat ‘n wrang smaak in jou mond laat? Gewoonlik is dit iemand wat op ‘n manier opgetree het waarvan jy nie hou nie, iets gesê het wat jou ontstel of seergemaak het of dinge doen wat eenvoudig teen jou grein ingaan. En natuurlik het ons die geneigdheid om die mense van wie ons nie hou nie, óf te vermy, óf heeltyd in konflik met hulle te wees óf heimlik te hoop dat hulle vergeld sal word. Ja, soms tree ons, soos die Fariseërs, vreeslik “ordentlik” op terwyl ons eintlik wil skree van irritasie of hulle sommer net wil vermy.

    Die vraag is wat maak ek en jy met hierdie mense? Is vermyding, konflik of enige ander vorm van vergelding die antwoord? Allermins. Jesus sê hard en duidelik vir ons dat ons ook ons vyande – die mense met wie ons ‘n probleem het – met onvoorwaardelike liefde moet koester. Dís makliker gesê as gedaan en ons kan aanvaar dat ons dit nie sonder die kragtige werking van die Gees in ons, gaan regkry nie.

    Begin vandag deur vir dié mense wat aan jou krap, ernstig te bid. Jy sal agterkom dat gebed ’n manier het om twee harte dramaties te verander! Bid veral dat Hy by jóú hart sal begin.

     

     

     

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

    milanie_boeke_advertensie

     

     Skrywer: Milanie Vosloo