Laat sy Liefde jou Lei: Jesus sê: “Volg My”

Laat sy Liefde jou Lei: Jesus sê: “Volg My” – Milanie Vosloo

Jesus sê: “Volg My”

Sommer net daar het hulle hul boot en hul pa gelos en Jesus se dissipels geword. Matteus 4:22

Jesus was ‘n interessante werkgewer. Hy het nie lang onderhoude gevoer en ‘n skriftelike werksaanbod aan sy dissipels gemaak nie. Hy’t nie eers gevra of hulle bereid sou wees om hul huidige beroepe op te offer en of hulle kans sien vir die uitdagingsvan hul nuwe poste nie. Hy het hulle ook nie gevra om in Hom te gló nie, maar gevra dat Hy gevólg sal word.

Duidelik wil God nie net hê dat ons in Hom moet glo en op ‘n gerieflikheidsafstand agter Hom moet aanloop nie. Ons Vader vra vir ons – sy moderne dissipels – om Hom skroomloos te vólg. Ons kan dus nie net ons geloof verklaar en dan in ‘n rusbank-Christen verval wat tevrede is om maar net te ontvang nie. Om ‘n Jesus-volger te wees beteken dat ons bereid sal wees om werklik te doen wat Hy van ons vra, te gaan waarheen Hy ons roep, die woorde te spreek wat Hy op ons harte lê en die dinge te doen wat sy Woord ons leer. Dissipelskap vra dat ons werklik ons geloof sal uitleef op elke plek waar ons kom. Dat ons diensbaar sal wees en ander met ons menswees, gawes en lewensmiddelle sal bedien … sonder om iets terug te verwag.

Vandag sê Jesus vir jou: “Volg My … onvoorwaardelik”. Wat antwoord jy Hom?

Ja, Here Jesus, ek wil U met my hele hart volg presies daar waar U my neem.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hy het jou lief – ook wanneer jy nie het nie!

Laat sy Liefde jou Lei: Hy het jou lief – ook wanneer jy nie het nie! – Milanie Vosloo

Hy het lief – ook wanneer jý nie het nie!

Deur die krag van sy Goddelike heerlikheid sal Hy julle toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard. Kolossense 1:11

Daar’s tye wanneer ons sukkel om lief te hê. Dis die dae wanneer ons eintlik sommer net vir die wêreld en God wil gaan wegkruip. In sulke liefde-arm-tye is dit maklik om te wonder of ons Here ons nog lief het. Hoe op aarde kan Hy ons tog bly liefhê as ons nie eens lus is om tyd vir Hom te maak nie, wonder ons.

Een van die wonders van ons Vader, is dat sy liefde nie afhanklik is van die diepte van ons liefde vir Hom nie. Hy is nie wispelturig, uitsoekerig en veranderlik in sy liefde nie. Nog minder laat Hy Hom beïnvloed deur ons afsydigheid! Veel eerder vou sy genade met ekstra deernis om ons wanneer ons soms ons rug op Hom draai.

Weet vandag: Jesus se hart klop élke dag vuurwarm vir jou. Daar waar jy met jou gewone dagtaak aangaan en nie eens aan Hom dink nie, waak Hy onverpoos oor jou. Wanneer jy Hom ignoreer of vir Hom wegkruip, is Hy steeds by jou. Ja, in jou donker is sy liefde soos ‘n spreilig steeds bo-oor jou!

Jou Vader se liefde vir jou is soos sy hele wese: Onveranderlik en ewig. Hou in die dae, wanneer jy sukkel met die lewe, baie styf vas aan dié wete.

Dankie dat u liefde soveel groter is as my klein bietjie liefde, Here.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Sê jou hart: “Welkom!”

Laat sy Liefde jou Lei: Sê jou hart: “Welkom!” – Milanie Vosloo

Sê jou hart: “Welkom!”?

En nou is dit die geloof ennie hoop ennie liefde wat bly staat, ma nettie liefde sal saam met my narie Jirre se jimmel toe gaan. 1 Kor 13:13 Uit Griekwapsalms

Wat ‘n voorreg dat die Meester-van-die-Liefde eens op ‘n tyd hier tussen ons kom leef en vir ons geleer het hoe die taal van liefde klink; hoe die hart van ‘n ware verskilmaak-mens lyk. Natuurlik het sy liefde dié mense wat naby aan Hom geleef het, met groot koestering omhels. Maar sý liefde het ook “randmense” – immorele karakters wat deur die samelewing verwerp is – in sy binnekring getrek. By geharde sondaars – van wie ander niks gehou het nie – het Hy sonder skroom tuis gegaan en onbelangrikes, verstotenes en agtergeblewenis het Hy in sy troonsaal ingenooi. Jesus se liefde het vir almal – ja, ook vir die gewones, gebrokenes en gehate mense – gesê: By My kan jy veilig voel. Want Ek verstaan jou, vergewe en aanvaar jou. Ek het jou – ongeag dit wat jy is, doen of selfs nié is of doen nie – oneindig lief.

As ons grote God se hart met soveel ontvanklikheid na elke mens uitreik, wie is ons om ander dan die deur te wys?

Mag ek en jy met soveel begrip, deernis en omgee leef dat elke ander mens wat die drumpel van ons hart kruis, by ons iets van Jesus se tuisvoel-liefde sal ervaar. Mag ons héle lewe sê: Welkom in my hart!

Vader, vergewe my dat ek so selektief liefhet. Maak my hart asseblief ruimer vir élke ander mens.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: God kyk verby jou CV

Laat sy Liefde jou Lei: God kyk verby jou CV – Milanie Vosloo

God kyk verby jou CV

En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Lukas 7:50

Ons Vader se liefde is algeheel-omvattend. Hier op aarde het Jesus op soveel maniere vir ons kom wys dat Hy by uitstek ‘n Genade-God vir sondaars, verloorders, swakkes en siekes was. Die mense wat deur die “slim” godsdienstige leiers verwerp is, het sy vriende geword; onaansienlikes en gewone mense was sy dissipels; hulle wat te swak was om self te loop, het Hy met een woord opgehef en diegene wat so siek was dat ander nie eens naby hulle wou kom, het Hy in sy groot teerheid omarm.

So vertel Lukas vir ons hoe die godsdienstige leiers letterlik van verontwaardiging gestik het omdat Jesus toegelaat het dat ‘n prostituut sy voete met olie salf. En hoe hierdie Seun van God eenvoudig die vrou in sy liefde toevou met die woorde: “Jou sondes is vergewe.”(7:48) Jesus se genadeliefde vra nie eers hoe jou CV lyk, watter beroep jy beoefen en hoe gereeld jy kerk toe gaan nie. By Hom is sondaars, onaansienlikes, mense uit alle vlakke van die samelewing welkom. Al wat Hy vra is: Hoe lyk die CV van jou hart? Staan daar in geskrywe: “Ek glo onwrikbaar aan Jesus Christus as my Verlosser en ek het Hom met my hele hart lief.”?

Sê vandag (weer): Jesus, U dankie dat U my Redder is … en dat U altyd by my is.

Dankie dat daar reeds op u tempelpoorte vir my geskrywe staan: “Welkom tuis, my kind.”

 

Skrywer: Milanie Vosloo