Laat sy liefde jou lei: Seёn Hy wérklik gehoorsaamheid?

Laat sy liefde jou lei: Seёn Hy wérklik gehoorsaamheid? – Milanie Vosloo

 

Miskien wonder jy soms: Seёn God régtig gehoorsame kinders van Hom meer as ander? Waarom lyk dit dan so of hulle wat “sonder” Hom leef, meer voorspoedig as ander is?

Die antwoord hierop leer die Woord ons is ‘n duidelik JA! Ons regverdige Here belowe telkemale sy goedheid, seёn en trou aan sy gehoorsame kinders. Maar God se seёn is heel dikwels anders verpak as die normale tasbare en sigbare voorspoed-dinge. Ons Vader se seёn kan natuurlik materiёle en aardse rykdomme ook insluit, maar heel dikwels manifesteer sy genade-geskenke juis in die onsigbare kern van ons hart.

Soos wanneer ons in sy teenwoordigheid stil word en ervaar hoe Hy ons sommer net met liefde toevou. Of wanneer ons onverklaarbare vrede ervaar te midde van die ergste storms om ons woed. Of dalk wanneer Hy deur ander mense onverwagse spatsels liefde oor ons strooi. Heel dikwels is God se seёn bondels genade en beskerming waarsonder ons lewens – onwetend – radikaal anders sou wees.

Leef elke dag jou lewe maar net in totale afhanklikheid, getrouheid en gehoorsaamheid aan jou Vader en hou jou oё ingestel op die sagte pastelle van sy reёnbooggenade.

Voorsiener-God, help my om U met ‘n dankbare hart getrou te volg in dié wete dat u goedheid altyd my deel sal wees.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  

 

Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: Hy bly lief vir jou!

Laat sy Liefde jou Lei: Hy bly lief vir jou! – Milanie Vosloo

Hy blý lief vir jou!

 …want ons hoop is op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, en veral van dié wat glo. 1 Timoteus 4:10b

 

“My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop – dis my anker, my vaste hoop …”*, sing ons soms.

Ons geloof is nie elke dag ewe sterk nie. Daar’s tye wanneer ons wonder of dit die moeite werd is om vas te staan in ons geloofswaarhede. Daar is ook dié kere wanneer dit regtig sleg met ons gaan en dit voel of níks wil uitwerk nie. En dan is daar stadiums wanneer ons wonder of God se liefde vir ons dalk getaan het..

 

Wanneer jy van tyd tot tyd hierdie vrae vra, is daar ten minste twee onweerlegbare bronne wat aan jou die onwrikbare waarheid sal bring: Die Woord en die stem van die Heilige Gees in jou hart. Die Skrif sal jou op vele plekke verseker dat God jou nooit uit sy hand sal laat nie, dat niks jou van sy liefde vir jou kan skei nie en dat Hy tot in der ewigheid getrou aan jou sal wees. En die Gees? Hy sal hierdie wete in jou hart bevestig deur aan jou vrede te gee!

 

Mag jy vandag opnuut jubel: “Ek behoort aan die Here. Niks sal my ooit van Hom kan skei. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop, dis my anker, my vaste hoop.”*

 

U ís my anker en vaste hoop, Vader!

  

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 


 

 

  

Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy die beste?

Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy die beste? – Milanie Vosloo

Glo jy die beste?

“Word wakker, jy wat slaap; staan op tussen die dooies uit, en Christus sal jou verlig.” Efesiёrs 5:14b

Ons kan onsself soveel nonsens wysmaak! Dis waarom ons dan die geneigdheid het om die slegste van ‘n situasie of ander te verwag.

En dan … maak ons die verkeerde aannames. Ons neem aan dat dinge net nie goed gaan uitwerk nie, dat ander mense die slegste van ons dink en dat ons nie iets kan doen nie omdat ons in ‘n patroon verval het om die lewe deur negatiewe brille dop te hou.

 

Om positief te leef beteken nie dat ons naïef oor die werklikheid is en onrealistiese verwagtinge het nie. Dit beteken eenvoudig dat ons met ‘n gesuiwerde hart leef wat met verwagting na ‘n situasie en mense kyk. Doen ons dit, is dit asof ons in die proses ‘n positiewe uitkoms visualiseer en onbewustelik en bewustelik werk om daardie prentjie te laat realiseer.

 

Positiewe mense is gelukkige mense juis omdat hulle dit regkry om hul opbouende gedagtes op ander te projekteer. Omdat hulle glo dat daar goeie dinge gaan gebeur, is hulle deel van ‘n positiewe sisteem wat die beste wél laat gebeur. Omdat hulle die beste van ander glo, weet mense dit en probeer hulle om in alle gevalle aan daardie verwagtinge te voldoen.

 

Gaan leef vandag met ‘n hart wat gevul is met positiewe denke oor dit wat gaan gebeur, ander mense én jouself. Jy sal verras wees oor die eindresultaat!

 

Here, ek glo in ‘n lewe van geloof, hoop … en liefde!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Laat Paulus jou aanmoedig

Laat sy Liefde jou Lei: Laat Paulus jou aanmoedig – Milanie Vosloo

Laat Paulus jou aanmoedig

Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan sodat almal kan sien hoe jy as Christen ryper word. 1 Timoteus 4:15

Met tye is ons regtig geloofsterk en vol moed oor ons lewens en ons toekoms. Net om weer die volgende dag te ervaar hoe ons geloofsbootjie ernstig wankel.

Sulke tye is dit goed as ons onsself met ander gelowiges kan omring, maar dis ook die tye wanneer ons opnuut die Woord kan opsoek en kan hoor hoe die geloofsheld, Paulus, vir ons sê:

  • Jy moet ook regtig op God vertrou en nie net maak of jy op Hom vertrou nie. (1 Tim 1:5b).
  • Laat ons nooit ophou om die enigste God groot te maak en vir almal te vertel hoe wonderlik Hy is nie. (1 Tim 1:17a)
  • As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord … (1 Tim 2:8a)
  • Sorg jy liewer dat jy God reg dien. Jy moet oefen om dit te doen soos ‘n atleet oefen om fiks te bly. (1 Tim 4:7b).
  • Moenie dat mense op jou neersien omdat jy jonk is nie. Neem liewer die leiding onder hulle en wys vir hulle hoe ‘n Christen moet praat en wat ‘n Christen moet doen. (1 Tim 4:12a)

 

Maak vandag hierdie gedeeltes van Paulus se brief jou eie – God praat immers vandag steeds deur sy Woord met elke opregte gelowige.

 

Heilige Gees, dankie vir die kragtige manier waarop die Skrif vandag met my praat.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 


 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo