19 April: Jesus het opgestaan!. – Jan van der Watt

Luk 24:1-27 (fokus 24:1-12)

Mense wat sê Jesus het nie opgestaan nie, probeer sê dat die dissipels nie geweet het wat hulle gesien het nie. Hulle het ‘n leë graf gesien wat eintlik vol was; ja, hulle het gestaan en hallusineer. Meer nog, hulle het in ‘n fantasiewêreld begin om van ‘n leë graf te droom. En toe verander hulle sommer hulle drome in ‘n godsdiens wat die wêreld omgekeer het. Een ding is egter seker – die dissipels sou van hulle kant af vir sulke bewerings gelag het. Hulle wéét wat hulle gesien het.

Die feit is: Jesus se graf was leeg en honderde mense het Hom daarna lewend sien rondloop. Hy het selfs saam met sy dissipels geëet en met hulle gesels. Hierdie ervarings, waarvan die dissipels so oor en oor vertel, was vir hulle eg, so eg dat dit hulle lewens heeltemal verander het en hulle selfs bereid was om te sterf vir wat hulle gesien het.

Mense wat dit ontken het darem baie om te bewys – hulle argumente dat die dissipels in die verkeerde graf gaan kyk of die storie sommer opgemaak het, of dalk gedroom of gehallusineer het, is maar moeilik bewysbaar.

Ek is doodseker dat die vroeë Christene skeef sou opkyk as hulle die besware van die twyfelaars gehoor het. Immers, sou hulle hulle lewens vir stories en hallusinasies op die spel geplaas het? Sou hulle hulle hele godsdiens op leuens gebou het, terwyl hulle vas geglo het dat die Here leuens straf? Alles behalwe.

Jesus hét opgestaan! Daarvan kan ons seker wees.




18 April Hoe reageer jy op Jesus?. – Jan van der Watt

Luk 23:26-56 (fokus 23:26-48)

Die reaksies van die mense rondom die kruis van Jesus bly interessant… dit klink baie na die briewekolom in van ons dagblaaie as die ouens oor die godsdiens begin stry.

  • Daar is die superspotters – soos die soldate in die verhaal van Jesus – wat ons wil laat verstaan dat alles net stories is (23:35).
  • Daar is die selfgesentreerde misbruikers van Jesus – soos die een wat saam met Jesus gekruisig is – wat wil hê Jesus moet volgens hulle pype dans. Hulle het vrede met Hom solank Hy net doen wat hulle sê en by hulle planne en eise inpas (23:39).
  • Daar is die wat genade ken en pleit: “Ek het die Here nodig. Mag Hy aan my dink as Hy in die paradys kom” (23:42). Hulle wil nie argumenteer of stry nie, maar net om genade smeek.
  • Daar is dié wat die erns besef van wat voor hulle afspeel, soos die soldaat wat die hele tyd met die kruisiging doenig was: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê” (23:47). Hy probeer nie gedurig wegverklaar wat daar voor hom gebeur nie, maar aanvaar wat hy sien, al verstaan hy dit nie.

Jesus lok verskillende reaksies by mense uit – Hy het dit nog altyd gedoen. Selfs die oomblik toe Hy in ons plek aan die kruis gehang het, was daar oor Hom gestry. Die feit is: die kruis is daar! Die vraag is: wat sê en doen jy?




17 April: Hoe helder hoor jy vir Jesus?. – Jan van der Watt

Luk 22:63-23:25 (fokus 23:6-12)

Iemand het een keer met Joan de Arc, die Franse heilige deur wie die Here die Franse weermag op so besondere manier gelei het, gespot: “Jy sê jy hoor die stem van God! Ha, ek hoor niks nie”, waarop sy geantwoord het: “Wens jy nie maar jy het nie”. Ons kan partymaal reg voor Jesus staan en net mooi niks hoor nie, al praat Hy hoe hard.

Toe Herodus so voor Jesus gestaan het, het hy ook gekies om met Hom te spot (23:11) en Jesus se goeie nuus het heeltemal by hom verbygegaan. Dit was nou die moeder van alle foute. En hierdie moeder se derduisende kinders loop vandag nog tussen ons rond… mense wat met Jesus spot en sy stem glad nie hoor nie.

Herodus het ten minste openlik gespot. Baie mense doen dit subtiel en dit is miskien gevaarliker. Ja, soos Herodus wil hulle Jesus graag sien (23:8), maar stap keer op keer spottenderwyse weg. Hulle sê dit nie hardop nie, maar hulle lewens spot met dit waarvoor Jesus staan. Sodra die baadjie na kerk uit is en die stywe boordjie losgeknoop en die das af is, sê hulle lewenstyl: “Ha, ek hoor niks nie”.

Joan de Arc het gedoen omdat sy deeglik gesien het – gesien het met oë wat in die diepste van haar hart die vlam van geloof aangesteek het. Wat sien jy as jy voor Jesus staan?




16 April: Hou vol, die beloning gaan daar wees. – Jan van der Watt

Luk 22:39-62 (fokus 22:39-46)

Enigiemand wat al gereis het, sal jou vertel dat dit nie altyd so lekker is as wat dit mag klink nie. Toer het natuurlik sy oomblikke, maar daar is ook die minder opwindende tye. Om uiteindelik by die uitkykpunt bo-op die berg te kom, vat stap en nogmaals stap. ʼn Mens sit ure in die verkeer in Parys of London om uiteindelik die museum te sien wat jy so graag wou sien. Die belonings is gelukkig altyd daar.

Op die lewenspad gaan dit nie anders nie. Jesus het vir ʼn ander pad gebid, maar uiteindelik gesê: “Vader, doen wat U wil” (22:42). Hy het aanvaar dat daar oor sy pad dinge mag kom wat Hy nie van gaan hou nie. Maar sy hemelse Vader weet beter en daarom pak hy die pad met vertroue en in geloof aan, kom wat wil. Dit is die geheim van ons lewensreis wat ons by Jesus kan leer: om ten spyte van ons eie drome, God se wil vir ons lewens te aanvaar – ja, om bereid te wees om sy pad te stap. Die beloning gaan altyd daar wees. Ja, daar gaan tye van geestelike “harde stap” of “lank in die verkeer sit” wees waar ons gaan worstel en wonder… Maar ons moet weet: saam met God is ons op pad iewers heen. Ons eindbestemming wag – dit is wat God vir ons beplan het.

Dit is hierdie wete en aanvaarding dat God met ons op pad is, wat ons op ons lewenspad opgewonde hou, al “stap ons swaar”. Ons moet net volhou; die beloning gaan daar wees.